Dit is nogal ‘n snaakse vraag om te vra vir
iemand. Maar, dit is werklik ‘n lewensbelangrike vraag wat gevra moet word. Ons
word in ‘n tydperk groot waar permissiewiteit (daai woord), minagting van
gesag, en ophemeling van die mens hoogty vier.
Ons hoef net een aand na die televisie te kyk
en te sien hoeveel vuil en kru taal, seksueele dade, diefstal, moord en wat ook
al vir ons opgedis word deur die media. Om nie eens te praat van al die
ophemeling van die mens wat gedoen word nie. Ek onthou toe ek nog jonger was,
(ek het nooit gedink ek sal hoef terug te verwys na my kinderdae nie), die tyd
lank voor televisie, hoe ons as huisgesin saam geluister het na die radio in
die aand. Die kwaaiste woord wat jy dalk gehoor het was dat Oom Bart dalk iets
kon sê wat klink soos voertsek, of dalk het een van die Du Plooys van
Soetmelksvlei ‘n bietjie hard gepraat, of dalk het een van die "van
Helsdingels" iets kwyt geraak. As jy nou rerig wou, kon die vrouens
luister na programme soos "So maak mens" met Esme en Jan, of sommer
net na die seepies om 3:00 in die middag op Springbok Radio.
Een ding wat wel nie verander het gedurende die
tyd nie, is die HERE. Hy het nog al die tyd dieselfde gebly. Die kerk het dalk
die boodskap verander of aangepas by ons moderne lewenstyl, maar die HERE self
het nie verander nie. Baie van ons dienste wat in die kerk gehou word is nog
presies soos dit veertig of vyftig jaar terug was. Nou vind ons dat ons die
dienste maar moet begin aanpas om weer die jongmense in die kerk te kry. Maar
is dit werklik die oplossing?
In my eie lewe het ek al dikwels in situasies
beland waar ek skielik die HERE baie nodig gehad het. Die een keer is my seun,
hy was toe net ses, deur ‘n motorkar omgery en het hy maande in die hospitaal
deurgebring. Ek het so ‘n inspuiting van die HERE nodig gehad om my net deur
die tyd te dra. Gelukkig was die HERE getrou, en het Hy gedoen elke keer soos
ek gevra het. Ek onthou die een oggend toe ek voor werk weer by die hospitaal
gestop het om hom te besoek. Ek het die oggend die HERE gevra om iets vir my te
doen. My versoek mag dalk vir u snaaks of self skokkend wees, maar dit was
opreg bedoel. Dit was tien dae na die ongeluk en my seun was nog steeds
bewusteloos. Behalwe vir die skedelbreuk en bloeding op die brein wat hy
opgedoen het, was sy linkervoet vergruis en kon jy die sool van die voet van
die bokant van die voet af gesien het. Die dokters kon toe nog geen operasies
doen nie, en die verpleegpersoneel moes maar net seker maak dat daar nie
infeksie intree nie. Ek kon dit nie meer vat om hom so te sien ly nie, en het
ek gebid en vir die HERE gevra dat wanneer ek bo by my seun sou kom, daar ‘n
verandering in sy situasie sou wees. Dat hy of sy bewussyn sou herwin, of dat
hy sou sterf en sy lyding verkort word.
Dit klink wreed om so te bid, maar weet u hoe
ek gehuil het toe ek bo kom, hom aan sy hand vat en hy vir my sê: "Môre
pappa". Die verpleegpersoneel het saam met my gehuil want hulle kon nie
glo dat sy toestand binne vyf minute so drasties kon verander nie. Hulle het
net voor ek daar gekom het, nuwe verbande op die voet en kop gesit, en was sy
toestand nog soos die vorige dae. Die inspuiting het my vir dae en selfs jare
so gedra dat ek net kon weet dat as jy die HERE iets vra, hy dit wel vir jou
sal doen.
Daar was ander inspuitings ook. Party het seer
gemaak, ander het net verligting in ‘n situasie gebring. Een van die
inspuitings wat ek nie graag weer wou gehad het nie, was toe ek my bewussyn
herwin het na ‘n blaas operasie en die dokter vir my sê dat die bloeding in my
blaas veroorsaak was deur ‘n gewas. Die gewas het hy verwyder, maar hy moes my
ongelukkig meedeel dat dit kwaadaardig was. So sonder emosie het hy die
doodsvonnis oor my uitgespreek, want almal wat ek geken en van gehoor het wat
kanker gekry het, was of dood of het op sterwe gelê. Maar weet u, ek het so
gebid dat ek net vir my kinders, die jongste een was toe nog nie op skool nie,
kon grootmaak dat hulle nie sonder ‘n vader figuur hoef groot te word nie. Die
HERE was getrou, en na drie jaar het die medici besluit dat ek genees is.
Ek weet nie wat u omstandighede is nie. Miskien
het u ook sulke inspuitings gehad , of miskien het u ook van die ondervindings
soos ek gehad waarop ek nie trots was nie. Tye waar ek keer op keer ‘n
verskoning gehad het hoekom ek tydens middagete of net na werk eers ‘n draai by
die werk se kroeg of ‘n hotel gemaak het. Ek het mos baie goeie redes gehad, ek
moes dan kliënte daar ontmoet. Dan sak jy weer op jou knieë neer en vra
vergifnis vir die oortredings, en die HERE gee weer vir jou ‘n inspuiting en
kan jy weer aangaan vir ‘n tyd.
Maar weet u, ek het uitgevind dat die
inspuitings werk, maar die inspuitings help net vir ‘n tyd. Dan moet ek maar
weer vra vir ‘n inspuiting om te kan aangaan. Ander persone se inspuitings dra
hulle net van week na week. Hulle wil nie die dienste Sondag mis nie, want daar
kry hulle weer "petrol" vir die week om aan te gaan. Of hulle moet by
die sel uitkom op in die week want hulle wil net weer hulle geestelike batterye
volmaak, hulle inspuiting kry, om weer aan te gaan.
Is dit miskien hoe jou lewe ook is? Die Bybel
verklaar vir ons in Esegiël 18 vers 4 dat die siel wat sondig moet sterf. Maar
waar is die siel van die mens? Die Bybel verklaar vir ons as volg: Levitikus
17:11 "Want die siel van die
vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle
siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."
Elke keer wat ek ‘n inspuiting gekry het, het
ek slegs probeer om die sonde wat in die bloed of die siel van die mens is, reg
te kry. Ek het probeer om die verkeerde dood te maak. Dit is soos wanneer
iemand ‘n inspuiting kry teen Vigs. Dit kan nie die Vigs dood maak nie, want
dit is in die bloed. Dit help dalk net om die lyding makliker te maak. Maar die
gedeelte in Levitikus verklaar ook wat ek moet doen om vir altyd reg te wees.
Jesus het Sy bloed op die altaar gestort sodat ons Sy bloed kan kry.
Ek moet myself na Hom vat sodat Hy ‘n
bloedoortapping kan doen. My bloed, my lewe, moet ek van ontslae raak, en Sy
bloed en Sy lewe ontvang. Dit is wat die HERE van ons verwag. Ek moet myself
met Jesus beklee, ek moet ‘n bloedoortapping kry, dan sal ek bly lewe.
Sodra ek dit gedoen het, sal ek nie meer lus
voel om al die gemors op TV te kyk nie, en sal ek hulle selfs aanvat oor die
perwersiwiteit en geweld en Satanistiese programme wat hulle vir ons opdien.
Miskien sal jy dan voel dat jy eerder na die radio sal luister, of dalk begin
om die Bybel te ontdek. Ek belowe jou, dit is ‘n reis wat jy nooit die einde
van sal bereik nie.
So, as jy volgende keer weer voel dat jy nie
meer verder alleen kan aangaan nie, vra Hom of Hy vir jou ‘n bloedoortapping
sal gee. Maar onthou Hy kom maak dan woning binne in jou.
Dit is waarvan Esegiël skryf in Esegiël 36 vers
26 "En Ek sal julle 'n nuwe
hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit
julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee."
Hoekom moet ons hart ook verander? Want ‘n klip
hart kan nie bloed wat lewe gee, pomp nie, slegs ‘n hart van vlees kan Jesus se
bloed klop. Maar Hy moet die operasie doen. Ek kan nie myself verander en nou
verklaar dat ek Sy kind is nie. Nee, net Hy kan dit doen, maar dan moet jy van
al jou bloed en jou lewe ontslae raak, en jou met Sy bloed beklee.
So, volgende keer as jy weer nodig het om ‘n
aanraking van die HERE te kry, vra Hom om jou ‘n bloedoortapping te gee, en nie
net ‘n inspuiting nie. Hoekom moet ek wag totdat ek weer ‘n aanraking nodig
het? Gesonde mense het nie mediese hulp nodig nie. Maar mense wat probleme het,
wat nie meer self kan nie, hulle gaan na die dokter toe. So is dit ook met ons
geestelike toestand. Eers wanneer ek al my eie planne en medikasies probeer
het, kan ek na diè Geneesheer gaan. Dan is ek siek genoeg om ‘n bloedoortapping
te kry.
Dit is ook waarvan Jesaja getuig het, toe hy Jesaja 61
geskryf het. Vers 1 "Die Gees van
die HERE HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te
bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van
hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides
opening van die gevangenis; 2 om uit te roep 'n jaar van die welbehae van
die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;
3 om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word
sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae
gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van
die HERE, tot sy verheerliking."
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking