Dinsdag 09 Junie 2015

Wie is uitverkies, is dit nog geldig vandag, en indien wel, hoe werk dit?

So 'n bietjie na van die goed kyk wat ek weet baie mense oor vrae het, maar nie weet hoe om dit te beantwoord nie. So vandag probeer ek uitverkiesing op 'n heel ander manier te benader en uit te lê.

Die vraag is nogal ‘n bekvol. Dit is ook ‘n area waar ‘n mens nogal huiwerig is om in te gaan, omdat dit al so ‘n groot rol in kerk geskiedenis gespeel het. Verder het dit ook al huisgesinne geskeur, en is menige persoon al onterf oor die kwessie. Maar, dit is nie wat die HERE wil hê nie. Sy Woord het nie gekom om af te breek nie, maar om op te bou, om saam te voeg. So wat leer die Bybel?

Nou moet ek sê dat ek nie dink dat as jy ‘n ernstige opinie het dat ek jou sal oortuig nie. Al wat ek vra, is dat jy sal toelaat dat die Bybel en so ook die woord wat ek met jou gaan deel, geleentheid kry om inspraak in jou gedagtes te kry.

Ek wil begin by die begin. Nou mag jy dink dat as ek na Openbaring verwys, ek aan die einde begin, maar Christus is aan die woord, en Hy was van die begin van die aarde al daar. Openbaring 3 vers 9: "Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg". Hier sien ons dat Jesus aan die gemeente skryf en sê dat sommige vertel dat hulle Jode is maar lieg. Die gemeente is in Filedelfia, verseker nie in Israel nie. Dit is ook ‘n bevestiging van Openbaring 2 vers 9: "Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan." So hier gee Jesus vir ons ‘n belangrike stukkie inligting. Slegs Jode sal gered word. Dit stem saam met wat Moses vir die Jode meedeel in Deuteronomium 7 verse 6 en 7: "Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.  Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke".

Sodra ons dit besef dat God nooit Sy beloftes sal verander nie, sal ons besef dat daar iets is wat nie pluis is nie. Hoe kan God ons as heidene dan ook red as Sy Woord verklaar dat slegs Jode gered word? Die antwoord kom uit Handelinge 10 vers 34 en 35 :" En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is." Hier sien ons dat as ons Hom vrees en geregtigheid doen, ons Hom welgevallig is. Dit los egter nog nie die probleem van Openbaring op nie. Die antwoord moet ons gaan soek in Israel se geskiedenis met die uittog uit Egipte. Hier gee die HERE vir die Israeliete ‘n wet wat hulle moet gehoorsaam. Numeri 15 vers 15 en 16: "Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees.  Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef."  Eksodus 12 vers 48 gee die finale antwoord vir ons: "En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos 'n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie."

In Israel se geskiedenis sien ons dat wanneer iemand uit ‘n ander volk hom of haar verbind het met die Israeliete, hulle as volksgenote geag is. ‘n Baie goeie voorbeeld vir ons is Rut. Alhoewel sy die reg gehad het om na haar mense terug te gaan na haar man se dood, het sy gekies om saam met Naomi na haar land te gaan. Die woorde wat Rut ook gespreek het, ontsluit die waarheid verder. Rut 1:16 "Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. 17  Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen--net die dood sal skeiding maak tussen my en u." Hier gee sy tekenne dat sy kies om deel te word van Naomi se volk, en saam met Naomi haar God sal aanbid. Wie was Rut? Dawid se grootouma. Waar kom Jesus vandaan? Uit Dawid se geslag.

Nou hoe pas al hierdie stukke in mekaar? Die HERE het Israel uitgekies as Sy volk. Ons, as heidene moet dus kies om by die volk van die HERE gevoeg te word. Hoe doen ons dit? Deur deel te word van die verbond met die HERE. In Israel se tyd was dit deur besnyding, maar vandag moet ek tot wedergeboorte kom. Johannes 3 vers 5: "Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie." Ek moet besluit, nie my ouers of iemand anders kan die besluit vir my neem nie, om deel te word van God se volk, en dan moet ek deur die doopwater gaan, dit is ons teken van die verbond, en dan met die Heilige Gees gevul word.

Hoe stel Paulus dit vir ons? Efesiërs 2: "11 ¶ Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 12  dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 ¶ Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15  deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16  en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het."

Ek vertrou dat hierdie kort gedeelte die probleem rondom uitverkiesing vir u sal uitklaar. Dit help nie ons probeer om alles so moeilik te maak nie. Jesus het self verklaar dat ons soos ‘n kind moet word om Hom te volg. Ek weet boeke en boeke is al oor die onderwerp geskryf, maar ek glo dat die antwoord hierbo, dit ook vir ‘n kind verstaanbaar sal maak. 

Dinsdag 02 Junie 2015

Wat is my doel as Christen?

Het u al gewonder wat moet ’n Christen onderskei van enige ander persoon op aarde? En dan wat daarop volg is vrae soos, wat is my doel, en moet ek ’n verskil maak? Ek lees daagliks onderwerpe waaroor baie van die godsdienstige skrywers skryf. Maar die ding wat my opval, is dat elke persoon sy eie manier van glo, of sy kerkgenootskap se siening, probeer handhaaf, of hoe die Bybel nou eintlik interpreteer word, watter dag nou watter dag is en moet ek net die Hebreeuse name vir die HERE gebruik en soortgelyke onderwerpe. En dan volg die vrae nog van mense wat glad nie glo in die Bybel en die HERE nie, net om dit nog ’n bietjie lastiger te maak.
Maleagi gee wel vir ons ’n uitspraak oor of daar verskille moet wees tussen Christen en nie Christen: “Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel? En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry! Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Mal 3:14-18) Hier sien ons dat dit maar dieselfde gaan in ons lewens vandag. So baie mense ken of dien nie die HERE nie, maar hulle word gebou en daar is nie einde aan hulle rykdom nie, terwyl die wat baie keer in oorgawe lewe, dit moeilik het. Gelukkig verklaar die profeet wel dat die wat Hom vrees, se naam in die boek van die lewe geskryf is. So dit maak nie saak van hoe dit lyk vir die wêreld nie, daar moet verskille wees tussen die wat Hom dien en die wat hom nie dien nie.
Maar wat behoort hierdie verskille te wees? Moet ek ’n sekere leefstyl handhaaf? Moet ek elke diens by ’n gemeente bywoon, of kan ek maar my eie ding doen? Hoeveel moet ek gee vir die kerk, moet ek gedoop word as gelowige of is baba doop voldoende? Daar is soveel vrae wat gevra word daagliks, wat net laat blyk dat die mense soek vir antwoorde, maar hulle kry nie antwoorde op die plekke waar hulle soek nie. Hierdie antwoorde moet natuurlik deur die ware Kerk verskaf word, maar dit is die laaste ding wat jy sal leer. Jy het mos kategese toe gegaan en daar alles geleer, nou is jy mos reg. Maar hoekom het jy dan nou vrae?
Kom ons kyk eers wat die plig van ons as gelowiges is en dan wat die Kerk moet doen. Die aanhaling kom uit Efesiërs hoofstuk vier: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”.(Eph 4:1-3) En dan gaan Paulus aan in vers 11: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;” (Eph 4:11-13) Paulus lig hier iets uit wat meeste mense nie weet nie en baie dink hulle weet maar eintlik weet hulle nie, en dit is dat elkeen van ons geroep is, vers een, om vir die HERE te werk, en dan dat elkeen sy of haar eie roeping het, vers 12. Die plig van die wat weet, is om my toe te rus vir my dienswerk, sodat ek weer ander kan toerus vir hul dienswerk en so gaan ons aan.
In die lewe skryf elkeen hopelik net een keer matriek en hoef ons nie elke jaar terug te gaan om weer geleer te word nie, maar by Christenskap leer ons nooit wat ons moet leer nie en gaan ons dus jaar vir jaar terug na ons gemeente in die hoop dat die pennie eendag sal “drop” voordat ek “drop”. Die Hebreërs skrywer vertel ons nogal wat ons moet leer ook: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.”(Heb 6:1-2)
Nou mag jy vra wat is my storie nou, want ek het jare terug al tot bekering gekom, glo, is gedoop en ken die Bybel. My vraag is: Regtig? Kan jy iemand oplei in al ses hierdie beginsels, sonder jou gemeente se hulp en interpretasie? Israel het ook gevoel dat hulle Sy kinders is, alles reg doen, maar tog het Jesus hulle verby gegaan toe hy op aarde was. Hulle het ’n aardse koninkryk verwag, nie een wat in die hemel gevestig is nie. Eers aan die einde van hierdie bestaan sal Jesus Sy koninkryk oorhandig aan die Vader in die Nuwe Jerusalem, en dié Jerusalem is nie op hierdie aarde nie. (1 Kor 15:24).
Kom ons lig net gou die ses beginsels uit:
  1. van die bekering uit dooie werke
  2. van die geloof in God
  3. van die leer van die doop
  4. die handoplegging
  5. van die opstanding van die dode
  6. van die ewige oordeel.
Kom ons kyk ’n bietjie wat met Israel verkeerd was, die eerste beginsel, waarvan hulle tot bekering moes kom. U sien hulle het soos ons vandag gedink hulle is reg, hulle is besny volgens die wet, hulle bring hulle offers, hulle oortree nie die wet nie, so hulle is mos reg. Hoekom het Jesus dan ons as heidene gekies? Daar was fout by hulle. Nou kan ons kyk wat reg en verkeerd was by hulle, sodat ons nie ook onkant betrap word nie.
Dawid gee vir ons eers riglyne wat ons behoort te doen in Psalms: “‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie; in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie; wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie”. (Psa 15:1-5) So Dawid lig al vir ons uit dat dit gaan oor hoe ek optree en nie oor my godsdienstige dade nie.
Uit Jesaja sal ek net een gedeelte aanhaal, maar daar is baie meer verwysings. Hoofstuk een: “Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek. Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars! Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie. Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.”(Isa 1:11-25)
Amos gaan aan met dieselfde klagtes: “Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom. Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel”, (Amos 5:21-25)
Miga stel dit so: “Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mic 6:6-8)

