Ek wil graag na die Joodse geloof van vandag kyk, en vir u
as leser probeer wys dat die Jode van die Bybel nie ‘n nasie is soos vandag
deur meeste mense verstaan word nie, maar in werklikheid, as die eerste Kerk
gesien moet word.
Waarvan praat ek nou? Dat die Joodse geloof en mense in die Ou
Verbond voor Jesus se koms, nie as ‘n nasie gesien moet word nie, maar dat deur
al die eeue heen van voor Moses se dae af as Kerk van die HERE gesien word. Dit
sal ook dan vir ons duidelik word dat die geveg wat deur sovele mense geveg
word dat wanneer iemand praat van die Kerk versus die Joodse geloof, ons van
vervangingsteologie praat, van alle waarheid gestroop word aangesien die Jode
en Israel van die Ou Testament as die eerste Kerk gesien moet word. Dit is hoe
die Bybel dit gestel het, en dit is hoe die mense van die Ou Testament dit
gesien het.
Kom ons begin by die begin van die KERK. En dit begin met
Abraham. Die HERE begin met Abram (Abraham) praat lank voor die verbond wat Hy
met hom sluit. En Abram luister elke keer en doen wat die HERE vir hom sê om te
doen. So wat leer ons hieruit? Daar is twee faktore wat ‘n massiewe rol speel.
Eerstens glo Abram die HERE en dan is hy gehoorsaam. Dit is die kenmerke van
mense wat in die Kerk van die HERE hoort. Ons moet geloof hê en glo wat Hy vir
ons sê, en moet ons gehoorsaam wees en doen wat Hy verwag. Dit val saam met
Hebreërs 6 vers 1: “Daarom moet ons nie
bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die
volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit
dooie werke en van die geloof in God,”. So Abram lê sy eie lewe neer,
bekering, en dan glo hy die HERE, geloof, die tweede kenmerk.
Nou vind ons dat die verbond ingestel word met nagmaal, waar
Melgisedek die brood en die wyn bring. “En
Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste,
was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God,
die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die
Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van
alles.” (Gen 14:18-20)
So ons vind dat daar toe alreeds ander mense was wat die
HERE aanbid het en as priesters opgetree het. So Abram was nie alleen nie, daar
was ander volke wat toe alreeds aan die HERE behoort het.
Nou kom die HERE eers met die verbond. “Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n
gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie
groot. Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders
heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Verder het
Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van
my huis my erfgenaam wees. Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê:
Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam
sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die
woorde: Kyk nou op na die hemel en tel
die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En
hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die
Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.” (Gen 15:1-7)
Wat beteken hierdie twee eienskappe vir Abram. Dat dit vir
hom as geregtigheid gereken is. Sonder geregtigheid is dit onmoontlik om deel
van God se Kerk te wees. En nou vind ons hoe die HERE die verbond instel en
Abram geen deel daaraan het nie. Hy moes net die diere voorsien. Hier lees ons
dat Abram moes die vee middeldeur sny en teenoor mekaar lê. Die betekenis
daarvan was dat indien enigeen die verbond sou verbreek, die ander persoon die
reg gehad het om so met sy verbondsvennoot op te tree. Nou het God vir Abram,
hy het eers later Abraham geword, gesê dat uit Isak sou sy nageslag kom. So vir
Abraham was dit nie moeilik om die besluit te neem om Isak te offer toe God hom
gevra het nie, want die Here moes weer vir Isak uit die dood opwek, want uit Isak
sou Abraham se nageslag kom. God kan nie lieg nie. Indien God dit nie doen nie,
kon Abram met God maak soos met die diere gemaak is, en hy het geweet dat God
nie kan lieg nie, en dat dit onmoontlik is om God dood te maak.
Verder, as een van die partye van 'n verbond iets van die
ander een verwag het om te doen, moes die ander party dieselfde verwagting hê.
Omdat God van Abram verwag het om sy seun te offer, het die HERE daar verklaar
dat Hy vir Jesus sou stuur om te sterwe, want Jesus is Sy seun. Dit is hoekom
Jesus moes kom, om die gedeelte van die eerste verbond te vervul. Dit is ook
hoekom Jesus net een keer kon kom om vir ons sonde te sterwe.
Vir die wat wil lees oor wat die verbond van Geregtigheid beteken
kan u hier lees.
So na hierdie gedeelte vind ons 25 jaar later dat die HERE
die besnydenis instel as teken van die verbond. Nou die interessante gedeelte
is dat wanneer ons na die volgorde kyk vind ons dat Abram moes glo, dan nagmaal
vier, en dan volg die besnydenis. Na Abraham vind ons hulle moes eers besny
word, dan glo, en dan nagmaal vir. So hier vind ons dit in ‘n halwe omgekeerde
volgorde maar met Jesus vind ons dat Hy dit weer instel volgens Abraham se
volgorde, so eers glo, dan nagmaal, en dan eers vind besnydenis van die hart
plaas. Daarom dat ons so baie stryery kry vandag onder teoloë, want die harte
is nie besny nie, alhoewel hulle nagmaal gebruik, weier hulle dat die HERE hul
harte kan besny, en wil hulle hul verkeerde lewenswyses en insigte afdwing op
hul kerkgenootskap.
So die Kerk begin met Abraham, en almal wat glo en deel
geword het van die verbond, was Kerk.
Nou kom ons eers by Israel uit. En hier vind ons die
volgende beginsel is dat mense van alle volke hulle by die volk kon voeg voor
hul trek uit Egipte begin het. “Die hele vergadering van Israel moet dit hou. En as ‘n vreemdeling
by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal
wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal
soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. Een
wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle
vertoef.” (Exo 12:47-49) Die Engelse vertalings stel vers 47 egter
as ‘n gemeente (congregation), en dit is ook hoe die woord in Strongs se
Hebreeus beskryf word. “Net een wet moet
daar vir julle wees die vreemdeling moet soos die kind van die land wees; want
Ek is die HERE julle God.” (Lev 24:22)
So hier vind ons alreeds dat Israel nie ‘n spesifieke nasie
is nie, maar almal wat besluit om die HERE as hul God te dien. So almal het
dieselfde geloofsoortuiging gehad. So dit wys alreeds vir ons dat hulle eerder
as Kerk funksioneer as volk. Dit sluit aan by die belofte wat die HERE aan
Abraham gemaak het. “Toe Abram nege en
negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is
God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil
my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder. Toe val
Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê: Wat My aangaan, kyk,
my verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word.
Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham,
want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies. En Ek sal jou buitengewoon
vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. En
Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte
as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En
Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die
hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou
nageslag ná jou, van geslag tot geslag.” (Gen 17:1-9)
So hier vind ons nog voor en tydens die trek na Kanaän, dat Israel as Kerk funksioneer en
nie net as nasie nie. Soos vroeër genoem in Eksodus 12 vers 47, word hulle as
‘n gemeente beskryf en nie as a volk of nasie nie.
Dit is ook waaroor die hele boek van Hebreërs gaan.
Baie mense verstaan nie die boek in die Bybel nie, en daar
is baie, soos selfs Martin Luther, wat voel dat die boek nie in die Bybel hoort
nie. Dit is maar mense wat voel dat die boek juis aan Jode geskryf is en dat
dit ons as Christene nie raak nie.
Maar, nou het ek ‘n probleem met die siening. Hoekom?
Aangesien mense die Jode as volk sien en nie as Kerk nie. Dit is seker die
grootste verskil wat ons vandag leer. Almal wil dat die boek slegs op die Jode
van daardie tyd van toepassing was, maar wil of kan nie verstaan dat die
sentrale punt van die boek gaan oor verbond nie.
So dit is nie net geskryf vir die Jode as nasie nie, maar
aan die Jode as Kerk. Nou wat is die verskil? Ek wil dit graag verduidelik aan
die hand van wat Paulus aan Korinte skryf, en wat Jesus vir Johannes openbaar
in Openbaring. Paulus skryf die volgende: “En
hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte
dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige
van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te
drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van
hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval.
En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en
hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van
hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as
voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die
eeue gekom het.” (1Kor 10:6-11)
Jesus se woorde in Openbaring is weer as volg: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede
maar jy is ryk en die lastering van die
wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die
Satan.” Open 2:9. “Kyk, Ek gee jou
uit die sinagoge van die Satan, van die
wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg Ek sal maak dat hulle
kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.” Open 3:9.
So ek gaan eerstens bewys dat Israel as Kerk funksioneer
het, en nie as volk nie. Maar, kom ons begin by die begin. Wie is alreeds, en
wie gaan nog hemel toe. Die wat reeds in die hemel is, is mense soos Moses,
Dawid, Samuel, en nog baie ander persone van die Ou Testament. As ons na Nuwe
Testamentiese mense soek is dit seker mense soos Petrus, Paulus en Johannes.
Wat u dalk mag opval is dat ek slegs name van mense noem wat uit Israel
afkomstig is. Die rede hiervoor is om vir u te wys dat hulle sekerlik daar is,
omdat hulle aan die volk en Kerk van die HERE, Israel behoort het. Wat ek leer
uit die Ou Testament is dat slegs persone wat die HERE behaag het en in Hom geglo
het die ewige lewe beërwe het en nie alle Israeliete nie. Daarom dat ons lees
dat die HERE in die meeste van hulle geen behae gehad het nie en hulle
neergevel is in die woestyn, en so in die hel opgeëindig het. “Maar God het in die meeste van hulle geen
welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.” (1Kor
10:5)
Die HERE spreek die volgende woorde uit oor Israel: “Want
jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies
om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het
‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as
al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar
omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders
gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die
slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. Jy moet dan weet dat die HERE jou God God
is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom
lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.” (Deu 7:6-9)
Hierdie gedeelte klink vir my eerder as ‘n belofte aan ‘n Kerk, as ‘n belofte aan
‘n spesifieke volk.
Maar hoe nou gemaak met ander mense van ander nasies?
Ek wil begin by die begin. Nou mag jy dink dat as ek na
Openbaring verwys, ek aan die einde begin, maar Christus is aan die woord, en
Hy was van die begin van die aarde al daar. Openbaring 3 vers 9: "Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van
die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg".
Hier sien ons dat Jesus aan die gemeente skryf en sê dat sommige voorgee dat
hulle Jode is maar lieg. Die gemeente is in Filedelfia, verseker nie in Israel
nie. Dit is ook ‘n bevestiging van Openbaring 2 vers 9: "Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die
lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge
van die Satan." So hier gee Jesus vir ons ‘n belangrike stukkie
inligting. Slegs ware Jode sal gered word. Dit stem saam met wat Moses meedeel
in Deuteronomium 7 verse 6 en 7:
"Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God
uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te
wees. Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie
omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste
van al die volke".
Sodra ons besef dat God nooit Sy beloftes sal verander nie,
sal ons besef dat daar iets is wat nie pluis is nie. Hoe kan God ons as heidene
dan ook red as Sy Woord verklaar dat slegs Jode gered word? Die antwoord kom
uit Handelinge 10 vers 34 en 35 :"
En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van
die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en
geregtigheid doen, Hom welgevallig is." Hier sien ons dat as ons Hom
vrees en geregtigheid doen, ons Hom welgevallig is. Dit los egter nog nie die
probleem van Openbaring op nie, want ons is nog nie Jode nie. Die antwoord moet
ons gaan soek in Israel se geskiedenis met die uittog uit Egipte. Hier gee die
HERE vir die Israeliete ‘n wet wat hulle moet gehoorsaam. Numeri 15 vers 15 en
16: "Wat die vergadering aangaan,
een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle
vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die
vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling
wat by julle vertoef." Eksodus 12 vers 48 gee die finale
antwoord vir ons: "En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer
van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om
dit te vier, en hy sal soos 'n kind van
die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie."
In Israel se geskiedenis sien ons dat
wanneer iemand uit ‘n ander volk hom of haar verbind het met die Israeliete,
hulle as volksgenote, of deel van die Kerk geag is. ‘n Baie goeie voorbeeld vir
ons is Rut. Alhoewel sy die reg gehad het om na haar mense terug te gaan na
haar man se dood, het sy gekies om saam met Naomi na haar land te gaan. Die
woorde wat Rut ook gespreek het, ontsluit die waarheid verder. Rut 1:16 "Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u
moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar
u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. 17 Waar
u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so
daaraan toedoen--net die dood sal skeiding maak tussen my en u." Hier
gee sy te kenne dat sy kies om deel te word van Naomi se volk, en saam met
Naomi haar God sal aanbid. Wie was Rut? Dawid se grootouma. Waar kom Jesus
vandaan? Uit Dawid se geslag.
Nou hoe pas al hierdie stukke in mekaar?
Die HERE het Israel uitgekies as Sy Kerk. Ons, as heidene moet dus kies om by
die Kerk van die HERE gevoeg te word. Hoe doen ons dit? Deur deel te word van
die verbond met die HERE. Dit is om Christus se geregtigheid te besit. So ons
moet weet wat Jesus kom doen het op aarde, en dit is om die Ou Verbond te
vervul deur aan al die voorwaardes te voldoen. Dan gee dit ons die geleentheid
om deel te word van die Israel van die HERE, soos Paulus vir ons in Galasiërs
dit opgeteken het. “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die
onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. En mag daar vrede en
barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die
Israel van God!” (Gal 6:15-16) So hierdie gedeelte klink vir my baie
meer as beleidenis skrifte van ’n Kerk, as beloftes aan ‘n spesifieke volk. So
Israel is nie as volk uitverkies nie, maar as Kerk want slegs die wat deel was
van die verbond en geglo het dat slegs die HERE hulle God was, het die ewige
lewe verkry.
Waar vind ons die eerste afval van die
Kerk? Met die onderverdeling van Kanaän. Die Rubeniete en Gadiete en die halwe stam
van Manasse het besluit om nie hulle erfdeel in Kanaän in besit te neem nie.
Hulle wou hulle eie kop volg en buite die beloofde land hul erfenis ontvang. So
hulle het gekies om nie dit wat die HERE vir hulle wou gee nie, te aanvaar nie.
So hier sien ons die eerste afval. Wanneer ons in die geskiedenis van Israel
gaan kyk, sien ons dat hulle geen invloed later op die geskiedenis van Israel
gehad het nie. Dit is presies wat vandag gebeur. Mense besluit om die Kerk te
verlaat en kan nie as gelowiges getel word nie, want slegs mense wat Jesus as
hul verlosser bely en lewe soos kinders van die HERE vorm deel van die werklike
Kerk. Dit is hoe Hebreërs 6 dit stel : “Want
dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe
gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God
gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om
dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die
Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Heb 6:4-6) Dit is
ook wat in de Ou Verbond gebeur het. Saul raadpleeg die heks van Endor en sterf
as ongelowige. Wanneer Israel gesondig het is hulle gestraf om hulle terug te
bring na die HERE toe, maar wanneer hulle nie meer aan die HERE vasgehou het
nie, vind ons hulle nie verder in die Bybel nie. Alreeds net na Dawid skeur die
koninkryk in twee, en sien ons nooit weer die ander stamme in die geskiedenis
nie. So die ander het hul eie “kerk" begin, en is deur die HERE verstoot. Jesus
praat ook nie met die mense van die “kerk” nie, behalwe om hulle teen mekaar op
te sweep. Dit is wat Hy elke keer met die Fariseërs en Saduseërs gedoen het. En
hulle was die “kerk”.
Nou kan ons maar deur Israel se geskiedenis
sien hoe meeste van die stamme afvallig word, afgode aanbid en hulle voeg by
die nasies wat hulle veronderstel was om uit te roei. Vandag vind ons dat mense
sê dat Jesus moet nou eers die mense van die verlore stamme moet kom red, maar
hulle het reeds hulle keuses gemaak en besluit om nie deel van die HERE se Kerk
te wees nie. Die HERE het nie ‘n spesifieke volk gekies nie, maar ‘n spesifieke
groep mense wat in Hom glo as hulle God. Dit is waaroor al die profete gepraat
het. Al hul geskrifte is eintlik herlewings boodskappe wat hulle vir die mense
gebring het. Almal het vir hulle voorgehou wat hulle moes doen, en dit was om
terug te keer na die HERE toe. Daar was wel ook van die boodskappe wat hulle
gebring het wat gewys het op Jesus en Sy verlossing wat Hy kom bring het. Maar
dit was nogsteeds boodskappe om mense nader aan die HERE te bring. So al
hierdie boodskappe gaan oor wat van ons as Kerk verwag word, en nie boodskappe
aan ‘n volk nie.
Verder vind ons net soos vandag dat
lidmaatskap aan ‘n Kerk groep nie beteken dat jy die ewige lewe gaan beërf nie,
maar slegs geloof in Jesus Christus as verlosser.
So Israel was die Kerk onder die Ou
Verbond, en ons vorm deel van die Kerk onder die Nuwe Verbond. So daar bestaan
nie iets soos vervangings teologie nie, maar slegs boodskappe aan die Kerk van
die HERE. En dit het al begin met Moses wat die volgende keuse aan die mense
gee: “Want hierdie gebod wat ek jou
vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. Dit is nie in die
hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons
gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant
die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see
oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
Maar baie naby jou is die woord, in jou
mond en in jou hart, om dit te doen. Kyk, ek het jou vandag voorgehou die
lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy weë
te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy
kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God jou mag seën in die land
waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Maar as jou hart hom afwend en jy
nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en
hulle dien, dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle
sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in
besit te gaan neem nie. Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen
julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en
jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom
aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon
in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed
beloof het om dit aan hulle te gee.” (Deu 30:11-20)
So Israel moes kies om die HERE te volg, en
dit klink soos iemand wat moet kies vandag om kind van die HERE te word, en nie
‘n blanko uitspraak dat al Israel se mense die ewige lewe sal ontvang nie. Nee,
slegs mense wat Hom gekies het, sal Sy kinders of volk wees.
So om terug te keer na die boek aan die
Hebreërs, sien ons dat die boek handel oor die verskillende standpunte in die
verskillende Kerke. Daar is eerstens die wat glo dat Jesus alles volbring het
en dat slegs deur geloof in Hom ons as Kerk kan funksioneer. Dan is die tweede
groep die wat glo dat Jesus die verlosser is, maar tog nog sekere van die Ou
Testamentiese werke aan wil vashou om verlossing te kry, en dan die wat nog in
die Ou Verbond vashou as die enigste manier om God se kinders gereken te word.
En dit is wat die skrywer probeer bespreek, om te wys daarop dat Jesus al die
voorskrifte aan voldoen het, en dat slegs volle oorgawe aan Hom en volle
vertroue in Hom, die ewige lewe vir ons as mense kan verkry. Geen werke kan
maak dat ons as Kerk gereken kan word nie.
So die skrywer wys daarop dat geen werke of
nakoming van die Ou Verbond se voorskrifte vir ons die ewige lewe kan gee nie,
aangesien Jesus ‘n einde daaraan gemaak het toe hy deur die hemelse tabernakel
gegaan het. Dit is wat Hebreërs 3 en 4 oor gaan. Dat ons geloof moet hê dat
Jesus die Christus is en dat dit onmoontlik is om in Sy rus te gaan daarsonder.
Dit is die betekenis van die Sabbat, dat ons oorgaan van ‘n werke godsdiens na
‘n geloofs godsdiens.
Dit is waarom die nuwe voorskrifte in Hebreërs
13 opgeteken is, en wat dit vir ons beteken. Dit is vir ons al die vereistes om
aan te voldoen.
“Die
broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige,
sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg. Dink aan die gevangenes asof
julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook
‘n liggaam het. Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed
onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. Julle gedrag moet vry
van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek
sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle
vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat
sal ‘n mens aan my doen? Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan
julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle
geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is
goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die
wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie. Ons het ‘n altaar waarvan
die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; want die diere
waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra
word—hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om
die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan
uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen
blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. Laat ons dan gedurig deur Hom
aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.
Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan
sulke offers. Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle
waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met
blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.
Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons ‘n goeie gewete het, omdat ons in alles
goed wil wandel. Des te meer vermaan ek julle om dit te doen, sodat ek gouer
aan julle teruggegee kan word. Mag die God van die vrede, wat die groot Herder
van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige
testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om
sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus
Christus aan wie die heerlikheid toekom t6ot in alle ewigheid! Amen. En ek
vermaan julle, broeders, verdra die woord van vermaning, want ek het ook maar
kort aan julle geskrywe. Julle moet weet dat die broeder Timótheüs vrygelaat
is, saam met wie ek julle sal sien as hy spoedig kom. Groet al julle
voorgangers en al die heiliges. Die wat van Italië is, groet julle. Die genade
sy met julle almal! Amen.” (Heb 13:1-25)
So dit is die voorskrifte vir Sy Kerk. Nou
kan jy self sien of jou gemeente of van die lerings wat hulle huldig aan die
vereistes voldoen. Nêrens lees ek in die Nuwe Verbond dat die HERE mense wat
hul rug op Hom gekeer het weer ‘n geleentheid sal kry om Hom te sien vir wie Hy
is nie. Dit beteken ook dat Hy nie Israel as ‘n spesiale volk verkies het nie,
maar Israel as Kerk gekies het.
So daar bestaan nie iets soos
vervangingsteologie nie. Of jy glo die waarheid en beërf die ewige lewe, of jy
sterf die tweede dood. Ek en jy wat die HERE dien is deel van Sy Israel, soos
vroeër genoem in die aanhaling uit Galasiërs. 6:16 “En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel
volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” So dit gaan alles oor Sy
Kerk.
Ons moet onthou dat die eerste mense wat
tot bekering gekom het Jode was. En hulle is ook Christene genoem. “En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en
God verheerlik en gesê: So het God dan
ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk. Die wat dan
verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en
Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die
Jode alleen. En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat
in Antiochíë gekom het en met die
Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het.
En die hand van die Here was met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en
hulle tot die Here bekeer. En die berig hiervan het die gemeente wat in
Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur
te gaan tot by Antiochíë. Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy
bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly;
want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ‘n
aansienlike skare is aan die Here toegebring. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry,
het hy hom na Antiochíë gebring. En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente
saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is
in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.” (Hand 11:18-26)
So die mense was eerstens Jode, maar het
toe bekend gestaan as Christene. So die wat praat oor vervangingingsteologie
bewys net hulle onkunde, en hulle tekort aan kennis wat in die Bybel staan.
So daar sal nie ‘n wegraping wees om die
Jode te kom red nie, want dan moet almal wat nie in Jesus glo ook ‘n tweede
kans kry, en dan beteken die Bybel en Jesus niks nie. So hardloop weg van die
mense voordat hulle jou saam met hulle in die afgrond trek. Dit is so dat daar
pragtige mense is wat jy dalk voel ek nou aanvat, maar weet jy net mense wat glo in die volle boodskap van
die Bybel sal gered word. Jesus het in elk geval vir hulle meegedeel dat
hulle verwerp is: “Jesus sê vir hulle:
Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp
het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in
ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die
koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die
vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter
word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel. En toe die owerpriesters
en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek.
En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die
skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.” (Mat 21:42-46) Hier gebruik
Jesus ook die woord volk, want die ware Kerk, of Bruid, het nog nie bestaan
nie, want Hy het nog gelewe. Die is die vervulling van die gedeelte in Jesaja
5. “Laat my tog sing van my Beminde; ‘n
lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare
heuwel. En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met
edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip
daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde
druiwe voortgebring. Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel
tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek
daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en
dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek
met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes
word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n
wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met
dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. Want
die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne
van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit
was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!” (Isa
5:1-7)
Die dat Openbaring daarop wys dat twee
derdes van alle Christene verlore sal gaan, want hulle glo die boodskap van die
Bybel, plus hulle interpretasie. Hulle sal veg dat hulle interpretasie reg is
en verse kwoteer om jou te probeer oortuig, maar weet jy die duiwel het ook vir
Jesus aangevat deur die Bybel te kwoteer, maar Jesus het hom elke keer op sy
foute gewys. So ek wil net graag wys dat daar foute is in party van ons
lerings, en ons moet self verantwoordelikheid neem vir ons eie lewe, en nie
vertrou op mense nie. Dieselfde storie geld vir die tien maagde. Vyf het Hom
verwag, en vyf het eers gewag vir die wegraping en al sy gevolge, en het die
bruilof gemis.
“As
iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here
Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is
verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en
woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose
stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is
en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.” (1Ti 6:3-5)
Verder verklaar Paulus die volgende: “Maar die doel van die gebod is liefde uit
‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof waarvan sommige mense
afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies; hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die
dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie. Maar ons weet dat die wet
goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die
wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes,
vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete,
mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in
stryd is, volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan
my toevertrou is.” (1Ti 1:5-11)
So indien iemand met jou wil redeneer oor
die wet, weet dat hy volgens die vorige gedeelte praat asof hy dink jy is nie
geregverdig nie, en dalk is hy nie geregverdig nie. Die wet is slegs ‘n
tugmeester na die regverdigheid toe, en in sigself kan net die dood beteken. “Maar voordat die geloof gekom het, is ons
onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat
geopenbaar sou word. Die wet was dus ons
tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar
nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”
(Gal 3:23-25)
So indien iemand jou wil dwing of “reg
help” deur die wet te verkondig, weet dat die persoon nie die Bybel verstaan
nie, en slegs sy interpretasie vir jou wil leer. So sal hulle jou probeer
oortuig om kersfees te vermy, die paas naweek nie te vier en nog ‘n klomp ander
dae nie, maar ons weet hulle probeer om jou weer onder die wet te plaas. Maar
Paulus skryf as volg: “Julle wat onder
die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie? Want daar is
geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die
vrye. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit
die vrye deur die belofte. Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee
verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders
baar—dit is Hagar; want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen
met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die
moeder van ons almal. Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie
baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders
van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het. Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos
destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so
is dit nou ook. Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want
nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.
Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.” (Gal 4:21-31)
So die wat glo dat Jesus die Christus is en
ons kom vrymaak het van die wet en Sy geregtigheid besit, is die Kerk van die
HERE, en nie die volgens geslagsregisters en onderhouers van die wet nie. “Maar destyds, toe julle God nie geken het
nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle
God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke
en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle
neem dae en en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien
tevergeefs aan julle gearbei het. Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek
is ook soos julle. Julle het my geen onreg aangedoen nie; maar julle weet dat
ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan
julle verkondig het; en julle het my beproewing in my vlees nie verag of
verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus
Jesus.” (Gal 4:8-14)
So wie is Israel? Die wat die wil van die
HERE doen om te deel in die Nuwe Verbond, en dit geld al van Moses se tyd af.
So dié mense is Kerk.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking