Weet jy wat
wedergeboorte beteken? Indien jy die begrip nie heeltemal kan definieër nie, moet
jy nie bekommerd wees nie, want jy vind jouself in belangrike geselskap. Calvyn
het dit ook nie verstaan nie, toe ontwerp hy maar die uitverkiesingsleer. Gaan
kyk maar na Sondag 27 van die Heidelbergse Katagismus: “Vraag73: Waarom
noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die
afwassing van die sondes? Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede
nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons
sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder
wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net
so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met
water gewas word.” Dit klink nogal vir my na doop van die gelowige. Maar eers later meer
hieroor.
In Jesus se tyd
het die Fariseërs se leermeesters dit ook nie verstaan nie, en dit was Jesus se
antwoord: “En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van
Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom
gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand
kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en
sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word
nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan
‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot
van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek
sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die
koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en
wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê
het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy
geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen
wat uit die Gees gebore is. Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie
dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en
jy weet hierdie dinge nie?”(Joh 3:9-10)
Wedergeboorte bestaan uit ‘n hele paar stappe:
1.
Ek moet eerstens besef dat ek ‘n verlosser nodig het en dat indien ek
aangaan met my lewe soos dit nou is, ek nie die hemel sal sien nie. Dit is ook
die eerste werk wat die Heilige Gees kom doen het. Hy moet ons oortuig van
sonde. “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek
weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie;
maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die
wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde,
omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan
en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van
hierdie wêreld geoordeel is.”(Johannes 16:7-11) Babas kan dit verseker nog
nie besef nie.
2.
Dan moet ek glo dat Jesus alreeds die volle prys vir my sonde betaal het,
en dat ek deel van die verbond van geregtigheid met Jesus moet word om die
ewige lewe te beërwe. Onthou Israel se geregtigheid was uit onderhouding van
die wet, (Deut 6:5-25 en ek haal net vers 5 en 25 aan :”Daarom moet jy
die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou
krag. 25 En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie
gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.”),
nou is Christus ons geregtigheid. “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder
die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid
naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat
glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit
ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder
verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het
God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid
te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is
onder die verdraagsaamheid van God om sy geregtigheid te toon in die
teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit
die geloof in Jesus is.”
(Romeine 3:21-26) Net so ietsie oor
geregtigheid. Die woord kom 300+ kere voor in meeste Engelse vertalings en die
1953 Afrikaansevertaling. Die nuwe vertaling (1981) wat deur Calviniste
oorheers was, is die woord net 30 keer gebruik, en in die 2008 vertaling het
die woord heeltemal verdwyn. Ek is geregtig om myself Christen te noem en Sy
Koninkryk te verteenwoordig indien ek tot wedergeboorte gekom het, maar dit is
wat sovele hedendaagse skrifgeleerdes en hulle lidmate nie verstaan nie. Jesus
is my geregtigheid.
3.
Dan kan ek nagmaal gebruik. Die brood stel die liggaam van Jesus voor en
die wyn Sy bloed. Geen een van die Israeliete of selfs hulle vee het gesterf
toe die HERE besoeking oor Egipte gebring het nie, en dit is wat nagmaal
beteken. Die dood het nie meer krag nie, want indien ek wel aan die einde van
my lewenspaadjie staan, weet ek dat ek die hemel as erfdeel sal ontvang. Daarom
word na Jesus ook as die Lam verwys, want in Israel se tyd moes hulle ‘n lam
slag, een sonder enige gebrek. Nou is Jesus die Lam wat versoening vir ons
doen.
4.
Nou moet ek wegkom uit Egipte, my vorige lewe, deur gedoop te word. Dit is
waar die krag en gesag van Satan (Farao) in my lewe gebreek word en kom ek direk
onder die sorg van die HERE. (Die vuurkolom en die wolkkolom vir Israel.) Lees
maar Romeine 6, en onthou in die 1953 vertaling, a.g.v die rede genoem in punt
2. Onthou ook net wat Markus vir ons opgeteken het. “Mar 16:16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word;
maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” So onthou net dat die mense
nie verwerp sal word omdat hulle nie gedoop is nie, maar omdat dit bewys dat
hulle nie glo nie. Hierdie stap is die water gedeelte waarna Jesus verwys het
vir Nikodemus. Dit is ook die stap wat in Sondag 73 van die Heidelbergse
Katagismus geleer word, wat ek alreeds vroeër gekwoteer het.
5.
Na die doop moet ek die doping van die Heilige Gees ontvang. Die twaalf
fonteine en die 70 palmbome in Israel se tyd. Moses moes ‘n paal in die water
gooi om dit lewende water te maak. (Eksodus 15 Johannes 7:37-39) Hierdie is die
Gees gedeelte waarna Jesus verwys het vir Nikodemus. Dit is ook waarvoor die
dissipels moes wag in Jerusalem na Jesus se opstanding. “En toe die dag van
die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar
kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het
die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos
van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is
almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die
Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” (Hand 2:1-4). “En terwyl
Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in
Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle
die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom:
Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met
watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.
Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk
gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En
toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus
het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle
het met tale gespreek en geprofeteer.”(Hand 19:1-6)
6.
Alles wat ek hierbo genoem het word ook net so in volgorde genoem in
Hebreërs 6 verse 1 en 2, en die hele boek van Romeine volg dieselfde volgorde.
Ook is Israel se uittog vir ons ‘n voorbeeld van hoe ons in ons Kanaän kan kom.
7.
Dan begin my leer fase eers waar ek God leer ken vir wie Hy is.
8.
Daarna sal ek moet kies om in my Kanaän in te gaan, dit wat die HERE vir my
voorberei het. (Lees maar Hebreërs 3 en 4)
9.
Ons hele lewe bestaan as keuses. Of keuses wat die ewige lewe beteken, of
keuses wat die ewige dood beteken. Geen kind kan die besluite al neem nie. So
is ook geen van die kinders van 20 jaar en jonger gestraf toe Israel nie in
Kanaän wou gaan nie. Nee, net die volwassenes het nie die beloofde land gesien
nie.
Nou is ek eers by dit wat
die HERE vir my het. Indien ek nou omdraai om terug te gaan na Egipte toe,
verloor ek my ewige lewe, want ek kies om terug te gaan na my lewe onder die
Satan(Farao). So daar is nie klein sondes of groot sondes nie, maar ek moet
wegkom van die heerser van sonde en my onder die bloed van Jesus plaas om die
ewige lewe te kan ontvang. Dit is wedergeboorte.
Paulus het ook Israel en
hulle pad wat hulle moes loop as voorbeeld vir ons as Christene gebruik. Hy
skryf in 1 Korintiërs 10: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou
weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan
het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde
geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het,
want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was
Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want
hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir
ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.
En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe
is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.
En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het
op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos
ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En
moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het
deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as
voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die
eeue gekom het.” (1Kor 10:1-11)
So volg wat die Bybel
leer oor hoe ek kan verseker dat ek kind van die HERE is. Dit is wat Paulus ook
hier uitlig. So het al die profete, konings en in besonder koning Asaf (Psalms
78 en 79) dit gedoen deur die volk te herinner aan hulle lewe voor die HERE
hulle uitgelei het, en dan hulle lewe daarna.
So kom uit Egipteland en
vestig jou in Kanaän, dit wat die HERE vir jou het. Dit is wedegeboorte. Indien
jy in Egipte wil bly nadat jy onder die bloed van die Lam gekom het met nagmaal,
is dit jou keuse en is jy ook nie verworpe nie en sal die doodsengel jou nie
kan aanraak nie, maar verkry jy nie die volheid wat die HERE vir jou het in
beide hierdie lewe en wanneer die einde van jou lewe kom nie.
Ten slotte, net ‘n paar
woorde oor menseregte in kontras met wedergeboorte. Menseregte soos ons dit
vandag ken, is om die ware liefde wat slegs deur wedergeboorte ervaar en
geskenk word en soos ons dit opgeteken kry in die eerste brief van Johannes,
deur humanistiese wette in Egipteland (Sondige wêreld) te orden en te probeer
namaak. Dit maak dat die sondige mens (Egiptenaar) nie oor hul sondes skuldig
hoef te voel nie. En dit is ook die rede waarom die Christene in Egipte die
wette sal promoveer en aanvaar, want hulle staan nog onder die gesag van die
Farao.