Dit dan so ’n vinnige reis deur die profete. Almal is dit eens, dat die HERE nie van ons verwag om elke wet so stiptelik na te kom dat ek nie eers mag lewe nie, nee, Hy wil dat ek aan alle Christene wat oor my pad kom en hulp nodig het, hulp sal verleen. Dit is my roeping as Christen.
Dit is ook die boodskap wat Jesus gebring het. Ek sluit hier ‘n redelike lang gedeelte in wat Jesus gespreek het, sodat ons sal verstaan watter Christene die ewige lewe sal verkry en watter die ewige duisternis. Onthou net, Jesus het hier met Jode gepraat, so Hy praat vandag met ons as Christene, nie met mense van die wêreld nie. “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (Mat 25:31-46)

Nou mag jy my vra maar wat van wedergeboorte en van al hierdie ander goeters wat ons elke dag geleer word. Ja, dit gaan ’n verskil maak, maar eers as ek tot die besef gekom het dat alles, selfs my mooi werke vir die kerk, nie ’n verskil aan my eindbestemming gaan maak nie, maar net dit wat ek as Christen aan my medemens en die HERE doen, dan het ek eers tot werklike bekering gekom. Dan sal ek besef dat alles wat ek as Christen is en het, van Hom af kom en dat ek niks kan doen om my in ‘n beter verhouding met Hom te plaas nie, behalwe om my naaste lief te hê soos myself.
Hoe druk Johannes dit uit: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1Johannes 3:14-24) Johannes beskryf hier en in die volgende hoofstuk vir ons wat liefde is, en dit is wat Jesus kom doen het. Hy het Sy beste, Sy lewe, vir ons gegee, sonder dat ons gevra het of dit verdien het. So moet ek dus ook my beste, my alles gee vir ander Christene sonder dat hulle dit verdien, of vra. Dit maak nie saak watter liefde jy van praat nie, want die definisie geld vir alle vorme van liefde. Selfs tussen man en vrou, ouer en kind.
Hieruit sien ons dat ons by ’n doen Christenskap moet uitkom. Dit maak nie saak aan watter kerk jy behoort nie, en of jy watter dag ook al as rusdag gebruik nie, nee, dit hang af of jy bereid is om so na jou mede gelowige om te sien soos jy na jouself omsien. Geen veroordeling nie. Ek weet dit is moeilik, maar Christenskap is nie vir sissies nie. Jy moet die daad by die woord sit, en dit vat aan ’n mens.
Dit is wat ons as die eerste beginsel by ons gemeente moet leer. Nou moet ek byvoeg dat ek nie glo dat ek al ooit in my bestaan van oor die sestig jaar, al in ’n gemeente was waar dit geleer is nie.
Solank ons gee om te ontvang, sal ons nooit by die punt uitkom nie. Dat ek sal ophou om aan myself te dink en te dink oor hoe ek ’n verskil in mense se lewens kan maak. En die Bybel is baie spesifiek oor watter mense ek moet help, naamlik eerstens ons mede gelowiges wat dit nie altyd so maklik het as wat ons dit het nie en dan aan nie gelowiges, want dit gee my ’n geleentheid om die evangelie van Jesus met hulle te deel. Maar hoe kan ek met hulle deel as ek self nie weet wat die ses beginsels van die Christelike geloof is nie, of hoe om dit te verduidelik nie? Dit is wat ek moet leer en sodra ek dit weet moet ek dit kan gebruik, om dit uit te leef en ander weer te oplei.
So, as jy vrae het oor hoekom dinge nie reg is in jou lewe nie, of hoekom moet jy deur hierdie en daardie beproewing gaan, is die antwoord dalk voor die handliggend: Of jy moet leer om dit wat jy het te deel met ander, of jy moet leer om te ontvang van ander. Die laaste gedeelte is seker die moeilikste gedeelte, om tot die besef te kom dat jy nie meer self alles kan doen of in alles self kan voorsien nie, en jou lewe oop te stel sodat ander jou kan help.
Dit is my boodskap vir vandag: Kom ons leer wat werklike liefde is, kom werklik tot bekering en dan sal baie van my vrae verdwyn en sal die HERE my leer wat dit is om geloof in Hom te hê, en nie geloof in my geloof nie. Daarna sal ek eers kan leer wat doop en die daarop volgende beginsels beteken.

Dinsdag 26 Mei 2015

Wedergeboorte


Weet jy wat wedergeboorte beteken? Indien jy die begrip nie heeltemal kan definieër nie, moet jy nie bekommerd wees nie, want jy vind jouself in belangrike geselskap. Calvyn het dit ook nie verstaan nie, toe ontwerp hy maar die uitverkiesingsleer. Gaan kyk maar na Sondag 27 van die Heidelbergse Katagismus: “Vraag73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes? Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.” Dit klink nogal vir my na doop van die gelowige. Maar eers later meer hieroor.
In Jesus se tyd het die Fariseërs se leermeesters dit ook nie verstaan nie, en dit was Jesus se antwoord:  “En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?”(Joh 3:9-10)

Wedergeboorte bestaan uit ‘n hele paar stappe:

1.       Ek moet eerstens besef dat ek ‘n verlosser nodig het en dat indien ek aangaan met my lewe soos dit nou is, ek nie die hemel sal sien nie. Dit is ook die eerste werk wat die Heilige Gees kom doen het. Hy moet ons oortuig van sonde. “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”(Johannes 16:7-11) Babas kan dit verseker nog nie besef nie.
2.       Dan moet ek glo dat Jesus alreeds die volle prys vir my sonde betaal het, en dat ek deel van die verbond van geregtigheid met Jesus moet word om die ewige lewe te beërwe. Onthou Israel se geregtigheid was uit onderhouding van die wet, (Deut 6:5-25 en ek haal net vers 5 en 25 aan :”Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. 25 En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.”), nou is Christus ons geregtigheid. “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” (Romeine 3:21-26) Net so ietsie oor geregtigheid. Die woord kom 300+ kere voor in meeste Engelse vertalings en die 1953 Afrikaansevertaling. Die nuwe vertaling (1981) wat deur Calviniste oorheers was, is die woord net 30 keer gebruik, en in die 2008 vertaling het die woord heeltemal verdwyn. Ek is geregtig om myself Christen te noem en Sy Koninkryk te verteenwoordig indien ek tot wedergeboorte gekom het, maar dit is wat sovele hedendaagse skrifgeleerdes en hulle lidmate nie verstaan nie. Jesus is my geregtigheid.
3.       Dan kan ek nagmaal gebruik. Die brood stel die liggaam van Jesus voor en die wyn Sy bloed. Geen een van die Israeliete of selfs hulle vee het gesterf toe die HERE besoeking oor Egipte gebring het nie, en dit is wat nagmaal beteken. Die dood het nie meer krag nie, want indien ek wel aan die einde van my lewenspaadjie staan, weet ek dat ek die hemel as erfdeel sal ontvang. Daarom word na Jesus ook as die Lam verwys, want in Israel se tyd moes hulle ‘n lam slag, een sonder enige gebrek. Nou is Jesus die Lam wat versoening vir ons doen.
4.       Nou moet ek wegkom uit Egipte, my vorige lewe, deur gedoop te word. Dit is waar die krag en gesag van Satan (Farao) in my lewe gebreek word en kom ek direk onder die sorg van die HERE. (Die vuurkolom en die wolkkolom vir Israel.) Lees maar Romeine 6, en onthou in die 1953 vertaling, a.g.v die rede genoem in punt 2. Onthou ook net wat Markus vir ons opgeteken het. “Mar 16:16  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” So onthou net dat die mense nie verwerp sal word omdat hulle nie gedoop is nie, maar omdat dit bewys dat hulle nie glo nie. Hierdie stap is die water gedeelte waarna Jesus verwys het vir Nikodemus. Dit is ook die stap wat in Sondag 73 van die Heidelbergse Katagismus geleer word, wat ek alreeds vroeër gekwoteer het.
5.       Na die doop moet ek die doping van die Heilige Gees ontvang. Die twaalf fonteine en die 70 palmbome in Israel se tyd. Moses moes ‘n paal in die water gooi om dit lewende water te maak. (Eksodus 15 Johannes 7:37-39) Hierdie is die Gees gedeelte waarna Jesus verwys het vir Nikodemus. Dit is ook waarvoor die dissipels moes wag in Jerusalem na Jesus se opstanding. “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” (Hand 2:1-4). “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”(Hand 19:1-6)
6.       Alles wat ek hierbo genoem het word ook net so in volgorde genoem in Hebreërs 6 verse 1 en 2, en die hele boek van Romeine volg dieselfde volgorde. Ook is Israel se uittog vir ons ‘n voorbeeld van hoe ons in ons Kanaän kan kom.
7.       Dan begin my leer fase eers waar ek God leer ken vir wie Hy is.
8.       Daarna sal ek moet kies om in my Kanaän in te gaan, dit wat die HERE vir my voorberei het. (Lees maar Hebreërs 3 en 4)
9.       Ons hele lewe bestaan as keuses. Of keuses wat die ewige lewe beteken, of keuses wat die ewige dood beteken. Geen kind kan die besluite al neem nie. So is ook geen van die kinders van 20 jaar en jonger gestraf toe Israel nie in Kanaän wou gaan nie. Nee, net die volwassenes het nie die beloofde land gesien nie.
Nou is ek eers by dit wat die HERE vir my het. Indien ek nou omdraai om terug te gaan na Egipte toe, verloor ek my ewige lewe, want ek kies om terug te gaan na my lewe onder die Satan(Farao). So daar is nie klein sondes of groot sondes nie, maar ek moet wegkom van die heerser van sonde en my onder die bloed van Jesus plaas om die ewige lewe te kan ontvang. Dit is wedergeboorte.

Paulus het ook Israel en hulle pad wat hulle moes loop as voorbeeld vir ons as Christene gebruik. Hy skryf in 1 Korintiërs 10: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (1Kor 10:1-11)

So volg wat die Bybel leer oor hoe ek kan verseker dat ek kind van die HERE is. Dit is wat Paulus ook hier uitlig. So het al die profete, konings en in besonder koning Asaf (Psalms 78 en 79) dit gedoen deur die volk te herinner aan hulle lewe voor die HERE hulle uitgelei het, en dan hulle lewe daarna.

So kom uit Egipteland en vestig jou in Kanaän, dit wat die HERE vir jou het. Dit is wedegeboorte. Indien jy in Egipte wil bly nadat jy onder die bloed van die Lam gekom het met nagmaal, is dit jou keuse en is jy ook nie verworpe nie en sal die doodsengel jou nie kan aanraak nie, maar verkry jy nie die volheid wat die HERE vir jou het in beide hierdie lewe en wanneer die einde van jou lewe kom nie.

Ten slotte, net ‘n paar woorde oor menseregte in kontras met wedergeboorte. Menseregte soos ons dit vandag ken, is om die ware liefde wat slegs deur wedergeboorte ervaar en geskenk word en soos ons dit opgeteken kry in die eerste brief van Johannes, deur humanistiese wette in Egipteland (Sondige wêreld) te orden en te probeer namaak. Dit maak dat die sondige mens (Egiptenaar) nie oor hul sondes skuldig hoef te voel nie. En dit is ook die rede waarom die Christene in Egipte die wette sal promoveer en aanvaar, want hulle staan nog onder die gesag van die Farao. 

Dinsdag 19 Mei 2015

Is Christene goedkoop?

Is Christene goedkoop?

Dit is nogal ‘n snaakse vraag wat ek hier vra. Maar waarom vra ek hierdie vraag?
In my lewe het ek al met baie mense met uiteenlopende standpunte te doen gehad. Party was so vas oortuig was van hulle standpunte dat dit onmoontlik is om eers met hulle te kan praat oor Christenskap. En dan weer ander wat nie kan wag om te hoor wat jy met hulle wil deel nie. Maar een aspek wat ek in beide groepe gekry het, was dat wanneer dit aan hulle sak raak, hulle baie keer dieselfde voel en dieselfde argumente gebruik net om hulle sak toe te hou.

Hoekom sê ek dat Christene goedkoop is?


Ek onthou een persoon wat by Hettie gekom het om so ‘n bietjie te praat en emosionele heling te kry vir homself, baie vinnig was om te sê dat hy glad nie vir haar enige donasie sal gee nie alhoewel hy geweet het dat sy as ‘n Christelike berader geleer het en gekwalifiseerd was, en natuurlik het haar studies geld gekos. Sy rede was die Bybel verklaar dat verniet het jy ontvang, en daarom moet jy dit verniet uitdeel.
Maar van goedkoop Christene het ek self ‘n paar voorbeelde. Ons het ‘n webtuiste waar ons die boeke wat ek geskryf het, verniet laat aflaai het. Oorspronklik het ons probeer dat mense R20.00 moes betaal per boek. Na ses maande en geen boeke wat afgelaai is nie, het ek besluit om dit gratis te maak, maar vir die mense te vra dat hulle vir ons ‘n donasie sou inbetaal by die bank. Al ons besonderhede was in elke boek beskikbaar. Daarna oor ‘n tydperk van 7 jaar, is daar net so oor die 23000 boeke afgelaai, en sover net een inbetaling in ons rekening van R50.00. Die feit dat dit my twintig jaar geneem het om dit te skryf en na te vors het natuurlik geen koste gehad nie. Indien ek egter ‘n skrywer was wat mense se gehoor gestreel het soos wat sovele uitgewers dit vir my gestel het, sou ek seker R50 per eboek kon kry, wat my so net oor ‘n miljoen Rand in die sak sou bring. Sou nogal lekker gewees het.
Maar ons betaal mos net vir bekende persone soos een wat ‘n manne naweek gehou het, R500 kampgelde per persoon gevra het en toe driehonderd duisend manne daar gehad het. Nogal ‘n redelike inkomste voor al die “love offerings” van so by die R15 miljoen vir ‘n naweek. Nie sleg nie. Ek sou nogal baie arm Christene daarmee kon help. Maar dan is die persoon bekend en streel hy die gehoor. Ek weet want ek was ook al by een van sy byeenkomste.  Ek het ook na ‘n opvolg byeenkoms gegaan wat die manne begin het na dié naweek om te hoor wat hulle oor praat en hoe hulle voel oor die boodskap. Al wat ek geleer het uit die aand is dat almal nou skielik weet om “Amien” te sê as jy saam met die spreker stem of as die ander so sê, en dat hulle nog nie eers weet van Hebreërs 5 se melk nie, wat nog van vaste spys.
Dan is daar ook van ons bekende sangers wat al erken het dat hulle met elke meisie wat wou bed toe gegaan het na optredes, en nou skielik hulle “eie” dagstukkie boek uitgebring het, en duisende daarvan verkoop het.
‘n Hele ruk gelede het ons by vriende gaan kuier wat voltyds in die bediening staan. Ons het een aand aan die gesels geraak oor hoe een Christen ‘n ander Christen kan uitbuit. Die vriend van ons  het toe vertel hoe hy by verskeie veilige verblyfplekke vir mense wat alles verloor het in die lewe, dienste gehou het op Woensdagaande en Sondae. Dit wat ek gehoor het wat daar aangaan, het my hare laat regop staan.
Hy vertel my toe van ‘n persoon wat gehoor het dat hy ‘n opgeleide elektrisiën is, en hom gevra het of hy nie weet van iemand wat ‘n elektrisiën soek nie, want die persoon is ook een. Die persoon wou weer graag met sy lewe aangaan, maar hy kon niks doen by die plek nie, behalwe dat hy gevorseer word om met ‘n blikkie op die straathoeke te gaan staan en bedel vir die instansie wat hom huisves. Indien my vriend iets sou hoor, moes hy hom ‘n briefie in die hand stop wanneer hulle groet want indien die mense uitvind dat my vriend vir hom werk soek, sou my vriend onmiddelik verbied word om verder dienste daar te hou en sou die persoon en sy gesin uitgesit word op straat.
Hoe hulle gewerk het by die plek is dat die hoeveelheid kos wat jy vir jou gesin gekry het afgehang het van hoeveel geld jy die dag ingebring het. So het hulle dan verhoed dat die mense vir onderhoude kon gaan, maar het die eienaar seker gemaak dat hy ‘n inkomste verkry het.
So weet ek ook van Christenbedienings wat dienste aanbied vir Christene, maar indien jy nie kan betaal vir die dienste nie, moet jy maar suffer of iets verkoop om te betaal vir die dienste voor hulle jou sal sien. Indien hulle nie die resultate behaal waarvoor jy betaal het nie, is dit in elk geval nie hulle probleem nie en word jou geld nie vir jou terug betaal nie, want die fout lê verseker nie by hulle nie.
Hierdie geld ook vir Christen mense wat hulle uitgee om vir jou, veral blanke mans in die nuwe Suid Afrika, te help om ‘n ambag te bekom sodat jy jou eie besigheid kan begin. Hulle vra jou om te betaal, en dan vind jy uit dat hulle jou net die basiese leer, en indien jy jou wettiglik wil bekwaam, jy maar weer sal moet betaal, want van die 48 krediete wat jy nodig het, het jy slegs 3 verdien. En natuurlik het jy nog geen krediete vir praktiese werk verwerf nie. ‘n Persoon wat by ons Bybelskool was, het die stel afgetrap.
Op ons webtuiste het ons ‘n forum gehad waar mense hulle drome kon beskryf en dan het ek en Hettie die drome vir die mense uitgelê. Van hulle was maar drome oor waaroor die persoon se aandag die hele dag of tydperk was, maar daar was ook drome waar die HERE met mense gepraat het. Van die mense het sommer kwaad geword as ons langer as ‘n paar dae gevat het om die uitleg van hulle droom te pos, alhoewel die diens gratis verskaf was. Toe ek eendag besluit het om van die mense wat gereeld drome gepos het te nader om te help om die koste van die webtuiste te betaal, was die antwoord wat ek gekry het, net stilte. So het ons toe besluit om die forum te sluit.
So om saam te vat, is die probleme wat baie van ons as Christene mee sukkel die volgende:
·         In die eerste plek kry ons Christene wat ander Christene uitbuit in die naam van die HERE;
·         En dan is daar die Christene wat alles verniet wil hê sonder om die persoon wat die diens lewer, in ag te neem.
·         En dan is daar die gewilde en bekendes wat maar net meer en meer kry. Of hulle nou werklik help is oop vir debat.
·         En dan kry ons persone wat voltyds as leraars/pastore in gemeentes staan, maar hulle lidmate sal eerder die nuutste boek of CD/DVD koop as om te help dat die leraar ook kan oorleef. Baie van hulle moet maar uitspring en ook ‘n ander werk bydoen om te kan oorleef.

Hoe kry ons nou antwoorde op die vraagstukke?

Ek wil graag aan die hand van Jesaja en ander skrywers van die Bybel probeer om die vrae te beantwoord. Die eerste gedeelte kom uit Jesaja hoofstuk 58, Die gedeelte verklaar vir my wat ware geloof en ware naaste diens beteken. So punts gewys is dit as volg;
·         Dat ons losmaak die bande van goddeloosheid. So ons moet breek met dit wat nie van die HERE is nie. Ek moet self breek, maar ek moet ook ander mense kan help om al die bande wat ons vashou, te breek.
·         Dat ons die stroppe en juk van mense sal afhaal. So ons sal mense se probleme oplos en hulle vrymaak van dit wat hulle bind in die lewe. Hierdie bindinge kan wees dat ons mense sal help om vry te kom van verslawings, sondes, hulle dan leer oor wie en wat ‘n Christen is, en hulle op ‘n pad sit waar hulle weer vry kan wees.
·         Verder sal ons sorg vir die wat tekorte het, of dit voedsel, behuising of wat ook al is.
Dit is die eerste paar goed wat ons as Christene moet doen. So dit is reg dat ons as Christene vir ander Christene moet help. Die gevolg hiervan sal wees dat ons lig sal deurbreek soos die son in die oggend opkom,  vir jouself sal jy genesing ontvang, en sal die mense sien dat die HERE se hand op jou is want Sy heerlikheid sal skyn deur dit wat jy doen. Dan sal die HERE ook doen alles wat jy van hom vra,  selfs wanneer jy in die nood is sal Hy jou antwoord en help.
Maar daar is ook ‘n voorwaarde aan verbonde.  “As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” So ons mag nie mense verdruk nie, so ons moet nie hulle las erger maak as wat dit reeds is nie. Indien hulle nie kan betaal vir ons dienste nie, kan ons nie ons dienste weier nie. Verder mag ons nie mense blameer vir hulle omstandighede nie, en ook nie vir hulle dreig nie. So ek mag nie vir die huislose sê dat ek hom gaan wegjaag as hy nie geld inbring nie, maar ek moet hom help om weer op sy eie voete te kom. Ons mag ook nie vir mense stories vertel oor hoe goed ons bediening is sodat ons daardeur bevoordeel word nie. Die resultaat indien ons regverdig optree sal wees dat ons lig sal skyn sodat almal dit kan sien. Verder sal die HERE jou regtig sterk maak in alle opsigte, en die wat jy help sal self ander kan help.
Maar nou wat van die finansies? Die gedeelte uit Jesaja hanteer die gedrag van ‘n Christen, maar verklaar nie vir ons oor as nuwe verbond Christene hoe ons dan ons finansies moet hanteer as ons in bediening staan, of hoe ek as Christen moet betaal vir dienste wat deur ander Christene aangebied word nie. Die gedeeltes kry ons in die Nuwe Testament. Laat ek gou ‘n paar kwoteer;
·         “Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.” (1 Kor 9 9-14) Hierdie gedeelte verklaar onomwonde dat indien ek ‘n diens lewer ek geregtig is om betaling daarvoor te ontvang. So indien ek huisvesting verskaf vir huisloses, is ek geregtig om betaal te word, maar ek mag nie mense verdruk of hulle las swaarder maak nie. Dit sal my diskwalifiseer om as Christen te funksioeneer. Verder mag ek nie valse verwagtinge by mense skep met dit wat ek aanbied nie.
·         “Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.” (Gal 6:6)  Die gedeelte verklaar dat indien ek mense leer om beter of anders op te tree as wat hulle in die verlede opgetree het, ek geregtig is daarop dat ek dieselfde lewensstyl en voordele as hulle mag geniet. So dit maak nie saak wat jy doen nie, of jy skryf, drome uitlê, berading doen, voltyds as leraar in diens van ‘n gemeente staan nie, of wat ook al nie, die persoon wat die diens lewer is geregtig om dieselfde lewensvlak as ek te geniet.
·         Die laaste gedeelte kom uit 2Kor. 8: 12-15. “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.” Die gedeelte is vir my deurslaggewend. Hier verklaar Paulus dat ek nie ‘n las op mense mag sit wat dit nie kan bekostig nie. So ek kan nie mense wegwys op grond van hulle finansies nie, maar ek moet hulle juis help as ek by magte is om dit te doen, sodat almal gehelp kan word.

So wat is die antwoord op die vrae wat ek vroeër gevra het?

·         Wat maak ons met mense wat ander uitbuit in die naam van die HERE? Ek glo dat die persone dit meeste kere doen omdat hulle nie weet hoe hulle moet optree nie, maar dit is nie ‘n verskoning nie. Ek glo dat die Heilige Gees ons leer in elke omstandigheid, en dat van die mense gedryf word deur geldgierigheid en gulsigheid, en dus eendag die gevolge van hulle optgrede sal moet verdra.
·         Die tweede groep is die wat alles verniet wil kry. Wat nou van hulle? Vir die groep is die Woord die een wat hulle sal oordeel, aangesien hulle ‘n geloof wil lewe wat hulle niks kos nie, en soos ek die Bybel ken is dit mense wat hulle eie lewe wil lewe, niks wil opgee nie maar tog die ewige lewe wil verkry. Die Bybel verklaar egter dat ‘n geloof wat jou niks kos nie, op die ou einde jou lewe gaan kos, maar ‘n geloof wat jou lewe kos, jou niks gaan kos nie.  “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe” (Joh. 12:25)
Om dus saam te vat. Ek glo dat die meeste Christene opleiding in die doel en wese van Christenskap benodig, aangesien dit die onderwerpe is waaraan min, indien enige aandag geskenk word. Wanneer iemand wel daaroor praat of skryf, word die persoon gewoonlik aangevat as iemand wat dweep.

Ek sluit af met ‘n opmerking wat ek eendag op ‘n internasionale Christen forum raak gelees het. “Looking for web hosting, I'm fond of DreamHost. Lots of features for the inner nerd, unlimited bandwidth, and unlimited storage. They also don't mind hosting multiple domains! It is only $9 a month, so its good for Christians, who as you know, are cheap. If you use this link to register I get a portion of the amount spent.”

Dinsdag 12 Mei 2015

Om “COOL” te wees

Soos ek nou hier anderkant van sestig al is, het ek tot die slotsom gekom dat ek half oor die muur is.
Ek het ook agter gekom dat die wêreld baie vinnig verander.
Ek het ook agter gekom baie min mense lees nog.
Hulle sal so sywaarts na iets kyk. So vinnig loer. Dalk so halfpad kyk.
Hulle tweet. Hulle BB. Hulle IM. Hulle Whatsapp. Maar hulle lees nie.
Meeste epos word nooit oopgemaak nie. Meeste gaan ook nie lees wat ek hier skryf nie.
Meeste boeke wat mense koop word nooit gelees deur die mense wat dit koop nie.
So moet skrywers ook aanpas. Ek moet kort goedjies skryf. Niks seggende goed, anders lees mense dit nie. Gee hulle nie aandag nie.
Wanneer ek vir Christelike gehore skryf, is die standard selfs hoër.
Ek dink al lankal oor die onderwerp, en ek dink ek het die geheim ontdek.
Om vir ‘n Christelike gehoor te skryf moet jy “COOL” wees.
Jy hoef nie noodwendig goed te kan skryf nie.
Jy hoef nie oorspronklik te wees nie.
Jy hoef nie Skriftuurlik te wees nie.
Jy hoef selfs nie eers akkuraat of reg te wees nie.
Jy moet net “COOL” lyk, klink, en “COOL” goed sê wat Christene wil hoor.
Miskien is ‘n beter woord vir Christelike skrywers om relevant te wees.
O ja, dis relevant om “COOL” te wees.
Dit is baie “COOL” om te praat oor alles wat relevant is vandag.
Kom ons praat oor seks – dit kry altyd mense se aandag.
Kom ons praat oor homosektualiteit – dit is ‘n baie relevante onderwerp.
Kom ons praat oor politiek – dit sal die emosies aanwakker.
Kom ons praat oor goed wat ons as Christene moet of nie moet doen in die samelewing – dit maak mense altyd warm onder die kraag.
Kom ons praat oor verhoudings en gemeenskaplike kwessies – dit is mos voor op alle Christene se gedagtes.
Kom ons praat oor die jongste Christelike groep, rock ster, of aanbiddingslied.
Kom ons wees so ‘n bietjie kontroversieël, want dit is ‘n groot trekpleister vir aandag. Mense hou van kontroversie.
En kom ons trek so “COOL” aan en gedra ons so “COOL” dat die wêreld nooit sal agterkom dat ons volgelinge van Jesus is nie.
En dan wag jy net tot die regte oomblik, en dan sê jy: “O ja....Ek is ‘n Christen” En dan kan ons almal goed voel oor hoe “COOL” ons is, hoe relevant ons is, en dat ons nie werklik verskillend van die ander mense is nie. So “COOL”, dat mense nooit sou dink dat ons aan Jesus behoort as ons nie vir hulle gesê het ons behoort aan Hom nie.
Wel, ek dink dit is dom.
So ek reken ek is nie so “COOL” nie.
Ek gee ook nie om nie.
Want om “COOL” te wees is eintlik om te sê ek wil mense tevrede stel, en nie om die HERE tevrede te stel nie.
Hoekom wil jy mense tevrede stel?
Baie Jode het ook vir Jesus geglo maar wou dit nie erken in die openbaar nie, want hulle het die erkenning van mense hoër geag as erkenning van die HERE.
Ek erken dit is seker nie “COOL” om te praat oor skriftuurlike integriteit, om die Bybel te lees, en om te bid nie.
“Vorm godsdiens!!” skreeu almal.
Ek erken ook dat dit seker nie “COOL” is om oor dissipelskap en die boodskap van die Kruis te praat nie.
“Te wetties!!” skreeu almal.
Ek weet ook dit is seker nie goed om aanhoudend oor basiese beginsels en waarhede te praat nie. Veral nie jaar na jaar nie.
“Te eenvoudig!!” skreeu almal.
Ek weet mense word moeg daarvan om dieselfde boodskap te hoor en wil aanbeweeg na iets met meer slaankrag, kort, en vermaaklik – of soos die mense sê, iets “vars”.
En ek gee nie om nie.
Want vir elke persoon wat verveeld raak om die Waarheid aanhoudend te hoor, is daar duisende ander wat nog nooit die Waarheid gehoor het nie.
En ek weet ook om ‘n meester van ‘n onderwerp te word bestaan daaruit om ‘n paar basiese beginsels te leer, en dit dan elke dag toe te pas. Geen uitsonderings.`
En ja, jy kan dit wetties, ritualisties, en eenvoudig noem. So is dit om asem te haal – maar dit is nodig om asem te haal om te lewe.
Jy kan dit oudmodies, vervelend, irrelevant en nie-cool noem.
Ek noem dit geestelike volwassenheid, om skriftuurlik te lewe, en om vrugte te dra.
Die Kruis was nooit bedoel om “COOL” te wees nie. Ook nie om ‘n volgeling van Jesus te wees nie.
En wanneer die HERE praat, is dit ook nie altyd wat ons wil hoor nie. Of wat jy dink jy nodig het nie. Of wat jy voor gevra het nie.
Dit is ook interresant dat Jesus nie sy boodskap by Sy gehoor aangepas het nie, maar het van hulle verwag om hulle in Sy boodskap in te pas.
Amper elke spesialis eksegeet sê dat Jesus gelykenisse gebruik het om die waarhede makliker te maak sodat meer mense dit kan verstaan.
Dit is net mooi die omgekeerde wat die Bybel vertel.
Hy het juis gelykenisse gebruik om die geestelike waarhede moeiliker te maak om te verstaan.
Skok dit jou dalk?
Hy het nie probeer om meer relevant te wees nie.
Hy het nie belang gestel om “COOL” te wees nie.
Eintlik het Hy meer geweet as alle Christelike skrywers, onderwysers, en predikers. Of hulle het dit vergeet, of nooit geweet nie. Die gehoor sal oordeel, maar daar is net Een wat jy moet teverede stel, en Hy is die Een wie se oordeel alles tel.
En dis wat my verbaas. Ek kry tog mense wat hou van wat ek hulle leer en sê selfs: “dit is net wat ons moes hoor”. Of: “dit is ‘n antwoord op dit wat ek van die HERE gevra het.”
Sien hoe werk dit?
Ek het nie die vermoë om te besluit wat is relevant vir jou nie.
Jy ook nie. Ons weet nie wat ons nodig het nie. Ons  weet ook nie wat ons nie nodig het nie.
Maar Hy weet wat jy nodig het, en wanneer jy dit nodig het.
En deur Hom eerste te plaas, kan ek in Sy wysheid intap sodat Hy jou kan aanraak daar waar jy ookal is.
Nou dit is nogal “COOL”.
En betyds.
En die waarheid.
En sommer ook relevant.

Gelukkig is ek nie geroep om “COOL” te wees nie, maar getrou.

Dinsdag 05 Mei 2015

Hoe maak ek dissipels van mense?

Ons almal ken die opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het. Wanneer dit by die uitvoer daarvan kom, kan ons die groepe en hulle optrede basies in twee, dalk drie verskillende groepe deel. Hoekom ek sê miskien drie maar gewoonlik twee, is omdat die een groep se antwoord eintlik nie strook met die Bybel nie, en dus opsy gesit kan word. Die groep wat se antwoord is gewoonlik dat as die HERE jou nie gekies het nie, help dit nie dat ek met jou oor Jesus praat nie, want ek mors basies my asem. Die groep sal ek indeel onder die wat min geloof het, of anders gestel, geen geloof het nie. Hulle sal ook gewoonlik baie min mense op die sendingveld uitstuur of ondersteun, alhoewel hulle gemeentes (in hulle eie Kerkverband) sal ondersteun wat ‘n tekort het om hulle leraar te onderhou. Dit word gewoonlik gesien as hulle sendingwerk.

So met hulle uit die weg, wat is die hoofgroepe? Die eerste groep se antwoord is dat ek iewers heen moet gaan om die mense dissipels te maak, en die ander groep die wat glo dat ons orals moet optree. Wie is nou reg? Die antwoord hou baie mense so besig dat hulle vergeet dat die antwoord nie eintlik saak maak nie, maar dat die opdrag uitgevoer moet word. Ek het al hoevele artikels en boeke gelees en redenasies gehoor oor hoe en wat alles beteken, maar op die ou einde van die dag word die opdrag nie uitgevoer nie. As ek my opinie daaroor mag lug, is dat altwee reg is, in die sin dat die HERE sommige geroep het as Evangeliste, en ander as Apostels. Albei hierdie roepings verwag dat die evangelie aan ander mense uit gedra moet word.

Wat is ‘n Dissipel?

Voordat ons begin om te kyk hoe ek ‘n dissipel van iemand kan maak, moet ek eers weet wie of wat ‘n dissipel is. As ek kyk hoe die oorspronklike twaalf dissipels opgetree het tydens hulle tydperk saam met Jesus op aarde, het hulle gedoen wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, en verder het hulle by Hom gebly en het Hy hulle geleer. Hulle het alles verlaat en Hom gevolg. Jesus het self gesê dat hy wat ouer of vrou of kind bo Hom stel, Hom nie waardig is nie. Nogal harde woorde die. So, ‘n dissipel is iemand wat Jesus se doel op aarde voortbring en Sy volgeling word, met ander woorde hy het soos Jesus geword in optrede. Dit is een van die voorvereistes om ‘n dissipel te wees. Ek kan nie ‘n dissipel wees as ek nie soos my leermeester is nie.
‘n Voorbeeld wat Jesus gebruik het was dat Hy vir Petrus en sy broer vissers van mense gaan maak. Nogal ‘n interessante voorbeeld. So wat beteken dit om vissers te wees. Dit beteken om die Woord, die lewenswyse van Christus ten toon te stel om geëet te word. So, ‘n dissipel is iemand wat mense die Woord en lewenswyse van die HERE voorhou.

Wat is ons taak?

Ek wil graag die visser voorbeeld van Jesus gebruik om te bespreek hoe ons dissipels maak. As ons mooi daaroor dink, wanneer ons visvang, vang ons nie sommer blindelings al die visse nie. Nee, sommige kom tog weg al gebruik ons ‘n net. Net die wat in die net kom, of as ons met ‘n stok vang, die aas eet, word gevang.  Ek weet nie of u al vis gevang het met ‘n stok nie, maar dit is vir my nog steeds een van die lekkerste gevoele as die vis byt. O, om te weet nou moet ek hom versigtig inbring, anders verloor ek hom. Dan wanneer ek hom so sien spartel, weet ek dat ek sal al my vernuf moet gebruik om hom geland te kry. Wanneer jy wel die vis ingebring het, is daar nog ‘n tydjie van spartel, maar dan sterf die vis, en word hy dan eers vir my bruikbaar om gebruik te word, of as voedsel of as aas.
Dit is die taak wat Jesus ons opgelê het. Ons moet die aas, met ander woorde, die Woord en lewenstyl, ten toon stel. So ek kan nie ‘n dissipel maak as ek nie self ‘n dissipel is nie. Nee, waarvan ek ‘n dissipel is, is al waarvan ek ‘n dissipel kan maak. Die vis, die ongelowige, moet dit sien en ruik en smaak dat dit aanloklik is en dit wil hê, voordat hy byt. Ek kan nie vir die vis die voordele van my aas vertel en dat my aas al die voedingstowwe bevat wat sal maak dat hy nie meer honger word nie. Nee, die vis moet dit sien en begeer, en dan sal die vis hap. Ek kan nie namens die vis die aas eet nie. Dit beteken dat ek kan nie namens die persoon die HERE aanneem nie. Die persoon self moet besluit dat dit wat hy in my lewe sien, vir hom begerig is, en dan sal hy my kom vra wat hy moet doen. Dan gaan hy spartel want hy wil nie van dit wat hy gedoen het afstand doen nie. Hy gaan baklei, en ek sal al my kragte en vernuf moet inspan om hom te oortuig dat dit vir hom beter is om gevang te word as om in die verderf te bly. Hy gaan nie hou daarvan dat jy hom tereg wys nie. Party gaan jy verloor, maar miskien byt hy later aan iemand anders se aas, of dalk die Satan se aas. Onthou net Gal. 6: 5 "Want elkeen sal sy eie pak dra". As ek hom by die HERE gekry het, gaan hy sterf, want ons is nie besig om ‘n akwarium te bou om visse ten toon te stel nie, maar om visse te vang om gebruik te word.

Maar hoe doen ek dit nou regtig?

Deur dit uit te straal in my lewe wat Jesus is. As ek nog baie van myself is, gaan ek ander persone soos myself maak. Ek gaan hulle vertel van my lewenswyse en my teologie en gebruike. Paulus beskryf vir ons in Galasiërs 6 wat mense probeer doen. Vers 12  "Almal wat 'n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. 13  Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem."  Ek het al hoeveel keer by mense gehoor dat hulle soveel en soveel mense na Jesus toe gelei het. As ek hulle vra hoe hulle opgetree het, het hulle die meeste kere met behulp van ‘n traktaaitjie wat hulle iewers gekry het, die evangelie gedeel, en dan word dit gewoonlik afgesluit met ‘n gebed wat die persoon moet bid, of nog ander dink hulle kan die gebed namens die persoon nog doen ook. Dit maak my skoon kwaad as mense so optree, want statistieke oor die wereld bewys dat slegs 7 % van die persone wat so die evangelie mee gedeel word, werklik tot bekering kom. So my vraag is dan: Indien jy soveel geleentheid gehad het om die evangelie te deel met mense, hoekom het jy dit nie gedoen nie?
Dit gaan nie oor die deel van die evangelie nie, dit gaan of die persoon begerig is om dit wat hy in jou lewe sien, te wil hê. Gestel ek kom van ‘n afgeleë deel van die wereld en het nog nooit gehoor van die Bybel of enige iets rondom dit nie. Nou kom u by my en vertel dat as ek nie Jesus aanneem nie, ek hel toe gaan. Weet u wat my antwoord gaan wees? "Huh?? Waarvan praat jy nou." Indien ek wel iemand sien wat mense gesond maak, of nie opgee wanneer allerhande moeilikhede oor sy pad kom nie, deel wat die HERE op Sy hart het vir my en my van my verlede meedeel soos beskryf in 1Kor.14 vers 24-25: “Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.”:, dan sal ek begin vra hoe die persoon dit regkry, want ek sal dit ook graag wil hê. So dit help nie ek gebruik al die hulpmiddels in die wereld nie, ek moet self die paadjie loop, dan sal mense begerig word om hulle lewe aan te pas en te verander.
Dit is dissipel maak.
Ek het die gedeelte van Lukas ingesluit wat handel oor dissipels en metodes van dissipel maak uitlig soos aan die begin van die skrywe genoem is toe Jesus vir Petrus en Johannes geroep het. Die eerste een is hoe ons dit sovele kere vandag sien, en dan hoe dit regtig gedoen word.
“Luk 5:1  En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan 5:2  en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel. 5:3  Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ‘n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. 5:4  En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. 5:5  En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. 5:6  En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. 5:7  Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. 5:8  En toe Simon Petrus dit sien, .....”
Lukas 5 (Moderne weergawe)
was hy gevul met vreugde. 5:9 En hy het heengegaan en al die ander vissermanne vertel hoe die HERE sy besigheid geseën het, en dat van nou af Jesus as sy mede kaptein en eienaar van sy besigheid aangestel is en dat hy van nou af 1/10 van sy opbrengs aan Jesus gaan gee. 5:10 En Petrus het begin optree by manne ontbyte en manne naweke waar hy sy getuienis gegee het en mense aangemoedig het om Jesus as hul mede kaptein en eienaar aan te stel. En baie mense het sy voorbeeld gevolg terwyl ander hulle nie daaraan gesteur het nie. 5:11 En soos sy besigheid floreer het, het Petrus meer en meer bote gekoop en vissers aangestel in sy besigheid, en het hy afgetree as 'n gesiene besigheidsman, hoog aangeslaan by mense en die HERE.
Die regte einde hoe die Bybel dit opgeteken het:
“val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man! 5:9  Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; 5:10  en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. 5:11  En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.”

So my vraag is: “Watter voorbeeld volg jy? Jesus, of wie?”

Dinsdag 28 April 2015

Ondersteuning na die sterfte van ‘n kind, geliefde, eggenoot, vriend. Gerig aan ‘n mamma en pappa wat ‘n kind aan die dood moes afstaan.

Vir Mamma en Pappa

Ek wil graag die gedeelte met almal deel. Dit handel oor die afsterwe van ‘n jong kind, en is ‘n ondersteunings briefie, maar enige afsterwe bring maar dieselfde of soortgelyke vrae by ‘n mens op.
Ek dink die eerste ding wat ek vir julle moet sê is dat julle nie sy dood as straf moet ervaar nie. Die HERE sal nooit dood gebruik om jul te straf nie. Dit is baie belangrik dat jy dit moet verstaan. Ons moet onthou dat lewe en dood is in Sy mag, en die Bybel verklaar ook as volg: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Jakobus 1:13

By die afsterwe van ‘n jong kind is die eerste vraag wat ek weet by almal eerste opkom is hoe kon die HERE hom so jonk laat sterf het.  Ek glo dit is hoe jy ook seker gevoel het, en nog steeds voel. Jou gedagtes is nog by die vraag: “Ek het hom so lief gehad en daar is nog soveel wat ek nog saam met hom wou doen en hoe kan die HERE hom wegvat as Hy weet ek my seuntjie so baie lief?”

Eerstens moet ons moet onthou dat ons almal vir ‘n rede op aarde geplaas word. Almal wat vir ons lief en dierbaar is word vir ons vir ‘n sekere tyd en doel geleen. Nie ons wederhelf of ons kinders word ooit ons besitting nie, hulle word  slegs deur die HERE aan ons geleen. In jou kind se geval was sy tyd wat hy op aarde moes wees verby, en het hy terug gekeer na die Een wat hom vir jou geleen het. Hy het sy doel aan voldoen.

Ek kan nie vandag vir jou sê wat sy doel in julle lewe was nie, maar ek weet uit ondervinding dat sulke goed gebeur sodat jy weer vir iemand anders wat deur dieselfde of soortgelyke ondervindings gaan, kan bystaan. Net een wat so ‘n ondervinding al deurgegaan het sal ooit kan verstaan waar jy nou deurgaan.

Ek dink ek en Hettie het ‘n idee hoe jy voel. Ek wil vir jou graag iets meedeel wat seker so 34 jaar gelede gebeur het. Ek was in die hospitaal nadat hulle my neus probeer regmaak het na ‘n ou gimnastiek ongeluk. Die Saterdagoggend na die operasie het Hettie gou ‘n draai by my kom maak in die hospitaal om te sien hoe dit gaan. Onthou daar was nie selfone in daardie dae nie, so sy kon nie net bel nie want die hospitale was ook maar baie streng en het sommer net die foon neergesit as jy gebel het.

Hettie is toe terug huis toe, en het ons huishulp gevra waar die kinders was. Die huishulp het toe vir haar gesê Barney het vir haar gesê hy wil na ‘n maatjie toe gaan en sy het hom gevat. Hettie het haar toe gestuur om hom te gaan haal by die maatjie. Die bediende het so ‘n paar minute later ingestorm gekom en gesê Barney het voor ‘n motorkar ingehardloop en hy het baie seer gekry. Hy het toe sy been gebreek, skedelbreuk opgedoen en sy linker voet was vergruis. By dit was hy in ‘n koma as gevolg van bloeding op die brein. Hy was toe maar in graad 1.

Dit was vir ons ‘n verskriklike ervaring aangesien hy vir amper tien dae in ‘n koma was. Ek het die oggende voor werk in Hillbrow by die hospitaal gestop, gaan kyk of daar verandering was en dan maar werk toe gegaan. Die dokters kon niks doen aan enige van die beserings op daardie stadium nie omrede hy in ‘n koma was. Die een oggend het ek in die kar gesit voor ek in die hospitaal gegaan het en seker die een gebed gedoen wat my lewe verander het, en seker die moeilikste besluit was wat ek as ouer ooit in my lewe gedoen het. Ek kon nie dit meer uithou om hom so te sien lê en ly nie en het die HERE gevra dat hy of moes bykom daardie dag, of die HERE moes hom kom haal want ek kon nie meer verder gaan om te sien hoe hy ly nie. Weet jy hoe het ek gehuil toe ek by hom in sy kamer kom en die suster vir my sê daar is geen verandering nie, maar toe ek aan sy handjie vat dat hy half uitskreeu “Hallo Pappa”.

Dit was net ongelooflik hoe groot daardie oomblik was. Ek en Hettie het regtig afskeid geneem van hom maar het toe ook geweet daar is nog ‘n rede hoekom die HERE hom vir ons terug gegee het. Hy het toe nog ‘n verdere tien weke in die hospitaal deurgebring en na dit nog drie of vier operasies en veloorplantings deugegaan.

So ek dink ek weet hoe jy voel, ook met die dat ek nou al meer as twintig jaar lank veg teen hierdie kanker wat seker nog, as ek net na die verandering in my gesondheid kyk, binne die volgende ses na twaalf maande my lewe gaan kos. Al wat ek geleer het daaruit is dat die HERE my nog kans gee om my roeping te vervul.

Ek het net geleer om gedurende hierdie tyd nie vas te kyk in hoe ek voel of wat my omstandighede is nie, maar dat ek kyk na wat ek moet leer uit hierdie ondervinding sodat ek dit weer met ander kan deel.  En natuurlik my oë op Hom vestig wat my elke dag die krag gee om deur te druk. Weet jy watter voorreg dit vir my is om te weet dat die HERE my gebruik, ten spyte van dit wat ek deurgaan? En ek weet net dit is wat hy ook vir jou het. Daar is ‘n lied wat nou skielik opkom by my wat deur Scott Wesley Brown gesing is. Dit lui as volg:

You have faced the mountains of desperation
You have climbed, you have fought, you have won
But this valley that lies coldly before you
Casts a shadow you cannot overcome

And just when you thought you had it all together
You knew every verse to get you through
But this time the sorrow broke more than just your heart
And reciting all those verses just won't do

Chorus:
When answers aren't enough, there is Jesus
He is more than just an answer to your prayer
And your heart will find a safe and peaceful refuge
When answers aren't enough, He is there

Instead of asking why did it happen
Think of where it can lead you from here
And as your pain is slowly easing, you can find a greater reason
To live your life triumphant through the tears
Repeat Chorus

Ek weet regtig nie hoe om jou verder te vertroos nie, maar weet net dat Hy altyd alles tot ons beswil laat gebeur. Vir ons lyk dit vandag dalk nie so nie, maar eendag wanneer ons saam met jou kind by Hom is, sal ons alles verstaan.

Die een groot les wat ek self geleer het, is dat dit nie help dat ek tent opslaan by gebeure wat ek nie verstaan hoekom dit gebeur nie, maar dat die lewe aangaan en ek nog nie my eindbestemming bereik het nie. Maar hierdie pad wat ek moet loop, gaan beide sy deel van goeie en slegte ondervindings hê, maar ek weet dat die HERE altyd daar is vir my. Hy het my nog nooit verlaat nie, en Hy sal ook nooit vir jou verlaat nie, want Hy weet dat jou moederhart oorloop van seer en baie vrae het, maar, dat wanneer jy aanbeweeg het en wie weet dalk oor ‘n paar dae, maande, of selfs jare sal jy uitvind wat die rede vir hierdie gebeurewas.

Weet net dat jou kind alreeds daar is waar ek en jy nog na uitsien om te wees.
Paulus stel dit vir ons so: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.  Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.”
So net om saam te vat:
·         Sy dood is nie om jou te straf nie, maar sy tyd wat hy aan julle geleen was, is verby.
·         Ons moet berusting vind in die wete dat hy is waar ons almal graag eendag wil wees.
·         Ek mag treur oor sy heengaan, maar ek moet nie tent opslaan by die gebeurtenis nie, maar aanbeweeg met my lewe, sodat ek ander kan bystaan wat deur dieselfde of soort gelyke gebeurtenisse gaan. Ek het groot geword in ‘n huis waar my oudste broer as jong baba oorlede is, en alhoewel ek hom nooit geken het nie, het my ouers my tog van hom vertel en fotos van gewys. Dit was ‘n gebeurtenis wat niemand van hulle kon wegneem nie.
·         Julle is nie die eerste persone wat daardeur gaan nie. Daar is elke dag iemand wat in dieselfde bootjie as julle is, en wanneer julle hierdeur gewerk het, sal julle weer ander kan bystaan terwyl hulle deur hulle verdriet moet werk.
·         Niemand sal ooit die herinneringe van hom kan wegneem nie. Ons moet die tye wat ons saam was onsself in verbly en koester.
·         Ten slotte wil ek net ook byvoeg dat julle nooit moet toelaat dat bitterheid by julle pos vat nie.
Ek hoop regtig dat die HERE julle sal vertroos, en wil afsluit met wat ons van Paulus leer: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” 2 Korintiërs 1:3-4. Dit is ook my “motto” vir my lewe.

Seën groete vir almal.