Dinsdag 19 Mei 2015

Is Christene goedkoop?

Is Christene goedkoop?

Dit is nogal ‘n snaakse vraag wat ek hier vra. Maar waarom vra ek hierdie vraag?
In my lewe het ek al met baie mense met uiteenlopende standpunte te doen gehad. Party was so vas oortuig was van hulle standpunte dat dit onmoontlik is om eers met hulle te kan praat oor Christenskap. En dan weer ander wat nie kan wag om te hoor wat jy met hulle wil deel nie. Maar een aspek wat ek in beide groepe gekry het, was dat wanneer dit aan hulle sak raak, hulle baie keer dieselfde voel en dieselfde argumente gebruik net om hulle sak toe te hou.

Hoekom sê ek dat Christene goedkoop is?


Ek onthou een persoon wat by Hettie gekom het om so ‘n bietjie te praat en emosionele heling te kry vir homself, baie vinnig was om te sê dat hy glad nie vir haar enige donasie sal gee nie alhoewel hy geweet het dat sy as ‘n Christelike berader geleer het en gekwalifiseerd was, en natuurlik het haar studies geld gekos. Sy rede was die Bybel verklaar dat verniet het jy ontvang, en daarom moet jy dit verniet uitdeel.
Maar van goedkoop Christene het ek self ‘n paar voorbeelde. Ons het ‘n webtuiste waar ons die boeke wat ek geskryf het, verniet laat aflaai het. Oorspronklik het ons probeer dat mense R20.00 moes betaal per boek. Na ses maande en geen boeke wat afgelaai is nie, het ek besluit om dit gratis te maak, maar vir die mense te vra dat hulle vir ons ‘n donasie sou inbetaal by die bank. Al ons besonderhede was in elke boek beskikbaar. Daarna oor ‘n tydperk van 7 jaar, is daar net so oor die 23000 boeke afgelaai, en sover net een inbetaling in ons rekening van R50.00. Die feit dat dit my twintig jaar geneem het om dit te skryf en na te vors het natuurlik geen koste gehad nie. Indien ek egter ‘n skrywer was wat mense se gehoor gestreel het soos wat sovele uitgewers dit vir my gestel het, sou ek seker R50 per eboek kon kry, wat my so net oor ‘n miljoen Rand in die sak sou bring. Sou nogal lekker gewees het.
Maar ons betaal mos net vir bekende persone soos een wat ‘n manne naweek gehou het, R500 kampgelde per persoon gevra het en toe driehonderd duisend manne daar gehad het. Nogal ‘n redelike inkomste voor al die “love offerings” van so by die R15 miljoen vir ‘n naweek. Nie sleg nie. Ek sou nogal baie arm Christene daarmee kon help. Maar dan is die persoon bekend en streel hy die gehoor. Ek weet want ek was ook al by een van sy byeenkomste.  Ek het ook na ‘n opvolg byeenkoms gegaan wat die manne begin het na dié naweek om te hoor wat hulle oor praat en hoe hulle voel oor die boodskap. Al wat ek geleer het uit die aand is dat almal nou skielik weet om “Amien” te sê as jy saam met die spreker stem of as die ander so sê, en dat hulle nog nie eers weet van Hebreërs 5 se melk nie, wat nog van vaste spys.
Dan is daar ook van ons bekende sangers wat al erken het dat hulle met elke meisie wat wou bed toe gegaan het na optredes, en nou skielik hulle “eie” dagstukkie boek uitgebring het, en duisende daarvan verkoop het.
‘n Hele ruk gelede het ons by vriende gaan kuier wat voltyds in die bediening staan. Ons het een aand aan die gesels geraak oor hoe een Christen ‘n ander Christen kan uitbuit. Die vriend van ons  het toe vertel hoe hy by verskeie veilige verblyfplekke vir mense wat alles verloor het in die lewe, dienste gehou het op Woensdagaande en Sondae. Dit wat ek gehoor het wat daar aangaan, het my hare laat regop staan.
Hy vertel my toe van ‘n persoon wat gehoor het dat hy ‘n opgeleide elektrisiën is, en hom gevra het of hy nie weet van iemand wat ‘n elektrisiën soek nie, want die persoon is ook een. Die persoon wou weer graag met sy lewe aangaan, maar hy kon niks doen by die plek nie, behalwe dat hy gevorseer word om met ‘n blikkie op die straathoeke te gaan staan en bedel vir die instansie wat hom huisves. Indien my vriend iets sou hoor, moes hy hom ‘n briefie in die hand stop wanneer hulle groet want indien die mense uitvind dat my vriend vir hom werk soek, sou my vriend onmiddelik verbied word om verder dienste daar te hou en sou die persoon en sy gesin uitgesit word op straat.
Hoe hulle gewerk het by die plek is dat die hoeveelheid kos wat jy vir jou gesin gekry het afgehang het van hoeveel geld jy die dag ingebring het. So het hulle dan verhoed dat die mense vir onderhoude kon gaan, maar het die eienaar seker gemaak dat hy ‘n inkomste verkry het.
So weet ek ook van Christenbedienings wat dienste aanbied vir Christene, maar indien jy nie kan betaal vir die dienste nie, moet jy maar suffer of iets verkoop om te betaal vir die dienste voor hulle jou sal sien. Indien hulle nie die resultate behaal waarvoor jy betaal het nie, is dit in elk geval nie hulle probleem nie en word jou geld nie vir jou terug betaal nie, want die fout lê verseker nie by hulle nie.
Hierdie geld ook vir Christen mense wat hulle uitgee om vir jou, veral blanke mans in die nuwe Suid Afrika, te help om ‘n ambag te bekom sodat jy jou eie besigheid kan begin. Hulle vra jou om te betaal, en dan vind jy uit dat hulle jou net die basiese leer, en indien jy jou wettiglik wil bekwaam, jy maar weer sal moet betaal, want van die 48 krediete wat jy nodig het, het jy slegs 3 verdien. En natuurlik het jy nog geen krediete vir praktiese werk verwerf nie. ‘n Persoon wat by ons Bybelskool was, het die stel afgetrap.
Op ons webtuiste het ons ‘n forum gehad waar mense hulle drome kon beskryf en dan het ek en Hettie die drome vir die mense uitgelê. Van hulle was maar drome oor waaroor die persoon se aandag die hele dag of tydperk was, maar daar was ook drome waar die HERE met mense gepraat het. Van die mense het sommer kwaad geword as ons langer as ‘n paar dae gevat het om die uitleg van hulle droom te pos, alhoewel die diens gratis verskaf was. Toe ek eendag besluit het om van die mense wat gereeld drome gepos het te nader om te help om die koste van die webtuiste te betaal, was die antwoord wat ek gekry het, net stilte. So het ons toe besluit om die forum te sluit.
So om saam te vat, is die probleme wat baie van ons as Christene mee sukkel die volgende:
·         In die eerste plek kry ons Christene wat ander Christene uitbuit in die naam van die HERE;
·         En dan is daar die Christene wat alles verniet wil hê sonder om die persoon wat die diens lewer, in ag te neem.
·         En dan is daar die gewilde en bekendes wat maar net meer en meer kry. Of hulle nou werklik help is oop vir debat.
·         En dan kry ons persone wat voltyds as leraars/pastore in gemeentes staan, maar hulle lidmate sal eerder die nuutste boek of CD/DVD koop as om te help dat die leraar ook kan oorleef. Baie van hulle moet maar uitspring en ook ‘n ander werk bydoen om te kan oorleef.

Hoe kry ons nou antwoorde op die vraagstukke?

Ek wil graag aan die hand van Jesaja en ander skrywers van die Bybel probeer om die vrae te beantwoord. Die eerste gedeelte kom uit Jesaja hoofstuk 58, Die gedeelte verklaar vir my wat ware geloof en ware naaste diens beteken. So punts gewys is dit as volg;
·         Dat ons losmaak die bande van goddeloosheid. So ons moet breek met dit wat nie van die HERE is nie. Ek moet self breek, maar ek moet ook ander mense kan help om al die bande wat ons vashou, te breek.
·         Dat ons die stroppe en juk van mense sal afhaal. So ons sal mense se probleme oplos en hulle vrymaak van dit wat hulle bind in die lewe. Hierdie bindinge kan wees dat ons mense sal help om vry te kom van verslawings, sondes, hulle dan leer oor wie en wat ‘n Christen is, en hulle op ‘n pad sit waar hulle weer vry kan wees.
·         Verder sal ons sorg vir die wat tekorte het, of dit voedsel, behuising of wat ook al is.
Dit is die eerste paar goed wat ons as Christene moet doen. So dit is reg dat ons as Christene vir ander Christene moet help. Die gevolg hiervan sal wees dat ons lig sal deurbreek soos die son in die oggend opkom,  vir jouself sal jy genesing ontvang, en sal die mense sien dat die HERE se hand op jou is want Sy heerlikheid sal skyn deur dit wat jy doen. Dan sal die HERE ook doen alles wat jy van hom vra,  selfs wanneer jy in die nood is sal Hy jou antwoord en help.
Maar daar is ook ‘n voorwaarde aan verbonde.  “As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” So ons mag nie mense verdruk nie, so ons moet nie hulle las erger maak as wat dit reeds is nie. Indien hulle nie kan betaal vir ons dienste nie, kan ons nie ons dienste weier nie. Verder mag ons nie mense blameer vir hulle omstandighede nie, en ook nie vir hulle dreig nie. So ek mag nie vir die huislose sê dat ek hom gaan wegjaag as hy nie geld inbring nie, maar ek moet hom help om weer op sy eie voete te kom. Ons mag ook nie vir mense stories vertel oor hoe goed ons bediening is sodat ons daardeur bevoordeel word nie. Die resultaat indien ons regverdig optree sal wees dat ons lig sal skyn sodat almal dit kan sien. Verder sal die HERE jou regtig sterk maak in alle opsigte, en die wat jy help sal self ander kan help.
Maar nou wat van die finansies? Die gedeelte uit Jesaja hanteer die gedrag van ‘n Christen, maar verklaar nie vir ons oor as nuwe verbond Christene hoe ons dan ons finansies moet hanteer as ons in bediening staan, of hoe ek as Christen moet betaal vir dienste wat deur ander Christene aangebied word nie. Die gedeeltes kry ons in die Nuwe Testament. Laat ek gou ‘n paar kwoteer;
·         “Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.” (1 Kor 9 9-14) Hierdie gedeelte verklaar onomwonde dat indien ek ‘n diens lewer ek geregtig is om betaling daarvoor te ontvang. So indien ek huisvesting verskaf vir huisloses, is ek geregtig om betaal te word, maar ek mag nie mense verdruk of hulle las swaarder maak nie. Dit sal my diskwalifiseer om as Christen te funksioeneer. Verder mag ek nie valse verwagtinge by mense skep met dit wat ek aanbied nie.
·         “Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.” (Gal 6:6)  Die gedeelte verklaar dat indien ek mense leer om beter of anders op te tree as wat hulle in die verlede opgetree het, ek geregtig is daarop dat ek dieselfde lewensstyl en voordele as hulle mag geniet. So dit maak nie saak wat jy doen nie, of jy skryf, drome uitlê, berading doen, voltyds as leraar in diens van ‘n gemeente staan nie, of wat ook al nie, die persoon wat die diens lewer is geregtig om dieselfde lewensvlak as ek te geniet.
·         Die laaste gedeelte kom uit 2Kor. 8: 12-15. “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.” Die gedeelte is vir my deurslaggewend. Hier verklaar Paulus dat ek nie ‘n las op mense mag sit wat dit nie kan bekostig nie. So ek kan nie mense wegwys op grond van hulle finansies nie, maar ek moet hulle juis help as ek by magte is om dit te doen, sodat almal gehelp kan word.

So wat is die antwoord op die vrae wat ek vroeër gevra het?

·         Wat maak ons met mense wat ander uitbuit in die naam van die HERE? Ek glo dat die persone dit meeste kere doen omdat hulle nie weet hoe hulle moet optree nie, maar dit is nie ‘n verskoning nie. Ek glo dat die Heilige Gees ons leer in elke omstandigheid, en dat van die mense gedryf word deur geldgierigheid en gulsigheid, en dus eendag die gevolge van hulle optgrede sal moet verdra.
·         Die tweede groep is die wat alles verniet wil kry. Wat nou van hulle? Vir die groep is die Woord die een wat hulle sal oordeel, aangesien hulle ‘n geloof wil lewe wat hulle niks kos nie, en soos ek die Bybel ken is dit mense wat hulle eie lewe wil lewe, niks wil opgee nie maar tog die ewige lewe wil verkry. Die Bybel verklaar egter dat ‘n geloof wat jou niks kos nie, op die ou einde jou lewe gaan kos, maar ‘n geloof wat jou lewe kos, jou niks gaan kos nie.  “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe” (Joh. 12:25)
Om dus saam te vat. Ek glo dat die meeste Christene opleiding in die doel en wese van Christenskap benodig, aangesien dit die onderwerpe is waaraan min, indien enige aandag geskenk word. Wanneer iemand wel daaroor praat of skryf, word die persoon gewoonlik aangevat as iemand wat dweep.

Ek sluit af met ‘n opmerking wat ek eendag op ‘n internasionale Christen forum raak gelees het. “Looking for web hosting, I'm fond of DreamHost. Lots of features for the inner nerd, unlimited bandwidth, and unlimited storage. They also don't mind hosting multiple domains! It is only $9 a month, so its good for Christians, who as you know, are cheap. If you use this link to register I get a portion of the amount spent.”

Dinsdag 12 Mei 2015

Om “COOL” te wees

Soos ek nou hier anderkant van sestig al is, het ek tot die slotsom gekom dat ek half oor die muur is.
Ek het ook agter gekom dat die wêreld baie vinnig verander.
Ek het ook agter gekom baie min mense lees nog.
Hulle sal so sywaarts na iets kyk. So vinnig loer. Dalk so halfpad kyk.
Hulle tweet. Hulle BB. Hulle IM. Hulle Whatsapp. Maar hulle lees nie.
Meeste epos word nooit oopgemaak nie. Meeste gaan ook nie lees wat ek hier skryf nie.
Meeste boeke wat mense koop word nooit gelees deur die mense wat dit koop nie.
So moet skrywers ook aanpas. Ek moet kort goedjies skryf. Niks seggende goed, anders lees mense dit nie. Gee hulle nie aandag nie.
Wanneer ek vir Christelike gehore skryf, is die standard selfs hoër.
Ek dink al lankal oor die onderwerp, en ek dink ek het die geheim ontdek.
Om vir ‘n Christelike gehoor te skryf moet jy “COOL” wees.
Jy hoef nie noodwendig goed te kan skryf nie.
Jy hoef nie oorspronklik te wees nie.
Jy hoef nie Skriftuurlik te wees nie.
Jy hoef selfs nie eers akkuraat of reg te wees nie.
Jy moet net “COOL” lyk, klink, en “COOL” goed sê wat Christene wil hoor.
Miskien is ‘n beter woord vir Christelike skrywers om relevant te wees.
O ja, dis relevant om “COOL” te wees.
Dit is baie “COOL” om te praat oor alles wat relevant is vandag.
Kom ons praat oor seks – dit kry altyd mense se aandag.
Kom ons praat oor homosektualiteit – dit is ‘n baie relevante onderwerp.
Kom ons praat oor politiek – dit sal die emosies aanwakker.
Kom ons praat oor goed wat ons as Christene moet of nie moet doen in die samelewing – dit maak mense altyd warm onder die kraag.
Kom ons praat oor verhoudings en gemeenskaplike kwessies – dit is mos voor op alle Christene se gedagtes.
Kom ons praat oor die jongste Christelike groep, rock ster, of aanbiddingslied.
Kom ons wees so ‘n bietjie kontroversieël, want dit is ‘n groot trekpleister vir aandag. Mense hou van kontroversie.
En kom ons trek so “COOL” aan en gedra ons so “COOL” dat die wêreld nooit sal agterkom dat ons volgelinge van Jesus is nie.
En dan wag jy net tot die regte oomblik, en dan sê jy: “O ja....Ek is ‘n Christen” En dan kan ons almal goed voel oor hoe “COOL” ons is, hoe relevant ons is, en dat ons nie werklik verskillend van die ander mense is nie. So “COOL”, dat mense nooit sou dink dat ons aan Jesus behoort as ons nie vir hulle gesê het ons behoort aan Hom nie.
Wel, ek dink dit is dom.
So ek reken ek is nie so “COOL” nie.
Ek gee ook nie om nie.
Want om “COOL” te wees is eintlik om te sê ek wil mense tevrede stel, en nie om die HERE tevrede te stel nie.
Hoekom wil jy mense tevrede stel?
Baie Jode het ook vir Jesus geglo maar wou dit nie erken in die openbaar nie, want hulle het die erkenning van mense hoër geag as erkenning van die HERE.
Ek erken dit is seker nie “COOL” om te praat oor skriftuurlike integriteit, om die Bybel te lees, en om te bid nie.
“Vorm godsdiens!!” skreeu almal.
Ek erken ook dat dit seker nie “COOL” is om oor dissipelskap en die boodskap van die Kruis te praat nie.
“Te wetties!!” skreeu almal.
Ek weet ook dit is seker nie goed om aanhoudend oor basiese beginsels en waarhede te praat nie. Veral nie jaar na jaar nie.
“Te eenvoudig!!” skreeu almal.
Ek weet mense word moeg daarvan om dieselfde boodskap te hoor en wil aanbeweeg na iets met meer slaankrag, kort, en vermaaklik – of soos die mense sê, iets “vars”.
En ek gee nie om nie.
Want vir elke persoon wat verveeld raak om die Waarheid aanhoudend te hoor, is daar duisende ander wat nog nooit die Waarheid gehoor het nie.
En ek weet ook om ‘n meester van ‘n onderwerp te word bestaan daaruit om ‘n paar basiese beginsels te leer, en dit dan elke dag toe te pas. Geen uitsonderings.`
En ja, jy kan dit wetties, ritualisties, en eenvoudig noem. So is dit om asem te haal – maar dit is nodig om asem te haal om te lewe.
Jy kan dit oudmodies, vervelend, irrelevant en nie-cool noem.
Ek noem dit geestelike volwassenheid, om skriftuurlik te lewe, en om vrugte te dra.
Die Kruis was nooit bedoel om “COOL” te wees nie. Ook nie om ‘n volgeling van Jesus te wees nie.
En wanneer die HERE praat, is dit ook nie altyd wat ons wil hoor nie. Of wat jy dink jy nodig het nie. Of wat jy voor gevra het nie.
Dit is ook interresant dat Jesus nie sy boodskap by Sy gehoor aangepas het nie, maar het van hulle verwag om hulle in Sy boodskap in te pas.
Amper elke spesialis eksegeet sê dat Jesus gelykenisse gebruik het om die waarhede makliker te maak sodat meer mense dit kan verstaan.
Dit is net mooi die omgekeerde wat die Bybel vertel.
Hy het juis gelykenisse gebruik om die geestelike waarhede moeiliker te maak om te verstaan.
Skok dit jou dalk?
Hy het nie probeer om meer relevant te wees nie.
Hy het nie belang gestel om “COOL” te wees nie.
Eintlik het Hy meer geweet as alle Christelike skrywers, onderwysers, en predikers. Of hulle het dit vergeet, of nooit geweet nie. Die gehoor sal oordeel, maar daar is net Een wat jy moet teverede stel, en Hy is die Een wie se oordeel alles tel.
En dis wat my verbaas. Ek kry tog mense wat hou van wat ek hulle leer en sê selfs: “dit is net wat ons moes hoor”. Of: “dit is ‘n antwoord op dit wat ek van die HERE gevra het.”
Sien hoe werk dit?
Ek het nie die vermoë om te besluit wat is relevant vir jou nie.
Jy ook nie. Ons weet nie wat ons nodig het nie. Ons  weet ook nie wat ons nie nodig het nie.
Maar Hy weet wat jy nodig het, en wanneer jy dit nodig het.
En deur Hom eerste te plaas, kan ek in Sy wysheid intap sodat Hy jou kan aanraak daar waar jy ookal is.
Nou dit is nogal “COOL”.
En betyds.
En die waarheid.
En sommer ook relevant.

Gelukkig is ek nie geroep om “COOL” te wees nie, maar getrou.

Dinsdag 05 Mei 2015

Hoe maak ek dissipels van mense?

Ons almal ken die opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het. Wanneer dit by die uitvoer daarvan kom, kan ons die groepe en hulle optrede basies in twee, dalk drie verskillende groepe deel. Hoekom ek sê miskien drie maar gewoonlik twee, is omdat die een groep se antwoord eintlik nie strook met die Bybel nie, en dus opsy gesit kan word. Die groep wat se antwoord is gewoonlik dat as die HERE jou nie gekies het nie, help dit nie dat ek met jou oor Jesus praat nie, want ek mors basies my asem. Die groep sal ek indeel onder die wat min geloof het, of anders gestel, geen geloof het nie. Hulle sal ook gewoonlik baie min mense op die sendingveld uitstuur of ondersteun, alhoewel hulle gemeentes (in hulle eie Kerkverband) sal ondersteun wat ‘n tekort het om hulle leraar te onderhou. Dit word gewoonlik gesien as hulle sendingwerk.

So met hulle uit die weg, wat is die hoofgroepe? Die eerste groep se antwoord is dat ek iewers heen moet gaan om die mense dissipels te maak, en die ander groep die wat glo dat ons orals moet optree. Wie is nou reg? Die antwoord hou baie mense so besig dat hulle vergeet dat die antwoord nie eintlik saak maak nie, maar dat die opdrag uitgevoer moet word. Ek het al hoevele artikels en boeke gelees en redenasies gehoor oor hoe en wat alles beteken, maar op die ou einde van die dag word die opdrag nie uitgevoer nie. As ek my opinie daaroor mag lug, is dat altwee reg is, in die sin dat die HERE sommige geroep het as Evangeliste, en ander as Apostels. Albei hierdie roepings verwag dat die evangelie aan ander mense uit gedra moet word.

Wat is ‘n Dissipel?

Voordat ons begin om te kyk hoe ek ‘n dissipel van iemand kan maak, moet ek eers weet wie of wat ‘n dissipel is. As ek kyk hoe die oorspronklike twaalf dissipels opgetree het tydens hulle tydperk saam met Jesus op aarde, het hulle gedoen wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, en verder het hulle by Hom gebly en het Hy hulle geleer. Hulle het alles verlaat en Hom gevolg. Jesus het self gesê dat hy wat ouer of vrou of kind bo Hom stel, Hom nie waardig is nie. Nogal harde woorde die. So, ‘n dissipel is iemand wat Jesus se doel op aarde voortbring en Sy volgeling word, met ander woorde hy het soos Jesus geword in optrede. Dit is een van die voorvereistes om ‘n dissipel te wees. Ek kan nie ‘n dissipel wees as ek nie soos my leermeester is nie.
‘n Voorbeeld wat Jesus gebruik het was dat Hy vir Petrus en sy broer vissers van mense gaan maak. Nogal ‘n interessante voorbeeld. So wat beteken dit om vissers te wees. Dit beteken om die Woord, die lewenswyse van Christus ten toon te stel om geëet te word. So, ‘n dissipel is iemand wat mense die Woord en lewenswyse van die HERE voorhou.

Wat is ons taak?

Ek wil graag die visser voorbeeld van Jesus gebruik om te bespreek hoe ons dissipels maak. As ons mooi daaroor dink, wanneer ons visvang, vang ons nie sommer blindelings al die visse nie. Nee, sommige kom tog weg al gebruik ons ‘n net. Net die wat in die net kom, of as ons met ‘n stok vang, die aas eet, word gevang.  Ek weet nie of u al vis gevang het met ‘n stok nie, maar dit is vir my nog steeds een van die lekkerste gevoele as die vis byt. O, om te weet nou moet ek hom versigtig inbring, anders verloor ek hom. Dan wanneer ek hom so sien spartel, weet ek dat ek sal al my vernuf moet gebruik om hom geland te kry. Wanneer jy wel die vis ingebring het, is daar nog ‘n tydjie van spartel, maar dan sterf die vis, en word hy dan eers vir my bruikbaar om gebruik te word, of as voedsel of as aas.
Dit is die taak wat Jesus ons opgelê het. Ons moet die aas, met ander woorde, die Woord en lewenstyl, ten toon stel. So ek kan nie ‘n dissipel maak as ek nie self ‘n dissipel is nie. Nee, waarvan ek ‘n dissipel is, is al waarvan ek ‘n dissipel kan maak. Die vis, die ongelowige, moet dit sien en ruik en smaak dat dit aanloklik is en dit wil hê, voordat hy byt. Ek kan nie vir die vis die voordele van my aas vertel en dat my aas al die voedingstowwe bevat wat sal maak dat hy nie meer honger word nie. Nee, die vis moet dit sien en begeer, en dan sal die vis hap. Ek kan nie namens die vis die aas eet nie. Dit beteken dat ek kan nie namens die persoon die HERE aanneem nie. Die persoon self moet besluit dat dit wat hy in my lewe sien, vir hom begerig is, en dan sal hy my kom vra wat hy moet doen. Dan gaan hy spartel want hy wil nie van dit wat hy gedoen het afstand doen nie. Hy gaan baklei, en ek sal al my kragte en vernuf moet inspan om hom te oortuig dat dit vir hom beter is om gevang te word as om in die verderf te bly. Hy gaan nie hou daarvan dat jy hom tereg wys nie. Party gaan jy verloor, maar miskien byt hy later aan iemand anders se aas, of dalk die Satan se aas. Onthou net Gal. 6: 5 "Want elkeen sal sy eie pak dra". As ek hom by die HERE gekry het, gaan hy sterf, want ons is nie besig om ‘n akwarium te bou om visse ten toon te stel nie, maar om visse te vang om gebruik te word.

Maar hoe doen ek dit nou regtig?

Deur dit uit te straal in my lewe wat Jesus is. As ek nog baie van myself is, gaan ek ander persone soos myself maak. Ek gaan hulle vertel van my lewenswyse en my teologie en gebruike. Paulus beskryf vir ons in Galasiërs 6 wat mense probeer doen. Vers 12  "Almal wat 'n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. 13  Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem."  Ek het al hoeveel keer by mense gehoor dat hulle soveel en soveel mense na Jesus toe gelei het. As ek hulle vra hoe hulle opgetree het, het hulle die meeste kere met behulp van ‘n traktaaitjie wat hulle iewers gekry het, die evangelie gedeel, en dan word dit gewoonlik afgesluit met ‘n gebed wat die persoon moet bid, of nog ander dink hulle kan die gebed namens die persoon nog doen ook. Dit maak my skoon kwaad as mense so optree, want statistieke oor die wereld bewys dat slegs 7 % van die persone wat so die evangelie mee gedeel word, werklik tot bekering kom. So my vraag is dan: Indien jy soveel geleentheid gehad het om die evangelie te deel met mense, hoekom het jy dit nie gedoen nie?
Dit gaan nie oor die deel van die evangelie nie, dit gaan of die persoon begerig is om dit wat hy in jou lewe sien, te wil hê. Gestel ek kom van ‘n afgeleë deel van die wereld en het nog nooit gehoor van die Bybel of enige iets rondom dit nie. Nou kom u by my en vertel dat as ek nie Jesus aanneem nie, ek hel toe gaan. Weet u wat my antwoord gaan wees? "Huh?? Waarvan praat jy nou." Indien ek wel iemand sien wat mense gesond maak, of nie opgee wanneer allerhande moeilikhede oor sy pad kom nie, deel wat die HERE op Sy hart het vir my en my van my verlede meedeel soos beskryf in 1Kor.14 vers 24-25: “Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.”:, dan sal ek begin vra hoe die persoon dit regkry, want ek sal dit ook graag wil hê. So dit help nie ek gebruik al die hulpmiddels in die wereld nie, ek moet self die paadjie loop, dan sal mense begerig word om hulle lewe aan te pas en te verander.
Dit is dissipel maak.
Ek het die gedeelte van Lukas ingesluit wat handel oor dissipels en metodes van dissipel maak uitlig soos aan die begin van die skrywe genoem is toe Jesus vir Petrus en Johannes geroep het. Die eerste een is hoe ons dit sovele kere vandag sien, en dan hoe dit regtig gedoen word.
“Luk 5:1  En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan 5:2  en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel. 5:3  Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ‘n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. 5:4  En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. 5:5  En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. 5:6  En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. 5:7  Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. 5:8  En toe Simon Petrus dit sien, .....”
Lukas 5 (Moderne weergawe)
was hy gevul met vreugde. 5:9 En hy het heengegaan en al die ander vissermanne vertel hoe die HERE sy besigheid geseën het, en dat van nou af Jesus as sy mede kaptein en eienaar van sy besigheid aangestel is en dat hy van nou af 1/10 van sy opbrengs aan Jesus gaan gee. 5:10 En Petrus het begin optree by manne ontbyte en manne naweke waar hy sy getuienis gegee het en mense aangemoedig het om Jesus as hul mede kaptein en eienaar aan te stel. En baie mense het sy voorbeeld gevolg terwyl ander hulle nie daaraan gesteur het nie. 5:11 En soos sy besigheid floreer het, het Petrus meer en meer bote gekoop en vissers aangestel in sy besigheid, en het hy afgetree as 'n gesiene besigheidsman, hoog aangeslaan by mense en die HERE.
Die regte einde hoe die Bybel dit opgeteken het:
“val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man! 5:9  Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; 5:10  en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. 5:11  En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.”

So my vraag is: “Watter voorbeeld volg jy? Jesus, of wie?”

Dinsdag 28 April 2015

Ondersteuning na die sterfte van ‘n kind, geliefde, eggenoot, vriend. Gerig aan ‘n mamma en pappa wat ‘n kind aan die dood moes afstaan.

Vir Mamma en Pappa

Ek wil graag die gedeelte met almal deel. Dit handel oor die afsterwe van ‘n jong kind, en is ‘n ondersteunings briefie, maar enige afsterwe bring maar dieselfde of soortgelyke vrae by ‘n mens op.
Ek dink die eerste ding wat ek vir julle moet sê is dat julle nie sy dood as straf moet ervaar nie. Die HERE sal nooit dood gebruik om jul te straf nie. Dit is baie belangrik dat jy dit moet verstaan. Ons moet onthou dat lewe en dood is in Sy mag, en die Bybel verklaar ook as volg: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Jakobus 1:13

By die afsterwe van ‘n jong kind is die eerste vraag wat ek weet by almal eerste opkom is hoe kon die HERE hom so jonk laat sterf het.  Ek glo dit is hoe jy ook seker gevoel het, en nog steeds voel. Jou gedagtes is nog by die vraag: “Ek het hom so lief gehad en daar is nog soveel wat ek nog saam met hom wou doen en hoe kan die HERE hom wegvat as Hy weet ek my seuntjie so baie lief?”

Eerstens moet ons moet onthou dat ons almal vir ‘n rede op aarde geplaas word. Almal wat vir ons lief en dierbaar is word vir ons vir ‘n sekere tyd en doel geleen. Nie ons wederhelf of ons kinders word ooit ons besitting nie, hulle word  slegs deur die HERE aan ons geleen. In jou kind se geval was sy tyd wat hy op aarde moes wees verby, en het hy terug gekeer na die Een wat hom vir jou geleen het. Hy het sy doel aan voldoen.

Ek kan nie vandag vir jou sê wat sy doel in julle lewe was nie, maar ek weet uit ondervinding dat sulke goed gebeur sodat jy weer vir iemand anders wat deur dieselfde of soortgelyke ondervindings gaan, kan bystaan. Net een wat so ‘n ondervinding al deurgegaan het sal ooit kan verstaan waar jy nou deurgaan.

Ek dink ek en Hettie het ‘n idee hoe jy voel. Ek wil vir jou graag iets meedeel wat seker so 34 jaar gelede gebeur het. Ek was in die hospitaal nadat hulle my neus probeer regmaak het na ‘n ou gimnastiek ongeluk. Die Saterdagoggend na die operasie het Hettie gou ‘n draai by my kom maak in die hospitaal om te sien hoe dit gaan. Onthou daar was nie selfone in daardie dae nie, so sy kon nie net bel nie want die hospitale was ook maar baie streng en het sommer net die foon neergesit as jy gebel het.

Hettie is toe terug huis toe, en het ons huishulp gevra waar die kinders was. Die huishulp het toe vir haar gesê Barney het vir haar gesê hy wil na ‘n maatjie toe gaan en sy het hom gevat. Hettie het haar toe gestuur om hom te gaan haal by die maatjie. Die bediende het so ‘n paar minute later ingestorm gekom en gesê Barney het voor ‘n motorkar ingehardloop en hy het baie seer gekry. Hy het toe sy been gebreek, skedelbreuk opgedoen en sy linker voet was vergruis. By dit was hy in ‘n koma as gevolg van bloeding op die brein. Hy was toe maar in graad 1.

Dit was vir ons ‘n verskriklike ervaring aangesien hy vir amper tien dae in ‘n koma was. Ek het die oggende voor werk in Hillbrow by die hospitaal gestop, gaan kyk of daar verandering was en dan maar werk toe gegaan. Die dokters kon niks doen aan enige van die beserings op daardie stadium nie omrede hy in ‘n koma was. Die een oggend het ek in die kar gesit voor ek in die hospitaal gegaan het en seker die een gebed gedoen wat my lewe verander het, en seker die moeilikste besluit was wat ek as ouer ooit in my lewe gedoen het. Ek kon nie dit meer uithou om hom so te sien lê en ly nie en het die HERE gevra dat hy of moes bykom daardie dag, of die HERE moes hom kom haal want ek kon nie meer verder gaan om te sien hoe hy ly nie. Weet jy hoe het ek gehuil toe ek by hom in sy kamer kom en die suster vir my sê daar is geen verandering nie, maar toe ek aan sy handjie vat dat hy half uitskreeu “Hallo Pappa”.

Dit was net ongelooflik hoe groot daardie oomblik was. Ek en Hettie het regtig afskeid geneem van hom maar het toe ook geweet daar is nog ‘n rede hoekom die HERE hom vir ons terug gegee het. Hy het toe nog ‘n verdere tien weke in die hospitaal deurgebring en na dit nog drie of vier operasies en veloorplantings deugegaan.

So ek dink ek weet hoe jy voel, ook met die dat ek nou al meer as twintig jaar lank veg teen hierdie kanker wat seker nog, as ek net na die verandering in my gesondheid kyk, binne die volgende ses na twaalf maande my lewe gaan kos. Al wat ek geleer het daaruit is dat die HERE my nog kans gee om my roeping te vervul.

Ek het net geleer om gedurende hierdie tyd nie vas te kyk in hoe ek voel of wat my omstandighede is nie, maar dat ek kyk na wat ek moet leer uit hierdie ondervinding sodat ek dit weer met ander kan deel.  En natuurlik my oë op Hom vestig wat my elke dag die krag gee om deur te druk. Weet jy watter voorreg dit vir my is om te weet dat die HERE my gebruik, ten spyte van dit wat ek deurgaan? En ek weet net dit is wat hy ook vir jou het. Daar is ‘n lied wat nou skielik opkom by my wat deur Scott Wesley Brown gesing is. Dit lui as volg:

You have faced the mountains of desperation
You have climbed, you have fought, you have won
But this valley that lies coldly before you
Casts a shadow you cannot overcome

And just when you thought you had it all together
You knew every verse to get you through
But this time the sorrow broke more than just your heart
And reciting all those verses just won't do

Chorus:
When answers aren't enough, there is Jesus
He is more than just an answer to your prayer
And your heart will find a safe and peaceful refuge
When answers aren't enough, He is there

Instead of asking why did it happen
Think of where it can lead you from here
And as your pain is slowly easing, you can find a greater reason
To live your life triumphant through the tears
Repeat Chorus

Ek weet regtig nie hoe om jou verder te vertroos nie, maar weet net dat Hy altyd alles tot ons beswil laat gebeur. Vir ons lyk dit vandag dalk nie so nie, maar eendag wanneer ons saam met jou kind by Hom is, sal ons alles verstaan.

Die een groot les wat ek self geleer het, is dat dit nie help dat ek tent opslaan by gebeure wat ek nie verstaan hoekom dit gebeur nie, maar dat die lewe aangaan en ek nog nie my eindbestemming bereik het nie. Maar hierdie pad wat ek moet loop, gaan beide sy deel van goeie en slegte ondervindings hê, maar ek weet dat die HERE altyd daar is vir my. Hy het my nog nooit verlaat nie, en Hy sal ook nooit vir jou verlaat nie, want Hy weet dat jou moederhart oorloop van seer en baie vrae het, maar, dat wanneer jy aanbeweeg het en wie weet dalk oor ‘n paar dae, maande, of selfs jare sal jy uitvind wat die rede vir hierdie gebeurewas.

Weet net dat jou kind alreeds daar is waar ek en jy nog na uitsien om te wees.
Paulus stel dit vir ons so: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.  Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.”
So net om saam te vat:
·         Sy dood is nie om jou te straf nie, maar sy tyd wat hy aan julle geleen was, is verby.
·         Ons moet berusting vind in die wete dat hy is waar ons almal graag eendag wil wees.
·         Ek mag treur oor sy heengaan, maar ek moet nie tent opslaan by die gebeurtenis nie, maar aanbeweeg met my lewe, sodat ek ander kan bystaan wat deur dieselfde of soort gelyke gebeurtenisse gaan. Ek het groot geword in ‘n huis waar my oudste broer as jong baba oorlede is, en alhoewel ek hom nooit geken het nie, het my ouers my tog van hom vertel en fotos van gewys. Dit was ‘n gebeurtenis wat niemand van hulle kon wegneem nie.
·         Julle is nie die eerste persone wat daardeur gaan nie. Daar is elke dag iemand wat in dieselfde bootjie as julle is, en wanneer julle hierdeur gewerk het, sal julle weer ander kan bystaan terwyl hulle deur hulle verdriet moet werk.
·         Niemand sal ooit die herinneringe van hom kan wegneem nie. Ons moet die tye wat ons saam was onsself in verbly en koester.
·         Ten slotte wil ek net ook byvoeg dat julle nooit moet toelaat dat bitterheid by julle pos vat nie.
Ek hoop regtig dat die HERE julle sal vertroos, en wil afsluit met wat ons van Paulus leer: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” 2 Korintiërs 1:3-4. Dit is ook my “motto” vir my lewe.

Seën groete vir almal.

Dinsdag 21 April 2015

Wat is Hisop?

Ek het al baie in my lewe oor snaakse onderwerpe gedink. Goeters wat ander mense nog nooit eers oor gedink of van gehoor het nie. Maar, dit is nou maar wie en wat ek is. Ek het regtig ‘n behoefte om die storie agter die storie uit te pluis. Vroeër jare in die rekenaar bedryf was ek die een wat altyd foute moes soek in programme wat ander mense geskryf het. Of ek moes vinnig ‘n rekenaar programmeeringstaal aanleer om kursusse vir kliënte te gee. Of heeltemal nuwe rekenaars van voor af te laat werk sonder enige opleiding. Dit het selfs gelei tot ‘n tyd waar ek gevra is om Boston toe te gaan sodat ek self die bedryfstelsel van die een rekenaar stelsel moes verander om aan die behoeftes wat ons in Suid Afrika gehad het, aan te voldoen.

Een van die snaakse goed wat ek eendag oor gewonder het was hisop. Nou mag jy my vra waar in die Bybel lees ons van hisop? Daar is so ‘n paar gedeeltes waar dit voorkom, maar ek sal so ‘n paar gedeeltes verduidelik wat ek gevind het.

Die eerste gedeelte wat my kop regtig aan die gang gesit het kom uit Psalm 51. Hier lees ons die volgende: “Psa 51:7  (51:9) Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.” Hier vra Dawid vir die HERE dat Hy sy sondes moet wegneem met hisop nadat hy owerspel gepleeg het met Batseba. Wat het Dawid laat besluit om so ‘n snaakse vraag vir die HERE te vra? Vir my was dit regtig snaaks, en het dit my natuurlike ondersoekings behoefte gestimuleer. Ek hou daarvan om in ‘n ander persoon se kop te klim en uit te vind hoekom hy so optree of dink.

Die enigste bron wat ek kon gebruik was natuurlik die Bybel. So, ek het maar begin waar ek dit die eerste maal in die Bybel gevind het, en dit was in Eksodes. “Exo 12:22  En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.” Hier lees ons dat elke huis van Israel in Egipte moes bloed aan hulle deurposte smeer sodat die doodsengel by hulle verby kon gaan die nag wat die HERE die eersgeborene van die Egiptenare saam met hulle eersgebore vee gedood het. Dit was deel van die verbond wat die HERE met hulle gehad het.

Nou verstaan ons sommer ook waar Dawid aan sy versoek gekom het aangesien hy geweet het dat die tradisionele gebruik van hisop saam met vergifnis van sonde die doodsengel sou wegneem van hom. Onthou net die hisop self het niks gedoen nie maar die teken wat dit verteenwoordig het, het gemaak dat die dood nie meer mag het oor hom nie en dat hy rein verklaar word daardeur.

Maar is ek seker van my standpunt?

Maar, hoekom juis hisop?  Hisop is ‘n medisinale kruie plant wat gebruik is om ‘n persoon se longe en asemhaling mee te behandel.  So, die HERE wil dat soos Hy in die tuin van Eden Sy asem in die mens geblaas het, weer ons asem reinig van die asem van Satan.  Hy wil weer Sy asem, Sy Gees in ons plaas.  Dit is die een rede.  Die plant is ook bekend vir sy sterk wortelstelsel wat selfs binne in klippe kan gaan, en lees ons dat dit voorgekom het op die mure wat om die stede gebou is.  So moet ons leer dat ons so aan Hom, die Rots, gekoppel moet word dat ons wortels binne in Homself sal wees, sodat wanneer ons van die Rots verwyder word, ons nie kan bestaan nie, want al ons wortels sal saam met die Rots verwyder word.  Geen plant kan bestaan as sy wortels verwyder word nie.  Die Rots is ons enigste vesting. Ons lees hiervan in die geskiedenis van Salamo: “En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.”(1Konings 4:33)

Verder lees ons in Numeri en Levitikus dat die priesters die bloed van die offerdier of voël met hisop op die altaar gesprinkel het. Dan is daar ook die voorskrifte gewees dat indien iemand melaalts was hy ook met water en hisop besprinkel moes word om skoon te kom van die melaatsheid. So is hisop ook gebruik om persone weer te heilig wat aan ‘n dooie persoon gevat het of selfs gevat het aan ‘n been of arm wat van ‘n liggaam verwyder is. (Afgekap in oorlog of in ‘n dispuut of op watter manier ookal.) So is huise ook geheilig met hisop en water en skarlaken.

So al hierdie gebeure wys daarop dat indien jy of iets onrein was, dit weer gereinig is deur hisop wat in water of ‘n vloeistof ingesteek is en die voorwerp of persoon daarmee besprenkel is.

Dit is dan ook die rede waarom Dawid vra dat die HERE hom sal ontsondig met hisop, want Dawid het geweet dat hy dan weer rein verklaar word deur die HERE.

Nou vind daar ‘n baie interessante gebeurtenis plaas wat slegs Johannes opgeteken het, maar, ons weet ook dat hy die enigste persoon was wie se evangelie geskryf is na aanleiding van dit wat hy persoonlik gesien en gehoor het. Jesus hang aan die kruis op Golgota, en hy roep uit dat hy dors het. “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”(Joh 19:26-30)

Is dit nie merkwaardig dat Jesus eers rein verklaar moes word deur die Vader voordat Hy gesterf het nie. Jesus het geweet dat voordat Hy sterf daar nog net een iets moes plaasvind voordat Hy gesterf het. Johannes stel dit so pragtig dat Jesus geweet het dat alles wat Hy moes kom doen het was gedoen. Nou was dit nog die een vereiste dat Hy rein verklaar moes word volgens die ou verbond, en toe sterf Hy.

So alles wat ons in die Bybel lees is met, of vir ‘n spesifieke rede gedoen. Niks was maar per ongeluk nie.

So vra ek ook dat jy sal besef dat ons rein voor die Vader kan verskyn. Maar ons moet weet dat dit geskied wanneer ons weet dat Jesus ons verlosser is en ons ons onder die bloed van die Lam plaas met nagmaal.


Dan is ons rein en is ons Sy Koninkryk waardig.

Dinsdag 14 April 2015

Die huwelik as voorbeeld van die verbond.

Sommer hier in die begin wil ek graag net met al die mense deel dat die huweliksverbond vir my regtig een van die beginsels is wat vandag so afgewater is dat mense nie verstaan waaroor ‘n huwelik gaan nie. Dit het vir my in die begin jare van ons bediening geneem waar ek en Hettie baie met mense gewerk het wat gesukkel het met hulle verhoudings binne die huwelik. So, toe die tyd ryp was daarvoor het ons die bediening geregistreer as ‘n nie winsgewende organisasie, hard saam met die staat gewerk sodat ons later self as huweliksbevestigers aangestel is, en kon ons ook die paadjie deel met ander mense waarvan ‘n hele paar onder ons bediening funksioneer as huweliksbevestigers. Hulle is voltyds in diens as pastore en of beraders by verskillende Kerkgenootskappe.

Maar waaroor hierdie inleiding?

Ek wil graag met ‘n fiktiewe storie begin en illustreer. Piet kom Maandag by die werk aan, en hy glimlag van oor tot oor. Nou wil almal hoor wat het die naweek gebeur dat hy in so ‘n goeie luim is. Nou begin hy sy storie.

“Weet julle ek was Sondag na ‘n partytjie en ek het daar hierdie oulike dame ontmoet. Gelukkig vir ons twee was een van die gaste ‘n huweliksbevestiger en is ons twee sommer daar en dan getroud. So nou is ek nie meer alleen nie en het ek nou ‘n vrou gekry.”

Almal kyk hom so snaaks aan en sê net “Huh. Wil jy nou vir ons tekenne gee dat jy glad nie hierdie vrou geken het nie, maar tog is julle onmiddelik getroud. Dink jy hierdie huwelik van julle gaan hou? Moes julle nie net tyd gegee het om mekaar beter te leer ken nie? Wat nou as jy uitvind sy wil jou elke middag direk na werk by die huis hê? Om nie eers te praat van die lekker tye saam met die boys nie.”

“Nee man, sy sal nou mos nie inmeng met hoe ek my lewe lei nie. Sy sal maar gewoont moet raak aan die feit dat ek elke Saterdag saam met my vriende kuier terwyl ons rugby of krieket kyk. Sy kan mos maar saamkom ook. Of sy moet maar tyd saam met haar mense spandeer.”

“En wat daarvan as jy uitvind sy is nie wat jy gedink het sy is nie? Moes julle nie net so ‘n bietjie gewag het totdat julle seker was dat julle reg is vir mekaar nie?”

Hoeveel keer het julle al so ‘n storie gehoor? Wel, ek het nog nie. Ek het wel al televisie programme van gehoor en gesien waar sulke “shotgun” troues uitgebeeld word, en wat die gevolge daarvan was. Gewoonlik is dit nie ‘n goeie einde nie. Die persoon word wakker en dan tref dit hulle gewoonlik. Wat het ons besiel om dit te doen?

Tog wanneer ons by Christenskap kom moet die prediker mos net ‘n uitnodiging doen aan die einde van sy emosie belaaide boodskap en mense half ongemaklik laat voel as hulle nie opstaan en onmiddelik in ‘n huweliksverhouding met die HERE tree nie.

Hoeveel kere het ek dit al gesien en gehoor waar dit gebeur het net om later uit te vind die persoon gaan maar aan met sy sondige lewe en niks het verander nie, want dit is mos nie nodig nie. Die prediker het dan gesê ek is nou ‘n kind van die HERE, so hoekom moet ek verander? Ek is nou mos deel van die Bruid.

Ongelukkig vir jou kan geen prediker jou in die koninkryk van God kry nie. Hy kan vir jou die voordele en nadele daarvan vertel en vir jou oproep om tot bekering te kom sodat die Heilige Gees jou kan oortuig dat net deur dit wat Jesus gedoen het, daar vir ons nou geleentheid is om kinders van God te word. Net Hy kan dit doen. Dit is wat ons in Handelinge 2 lees: “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”(Hand 2:46-47) Net die HERE kan jou as Sy kind aanneem. Jy kan nie Hom aanneem en dink jy is reg nie. Doen jouself ‘n guns en lees deur Hebreërs hoofstuk 12, en daar sal jy sien dat om kind van God te wees nie net maanskyn en rose is nie. Die HERE verwag heiligmaking. Dit is deel van die proses van aanname deur die HERE. Soos aanname in die fisiese wêreld werk, so werk dit ook in die geestelike. Ek kan nie as kind na iemand gaan en sê ek het jou aangeneem as my vader en nou is jy verantwoordelik vir my nie, nee die vader moet die kind aanneem en dan aanvaar hy ook verantwoordelikheid vir die kind. Presies so werk die HERE ook. Hy moet verantwoordelikheid as Vader vir my aanvaar en dan kan ek Sy kind wees.

Die verhouding met die HERE in die Bybel word vir ons sovele kere uitgebeeld as ‘n huweliksverbond. Maar hoe werk dit?

Die eerste plek waar ek moet uitkom is dat ek nie gemaak is om aan alle behoeftes van myself, beide geestelik en vleeslik, te kan voldoen nie. Dit is tog waarna ons kyk voor ons met iemand trou. Ek vind skielik uit dat dit vir my lekker is om in die persoon se teenwoordigheid te wees, om dinge saam te kan doen, en om die persoon net so ‘n bietjie te kan bederf. Dit is mos waaroor dit gaan. Dit gaan mos vir my daaroor om iemand anders te kan bedien en te voel dat jy waardeer word. Dat die liefde wat jy vir die persoon het, nie leeg na jou toe terug keer nie, maar dat jy ook sommer bederf word. Dat jy hierdie opgewondenheid het om die persoon weer te sien, dat jou hart sommer bollemakiesie slaan hier binne jou as jy hom of haar net sien. Dat jy alles wat jy het en is, met die persoon wil deel.

So ek het agter gekom dat ek iets kort kom om geluk te kan belewe. Dit is hoe dit met Christenskap ook is. Ek moet eers besef dat ek ‘n verlosser nodig het voordat ek myself kan toewy aan die HERE. So daar moet eers ‘n tyd van hofmaking plaasvind. Waar ek uit my pad uit gaan om die HERE te bewys dat ek wel Hom nodig het in my lewe. Dat ek besef wat liefde is, naamlik om my beste, my alles vir Hom te gee, want Hy het vir my Sy beste, Sy enigste Seun gegee, sonder dat ek dit verdien het of daarvoor gevra het. Hy sal ook vir jou graag wil bewys dat Hy ook vir jou as Sy kind wil hê.

Nou kan ons eers by die plek kom waar ek openlik my geloof kan bely. Nou kan ek eers uitkom by die plek waar ek my volle vertroue in die HERE kan plaas. Dit is waarvan die skrywer van die boek aan die Hebreërs praat in hoofstuk 11 verse 1 en 6: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Nou kan ek eers by die verbondsmaal van die HERE gaan aansit, om nagmaal te gebruik. Dit is die plek waar ek deel in Sy bloed en Sy vlees. Wanneer ons nou na die huwelik kyk is dit waar baie mense vasval en nie glo wat die huweliksverbond beteken nie. Wanneer ‘n vrou haar maagdelikheid verloor, is daar altyd bloed, want ‘n verbond moet met bloed beseël word. So wanneer ons die eerste keer gemeenskap het, tree ons toe as verbondsvennote, vir ewig en altyd. Indien ek dus buite my huwelik gemeenskap met ‘n ander persoon het, verbreek ek my verbond, en staan ek skuldig aan egbreuk. Dit is hoe heilig die verhouding tussen man en vrou, en mens en God is. Ek kan nie teruggaan na my lewe voor ek die HERE ontmoet het nie, want dan pleeg ek egbreuk en sal ek skuldig staan voor die HERE. Hoe kry ek dit reg? Deur die doop, waar die mag van sonde in my lewe gebreek word.

Nou gelukkig gebeur sulke goed darem nie in ons lewens nie, en besluit ons om ‘n huisgesin te begin. Dit is tog heeltemaal normaal vir ons. Dit was tog immers die eerste bevel, en dit voor die sondeval, wat Adam en Eva ontvang het: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen 1:27-28)

Maar wanneer ek kyk na my huweliksverbond met die HERE, dan het ek baie vinnig ‘n verskoning. Dit is die dominee, pastoor, evangelis of sendeling se werk. Hoe kan ek nou kinders voort bring as Christen? Dit is tog die enigste opdrag wat ons ontvang het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt.28:19. Nee, ek moet uitgaan in my lewe, en deur my lewe moet ek mense kan oorhaal om ook in ‘n huweliksverbond met die HERE toe te tree.

Net soos ek my kinders leer van die lewe, so sal ek ook met my geestelike kinders kan optree, maar dan moet ek in verhouding met my Vader staan. Hulle moet weet dat hulle ‘n veilige plek en oor het waar hulle hul vrae kan vra en antwoorde kry op hul vrae. ‘n Plek waar die persoon weet dat ek nie iets van hulle sal verwag wat ek nie bereid is om self ook te doen nie. ‘n Plek waar hulle gevoed sal word, en daar vir hulle voor omgegee word. ‘n Veilige hawe. ‘n Lewe waar hulle kan sien dat ek in verhouding staan met die Bruidegom, daar moet geen twyfel by hulle wees nie. Dit is wat dit beteken om mense dissipels te maak. Ek kan nie verwag dat die dominee of kerkraad of wie ook al hierdie plig het nie, nee, elkeen van ons wat in ‘n verhouding met die HERE staan, sal hierdie behoefte aan ‘n eie familie hê.

So my bede is dat ons almal vrugbaar sal wees, en dat ons almal die opdrag van die HERE, om dissipels te maak, sal uitvoer.


Dinsdag 07 April 2015

Windpomp

Ooo, ek en jy is ‘n windpomp, en die Heilige Gees is die wind wat ons laat werk. Ek het gevind dat ons baie praat oor en van die gawes van die Heilige Gees, maar baie minder oor wat Hy kom doen het op aarde en nog steeds doen.

Joh 7:37-39 “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”

Joh 16:14 “Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was. En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie? Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig”.

Matt 13: 10-17 “En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.”

Hoe lyk ‘n windpomp?

Ons sien mos baie windpompe hier in die Karoo en ons dorpie, Steynsburg, en omgewing. Daar is maar min plase in die land wat nie ‘n windpomp het nie. Waar hulle nog in gebruik is, kan daar nie lewe wees sonder hulle nie, want dan is daar nie water vir ons beskikbaar nie. Maar hoe werk die windpomp?

Dit benodig water en wind, want sonder enige een van die twee is dit waardeloos. Hoe lyk jou windpomp? Hoeveel lemme het jy? Knit one slip one. Of mooi gespasieerd met slegs ‘n paar lemme, of dalk baie lemme?

Al twee goed wat ‘n pomp laat werk, het ek as windpomp geen beheer oor nie. Albei is van God en is God. Hoe groot is jou windpomp? ‘n Blik pompie wat jy hier duskant Cradock gekoop het wat net ‘n afbeelding is van die regte, of is jy eg?  Een aspek wat ons baie keer mis kyk is die wringkrag van die pomp. As jy dun lemme het gaan die eerste harde stormwind jou dalk breek, maar, dan kan ‘n sagte windjie jou ook makliker aan die gang kry, terwyl wanneer jy dik lemme het as jy eers aan die gang is stop jy nie sommer nie en het jy baie krag wat jou deur windstil tye kan laat aanhou draai. Onthou net die HERE sal jou plaas waar Hy jou nodig het, so dalk staan jy in ‘n stil plek met dun lemme, of dalk het jy dik lemme want jy sal jou staan moet ken wanneer stormwinde oor jou waai. Hoeveel lemme het jy, so hoeveel skrif is in jou wat gebruik kan word? Is jou briek (remme) vas gedraai of is hulle los?

Nou help dit ook nie dat ek my windpomp opslaan sonder dat ek eers ondersoek ingestel het om uit te vind of daar water is waar ek die pomp wil opslaan nie. So ek kan nie maar net verklaar dat ek nou skielik die boodskap van Jesus kan uitdra soos wat die Bybel dit vir ons opgeteken het nie, want ek moet seker maak dat ek die Lewende water van Jesus uitdra. So ek moet eers ondersoek doen of die boodskap wat ek voort bring, die boodskap is wat lewe in mense gaan bring, en of ek dalk net my teologie wil voort bring. En hier kan ek maar op sekere mense se tone trap soos die wat die 2008 Afrikaanse vertaling van die Bybel voortgebring het, wat glad nie die boodskap van Jesus as Seun van God bring nie. Die boodskap wat hulle bring is dat Hy ook maar net ‘n groot profeet was, en Sy Godheid of bevraagteken of heeltemal tot niet maak. Van die geregtigheid wat Jesus kom vestig het is daar nie eers sprake nie.

Wanneer ek wel gekoppel is aan die water wat lewe voortbring, het ek as windpomp ook nie beheer oor wanneer ek water voortbring nie. Nee, as die wind van die Heilige Gees waai, sal ek lewende water voortbring, tensy ek natuurlik my rem aangedraai het. Dan staan ek maar net daar in die lewe as ‘n ornament en beteken ek nie veel nie. So ek moet seker maak in my lewe dat alles wat ek doen en sê gelouter is, anders gaan my optrede my woorde weerspreek en gaan niemand na my boodskap luister nie. Dan bring ek nie lewende water voort soos Jesus verklaar het in Johannes 7 ek moet bring nie.

Ek as windpomp het ook nodig om te sorg dat ek optimaal gebruik word. So ek het nodig om myself te versien en instandhouding te doen wanneer ek nie meer lekker werk nie. Ek moet kan introspeksie doen om te verseker dat ek altyd bruikbaar is, en die regte boodskap voortbring.

Ons dink baie keer dat die Heilige Gees net in die Nuwe Testament na Jesus se hemelvaart begin werk het, maar daar is sovele voorbeelde van die Heilige Gees in die Ou Testament. So die Heilige Gees het al Sy werk begin in die Ou Testament, en sal aanhou werk totdat Jesus weer op die wolke kom om ons te kom haal met sy tweede koms, die einde van hierdie wêreld.

(Num 11:25)  “Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.”

(2Ki 2:15)  “En die profete-seuns wat in Jérigo was, het dit op ‘n afstand gesien en gesê: Die gees van Elía rus op Elísa! En hulle het hom tegemoetgekom en voor hom na die aarde gebuig.”

 (Psa 51:11)  (51:13) “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”

(Isa 57:15)  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”

(Isa 63:10-11)  “Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry. Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses: Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?”

Wat is dan die werk van die Heilige Gees vandag vir ons as mense wat na Jesus se tydperk lewe?
1Jn 2:27  “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly. Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”

So Hy het gekom om ons te leer, om te oortuig van sonde sodat ons kan besef dat ons ‘n verlosser nodig het, van Jesus se geregtigheid wat maak dat ek vlekkeloos voor die Vader kan verskyn, en dat daar ‘n dag gaan kom wanneer ons elkeen sal moet rekenskap gee van ons lewens op aarde, of ons lewende water voort gebring het, of ons ons rem aangedraai het, en of ons nooit eers gekoppel was aan Hom nie.

Ek wil afsluit met ‘n kwotasie van Jesus, wat ek glo elkeen van ons sal nastreef. Dit help nie dat ons ons teologie slegs op die Nuwe Testament bou nie, want dan kyk ons soveel juwele, waarhede, boodskappe en lerings in die Ou Testament mis. Mat 13:52  “Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”


My laaste vraag is: Hoe groot is jou skat wat jy vir mense kan bring? Werk jou windpomp optimaal?