Genesing - Is jou geloof in Jesus Christus, of in jou geloof, in jou manier van glo.
Oor genesing kry ek
amper daagliks te doen met mense wat nie verstaan waaroor genesing in die Bybel
gaan nie. Hulle standpunt word gewoonlik gebou op ‘n geloof in hul geloof, en
nie geloof op wat die Bybel ons leer nie. Die mense huldig die standpunt dat
genesing vir almal is en dat indien jy nie genesing ontvang nie, jy nie geloof het
nie. Alhoewel wanneer mense hoor wat ek vir die HERE gevra het 3 jaar terug en
vind dat Hy my presies gegee wat ek voor gevra het, hulle nie antwoorde vir my
het nie, behalwe dat hulle glo hulle is reg. Ek het gevra en het tyd gekry om
afskeid te neem van die wat vir my lief en dierbaar is, Sy liefde uit te straal
na almal wat ons mee te doen het, en tyd om dit te skryf wat Hy oor ‘n periode
van meer as 25 jaar met my gedeel het en nog steeds elke dag deel.
Ek weet hoe dit
voel om aanhoudend aangeval te word, en dit krap my ook om wanneer mense met
hulle eie insigte ander wil uitmaak as mense met sonde of nie voldoende geloof
nie. Hulle wil net dat dit altyd alles goed gaan met kinders van die HERE, maar
dit is nie die boodskap wat ek in die Bybel kry nie.
Ek weet dat daar
elke dag genesings plaasvind want ek en Hettie het al vir mense gebid en hulle
is genees, so daar is kere wat die HERE ingryp en kere wat Hy dit nie doen nie.
Hoekom? Hy weet. Ek wonder net of die mense weet dat hulle mense se lewens en
verhouding met die HERE skade aan doen deur hulle geloof in hulle geloof en
deur dit te probeer regverdig sonder dat hulle die Bybel ken.
Psalms 41: Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe
hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die
begeerte van sy vyande nie. Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy
hele slaapplek verander U as hy krank is." So dit lyk my Dawid sê dat ons siek kan
wees, maar dat die HERE jou sal ondersteun op jou siekbed. Hierdie gedeelte kan
ek persoonlik elke dag van getuig. Slegs 5 persone per miljoen word met
Carcinoid Sindroom gediagnoseer voor hul sterfte, terwyl wanneer ons die
resultate van lykskouïngs bywerk, sowat tussen 60 en 70 persone per jaar per
miljoen net in die VSA sterf van dié tipe kanker sonder dat dit by hulle
gediagnoseer word. So hulle sterf aan kanker sonder dat hulle eers daarvan bewus
is. Die siekte is eers in die vroeg vyftigs vir die eerste keer beskryf en
uitgevind. Gelukkig weet ek daarvan en kan ek elke dag daarteen baklei.
Meeste mense op aarde sterf as gevolg van siekte, maar party mense wil hê
dat ons almal gesond moet wees wanneer ons sterf, want anders het ons nie
geloof nie. Hoeveel van die mense wat vir jou voorhou dat jy nie genoeg geloof
het sterf nie as gevolg van hoë cholestrol en hoë bloeddruk? O ja, hulle mag
mos maar net ‘n pilletjie drink, want hulle is mos nie siek nie. Ek drink ook
net ‘n paar pilletjies, so tussen 16 en 20 ‘n dag om die pyn te demp en die
derms te ontspan maar ek het mos nie geloof om te herstel van die kanker nie.
Die feit dat ek geglo het vir 14 jaar na hoeveeel gebede dat ek nie meer kanker
het nie en dat ek toe weer moes uitvind dat dit nie die geval was nie, tel
blykbaar nie. Dié tipe mense gee my sommer hoë bloeddruk ook.
Johannes 11:1 "1 ¶ En daar was 'n man siek, Lasarus
van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. 2 En dit was Maria
wat die HERE gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie
se broer, Lasarus, siek was. 3 Die susters het toe na Hom gestuur en gesê:
HERE, hy vir wie U liefhet, is siek. 4 En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie
siekte is nie tot die dood toe nie, maar
tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan
word." As ek die gedeelte regverstaan lyk dit vir my of Jesus hom
ook nie sou genees het as dit ‘n siekte was wat tot sy uiteindelike dood sou
lei nie. Maar die HERE het hom genees sodat die mense kon sien dat Hy mag het
oor die dood. En arme Lasarus het nie geloof nodig gehad nie, want hy was reeds
dood.
Hand 10:37-38 “Julle weet van die saak wat deur die hele
Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek
het, (38) met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God
Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan,
goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat
God met Hom was.” So wat van die wat nie onder die mag van Satan
was nie? Dit lyk nie of hulle ook genees is nie, want Lukas beskryf dit nie,
anders sou hy mos gesê het almal is genees. Dit is hoe my logika werk.
Jes 53:5-12 “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge
deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir
ons die vrede aanbring, was op Hom, en
deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos
skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid
van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe
was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei
word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie
oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy
tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die
lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En
hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood,
omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.
Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as
sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae
verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens
die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige,
baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom ‘n deel
gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel
uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog
die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.”
Die gedeelte is
seker die gewildste gedeelte wat aangehaal word deur mense wat vir jou vertel
dat die HERE almal wil genees. Ja, dit is so, ons almal word gebore en sal
sterwe as sondaars indien Jesus nie vir ons genesing gebring het van ons
ongeneeslike siekte, die ewige dood, nie. Hy het gesterf sodat ek en jy kan
lewe, en lewe tot in ewigheid. Dit is die genesing waarvan Jesaja hier praat.
Moses het ‘n soortgelyke voorbeeld in die woestyn gehad vir die Israeliete wat
gesondig het. Moses moes ‘n slang maak, dit is wat hulle gepik het en laat
sterf het, en moes die slang op ‘n paal sit sodat elkeen wat gepik word kon
opkyk na die slang en geleef het. So die oorsaak van hulle dood, die slang
(sonde) is op ‘n paal (kruis) gesit sodat elkeen wat na die kruis kyk en glo
dat Jesus ons sonde gedra het, kan lewe. Dit is die genesing wat Jesaja van
praat. Ek weet daar is mense wat vertel dat Jesus 39 houe op sy rug gekry het om
elke tipe siekte te verteenwoordig en dus het Hy reeds die staf daarvoor betaal,
maar dit is loutere onsin, want dit staan nêrens in die Bybel nie.
So daar sal mense
wees wat van jou en van my sal verskil, maar dit maak gelukkig die lewe
interesant. Solank ons net die liefde van die HERE uitstraal elke dag na elke
persoon wat oor ons pad kom en in geloof volhard, is dit al wat gaan tel op die
einde van die dag. So miskien is daardie autistiese kind juis sy ouers se
doring in die vlees, soos wat Paulus ook gehad het. 2Kor 12:7 “En dat
ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n
doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan,
dat ek my nie sou verhef nie.”
Dan is daar die
verhaal van die Samaritaan wat Lukas vir ons opgeteken het. “En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het
afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom
uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval
het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant
verby. En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant
verbygegaan. Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en
toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop
gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en
vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings
uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en
enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.” (Luk 10:30-35) So die Samaritaan kon mos net
gebid het dat ou die genees word en dan het hy mos ‘n hoop geld gespaar.
Dawid vertroos ons ook
oor die tipe omstandighede: “Kof. Die
HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van
gees. Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal
red die HERE hom.”(Psa 34:18-19) “Psa_41:3 (41:4) Die
HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy
krank is.”
Ek wil graag nou ‘n
gedeelte aanhaal wat ek seker is die mat onder almal se voete sal uitpluk, en
dit is dat daar siekte in die Nuwe Jerusalem is. “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom
van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing
van die nasies.” (Open 22:2) Nou wonder ek maar net of die mense al
ooit hulle Bybels gelees het wat so tekere gaan oor genesing. Ek glo nie, want
dan sou hulle die vers moes raakgelees het al. Hoekom sal die bome wat langs
die rivier in die Nuwe Jerusalem se blare vir genesing gebruik word as almal
dan gesond is? Ek vra maar net. Dit is natuurlik ook ‘n aanhaling van Esegiël
om te bewys dat Esegiël die eindtyd in die Ou Verbonds verstaan skets, terwyl
Johannes in Openbaring dit in ‘n Nuwe Verbonds verstaan skets. “En by die stroom sal aan altwee kante
allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die
vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die
waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle
blare om te genees.” (Eze 47:12)
Hiermee sal ek
volstaan, want dit help nie om te redeneer oor goed wat mense net in glo nie.
En dan is dit volgens hulle altyd die ander mense wat verkeerd is, en nie hulle
nie. So gaan sien maar die dokter, ek het en leef nou al 19 jaar langer as wat
ek sou leef indien die dokters nie ingegryp het nie. En dan praat ek nie eers
oor hoe my verhouding met die HERE in daardie 19 jaar verander het nie.
“Toe ek
‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos
‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. Want
nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot
aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek
ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die
grootste hiervan is die liefde.” (1Kor 13:11-13)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking