Dinsdag 07 April 2015

Windpomp

Ooo, ek en jy is ‘n windpomp, en die Heilige Gees is die wind wat ons laat werk. Ek het gevind dat ons baie praat oor en van die gawes van die Heilige Gees, maar baie minder oor wat Hy kom doen het op aarde en nog steeds doen.

Joh 7:37-39 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”

Joh 16:14 “Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was. En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie? Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig”.

Matt 13: 10-17 “En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.”

Hoe lyk ‘n windpomp?

Ons sien mos baie windpompe hier in die Karoo en ons dorpie, Steynsburg, en omgewing. Daar is maar min plase in die land wat nie ‘n windpomp het nie. Waar hulle nog in gebruik is, kan daar nie lewe wees sonder hulle nie, want dan is daar nie water vir ons beskikbaar nie. Maar hoe werk die windpomp?

Dit benodig water en wind, want sonder enige een van die twee is dit waardeloos. Hoe lyk jou windpomp? Hoeveel lemme het jy? Knit one slip one. Of mooi gespasieerd met slegs ‘n paar lemme, of dalk baie lemme?

Al twee goed wat ‘n pomp laat werk, het ek as windpomp geen beheer oor nie. Albei is van God en is God. Hoe groot is jou windpomp? ‘n Blik pompie wat jy hier duskant Cradock gekoop het wat net ‘n afbeelding is van die regte, of is jy eg?  Een aspek wat ons baie keer mis kyk is die wringkrag van die pomp. As jy dun lemme het gaan die eerste harde stormwind jou dalk breek, maar, dan kan ‘n sagte windjie jou ook makliker aan die gang kry, terwyl wanneer jy dik lemme het as jy eers aan die gang is stop jy nie sommer nie en het jy baie krag wat jou deur windstil tye kan laat aanhou draai. Onthou net die HERE sal jou plaas waar Hy jou nodig het, so dalk staan jy in ‘n stil plek met dun lemme, of dalk het jy dik lemme want jy sal jou staan moet ken wanneer stormwinde oor jou waai. Hoeveel lemme het jy, so hoeveel skrif is in jou wat gebruik kan word? Is jou briek (remme) vas gedraai of is hulle los?

Nou help dit ook nie dat ek my windpomp opslaan sonder dat ek eers ondersoek ingestel het om uit te vind of daar water is waar ek die pomp wil opslaan nie. So ek kan nie maar net verklaar dat ek nou skielik die boodskap van Jesus kan uitdra soos wat die Bybel dit vir ons opgeteken het nie, want ek moet seker maak dat ek die Lewende water van Jesus uitdra. So ek moet eers ondersoek doen of die boodskap wat ek voort bring, die boodskap is wat lewe in mense gaan bring, en of ek dalk net my teologie wil voort bring. En hier kan ek maar op sekere mense se tone trap soos die wat die 2008 Afrikaanse vertaling van die Bybel voortgebring het, wat glad nie die boodskap van Jesus as Seun van God bring nie. Die boodskap wat hulle bring is dat Hy ook maar net ‘n groot profeet was, en Sy Godheid of bevraagteken of heeltemal tot niet maak. Van die geregtigheid wat Jesus kom vestig het is daar nie eers sprake nie.

Wanneer ek wel gekoppel is aan die water wat lewe voortbring, het ek as windpomp ook nie beheer oor wanneer ek water voortbring nie. Nee, as die wind van die Heilige Gees waai, sal ek lewende water voortbring, tensy ek natuurlik my rem aangedraai het. Dan staan ek maar net daar in die lewe as ‘n ornament en beteken ek nie veel nie. So ek moet seker maak in my lewe dat alles wat ek doen en sê gelouter is, anders gaan my optrede my woorde weerspreek en gaan niemand na my boodskap luister nie. Dan bring ek nie lewende water voort soos Jesus verklaar het in Johannes 7 ek moet bring nie.

Ek as windpomp het ook nodig om te sorg dat ek optimaal gebruik word. So ek het nodig om myself te versien en instandhouding te doen wanneer ek nie meer lekker werk nie. Ek moet kan introspeksie doen om te verseker dat ek altyd bruikbaar is, en die regte boodskap voortbring.

Ons dink baie keer dat die Heilige Gees net in die Nuwe Testament na Jesus se hemelvaart begin werk het, maar daar is sovele voorbeelde van die Heilige Gees in die Ou Testament. So die Heilige Gees het al Sy werk begin in die Ou Testament, en sal aanhou werk totdat Jesus weer op die wolke kom om ons te kom haal met sy tweede koms, die einde van hierdie wêreld.

(Num 11:25)  “Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.”

(2Ki 2:15)  “En die profete-seuns wat in Jérigo was, het dit op ‘n afstand gesien en gesê: Die gees van Elía rus op Elísa! En hulle het hom tegemoetgekom en voor hom na die aarde gebuig.”

 (Psa 51:11)  (51:13) “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”

(Isa 57:15)  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”

(Isa 63:10-11)  “Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry. Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses: Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?”

Wat is dan die werk van die Heilige Gees vandag vir ons as mense wat na Jesus se tydperk lewe?
1Jn 2:27  “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly. Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”

So Hy het gekom om ons te leer, om te oortuig van sonde sodat ons kan besef dat ons ‘n verlosser nodig het, van Jesus se geregtigheid wat maak dat ek vlekkeloos voor die Vader kan verskyn, en dat daar ‘n dag gaan kom wanneer ons elkeen sal moet rekenskap gee van ons lewens op aarde, of ons lewende water voort gebring het, of ons ons rem aangedraai het, en of ons nooit eers gekoppel was aan Hom nie.

Ek wil afsluit met ‘n kwotasie van Jesus, wat ek glo elkeen van ons sal nastreef. Dit help nie dat ons ons teologie slegs op die Nuwe Testament bou nie, want dan kyk ons soveel juwele, waarhede, boodskappe en lerings in die Ou Testament mis. Mat 13:52  “Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”


My laaste vraag is: Hoe groot is jou skat wat jy vir mense kan bring? Werk jou windpomp optimaal? 

Geen opmerkings nie: