Almal vra my altyd hoekom ek baie keer
aanhalings uit die Ou Testament gebruik om standpunte te stel of te debatteer,
en nie juis Nuwe Testamentiese gedeeltes gebruik nie. Vir my was dit in die
begin ook nogal moeilik, want alhoewel ek regtig eers hier in my laat dertigs
begin het om werklik die Bybel te bestudeer en eers op vyftig begin skryf het
en georden is as ‘n leraar, het ek gevind dat ek veral met die skrywery baie na
die Ou Testament verwys het. Om die waarheid te sê het ek eendag vir Hettie
gesê dat ek nie kan glo hoeveel waarhede daar in die Ou Testament is wat ek nie
van geweet het nie. Ek het amper gevoel asof ek nie nodig het om na die Nuwe
Testament te verwys nie, want alles wat ek nodig gehad het om mense in die
regte verhouding met die Vader, Seun, en Heilige Gees te sit, kon ek uit die Ou
Testament doen. Maar ek weet mense wil mos graag net weet wat Paulus en die
ander apostels en dissipels gesê het, en dan is daar natuurlik Openbaring en
Daniël wat alles altyd oorheers, veral in die Pinkster/Charismatiese kringe.
Ek wil graag net so ‘n ietsie oor myself
en ons familie vir almal meedeel, soos wat ons agtergrond is, en wat met my gebeeur
het en my spesifiek op hierdie paadjie met die HERE geplaas het.
Ek en Hettie het maar altyd ingeskakel by
ons plaaslike gemeente van die dae van ons huwelik in 1972 af, en voor dit,
want ons het darem by die kerk ontmoet. Sy het net eendag skielik van hierdie
jong meisie na hierdie pragtige tiener verander, en moes ek inspring voor
iemand anders dit dalk kon doen. So het ons lewe maar rondom die familie en
kerk gedraai en het ek eenmaal die predikant by ons nuwe gemeente nogal ontkant
gevang. Ds. Sakkie was baie verbaas toe ek hom voorkeer nadat ons van Amanzimtoti
af terug Florida Glen toe is en ek met ons attestaat in die hand ons as
huisgesin aan hom voorgestel het. Toe moes ek hom eers verduidelik dat ek die
attes skriba was in die vorige gemeente, so dit was maklik om net die vorige
predikant aan te sê om ons attestaat te teken. Hettie my gespot en gesê ek het
‘n twee jaar sindroom, aangesien ons redelik baie rondgetrek het en dit
gewoonlik elke tweede jaar was. Dit het regtig so uitgewerk aangesien ons vir
die eerste 28 jaar van getroude lewe regtig 14 keer verhuis het, maar nou moet
ek by sê dat dit ook maar tussen verskeie dorpe soos Johannesburg omgewing,
Pretoria, Suidkus van Natal, en toe later jare die Oos Kaap en Wes Kaapse see
dorpe ook ingesluit het. Dan was daar ook maar plekke waar soos voor ons ons
eerste huis laat bou het net ses maande lank in ‘n woonstel gebly het en dan na
‘n ander een getrek het vir ‘n verskeidenheid van redes soos bv. geen hysbak
toe sy vir Barney verwag het en sy vier stelle trappe moes klim van die
ondergrondse parkering na ons blyplek op die boonste vloer. Of soos met ons
terugkeer van Natal waar ons net ses maande lank in ‘n huurhuis gebly het
voordat ons weer ons eie huis gekoop het.
Maar terug na my oorspronklike skrywe. In
Februarie 1982 het ek die eerstekeer in my lewe werklik gesien dat die HERE
binne oomblikke omstandighede kan verander, en het dit ‘n blywende impak op my
lewe gehad. Ek het op hoërskool terwyl ons geoefen het vir Republiekdag viering
by die skool in gimnastiek my neus baie lelik gebreek deurdat ek op my tone
beland het na ‘n dubbele tuimelslag en ek my neus teen my knieg gestamp het. In
1982 seker 15 jaar later, het ek besluit dat dit tyd is om my neus reg te kry
dat ek ordentlik kon asemhaal en het die dokters ‘n baie goeie taak verrig en
kan ek nogsteeds lekker asemhaal. Hulle het ‘n gedeelte van die kraakbeen
uitgehaal sodat my neus weer reguit was, maar nou is die voorste kraakbeen
gedeelte heeltemal los, en lag die kleinkinders nogsteeds wanneer ons daar
kuier en hulle my vra om my neus teen my wang te druk. Maar daar was ook ‘n
baie donkerkant die dag daarna gewees toe Hettie vir my die Saterdagoggend by
die hospitaal kom kuier het en die bediende vir Barney en Esthee na een van
Barney se maatjies toe gevat het sonder ma se toestemming. Met haar terugkeer
het Hettie dadelik gesê dat Barney en Esthee moes terugkom, en oppad terug het
Barney voor ‘n motorkar ingehardloop.
Hy het skeudelbreuk opgedoen, en amper sy
linkervoet ook verloor aangesien die voet onderstebo tussen die band en die pad
beland het en hy toe saam met die kar gesleep is vir ‘n hele ent. Daar was geen
vleis of enige iets oor nie behalwe wit beentjies wat bo op die voetsool gelê
het. Ek is toe dadelik ontslaan en is hy die Saterdag oorgeplaas na ‘n
hospitaal met hoësorg afdeling aangesien daar bloeding op die brein was, en hy
bewusteloos was. Hy was op die ou einde amper drie maande in die hospitaal en
het toe ook twee veloorplantings gehad plus nog vele operasies om die voet te
red. Maar wat my gevang het was die Woensdagoggend meer as ‘n week na die
operasie waar ek onder in die kar seker die moeilikste gebed in my lewe gebid
het. Ek kon dit nie vat om te sien hoe hy net lê sonder dat hy bewus is van
enigiets om hom nie. Dit het ook veroorsaak dat hulle nie aan sy voet kon werk
nie maar al wat hulle kon doen was om die voet skoon te hou om so te keer dat
daar infeksie ontstaan het. Ek het die oggend in die kar die HERE gevra dat hom
of sou terug gee vir ons, of as dit sy wil was, om hom te kom haal want ek kon
nie toesien hoe hierdie kind van my verder ly nie.
Toe ek bo in die hospitaal kom 7 uur die
oggend het die suster vir my gesê daar is geen verandering nie, maar tot almal
se verbasing het Barney die oomblik toe ek sy hand vat en vir hom groet, hy vir
my gesê het “Môre pappa”. Weet jy al die verpleeg personeel het saam met my die
oggend gehuil toe hy sy bewussyn herwin het en sy oë oopgemaak het en ek hulle
vertel het van my gebed voor ek in die hospitaal ingegaan het.
Dit was die eerstekeer.
Die tweedekeer was net na my eerste
operasie vir kanker in 1986 toe die HERE my volle aandag gekry het, veral toe
ek Hom gevra het dat Hy my sal spaar om net ons jongste dogter te sien
grootword aangesien ek nie wou hê dat sy en die ander kinders sonder ‘n vader
figuur moes groot word nie, en ek nogsteeds hier is om selfs haar kinders te
sien wat al baie groter en ouer is as wat sy daardie tyd was. Su-Hannie was toe
nog nie eers vyf jaar oud nie. Daardie tyd het ek nie eers gedink dat die
laaste kind eerste sal wees nie en dat Esthee eers amper 8 jaar na Su-Hannie se
laaste baba haar eerste baba sou hê nie. Die gebeurtenis het regtig ‘n baie
groot impak gehad want ek glo nie iemand is reg om op 34 jarige ouderdom al te
sterf aan kanker nie. Gelukkig kon hulle alles verwyder wat hulle gesien het in
die blaas en na driejaar is ek uiteindelik “skoon” verklaar, net om agt jaar
later weer deur die storie te moes begin werk het, net die keer sit ek nou al
met hierdie ander tipe kanker vir die afgelope 22 jaar wat ons van weet, maar
dit was al heel moontlik daar voor die eerste operasie in 1986, en kon ek dit
al selfs as kind gehad het. Dit sal baie van my onverklaarbare episodes van my
kinderdae oplos waar ek baie seer in die buik gehad het, en ek gereeld soos ‘n
sak aartappels induie gestort het soos wanneer jy die bodem afgesny het en die
sak opgetel het. En dan het die dokter my maar ondersoek maar nooit iets fout
gekry nie. Ek het dit later jare soort van ontgroei, en kon dit makliker
bestuur want ek het geweet wanneer dit sou gebeur aangesien ek geweet het wat
die simptome was wat aanleiding gegee het tot so ‘n gebeurlikheid.
Ons het gedurende daardie tyd na my eerste
kanker operasie en vir baie jare daarna elke oggend begin met huisgodsdiens in
die bed in ons kamer. Die kinders het onder gesit en in die winter hulle
toegemaak met of hulle eie duvet’s wat hulle saam gebring het, of net onder pa
en ma s’n gesit by die voetenend van die bed. Dit het my nogal half gedwing om
regtig die Bybel te begin deurlees sodat ek elke oggend iets kon deel met die
res van die huisgesin.
Dit was vir my nogal baie snaaks dat ek so
baie keer gedeeltes gekry het in die Ou Testament, en dan was dit nie altyd net
verhale soos Simson of Dawid of Salomo nie, maar baie keer gedeeltes uit die
profete of Psalms wat ‘n spesifieke onderwerk aangeraak het. So met verloop van
tyd het die kinders self hulle eie tyd spandeer in die Bybel en het hulle nie
meer lus gehad om saam met Sonja Herholdt uit die rooi boekie (Jeugsangbundel)
te sing nie, want hulle het darem nou al te groot geword daarvoor. Dit was nou
tenspyte van die feit dat ons daardie jare nog in die Gereformeerde Kerk was,
en eers na die kinders in die hoërskool was ‘n kort tydjie, seker maar twee
jaar lank, in die NG Kerk was voordat ons oorgegaan het na wat oorspronklik
Corpus Christi gemeente van die AGS in Brooklyn Pretoria was, en gedurende ons
tyd daar begin is met Doxa Deo gemeente met meer as een kampus, maar wat tog as
een gemeente gesien word. Gedurende die jare het ek en Hettie ook saam met
mense gewerk om die Jesus film by verskeie plekke te wys, en het ek vandag nog
my VHS weergawe plus masjien om dit nog te wys.
Die derdekeer was gedurende Augustus 1995 toe
ek wakker geword het met ‘n baie groot pyn in my regter sy. Ek is uiteindelik
dokter toe na werk, en is ek toe dadelik hospitaal toe gestuur vir ‘n nood
blindederm operasie. Ek is die aand laat eers geopereer en gedurende die
operasie het selfs die chirurg erken dat die HERE daar was tydens die operasie.
Volgens die chirurg kon hy nie ‘n lekker houvas op die blindederm kry nie en
moes hy noodgedwonge die snit groter maak, en toe ‘n gedeelte van die dunderm
uitryg om plek te maak om te werk. Volgens hom kon hy vroeër al gestop het maar
het hy skielik iets in sy hand gevoel wat groter was en daar het hy toe op die
eerste gewas afgekom van so om en by die 10cm lank. Toe hy afkyk het hy geweet
dit wat hy gesien het was kanker, en toe hy die blindederm verwyder het hy
gesien daar was ook ‘n gewas binne die blindederm. Dit is een van die plekke
wat bekend is onder medici waar Carcinoid die meeste ontstaan. So, soos hy my
toe meegedeel het dat indien hy gestop het toe hy genoeg plek gehad het, sou
hulle nooit die gewas opgespoor het nie en sou my familie heel moontlik in 1996
‘n begrafnis diens moes hou. Hy het toe ook gesê dat ek so twee maande later in
Oktober moes terug kom vir nog ‘n operasie om te kyk hoeveel nodes daar was wat
alreeds hierdie snaakse Carcinoid kanker gehad het. So dit was so amper 22 jaar
gelede, maar die chirurg het my meegedeel na die opvolg besoek dat hy alles
binne sy vermoë gedoen het om die kanker te verwyder, maar daar was tog ‘n
gedeelte wat hy moes los aangesien dit onmoontlik is om chirurgies te verwyder.
Wat hy my wel meegedeel het is dat hy glo dat die HERE my wel kan genees, maar
dat ek nogsteeds vir chemo moes gaan.
Na die tweede operasie in 1995 wat ek vir
kanker gehad het, het ek ‘n baie snaakse ondervinding gehad. Ek het die oggend
wakker geword en die pragtigste koorsang gehoor wat ek nog ooit in my lewe
gehoor het. Ek het elke persoon se radio by sy bed gaan kyk of die sang
daarvandaan gekom het, maar almal se radios was af. Verder het ek skielik net
hierdie gesig gesien afspeel hier voor my waar ek op ‘n platform gestaan het
soos wat jy by baie wildsplase kry sodat jy rustig oor die landskap na die
dierelewe kon kyk, maar al wat ek gesien het was mense in wit klere wat gestap
het na ‘n heuwel in die verte. Wat vir my baie snaaks was, was dat al hierdie
mense wit klere aangehad het en jy net hierdie massas mense gesien het. Daar was
nie een plek waar jy ‘n gaping tussen die mense gehad het nie. Hettie het later
die oggend kom kuier en is na ‘n kort rukkie weer terug huis toe want ek was
nie juis goeie geselskap nie. Ek het net heeltyd geluister na die musiek en my
verkyk na die massas mense. En die beeld het afgespeel half in my kop, want ek
kon my oë toemaak en nogsteeds die beeld sien, of my kop teen die muur druk en
dan het ek nogsteeds hierdie beeld gesien. Daar was twee persone saam met my op
hierdie platform, maar ek het nie met hulle gepraat nie. Ek het net geweet die
een persoon was Moses.
Dit was ook een van die bydraende faktore
hoekom ons toe uit die NG Kerk bedank het aangesien ek een van ons predikante
gevra het wat hy dink dit kon beteken, en sy antwoord basies was dat ek dit
moet vergeet en aangaan met my lewe want dit sal my nog van my kop laat afgaan.
‘n Mooi manier om te sê dit sal my nog in Weskoppies (‘n hospitaal vir mense
met geestelike probleme) laat opeindig. Ek was nogal geskok met sy antwoord
aangesien ek regtig gedink het hy dalk ‘n antwoord sou hê aangesien hy ‘n
doktorsgraad in teologie gehad het.
So dit is maar waar my paadjie met die HERE
‘n drastiese verandering tot gevolg gehad het. Ek het toe regtig begin om meer
uit te vind wat gaan eendag maak dat ek weet ek in die hemel gaan wees, en
waarvoor ek moet oppas dat dit my nie van my bestemming beroof nie. Gedurende
die tyd het ons saam met vriende in die week by ‘n bekende evangelis gaan leer,
en het hy eendag vir my gesê hy sien dat wanneer hy na my kyk ek nogal hoë
standaarde stel om te onderskei tussen Christene en nie-Christene. Hy het
dieselfde dag ook vir Hettie gesê dat hy sien dat sy ‘n baie diep verhouding
met die HERE het en dat Hy baie tevrede met haar is. Vir iemand wat nog nooit
so iets ondervind het nie weet ek dit is moeilik om te verstaan of te begryp.
Ek weet hoe ek die eerste keer wat iemand
so iets vir my gesê het amper my melk weg geskrik het. Ek moes die Sondagaand
‘n leesdiens hou aangesien die proffie wat ek gereël het om by ons te preek die
dag my die Donderdag net laat weet het hy dit nie kon maak nie, en ek en oom HT
besluit het om maar preke voor te lees, iets wat verseker nie in die gemeente
die gewoonte was nie. Die aand na die diens het almal in die konsistorie my
gevra hoekom ek nie vir predikant gaan studeer het nie of sommer nou begin nie
aangesien hulle nie kon agterkom dat ek die preek voorgelees het nie. My
antwoord was maar dat dit moeilik is om op 39 jarige leeftyd eers te begin en
ek drie kinders op skool gehad het, en verseker nie die geldelike vermoë gehad
het om dit te doen nie.
‘n Paar weke na die episode is ek en Hettie
uitgenooi om saam met ander mense net ‘n aand na hulle kleuterskool te gaan om
net ‘n bietjie saam te bid en te sing. Die vrou wat die begeleiding gedoen het
die aand, het so halfpad skielik ophou klavierspeel en reguit na my gekyk en
gesê sy ervaar dat die HERE nog baie deur my gaan werk en dat Hy my wil
gebruik. Dit was toe dat ek amper my melk weg geskrik het, want ek het nog
nooit so iets beleef nie.
Terug na die tydperk na my operasies in
1995. Daar het ek toe skielik begin om sekere gedeeltes raak te lees en gevoel
ek kon iets daaroor skryf, of net met mense deel. Van dit het dan ook vir my
gevoel soos opdragte wat ek uit die Bybel ondervind het wat die HERE vir my
gegee het. Ek weet dit klink dalk snaaks maar dit is maar hoe my paadjie met
die HERE gewerk het, en was die eerste gedeelte wat Hy my ‘n opdrag gegee het
gekom het op 16 April 1996. Ek het nog die boek waarin ek dit neergeskryf het,
maar die opdrag was dat ek die verlossingsboodskap moes verkondig, en dat ek
ook herders daarop moet wys dat hulle nie die skape wat die HERE aan hulle
toevertrou het nie, opgepas het nie. (Esegiël 34) Dan was die laaste gedeelte van
die opdrag dat ek ook diegene moet uitwys wys wat ander Christene verdruk. Die vorige
dag het die HERE ‘n gedeelte wat ek nogsteeds vandag ervaar gegee, en dit was
uit Jeremia 45, waar Hy sê dat ek my lewe sal behou.
Vir iemand wat net ses maande vroeër gehoor
het dat ek seker nog net ‘n paar jaar oor het voor my einde sal kom was en is
dié woorde nogsteeds iets wat ek elke dag aan vashou.
Vandag weet ek ook hoekom ek nie vroeër teologie
moes gaan studeer het nie, want ek het toe eers geleer dat baie van dit wat ek
toe wel geleer het deur die Bybelskool wat ek by studeer het, maar dun gesaai
is oor wat in die Bybel staan. Dit gaan meer oor hoe die spesifieke groep glo,
hoe om ‘n gemeente te bestuur, oor Grieks en Hebreeus te leer, en nog baie
ander onderwerpe soos wat die verskillende uitkyke is van verskillende
genootskappe en hul interpretasies van die Bybel. So het ek toe na my studies uiteindelik
my eie Bybelskool by ‘n gemeente begin wat vinnig na ‘n nuwe gemeente gelei
het, en hoe alles baie vinnig induie gestort het. Maar ek het daaruit geleer
dat ek maar moet fokus op dit wat my opdrag was, en dit was maar om neer te
skryf wat ek by Hom geleer het, Jeremia 30:2
“So spreek die HERE, die God van
Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het;”
en dan het alles half vanself gekom.
Wat toe vir my baie snaaks was is dat die
HERE my op ‘n tog deur die Ou Testament gevat het en soos ek in die begin gesê
het, het ek meeste van dit wat ek antwoorde op gesoek het, in die Ou Testament
die antwoorde gekry, en dan eers het ek die bevestiging in die Nuwe Testament
gekry. Daar is wel gedeeltes wat ek nie in die Nuwe Testament voor antwoorde
vind nie, maar wel partykeer bevestiging van Ou Testamentiese leerstellings in
wat vandag bekend staan as die Apokriewe boeke, gekry.
Maar gelukkig het die HERE ook deur ander
mense en dan ook deur Jesus self ook baie keer vir my antwoorde laat kry deur
wat hulle gespreek het. Die eerste gedeelte wat ek gekry het in my soeke hoekom
ek altyd in die Ou Testament opgeëindig het, was woorde wat Jesus self geopper
het. Ons almal ken die gelykenis van Lasarus en die ryk jongman, waar die ryk
jongman vra dat iemand na sy broers gestuur word om hulle te waarsku sodat
hulle nie eindig waar hy was nie. Jesus voltooi vir ons die verhaal as volg: “Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy
jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou
word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle
‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie
kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan,
vader, om hom na my vader se huis te stuur— want ek het vyf broers—om hulle
dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses
en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader
Abraham, maar as iemand uit die dode na
hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en
die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook
uit die dode opstaan.” (Luk 16:25-31)
Die twee gedeeltes wat ek beklemtoon het is
nogal baie treffend. Jesus verwys ook daarna dat ons net Moses en die Profete
nodig het, so net die Ou Testament, om te verstaan hoe om kind van God te word,
en dan voltooi Hy dit deur te na Homself te verwys wat uit die dode sou opstaan
en tog het die Jode Hom nie geglo nie.
Dan het Paulus ook ‘n gedeelte vir ons
opgeteken in die eerste brief aan die gemeente in Korinte. “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons
vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal
in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike
spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het
gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar
God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is
neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons
nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook
nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk
het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons
nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag
drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook
sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En
moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het
deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as
voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die
eeue gekom het.” (1Ko 10:1-11)
En dan is daar natuurlik die hele boek aan
die Hebreërs wat juis gebruik kan word om soos Paulus hier bo genoem het, vir
ons sovele vrae kan beantwoord indien ons weet hoe die Jode geglo het. Die boek
beskryf juis hoe Christus groter is as enige ander skepsel van die HERE, en dat
Hy deur die Hemelse tabernakel gegaan het met Sy eie bloed om vir ons sondes te
betaal.
Die naam van my eerste boek is dan ook Die
Boek van Moses. Dit is beide omdat ek maar baie uit die Ou Testament verwys,
asook ‘n ander baie persoonlike rede. In ons ouerhuis het ons altyd as iemand
iets gesê het wat hy nie dadelik aan die Bybel kon koppel nie, gesê dit staan
in Moses X ver X. So was Moses 3 vers 3 altyd “Moenie worry nie”, so die x’se
is dan met nommers vervang.
Die boek bring my juis by ‘n ander persoon
uit, naamlik Markus. Dit is nou die persoon wat die eerste evangelie geskryf
het alhoewel dit nie die eerste boek in die Nuwe Testament is nie. Markus het
saam met Barnabas en Paulus gewerk in die eerste volle gemeente nadat Barnabas
vir Paulus gaan soek het om hom te kom help het om die gemeente op die been te
bring. Dit was ook waar Paulus se bediening begin het. Barnabas en Paulus het
toe later van mekaar geskei: “En ‘n paar
dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek
in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe
dit met hulle gaan. En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem.
Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle
verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. Daar het toe ‘n
verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het
Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil. Maar Paulus het Silas gekies en
afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was.” (Hnd
15:36-40)
Na hierdie episode lees ons nooit weer in
die Bybel oor Markus of Barnabas nie. Maar hoekom wil ek nou juis Markus
uitsonder. Ons leer dat daar baie persone is wat die laaste paar verse van
Markus nie aanvaar nie aangesien dit nie in sommige geskrifte voorkom nie. Dit
het my ook gepla totdat ek maar na my eie skrywes gekyk het. Dit is so dat van
die artikels en boeke wat ek geskryf het verskillende weergawes is, aangesien
ek maar elke nou en dan iets nuuts raak lees of vir my oopgaan en ek dan die
gedeelte by plaas of verander. Nou neem ek maar aan dat Markus na die episode
wat Paulus gehad het toe die adder hom gebyt het, dit self by sy opname van sy
evangelie gevoeg het, want hy het dit immers eerstehands beleef. So dalk was
daar al ander afskrifte wat nie die gedeelte gehad het toe alreeds in omloop
tussen die verskillende gemeentes.
Wanneer ek na die Hebreërs boek kyk, kan ek
nie ophou wonder of dit nie dalk ook deur Markus geskryf is nie, aangesien daar
nie eenstemmigheid is oor wie dit geskryf het nie. Party mense sê dit was
Paulus, ander weer Barnabas, maar beide van hulle het Markus as skrywer
gebruik. Lukas het toe saam met Paulus gewerk na hulle opgesplit het en het toe
sy eie weergawe van die evangelie geskryf en ook die boek van Handelinge.
Maar wat Markus aanbetref vind ons tog twee
verdere boeke wat ook as apokrief bekend staan wat deur hom geskryf is. Die een
is die Handelinge van Barnabas wat beskryf hoe hulle van Paulus geskei het, en
dan beskryf hoe hulle in Ciprus gewerk het en hoe Barnabas aan sy einde gekom
het deurdat hy deur die Jode verbrand was, en dan die brief van Barnabas, waar
hy die Ou Testament se letterlike gebeure gebruik en dan die geestelike waarde
daaraan koppel. Die Brief van Barnabas moet nie met die Evangelie van Barnabas
verwar word nie wat duidelik eers na 1600 jaar na Christus geskryf is en deel
maak van die boeke wat die Moslems aanhang. Ek moet erken dat die Brief van
Barnabas soveel van my eie interpretasies bevestig het, dat ek dit persoonlik glad
nie as apokrief sien nie, aangesien dit juis doen wat Paulus vir ons in die
gedeelte wat ek aangehaal het, gedoen het, naamlik om die voorbeeld van Israel
voor te hou en dan die geestelike betekenis daarvan uitlê. Verder is dit juis
geskryf aan persone wat met die Ou Testament bekend was, aangesien dit juis die
gedeeltes vir ons verklaar. Dit stem ook ooreen met wat Lukas geskryf het in
Handelinge dat Paulus en Barnabas altyd eers na die plaaslike sinagoge toe
gegaan het en daar die skrifte vir die mense verklaar het. So die persone het
dus reeds die Ou Testament geken en kon dus doen wat ons vind in Handelinge 17:
“Daarop het die broeders dadelik in die
nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na
die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in
Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag
die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook
gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.”
(Hnd 17:10-12)
So dit wil vir my voorkom asof ek tog dalk
nie alleen staan deur die Ou Testament te gebruik nie, aangesien die eerste
apostels dit ook gedoen het. Hier volg so ‘n paar aanhalings uit Handelinge wat
wys waar Paulus en Barnabas en al die ander Christene eerste die evangelie van
Jesus aan die Jode verkondig het.
“En
toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die
bekering tot die lewe geskenk. Die wat dan verstrooi was deur die
verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het
die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand
die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen. En daar was sommige van
hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en
die evangelie van die Here Jesus verkondig het. En die hand van die Here was
met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer. En
die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle
het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë. Toe hy daar
kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike
voorneme aan die Here getrou te bly; want hy was ‘n goeie man en vol van die
Heilige Gees en geloof; en ‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te
soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring. En hulle het ‘n hele
jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys
gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.” (Hand 11:18-26)
Hand 13:14 “Maar hulle het van
Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan
en gaan sit.”
Hand 13:42 “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat
daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. Hand 13:43 En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige
Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle
toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.”
Hand 14:1 “En op dieselfde wyse
het hulle in Ikónium in die sinagoge van
die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke
gelowig geword het.”
Hand 16:1-3 “En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ‘n dissipel met die
naam van Timótheüs, seun van ‘n gelowige
Joodse vrou, maar van ‘n Griekse vader. Hy het goeie getuienis gehad van
die broeders in Listre en Ikónium. Paulus
wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter
wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat
sy vader ‘n Griek was.”
Hand 17:1 “Toe het hulle deur
Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka
gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. Hand 17:2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle
gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte Hand
17:3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode
opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.”
Hand 17:10 “Daarop het die
broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. ”
Hand 17:16 “En terwyl Paulus in
Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die
stad vol afgodsbeelde was. Hand 17:17 Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die
godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. ”
Hand 18:1 “En
daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. Hand 18:4 En hy het elke sabbat in die sinagoge
gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig. ”
Hand 18:19 “En
hy het in Éfese aan kom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.”
So uit die gedeeltes sien ek nie dat hulle
nuwe leerstellings gebring het nie, maar slegs dat hulle die Profete en Moses
verklaar het deur te wys wat Jesus moes kom doen. En dit is waar ek gewoonlik
verskil van baie mense, aangesien ek voel dat indien die eerste Apostels net
Jesus verklaar het uit die Ou Testament, ons nie nou nuwe leerstellings kan bou
op wat Petrus of Paulus geskryf het nie. My standpunt is maar dat die
Israeliete en Jode wat geglo het, die eerste Kerk was en dit geld al van Moses
se tyd. Indien die mense die HERE verwerp het, vind ons nie dat hulle later in
die Ou Testament weer genoem word as deel van Israel nie, so dit sê dus dat
hulle nie deel is en sal wees van die mense wat saam met Jesus in die hemel sal
wees nie.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is wat Paulus
self ook noem in 1 Korintiërs 10. “Want
ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder
die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is
in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en
almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n
geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want
hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir
ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.”
(1Ko 10:1-6)
Dan is daar ook die verhaal in Jeremia waar
die wat in Jerusalem agtergebly het na Egipte toe terug gegaan het. “Daarom, so sê die HERE van die leërskare,
die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele
Juda uit te roei. En Ek sal die
oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te
trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland
omkom. Deur die swaard sal hulle val, deur die hongersnood sal hulle verteer
word, groot sowel as klein; deur die swaard en die hongersnood sal hulle
sterwe; en hulle sal ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing en van vervloeking
en smaad word. En Ek sal besoeking doen oor die wat in Egipteland woon,
soos Ek besoeking gedoen het oor Jerusalem deur die swaard, die hongersnood en
die pes; sodat daar geeneen sal wees wat
ontvlug of vryraak vir die oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om
daar as vreemdelinge te vertoef nie, dat hulle kan teruggaan in die land Juda
waar hulle siel na verlang om terug te gaan, om daar te woon; want hulle sal
nie teruggaan behalwe enkele vlugtelinge nie.” (Jer 44:11-14) Die
enkeles wat wel terug gekeer het was Jeremia en sy mense, asook Barug en sy
mense. Barug was die persoon wat as skrywer vir Jeremia opgetree het, en is
hulle gedwing om saam terug Egipte toe te gaan.
So wat kan ek nog sê oor my skrywes en
standpunte? Nie veel nie, behalwe dat die gedeelte wat ek vroeër uit Jeremia
gekwoteer het, ek eers weer baie jare later na gekyk het nadat ek seker meeste
van die Boek van Moses, my eerste boek, klaar geskryf het. Die gedeelte
bevestig maar waarom ek so glo dat Israel ons voorbeeld in alles is: “So spreek die HERE, die God van Israel:
Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het; want kyk,
daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal
verander, sê die HERE; en Ek sal hulle
terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in
besit neem.” (Jer 30:2-3) So die gedeelte verklaar vir my dat ons as
Christene ook eendag ons eie Kanaän, die Nuwe Jerusalem sal beërf, en ons net
Israel se voorbeeld kan volg hoe hulle in Kanaän gekom het. Al
hulle foute word vir ons uitgewys, so dit is vir ons dus baie maklik om te
verseker dat ons nie hulle foute begaan nie. So ons het nie al hierdie
geskrifte nodig om te onderhou of aan te glo nie, aangesien ons net deur Israel
se voorbeeld te volg, ons die ewige lewe kan beërwe. Meeste van die persone wat
kommentare geskryf het oor elke vers in die Bybel, is dit eens dat die gedeelte
nog nie nooit vervul is nie. Ek haal hier vir John Gill aan, en wat sy
kommentaar daaroor is. “which cannot be
understood of their return from the Babylonish captivity; for, as Kimchi
rightly observes, only Judah and Benjamin returned from thence; and though
there were some few of the other tribes that came with them, especially of the
tribe of Levi, yet not sufficient to answer to so great a prophecy as this,
which refers to the same time as that in Hos_3:5; as appears by
comparing that with Jer_30:9; and when, as the Apostle Paul says,
"all Israel shall be saved", Rom_11:25;and I will cause
them to return to the land that I gave to their fathers, and they shall possess
it; the land of Canaan, given to Abraham, Isaac, and Jacob; and which shall
be again by the Jews their posterity; for, without that the Jews upon their
call and conversion shall return to their own land, in a literal sense, I see not how we can understand this, and
many other prophecies.”
Dit sluit aan by vers 9 waar Jeremia die volgende sê en verwys na Jesus wat
as Koning sal regeer: “Jer 30:9 Maar hulle sal die HERE hulle God dien en
hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek.” Gelukkig lewe ek nie
gedurende die reformasie tydperk nie, want dan sou meeste van die Kerkvaders my
verseker op die brandstapel laat omkom het met my verduidelikings en sienings,
ten spyte van die feit dat Jeremia en al die ander aanhalings juis verwys na
Israel as voorbeeld vir ons. En dit sluit al ons doen en late in, maar dan moet
ons van die gebruike binne konteks lees en verstaan. Want die einste Jeremia
vaar ook maar goed uit teen die volk se gebruike, veral in hoofstuk 7 is daar
twee gedeeltes: “So sê die HERE van die
leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek
julle kan laat woon in hierdie plek. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat
sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! Maar as
julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen
onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige
bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle
eie skade nie— dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek
aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu. Kyk, julle vertrou op bedrieglike
woorde wat nie baat nie.” (Jer 7:3-8) en dan die tweede gedeelte uit die
hoofstuk: “So sê die HERE van die
leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en
eet vleis. Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland
uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met
brandoffer of slagoffer nie. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik:
Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n
volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed
kan gaan.” (Jer 7:21-23), en dan volg hoofstuk 21 waar die HERE vir die
volk sê dat Hy self teen hulle sal oorlog voer. “So spreek die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek laat die oorlogswapens
terugdraai wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer buitekant die muur
teen die koning van Babel en teen die Chaldeërs wat julle beleër; en Ek sal dit
binne-in hierdie stad versamel. En Ek self sal teen julle oorlog voer met ‘n
uitgestrekte hand en ‘n sterke arm, ja, in toorn en in grimmigheid en in groot
gramskap. En Ek sal die inwoners van hierdie stad verslaan, die mense sowel as
die vee—aan ‘n groot pes sal hulle sterwe. En daarna, spreek die HERE, sal Ek
Sedekía, die koning van Juda, en sy dienaars en die volk—die wat in hierdie
stad oorgebly het van die pes, die swaard en die hongersnood—oorgee in die hand
van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van hulle vyande en in
die hand van die wat hulle lewe soek; en hy sal hulle verslaan met die skerpte
van die swaard; hy sal geen medelyde met hulle hê of hulle spaar of hom ontferm
nie. En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die
weg van die lewe voor én die weg van die dood: hy wat in hierdie stad bly, sal
sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en
oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ‘n
buit wees. Want Ek het my aangesig teen hierdie stad gerig ten kwade en nie ten
goede nie, spreek die HERE. Dit sal oorgegee word in die hand van die koning van
Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.” (Jer 21:4-10)
So dit is wat my lewe gevorm het en waaroor ek skryf en nog elke dag
bestudeer. Een iets wat ek uitgevind het is dat daar is seker nie ‘n dag wat
verloop in my lewe waar ek nie iets nuut leer of dit hoe ek glo skielik
bevestig word deur ‘n ander gedeelte in die Bybel nie.
Daarom kom my eie leuse uit Mattheus 13:52
“Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling
geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat
nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”
En
dan seker die grootste waarheid wat daar is in die Bybel en dit is om
gehoorsaam te wees. Dit is dan ook waar my bediening se naam, Shama, vandaan
kom, want die betekenis van die woord is:
H8085 שָׁמַע shâmaʻ, shaw-mah'; a
primitive root; to hear intelligently (often with implication of attention,
obedience, etc.; causatively, to tell, etc.):—× attentively, call
(gather) together, × carefully, × certainly,
consent, consider, be content, declare, × diligently, discern,
give ear, (cause to, let, make to) hear(-ken, tell), ×indeed,
listen, make (a) noise, (be) obedient, obey, perceive, (make a)
proclaim(-ation), publish, regard, report, shew (forth), (make a) sound, × surely,
tell, understand, whosoever (heareth), witness.
So dit is my storie en
wat ek elke dag probeer uitleef.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking