Ons kan nie Kersfees van
Christus se opstanding skei nie. Jy sal moontlik dink aan die opstanding as 'n
Paasfees boodskap, maar die geboorte van die Kind in die krip kan nie geskei
word van die Man aan die kruis nie. God se boodskap aan ons tydens beide
geleenthede, is een en dieselfde.
Terwyl die herders na die baba
in die krip gestaar het, het hulle 'n Verlosser gesien wat die hele mensdom sou
verlos. Toe die wyse manne Hom aanskou het, het hulle 'n Koning wat die dood
sou oorwin, gesien. Toe die profete vooruitgekyk het na sy tyd, het hulle 'n
Bevryder gesien, wat tronkdeure sou oopmaak, boeie sou oopsluit en die
gevangenes sou vrylaat. Hulle het almal hulle visie gehad van wie Jesus was en
waarom Hy gekom het.
Christus was gebore in die
wêreld van duisternis en ongeloof, toe God se volk onder die vreesaanjaende
greep van die Romeinse Ryk geleef het. Israel se godsdienstige leiers het nie
veel hoop gebied nie. Die Fariseers het geglo verlossing was haalbaar deur
werke; hulle het God se wette opgerol in 'n rigiede stelsel wat onmoontlik was
om uit te voer. Die Sadduseers het nie eens in die opstanding geglo nie. Baie
min mense het enige visie van 'n ewige bestaan gehad. Dit was die duisternis
waarin Jesus gebore is.
As ons kyk na die krip in
Bethlehem, sien ek die opstanding kom. Ek sien Koning Jesus die vloedgety van
die ewige lewe inlei. Christus was volkome mens by geboorte - dit was Maria se
bloed wat Hom in die baarmoeder gevoed het en haar melk wat Hom gevoed het deur
sy kinderjare - maar sy geboorte was ook 'n uitbarsting van die ewige. Die
Bybel sê, "Die volk wat in
duisternis sit, het 'n groot lig gesien en die wat sit in die land en skaduwee
van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan" (Mattheus 4:16).
Hierdie lig was die ewige lewe
- die moontlikheid van opstanding uit die dood. Hosea het geprofeteer van die
komende Messias, "Uit die mag van
die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar
is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf?" (Hosea 13:14). Toe
Jesus gekom het, het Hy hierdie profesie vervul en gesê, "Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het
hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in
ewigheid nie" (Johannes 11:25-26).
Jesus self verbind sy geboorte
met die opstanding: "Want Ek het uit
die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My
gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy
My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit
opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat
My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige
lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag" (Johannes 6:38-40).
Christus het in wese gesê,
"Weet julle waarom Ek hier is? Weet julle waarom Ek in armoede gebore was,
waarom die herders my bewonder het, waarom die wyse manne geskenke gebring het,
waarom die engele gesing het daardie nag? Dit is sodat julle die ewige lewe kon
hê." Christus se belydenis wys direk na die opstanding: grafte wat
oopgaan, die dooies wat lewend word en die hoogste vervulling van God se ewige
verbond.
Die
Opstanding is die klem dwarsdeur die Nuwe Testament.
Die eerste kerkleiers het
Christus se vleeswording as 'n realiteit aanvaar. Hulle prediking het egter nie
rondom daardie geleentheid gesentreer nie, maar rondom die opstanding. So vroeg
as die Bovertrek byeenkoms by Pinkster, het Petrus gesê, "Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer
is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en
omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was
dat Hy daardeur vasgehou sou word' (Handelinge 2:23-24).
Oral waarheen Paulus en die
ander apostels gereis het, het hulle prediking verder gegaan as Christus se
vleeswording en wonderwerke, om te vorder tot by die opstanding: "Toe het hulle...in Thessalonika gekom, waar 'n sinagoge van die Jode
was. En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank
met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgele en aangetoon dat die Christus
moes ly en uit die dode opstaan, en gese: Hierdie Jesus wat ek aan julle
verkondig, is die Christus" (Handelinge 17:1-3).
By Mars Heuwel in Athene, het
Paulus gepreek, "Omdat Hy 'n dag
bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy
aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die
dode op te wek" (Handelinge 17:31).
Paulus het ook gepreek oor die
opstanding toe hy voor die Romeinse goewerneur Felix en voor Koning Agrippa
verskyn het. Sonder die opstanding, het Paulus gesê, is al ons prediking van
Christus se evangelie inderdaad verniet. Hy verduidelik waarom: "En as Christus nie opgewek is nie, dan
is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes" (1 Korinthiers 15:17). Paulus sê in wese vir ons, "As dit nie alles
oor die opstanding gaan nie, kan julle vergeet van die Kersfees boodskap.
Waarom die geboorte van Christus verkondig? Waarom heilig wees? Waarom
hoegenaamd geestelike sake najaag? Sonder die opstanding, bly ons dood in ons
sondes. Alles wat ons doen, is verniet."
Hierdie is nie net een of
ander abstrakte teologiese waarheid nie. Hier is die punt van al ons
verkondiging van die opstanding: JESUS HET GEKOM OM JOU EN MY TE KRY. Hy was
gebore om te leef en te sterf en op te staan uit die dood - en ons op te wek
tot die ewige lewe saam met Hom. Hy het gekom om ons huistoe te neem na Hom toe
vir die hele ewigheid!
Dit was die boodskap van die
Nuwe Testamentiese kerk. "Maar nou,
Christus is opgewek uit die dode: Hy het die eersteling geword van die wat
ontslaap het" (1 Korinthiers 15:20). Met ander woorde, net so seker as
wat die Gees Christus uit die dood opgewek het, sal Hy ons ook opwek: "Want ons weet dat Hy wat die Here
Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal
stel" (2 Korinthiers 4:14).
Terwyl ek binne-in die krip
kyk, sien ek 'n brug. Christus is die brug tussen die aarde en die hemel, wat
die afgrond van die dood oorkruis en die tydelike lewe van die ewige lewe skei.
Eendag sal ons daardie brug oorsteek en dit sal plaasvind in 'n oogwink: "In 'n oomblik, in 'n oogwink, by die
laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik
opgewek word; en ons sal verander word" (1 Korinthiers 15:52).
Talle
Christene wonder, "Wie sal ek eerste sien wanneer ek opgewek word in die
ewigheid?"
Ek is oortuig dat wanneer
hierdie oomblik kom, sal ons almal vir Jesus eerste wil sien. Hy is Liefde wat
vlees geword het - ons Verlosser, Geneesheer en Koning. Die Bybel sê daar is
geen huwelike in die hemel nie, maar daar is liefde, want Hy is liefde. Almal
sal een in Christus se liggaam wees en ons sal mekaar herken met 'n geestelike
intuisie. Die Skrif sê, op daardie oomblik sal ons ken, net soos ons geken
word.
Miskien het jy nie grootgeword
met 'n liefdevolle vader of moeder nie. Miskien het niemand in jou huis Jesus
geken of ooit sy kosbare liefde aan jou betoon nie. Jy wonder, "Wie sal
daar vir my wag?" Ek sê vir jou, jy het ander familie - die familie van
God. Ek is oortuig daar is niemand in Christus se liggaam wat nie voor gebid is
deur iemand wat voor hom gekom het nie - 'n ouer man of vrou, 'n herder, 'n
vêrlangse familielid. Jy sal herken en omhels word met die familieliefde wat
God vir jou voorberei het in die ewigheid.
Astronome het melkwee ontdek wat groter is as wat
ons ons kan indink, asook planete deurslaggewend groter as die aarde. Dit is
niks vir die Skepper van hierdie uitgestrekte heelal om sy skepsels uit die
dood uit op te wek nie.
Paul Harvey vertel die storie
van 'n ateïs wetenskaplike wat vir dekades lank na kollege kampusse gereis het
om klas te gee oor hoe onmoontlik dit is dat God kan bestaan. Jare later het
hierdie man 'n Christen geword. Wanneer hy ook al gevra is waarom hy hom bekeer
het, het hy met een woord geantwoord: "DNA."
Binne-in elke mens is hierdie
verstommende ontdekking genaamd DNA. Dit is 'n unieke identifiseerder so
akkuraat dat iemand skuldig bewys kan word van 'n misdaad as sy DNA by die
misdaadtoneel gevind word. DNA is kompleks, tog kan dit uit iets so eenvoudig
soos 'n haar geneem word. Daarin, het wetenskaplikes 'n "genetiese
kode" ontdek met biljoene stukkies inligting, wat as dit aaneen verbind
word, uniek is aan daardie persoon.
Wie het hierdie ongelooflike
verskynsel geskep wat die verstand te bowe gaan? Wie het die unieke genetiese
kode van elke mens geken sedert Adam en Eva? Slegs God. Hy het nie net elke
haar op ons hoofde getel nie, maar het ons unieke DNA op elke string gedruk.
Dit is wat die ateïstiese wetenskaplike nederig gemaak het: die manjifiekheid
van 'n Skepper en sy ewig-indrukwekkende skepping.
God ken die DNA van elke mens
wat ooit geleef het - en Hy weet hoe om dit te rekonstrueer wanneer Hy ons op
die laaste dag opwek. Dit behoort alle vreemde leerstellinge wat onstaan het
oor die jare oor die opstanding tot ruste te laat kom. Sommige sê daar kan nie
'n liggaamlike opstanding wees vir mense wat veras of bloedige dode gesterf het
nie; hulle kan nie verstaan hoe God dit kan doen nie. Dit is in werklikheid ons
verbeeldings wat nie die heerlikheid van God kan peil nie. Ons breine is te
beperk.
Ons weet wel dat die liggame
wat God uit die graf sal bring, veranderde liggame sal wees. Sommige dink ons
sal geeste wees, maar die Bybel maak dit duidelik ons sal liggaamlik opgewek
word. Alles beskadig, afgekap of vernietig, sal binne 'n oogwink herstel word.
Krom mense sal regop loop. Die blindes sal sien. Diegene wat gebreklik is van
geboorte af of in oorloë gesneuwel het, sal heelgemaak word. Hulle DNA sal
volmaak gemaak word deur hulle Skepper!
Ek
dink ook aan die opstanding wanneer ek hartseer, eensame mense sien tydens
Kersfees.
Ek wil vir hulle almal vertel: "Daar is 'n nuwe wêreld aan die kom
- 'n wêreld sonder sonde, armoede of siekte. Dit is waarom Hy gekom het - om
ons na die nuwe wêreld te neem wat Hy geskep het. Dit is vêr bokant enigiets
wat ons kan verstaan. Jou Koning kom om jou te kom haal!"
In die tussentyd, is die
opstandingslewe reeds vir ons beskikbaar - in hierdie lewe. Ons is beloof, "Sodat net soos Christus uit die dode
opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan
wandel" (Romeine 6:4).
Laat ons hierdie Kersfeestyd,
hierdie Christusfeestyd 'n opstandingsingesteldheid hê. Soos Paulus vermaan, "Maar, broeders, ek wil nie hê dat
hulle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle
nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus
gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het,
saam met Hom bring...Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1
Thessalonicense 4:13-14, 18).
"En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en
hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord
wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou
angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?...Maar God sy dank, wat ons die
oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus" (1 Korinthiers 15:54-57).