Dinsdag 25 Augustus 2015

Wat is genade?

Vir my is dit die jaar 20 jaar.

Dit is hierdie week 20 jaar gelede wat my lewe van genade begin het. Ek het toe net verneem dat ek dalk 3 jaar oor het as dinge goed gaan, en ‘n jaar as dinge sleg gaan, om te lewe. Al die kanker wat die dokters kon uitsny het hulle gedoen, en chemo kon dalk help om die res in toom te hou. En om te dink alles het begin met ‘n blindederm wat gepla het en die medici wat so per ongeluk op een gewas afgekom het.

En selfs die onkoloog het nie baie hoop gehad en het in sy verslag aan die chirurg gesê: “Soos telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasient werkilk problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante situasie getoets nie. Vanweë die problematiese area, nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie. Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente. Daar was ‘n reeks beskikbaar van 23 pasiente waarvan 4 van hulle, dit is 17% ‘n krimping van tumor getoon het. Maar meer resente studies toon ‘n 0-9% vermindering in volume van die siekte. Die literatuur se konklusie is dat die anti-tumor refektor van oktreotied nie indrukwekkend is nie.”

Teen die einde van daardie jaar was ek redelik moeg vir chemo, om jou elke dag self in te spuit, meeste kere met Hettie se hande, en elke tweede week onkoloog toe te gaan en daar te gaan sit vir ‘n uur of twee, was nie my idee van lewe nie. Veral nie op 44 jarige leeftyd nie. Dan kan jy net dankie sê vir jou kinders om te sien dat hulle soos kinders glo wat in die Bybel staan, en waar hulle na spesiale dienste gegaan het waar daar vir genesing voor gebid is, en dan vir my ‘n sakdoek bring en op my kom lê, want hulle glo dat die Bybel waar is. As Paulus dit kon doen dan kan ons mos ook so glo.

Dit was die rede waarom ek toe regtig in alle erns die Bybel begin bestudeer het. Om seker te maak dat wanneer ek die dag sterf, ek weet waar ek sal wees na hierdie lewe. Want dit was nie ‘n kwessie van eendag nie, maar dalk is dit vandag, dalk more, maar ek weet daardie dag kom. Ek kon nie vertrou op enige ander persoon om namens my te besluit wat vir my goed is in die lewe nie. Ek moes eienaarskap neem van my eie toekoms.


Verseker glo ek nie meer soos vroeër nie.Maar ek het my kinders sien trou, kleinkinders is gebore en die jongste kleinkind begin al volgende jaar met groot skool, en my lewe is verseker nie meer dieselfde nie.

En dit is alles genade, want as die HERE nie vir my die geleentheid gegee het nie, sou my einde verseker anders gewees het. Maar Hy het my aandag gekry en my toe op ‘n pad gevat wat ek meeste keer net as verbysterend kan beskryf.

Alhoewel die afgelope twee jaar nie ‘n tyd was wat ek vir enige persoon toewens nie, is ek nog steeds gefokus op Hom en wat Hy vandag deur my wil doen. Twee jaar gelede het ek vir die eerste keer weer ‘n Carcinoid krisis ervaar, en moes ek verlede jaar weer ‘n operasie ondergaan het om die dun- en dikderm te omlyn om te maak dat daar ‘n ander pad is vir die voedsel om om die gewas te gaan, want die gewas het gegroei en is so verstengeld met die derms dat dit onmoontlik is om daaraan te werk. So moes hulle toe ook ‘n stuk van die lewer verwyder waarheen die kanker versprei het. Dan het die gewas ook om die hoofbloedvat gegroei wat tussen die dunderm en lewer is, die een wat al jou voedingstowwe na die lewer vat om gesuiwer te word, en is die gewas maar besig om die bloedvat stadig maar seker toe te druk, sodat ek meeste tyd ‘n regter nier het wat baie kla dat hy nie vloeistof kry om sy werk te doen nie. Dit is ook die oorsaak hoekom hulle nie die gewas kan verwyder of kleiner te maak nie. Sodra hulle die aar klamp is dit verby met my.

Die afgelope paar weke is dit ongelukkig so dat ek amper elke dag deur ‘n Carcinoid krisis moet werk, of party dae sommer twee of drie, maar ek kry nogsteeds tyd om dit te vier met die mense wat ek voor lief is en hulle vir my. En dit is vir my genoeg, en is vir my elke dag, net genade. So die week is vir my ‘n baie besonderse week, met ons huweliksherdenking op 26 Augustus (43 jaar), my verjaarsdag op die 27 ste, en dan my nuwe lewe wat hierdie jaar 20 jaar is op die 31 ste, die dag van die eerste operasie. O ja, en dan gaan ek weer Woensdag hospitaal toe. Sal maar sien wat gebeur en of hulle iets kan doen vir my.

En wat kan ek sê?

Dankie HERE.

Die wat belangstel kan hier lees waaroor die soort kanker gaan, en wat ‘n Carcinoid krisis is. Ek kan probeer om dit te verduidelik, maar die medici doen dit nogal goed. Kyk veral na die foto op skyfie 20, en dan sal jy kan sien wat dit aan jou gesig maak. Hettie was baie bekommerd dat ek dalk nie suurstof kry en dat dit die rede is vir my neus so blou word, maar nou verstaan sy ook wat besig is om te gebeur.

Sondag 02 Augustus 2015

Genesing - Is jou geloof in Jesus Christus, of in jou geloof, in jou manier van glo.


Genesing - Is jou geloof in Jesus Christus, of in jou geloof, in jou manier van glo.

Oor genesing kry ek amper daagliks te doen met mense wat nie verstaan waaroor genesing in die Bybel gaan nie. Hulle standpunt word gewoonlik gebou op ‘n geloof in hul geloof, en nie geloof op wat die Bybel ons leer nie. Die mense huldig die standpunt dat genesing vir almal is en dat indien jy nie genesing ontvang nie, jy nie geloof het nie. Alhoewel wanneer mense hoor wat ek vir die HERE gevra het 3 jaar terug en vind dat Hy my presies gegee wat ek voor gevra het, hulle nie antwoorde vir my het nie, behalwe dat hulle glo hulle is reg. Ek het gevra en het tyd gekry om afskeid te neem van die wat vir my lief en dierbaar is, Sy liefde uit te straal na almal wat ons mee te doen het, en tyd om dit te skryf wat Hy oor ‘n periode van meer as 25 jaar met my gedeel het en nog steeds elke dag deel.

Ek weet hoe dit voel om aanhoudend aangeval te word, en dit krap my ook om wanneer mense met hulle eie insigte ander wil uitmaak as mense met sonde of nie voldoende geloof nie. Hulle wil net dat dit altyd alles goed gaan met kinders van die HERE, maar dit is nie die boodskap wat ek in die Bybel kry nie.

Ek weet dat daar elke dag genesings plaasvind want ek en Hettie het al vir mense gebid en hulle is genees, so daar is kere wat die HERE ingryp en kere wat Hy dit nie doen nie. Hoekom? Hy weet. Ek wonder net of die mense weet dat hulle mense se lewens en verhouding met die HERE skade aan doen deur hulle geloof in hulle geloof en deur dit te probeer regverdig sonder dat hulle die Bybel ken.
Psalms 41: Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie. Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is." So dit lyk my Dawid sê dat ons siek kan wees, maar dat die HERE jou sal ondersteun op jou siekbed. Hierdie gedeelte kan ek persoonlik elke dag van getuig. Slegs 5 persone per miljoen word met Carcinoid Sindroom gediagnoseer voor hul sterfte, terwyl wanneer ons die resultate van lykskouïngs bywerk, sowat tussen 60 en 70 persone per jaar per miljoen net in die VSA sterf van dié tipe kanker sonder dat dit by hulle gediagnoseer word. So hulle sterf aan kanker sonder dat hulle eers daarvan bewus is. Die siekte is eers in die vroeg vyftigs vir die eerste keer beskryf en uitgevind. Gelukkig weet ek daarvan en kan ek elke dag daarteen baklei.

Meeste mense op aarde sterf as gevolg van siekte, maar party mense wil hê dat ons almal gesond moet wees wanneer ons sterf, want anders het ons nie geloof nie. Hoeveel van die mense wat vir jou voorhou dat jy nie genoeg geloof het sterf nie as gevolg van hoë cholestrol en hoë bloeddruk? O ja, hulle mag mos maar net ‘n pilletjie drink, want hulle is mos nie siek nie. Ek drink ook net ‘n paar pilletjies, so tussen 16 en 20 ‘n dag om die pyn te demp en die derms te ontspan maar ek het mos nie geloof om te herstel van die kanker nie. Die feit dat ek geglo het vir 14 jaar na hoeveeel gebede dat ek nie meer kanker het nie en dat ek toe weer moes uitvind dat dit nie die geval was nie, tel blykbaar nie. Dié tipe mense gee my sommer hoë bloeddruk ook.

Johannes 11:1 "1 ¶ En daar was 'n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. 2  En dit was Maria wat die HERE gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was. 3  Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: HERE, hy vir wie U liefhet, is siek. 4  En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word." As ek die gedeelte regverstaan lyk dit vir my of Jesus hom ook nie sou genees het as dit ‘n siekte was wat tot sy uiteindelike dood sou lei nie. Maar die HERE het hom genees sodat die mense kon sien dat Hy mag het oor die dood. En arme Lasarus het nie geloof nodig gehad nie, want hy was reeds dood.

Hand 10:37-38  “Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het,  (38)  met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”  So wat van die wat nie onder die mag van Satan was nie? Dit lyk nie of hulle ook genees is nie, want Lukas beskryf dit nie, anders sou hy mos gesê het almal is genees. Dit is hoe my logika werk.

Jes 53:5-12 “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.”

Die gedeelte is seker die gewildste gedeelte wat aangehaal word deur mense wat vir jou vertel dat die HERE almal wil genees. Ja, dit is so, ons almal word gebore en sal sterwe as sondaars indien Jesus nie vir ons genesing gebring het van ons ongeneeslike siekte, die ewige dood, nie. Hy het gesterf sodat ek en jy kan lewe, en lewe tot in ewigheid. Dit is die genesing waarvan Jesaja hier praat. Moses het ‘n soortgelyke voorbeeld in die woestyn gehad vir die Israeliete wat gesondig het. Moses moes ‘n slang maak, dit is wat hulle gepik het en laat sterf het, en moes die slang op ‘n paal sit sodat elkeen wat gepik word kon opkyk na die slang en geleef het. So die oorsaak van hulle dood, die slang (sonde) is op ‘n paal (kruis) gesit sodat elkeen wat na die kruis kyk en glo dat Jesus ons sonde gedra het, kan lewe. Dit is die genesing wat Jesaja van praat. Ek weet daar is mense wat vertel dat Jesus 39 houe op sy rug gekry het om elke tipe siekte te verteenwoordig en dus het Hy reeds die staf daarvoor betaal, maar dit is loutere onsin, want dit staan nêrens in die Bybel nie.

So daar sal mense wees wat van jou en van my sal verskil, maar dit maak gelukkig die lewe interesant. Solank ons net die liefde van die HERE uitstraal elke dag na elke persoon wat oor ons pad kom en in geloof volhard, is dit al wat gaan tel op die einde van die dag. So miskien is daardie autistiese kind juis sy ouers se doring in die vlees, soos wat Paulus ook gehad het. 2Kor 12:7  “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”

Dan is daar die verhaal van die Samaritaan wat Lukas vir ons opgeteken het. “En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.”  (Luk 10:30-35) So die Samaritaan kon mos net gebid het dat ou die genees word en dan het hy mos ‘n hoop geld gespaar.

Dawid vertroos ons ook oor die tipe omstandighede: “Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.”(Psa 34:18-19) “Psa_41:3  (41:4) Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.”

Ek wil graag nou ‘n gedeelte aanhaal wat ek seker is die mat onder almal se voete sal uitpluk, en dit is dat daar siekte in die Nuwe Jerusalem is. “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” (Open 22:2) Nou wonder ek maar net of die mense al ooit hulle Bybels gelees het wat so tekere gaan oor genesing. Ek glo nie, want dan sou hulle die vers moes raakgelees het al. Hoekom sal die bome wat langs die rivier in die Nuwe Jerusalem se blare vir genesing gebruik word as almal dan gesond is? Ek vra maar net. Dit is natuurlik ook ‘n aanhaling van Esegiël om te bewys dat Esegiël die eindtyd in die Ou Verbonds verstaan skets, terwyl Johannes in Openbaring dit in ‘n Nuwe Verbonds verstaan skets. “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” (Eze 47:12)

Hiermee sal ek volstaan, want dit help nie om te redeneer oor goed wat mense net in glo nie. En dan is dit volgens hulle altyd die ander mense wat verkeerd is, en nie hulle nie. So gaan sien maar die dokter, ek het en leef nou al 19 jaar langer as wat ek sou leef indien die dokters nie ingegryp het nie. En dan praat ek nie eers oor hoe my verhouding met die HERE in daardie 19 jaar verander het nie.

 “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” (1Kor 13:11-13)

Saterdag 25 Julie 2015

Wat is die HERE vir jou? ‘n Inspuiting of ‘n bloedoortapping?

Dit is nogal ‘n snaakse vraag om te vra vir iemand. Maar, dit is werklik ‘n lewensbelangrike vraag wat gevra moet word. Ons word in ‘n tydperk groot waar permissiewiteit (daai woord), minagting van gesag, en ophemeling van die mens hoogty vier.
Ons hoef net een aand na die televisie te kyk en te sien hoeveel vuil en kru taal, seksueele dade, diefstal, moord en wat ook al vir ons opgedis word deur die media. Om nie eens te praat van al die ophemeling van die mens wat gedoen word nie. Ek onthou toe ek nog jonger was, (ek het nooit gedink ek sal hoef terug te verwys na my kinderdae nie), die tyd lank voor televisie, hoe ons as huisgesin saam geluister het na die radio in die aand. Die kwaaiste woord wat jy dalk gehoor het was dat Oom Bart dalk iets kon sê wat klink soos voertsek, of dalk het een van die Du Plooys van Soetmelksvlei ‘n bietjie hard gepraat, of dalk het een van die "van Helsdingels" iets kwyt geraak.  As jy nou rerig wou, kon die vrouens luister na programme soos "So maak mens" met Esme en Jan, of sommer net na die seepies om 3:00 in die middag op Springbok Radio.
Een ding wat wel nie verander het gedurende die tyd nie, is die HERE. Hy het nog al die tyd dieselfde gebly. Die kerk het dalk die boodskap verander of aangepas by ons moderne lewenstyl, maar die HERE self het nie verander nie. Baie van ons dienste wat in die kerk gehou word is nog presies soos dit veertig of vyftig jaar terug was. Nou vind ons dat ons die dienste maar moet begin aanpas om weer die jongmense in die kerk te kry. Maar is dit werklik die oplossing?
In my eie lewe het ek al dikwels in situasies beland waar ek skielik die HERE baie nodig gehad het. Die een keer is my seun, hy was toe net ses, deur ‘n motorkar omgery en het hy maande in die hospitaal deurgebring. Ek het so ‘n inspuiting van die HERE nodig gehad om my net deur die tyd te dra. Gelukkig was die HERE getrou, en het Hy gedoen elke keer soos ek gevra het. Ek onthou die een oggend toe ek voor werk weer by die hospitaal gestop het om hom te besoek. Ek het die oggend die HERE gevra om iets vir my te doen. My versoek mag dalk vir u snaaks of self skokkend wees, maar dit was opreg bedoel. Dit was tien dae na die ongeluk en my seun was nog steeds bewusteloos. Behalwe vir die skedelbreuk en bloeding op die brein wat hy opgedoen het, was sy linkervoet vergruis en kon jy die sool van die voet van die bokant van die voet af gesien het. Die dokters kon toe nog geen operasies doen nie, en die verpleegpersoneel moes maar net seker maak dat daar nie infeksie intree nie. Ek kon dit nie meer vat om hom so te sien ly nie, en het ek gebid en vir die HERE gevra dat wanneer ek bo by my seun sou kom, daar ‘n verandering in sy situasie sou wees. Dat hy of sy bewussyn sou herwin, of dat hy sou sterf en sy lyding verkort word.
Dit klink wreed om so te bid, maar weet u hoe ek gehuil het toe ek bo kom, hom aan sy hand vat en hy vir my sê: "Môre pappa". Die verpleegpersoneel het saam met my gehuil want hulle kon nie glo dat sy toestand binne vyf minute so drasties kon verander nie. Hulle het net voor ek daar gekom het, nuwe verbande op die voet en kop gesit, en was sy toestand nog soos die vorige dae. Die inspuiting het my vir dae en selfs jare so gedra dat ek net kon weet dat as jy die HERE iets vra, hy dit wel vir jou sal doen.
Daar was ander inspuitings ook. Party het seer gemaak, ander het net verligting in ‘n situasie gebring. Een van die inspuitings wat ek nie graag weer wou gehad het nie, was toe ek my bewussyn herwin het na ‘n blaas operasie en die dokter vir my sê dat die bloeding in my blaas veroorsaak was deur ‘n gewas. Die gewas het hy verwyder, maar hy moes my ongelukkig meedeel dat dit kwaadaardig was. So sonder emosie het hy die doodsvonnis oor my uitgespreek, want almal wat ek geken en van gehoor het wat kanker gekry het, was of dood of het op sterwe gelê. Maar weet u, ek het so gebid dat ek net vir my kinders, die jongste een was toe nog nie op skool nie, kon grootmaak dat hulle nie sonder ‘n vader figuur hoef groot te word nie. Die HERE was getrou, en na drie jaar het die medici besluit dat ek genees is.
Ek weet nie wat u omstandighede is nie. Miskien het u ook sulke inspuitings gehad , of miskien het u ook van die ondervindings soos ek gehad waarop ek nie trots was nie. Tye waar ek keer op keer ‘n verskoning gehad het hoekom ek tydens middagete of net na werk eers ‘n draai by die werk se kroeg of ‘n hotel gemaak het. Ek het mos baie goeie redes gehad, ek moes dan kliënte daar ontmoet. Dan sak jy weer op jou knieë neer en vra vergifnis vir die oortredings, en die HERE gee weer vir jou ‘n inspuiting en kan jy weer aangaan vir ‘n tyd.
Maar weet u, ek het uitgevind dat die inspuitings werk, maar die inspuitings help net vir ‘n tyd. Dan moet ek maar weer vra vir ‘n inspuiting om te kan aangaan. Ander persone se inspuitings dra hulle net van week na week. Hulle wil nie die dienste Sondag mis nie, want daar kry hulle weer "petrol" vir die week om aan te gaan. Of hulle moet by die sel uitkom op in die week want hulle wil net weer hulle geestelike batterye volmaak, hulle inspuiting kry, om weer aan te gaan.
Is dit miskien hoe jou lewe ook is? Die Bybel verklaar vir ons in Esegiël 18 vers 4 dat die siel wat sondig moet sterf. Maar waar is die siel van die mens? Die Bybel verklaar vir ons as volg: Levitikus 17:11  "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."
Elke keer wat ek ‘n inspuiting gekry het, het ek slegs probeer om die sonde wat in die bloed of die siel van die mens is, reg te kry. Ek het probeer om die verkeerde dood te maak. Dit is soos wanneer iemand ‘n inspuiting kry teen Vigs. Dit kan nie die Vigs dood maak nie, want dit is in die bloed. Dit help dalk net om die lyding makliker te maak. Maar die gedeelte in Levitikus verklaar ook wat ek moet doen om vir altyd reg te wees. Jesus het Sy bloed op die altaar gestort sodat ons Sy bloed kan kry.
Ek moet myself na Hom vat sodat Hy ‘n bloedoortapping kan doen. My bloed, my lewe, moet ek van ontslae raak, en Sy bloed en Sy lewe ontvang. Dit is wat die HERE van ons verwag. Ek moet myself met Jesus beklee, ek moet ‘n bloedoortapping kry, dan sal ek bly lewe.
Sodra ek dit gedoen het, sal ek nie meer lus voel om al die gemors op TV te kyk nie, en sal ek hulle selfs aanvat oor die perwersiwiteit en geweld en Satanistiese programme wat hulle vir ons opdien. Miskien sal jy dan voel dat jy eerder na die radio sal luister, of dalk begin om die Bybel te ontdek. Ek belowe jou, dit is ‘n reis wat jy nooit die einde van sal bereik nie.
So, as jy volgende keer weer voel dat jy nie meer verder alleen kan aangaan nie, vra Hom of Hy vir jou ‘n bloedoortapping sal gee. Maar onthou Hy kom maak dan woning binne in jou.
Dit is waarvan Esegiël skryf in Esegiël 36 vers 26  "En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee."
Hoekom moet ons hart ook verander? Want ‘n klip hart kan nie bloed wat lewe gee, pomp nie, slegs ‘n hart van vlees kan Jesus se bloed klop. Maar Hy moet die operasie doen. Ek kan nie myself verander en nou verklaar dat ek Sy kind is nie. Nee, net Hy kan dit doen, maar dan moet jy van al jou bloed en jou lewe ontslae raak, en jou met Sy bloed beklee.
So, volgende keer as jy weer nodig het om ‘n aanraking van die HERE te kry, vra Hom om jou ‘n bloedoortapping te gee, en nie net ‘n inspuiting nie. Hoekom moet ek wag totdat ek weer ‘n aanraking nodig het? Gesonde mense het nie mediese hulp nodig nie. Maar mense wat probleme het, wat nie meer self kan nie, hulle gaan na die dokter toe. So is dit ook met ons geestelike toestand. Eers wanneer ek al my eie planne en medikasies probeer het, kan ek na diè Geneesheer gaan. Dan is ek siek genoeg om ‘n bloedoortapping te kry.
Dit is ook waarvan Jesaja getuig het, toe hy Jesaja 61 geskryf het. Vers 1 "Die Gees van die HERE HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; 2  om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; 3  om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking."

Dinsdag 23 Junie 2015

"Laat ons". Wat verwag die Hebreërs skrywer van ons as kinders van die HERE.

Die frase “Laat ons” kom 12 keer voor in die boek aan die Hebreërs, in die regte, die Ou Vertaling. Lees dit ‘n bietjie deur en laat toe dat die Heilige Gees met jou ook deel wat jy nog aan kan werk.

Heb 4:1  Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.

Heb 4:11  Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.

Heb 4:14  Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.

Heb 4:16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Heb 10:22  laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

Heb 10:23  Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;

Heb 10:24  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;

Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

Heb 12:28  Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.

Heb 13:13  Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.


Heb 13:15  Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

Woensdag 17 Junie 2015

Hoe skoon is jou sif?

Hoe skoon is jou sif?

Nou mag jy my vra, watter sif. Toe ek eendag my hande in die badkamer wou was, het die warm water so ‘n klein stroompie by die kraan uitgekom, maak nie saak hoe groot ek die kraan oopdraai nie. Ek het gewonder wat gebeur het, en het begin ondersoek instel. Dit is toe dat ek op die sif afkom waardeur die water moet gaan voordat dit by die kraan voor uitkom. Dit het my nogal laat dink aan ons eie lewens.
Wat maak jy wanneer jy iets hoor? Luister jy mooi fyn sodat jy die gebeure net so kan weergee as wat jy dit ontvang het, of gaan daar van die gebeure verlore. Of dalk sny jy sekere gedeeltes uit wat jy nie oor seker van is nie, of miskien vertel jy die gebeure deur gedeeltes uit te laat bloot omdat jy nie glo dat die gedeelte waar is nie. Is dit nie maar hoe ons almal optree nie?
Ons kan almal aan gevalle dink waar jy iets gehoor het, en dit aan iemand anders oor vertel het. Hoe het jy dit oor vertel? Net soos dit gebeur het, of dalk het jy ‘n stertjie aangelas net om dit smaakliker of meer aanvaarbaar te maak vir die ontvanger. Dalk het jy ook maar net so ‘n ou klein detailtjie uitgelaat want dit maak nou mos nie regtig saak nie. Of maak dit?
Toe ek die sif van die kraan afgehaal het het ek agtergekom dat van al die kere se gebruik, daar ‘n hele klomp goed voor die sif gaan lê het, wat veroorsaak het dat die water amper nie deur kon kom nie. Nadat ek al die gemors weggegooi het, moes ek ook nog steeds ‘n borsel neem en die sif self borsel om al die aanpaksels op die sif te verwyder. Na al die skoonmaak, kon ek die sif terugplaas, en toe ek die kraan weer oopmaak, is ek sopnat gespuit met al die water wat skielik uit die kraan gekom het.
Hoe lyk jou sif?
Die Bybel verklaar dat daar lewende water by ons sal uitkom. Hoe loop jou water? Spuit dit uit of loop dit ook maar net so ‘n ou klein stroompie uit? Hoe stel die Bybel dit? Johannes 7:38  "Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei."
Die skrifgedeelte verklaar dat daar strome water sal vloei. As ek na baie Christene se lewens kyk, lyk dit vir my eerder of daar druppels uitkom. Hoekom? My sif is verstop. Maar hoe gebeur dit? Daar het vuilheid voor die sif gaan sit, en dit verhinder dat die water kan uitkom.
Nou wat is al hierdie vuilgoed wat my sif verstop, en hoe kry ek my sif skoon?
Soos met ‘n gewone kraan, moet ons by die begin begin. Ons moet eers besef dat ons kraan vuil of verstop is. Hoe lyk jou lewe? Straal jy elke dag en elke oomblik van die dag Jesus uit? Of is daar tye waaroor jy miskien skaam is oor jou optrede? Miskien het jy ‘n gewoonte waaroor jy nie baie gelukkig oor is nie. Of dalk gebruik jy ‘n paar woorde wat nie in die Bybel voorkom as daar ‘n taxi voor jou inry.
Sodra ons besef dat ons kraan vuil is, kan ons begin met die skoonmakery. Eerstens moet ons die sif losskroef van die kraan, en daarvoor het ons ‘n tang of ‘n sleutel voor nodig. Dit kos inspanning om die sif los te kry, en dieselfde geld in ons lewens. Ek moet besef ek moet breek met al hierdie gemors in my lewe. Hoe vas sit jou sif? Besef jy dat daar nie water uitkom nie, maar jy weet nie of die probleem by die sif lê nie, of dalk veg jy nog deur te sê dat dit die pyp wat die water na jou moet bring, nie water het nie. Miskien lewe jy in ontkenning. Dit is gewoonlik ons grootste probleem. Ek is mos reg, ek het nie foute nie. Dit is maar net dat ek nou nie juis gekoppel is aan ‘n pyp met baie water nie. Dit is nie wat die Bybel verklaar nie. Die Bybel verklaar dat daar strome sal uitkom, ongeag wie jy is. Elke persoon moet strome voortbring, anders is jou sif verstop.
Maar hoekom sit die sif dan vas? Miskien lê die probleem by jou teologie. Miskien is jy grootgemaak dat ‘n mens nie oor jou godsdiens praat nie, want dit veroorsaak net tweedrag. Miskien spesialiseer jy in die oorlewering van mense. Jy redenaar dalk dat jou pa so geglo het en jou oupa en al die geslagte voor hulle ook. Weet jy Paulus het ook daarin gespesialiseer voor hy Jesus ontmoet het? Gal 1:14 "en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral 'n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders." Maar, dit was voordat hy Jesus ontmoet het. Ek weet ons moet ons tradisie oppas, maar ek mag nie toelaat dat my tradisie hoër geag word as my verhouding met die HERE nie.
Miskien is jy soos Moses wat vir die HERE sê dat jy nie goed kan praat nie. Onthou net, die Bybel verklaar dat strome water by jou sal uitkom. Gee die HERE geleentheid om met jou te werk, en Hy sal jou lippe ook aanraak. Maar meeste kere lees die mense in elk geval jou lewe en nie jou woorde nie. So die lewende water is ook deur jou optrede sigbaar.
Wat kan nog jou sif laat vassit? Miskien hou jy nog te veel van jou lewe soos dit nou is. Miskien is jy bang dat die HERE jou lewe so sal verander dat jy soos iemand sal word wat jy nie van hou nie. Ek weet nie. Vra die HERE en Hy sal vir jou wys waarom jou sif vassit.
As die sif eers los is, kan ons al die vuilheid van ontslae raak wat die sif blokkeer. Van dit gaan maklik wees, want dit het in korreltjies vergader en kan net uitgegooi word. Om van die ander vuilheid te verwyder, gaan dit dalk nodig wees om ‘n borsel te gebruik. Maar wat is al heirdie vuilheid wat ons van ontslae moet raak? Kom ons kyk na twee skrifgedeeltes.
Galasiërs 5:19 "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 20  afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 21  afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie."
Die tweede gedeelte kom uit Kolossense 3 vers 8 "¶ Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. 9  Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het."
Dit is alles wat ons van ontslae moet raak. Dalk is jou sif so aangekalk dat jy lank gaan sukkel om dit skoon te kry. Miskien is jy so gebreinspoel deur teoloë dat jy nie eers weet hoe lewende water lyk nie. Dit is dalk nodig dat jou sif vervang moet word, want die huidige sif kan nie lewende water deur laat nie. Miskien moet jy die HERE vra dat Hy jou sif sal vervang sodat jy Sy wil sal deurgee, en nie Sy wil afgewater deur jou sif nie.
Maar hoe lyk lewende water? Dit is woorde en dade wat altyd die ander persoon bevoordeel of opbou. Wanneer jy iets vir iemand anders doen, moet jy optree en praat asof jy dit vir jouself doen. Dit is wat Jesus verklaar het. Wat het Hy verklaar? Lukas 10:27  "En hy antwoord en sê: Jy moet die HERE jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself." Anders gestel sal ek so lewe dat ek nie iemand anders benadeel deur my optrede of woorde nie. Dan is dit lewende water. As ek nog probeer om myself te bevoordeel, of om iemand anders in ‘n swak lig te stel, straal ek nog nie Jesus uit nie, en is my sif vuil of verstop.
Indien jy nie weet waarvan ek nou praat nie, of dalk dink jy dat jy nog reg is, moet jy mooi gaan ondersoek instel aan watter waterpyp jy gekoppel is. Is jy aan die Lewende Water gekoppel, of is jy miskien aan die satan se pyp gekoppel. Jou dade sal vinnig verklap aan watter pyp jy gekoppel is.

So, om mee af te sluit. As jou sif skoon gemaak is, hoe lank bly hy skoon? So lank as wat ek myself ondersoek en seker maak dat ek alles wat ek ontvang, deurgee. Die oomblik as ek vind dat ek die water gefiltreer het en daar iets agtergebly het, is dit tyd om my sif weer skoon te maak. Dan is dit nodig om vergifnis te vra dat ek iets terug gehou het wat die HERE wou laat deurgaan. Of dalk het ek gesondig en het ek begin om ‘n aanpaksel te vorm aan die sif. Onthou net dat sonde, soos ons gesien het, jou sif heeltemal kan verstop, maar gelukkig kan ons ons sif afhaal, en vra dat Jesus se bloed ons sif weer sal reinig.

Dinsdag 09 Junie 2015

Wie is uitverkies, is dit nog geldig vandag, en indien wel, hoe werk dit?

So 'n bietjie na van die goed kyk wat ek weet baie mense oor vrae het, maar nie weet hoe om dit te beantwoord nie. So vandag probeer ek uitverkiesing op 'n heel ander manier te benader en uit te lê.

Die vraag is nogal ‘n bekvol. Dit is ook ‘n area waar ‘n mens nogal huiwerig is om in te gaan, omdat dit al so ‘n groot rol in kerk geskiedenis gespeel het. Verder het dit ook al huisgesinne geskeur, en is menige persoon al onterf oor die kwessie. Maar, dit is nie wat die HERE wil hê nie. Sy Woord het nie gekom om af te breek nie, maar om op te bou, om saam te voeg. So wat leer die Bybel?

Nou moet ek sê dat ek nie dink dat as jy ‘n ernstige opinie het dat ek jou sal oortuig nie. Al wat ek vra, is dat jy sal toelaat dat die Bybel en so ook die woord wat ek met jou gaan deel, geleentheid kry om inspraak in jou gedagtes te kry.

Ek wil begin by die begin. Nou mag jy dink dat as ek na Openbaring verwys, ek aan die einde begin, maar Christus is aan die woord, en Hy was van die begin van die aarde al daar. Openbaring 3 vers 9: "Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg". Hier sien ons dat Jesus aan die gemeente skryf en sê dat sommige vertel dat hulle Jode is maar lieg. Die gemeente is in Filedelfia, verseker nie in Israel nie. Dit is ook ‘n bevestiging van Openbaring 2 vers 9: "Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan." So hier gee Jesus vir ons ‘n belangrike stukkie inligting. Slegs Jode sal gered word. Dit stem saam met wat Moses vir die Jode meedeel in Deuteronomium 7 verse 6 en 7: "Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.  Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke".

Sodra ons dit besef dat God nooit Sy beloftes sal verander nie, sal ons besef dat daar iets is wat nie pluis is nie. Hoe kan God ons as heidene dan ook red as Sy Woord verklaar dat slegs Jode gered word? Die antwoord kom uit Handelinge 10 vers 34 en 35 :" En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is." Hier sien ons dat as ons Hom vrees en geregtigheid doen, ons Hom welgevallig is. Dit los egter nog nie die probleem van Openbaring op nie. Die antwoord moet ons gaan soek in Israel se geskiedenis met die uittog uit Egipte. Hier gee die HERE vir die Israeliete ‘n wet wat hulle moet gehoorsaam. Numeri 15 vers 15 en 16: "Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees.  Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef."  Eksodus 12 vers 48 gee die finale antwoord vir ons: "En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos 'n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie."

In Israel se geskiedenis sien ons dat wanneer iemand uit ‘n ander volk hom of haar verbind het met die Israeliete, hulle as volksgenote geag is. ‘n Baie goeie voorbeeld vir ons is Rut. Alhoewel sy die reg gehad het om na haar mense terug te gaan na haar man se dood, het sy gekies om saam met Naomi na haar land te gaan. Die woorde wat Rut ook gespreek het, ontsluit die waarheid verder. Rut 1:16 "Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. 17  Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen--net die dood sal skeiding maak tussen my en u." Hier gee sy tekenne dat sy kies om deel te word van Naomi se volk, en saam met Naomi haar God sal aanbid. Wie was Rut? Dawid se grootouma. Waar kom Jesus vandaan? Uit Dawid se geslag.

Nou hoe pas al hierdie stukke in mekaar? Die HERE het Israel uitgekies as Sy volk. Ons, as heidene moet dus kies om by die volk van die HERE gevoeg te word. Hoe doen ons dit? Deur deel te word van die verbond met die HERE. In Israel se tyd was dit deur besnyding, maar vandag moet ek tot wedergeboorte kom. Johannes 3 vers 5: "Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie." Ek moet besluit, nie my ouers of iemand anders kan die besluit vir my neem nie, om deel te word van God se volk, en dan moet ek deur die doopwater gaan, dit is ons teken van die verbond, en dan met die Heilige Gees gevul word.

Hoe stel Paulus dit vir ons? Efesiërs 2: "11 ¶ Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 12  dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 ¶ Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15  deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16  en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het."

Ek vertrou dat hierdie kort gedeelte die probleem rondom uitverkiesing vir u sal uitklaar. Dit help nie ons probeer om alles so moeilik te maak nie. Jesus het self verklaar dat ons soos ‘n kind moet word om Hom te volg. Ek weet boeke en boeke is al oor die onderwerp geskryf, maar ek glo dat die antwoord hierbo, dit ook vir ‘n kind verstaanbaar sal maak. 

Dinsdag 02 Junie 2015

Wat is my doel as Christen?

Het u al gewonder wat moet ’n Christen onderskei van enige ander persoon op aarde? En dan wat daarop volg is vrae soos, wat is my doel, en moet ek ’n verskil maak? Ek lees daagliks onderwerpe waaroor baie van die godsdienstige skrywers skryf. Maar die ding wat my opval, is dat elke persoon sy eie manier van glo, of sy kerkgenootskap se siening, probeer handhaaf, of hoe die Bybel nou eintlik interpreteer word, watter dag nou watter dag is en moet ek net die Hebreeuse name vir die HERE gebruik en soortgelyke onderwerpe. En dan volg die vrae nog van mense wat glad nie glo in die Bybel en die HERE nie, net om dit nog ’n bietjie lastiger te maak.
Maleagi gee wel vir ons ’n uitspraak oor of daar verskille moet wees tussen Christen en nie Christen: “Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel? En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry! Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Mal 3:14-18) Hier sien ons dat dit maar dieselfde gaan in ons lewens vandag. So baie mense ken of dien nie die HERE nie, maar hulle word gebou en daar is nie einde aan hulle rykdom nie, terwyl die wat baie keer in oorgawe lewe, dit moeilik het. Gelukkig verklaar die profeet wel dat die wat Hom vrees, se naam in die boek van die lewe geskryf is. So dit maak nie saak van hoe dit lyk vir die wêreld nie, daar moet verskille wees tussen die wat Hom dien en die wat hom nie dien nie.
Maar wat behoort hierdie verskille te wees? Moet ek ’n sekere leefstyl handhaaf? Moet ek elke diens by ’n gemeente bywoon, of kan ek maar my eie ding doen? Hoeveel moet ek gee vir die kerk, moet ek gedoop word as gelowige of is baba doop voldoende? Daar is soveel vrae wat gevra word daagliks, wat net laat blyk dat die mense soek vir antwoorde, maar hulle kry nie antwoorde op die plekke waar hulle soek nie. Hierdie antwoorde moet natuurlik deur die ware Kerk verskaf word, maar dit is die laaste ding wat jy sal leer. Jy het mos kategese toe gegaan en daar alles geleer, nou is jy mos reg. Maar hoekom het jy dan nou vrae?
Kom ons kyk eers wat die plig van ons as gelowiges is en dan wat die Kerk moet doen. Die aanhaling kom uit Efesiërs hoofstuk vier: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”.(Eph 4:1-3) En dan gaan Paulus aan in vers 11: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;” (Eph 4:11-13) Paulus lig hier iets uit wat meeste mense nie weet nie en baie dink hulle weet maar eintlik weet hulle nie, en dit is dat elkeen van ons geroep is, vers een, om vir die HERE te werk, en dan dat elkeen sy of haar eie roeping het, vers 12. Die plig van die wat weet, is om my toe te rus vir my dienswerk, sodat ek weer ander kan toerus vir hul dienswerk en so gaan ons aan.
In die lewe skryf elkeen hopelik net een keer matriek en hoef ons nie elke jaar terug te gaan om weer geleer te word nie, maar by Christenskap leer ons nooit wat ons moet leer nie en gaan ons dus jaar vir jaar terug na ons gemeente in die hoop dat die pennie eendag sal “drop” voordat ek “drop”. Die Hebreërs skrywer vertel ons nogal wat ons moet leer ook: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.”(Heb 6:1-2)
Nou mag jy vra wat is my storie nou, want ek het jare terug al tot bekering gekom, glo, is gedoop en ken die Bybel. My vraag is: Regtig? Kan jy iemand oplei in al ses hierdie beginsels, sonder jou gemeente se hulp en interpretasie? Israel het ook gevoel dat hulle Sy kinders is, alles reg doen, maar tog het Jesus hulle verby gegaan toe hy op aarde was. Hulle het ’n aardse koninkryk verwag, nie een wat in die hemel gevestig is nie. Eers aan die einde van hierdie bestaan sal Jesus Sy koninkryk oorhandig aan die Vader in die Nuwe Jerusalem, en dié Jerusalem is nie op hierdie aarde nie. (1 Kor 15:24).
Kom ons lig net gou die ses beginsels uit:
  1. van die bekering uit dooie werke
  2. van die geloof in God
  3. van die leer van die doop
  4. die handoplegging
  5. van die opstanding van die dode
  6. van die ewige oordeel.
Kom ons kyk ’n bietjie wat met Israel verkeerd was, die eerste beginsel, waarvan hulle tot bekering moes kom. U sien hulle het soos ons vandag gedink hulle is reg, hulle is besny volgens die wet, hulle bring hulle offers, hulle oortree nie die wet nie, so hulle is mos reg. Hoekom het Jesus dan ons as heidene gekies? Daar was fout by hulle. Nou kan ons kyk wat reg en verkeerd was by hulle, sodat ons nie ook onkant betrap word nie.
Dawid gee vir ons eers riglyne wat ons behoort te doen in Psalms: “‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie; in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie; wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie”. (Psa 15:1-5) So Dawid lig al vir ons uit dat dit gaan oor hoe ek optree en nie oor my godsdienstige dade nie.
Uit Jesaja sal ek net een gedeelte aanhaal, maar daar is baie meer verwysings. Hoofstuk een: “Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek. Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars! Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie. Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.”(Isa 1:11-25)
Amos gaan aan met dieselfde klagtes: “Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom. Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel”, (Amos 5:21-25)
Miga stel dit so: “Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mic 6:6-8)

Dit dan so ’n vinnige reis deur die profete. Almal is dit eens, dat die HERE nie van ons verwag om elke wet so stiptelik na te kom dat ek nie eers mag lewe nie, nee, Hy wil dat ek aan alle Christene wat oor my pad kom en hulp nodig het, hulp sal verleen. Dit is my roeping as Christen.
Dit is ook die boodskap wat Jesus gebring het. Ek sluit hier ‘n redelike lang gedeelte in wat Jesus gespreek het, sodat ons sal verstaan watter Christene die ewige lewe sal verkry en watter die ewige duisternis. Onthou net, Jesus het hier met Jode gepraat, so Hy praat vandag met ons as Christene, nie met mense van die wêreld nie. “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (Mat 25:31-46)

Nou mag jy my vra maar wat van wedergeboorte en van al hierdie ander goeters wat ons elke dag geleer word. Ja, dit gaan ’n verskil maak, maar eers as ek tot die besef gekom het dat alles, selfs my mooi werke vir die kerk, nie ’n verskil aan my eindbestemming gaan maak nie, maar net dit wat ek as Christen aan my medemens en die HERE doen, dan het ek eers tot werklike bekering gekom. Dan sal ek besef dat alles wat ek as Christen is en het, van Hom af kom en dat ek niks kan doen om my in ‘n beter verhouding met Hom te plaas nie, behalwe om my naaste lief te hê soos myself.
Hoe druk Johannes dit uit: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1Johannes 3:14-24) Johannes beskryf hier en in die volgende hoofstuk vir ons wat liefde is, en dit is wat Jesus kom doen het. Hy het Sy beste, Sy lewe, vir ons gegee, sonder dat ons gevra het of dit verdien het. So moet ek dus ook my beste, my alles gee vir ander Christene sonder dat hulle dit verdien, of vra. Dit maak nie saak watter liefde jy van praat nie, want die definisie geld vir alle vorme van liefde. Selfs tussen man en vrou, ouer en kind.
Hieruit sien ons dat ons by ’n doen Christenskap moet uitkom. Dit maak nie saak aan watter kerk jy behoort nie, en of jy watter dag ook al as rusdag gebruik nie, nee, dit hang af of jy bereid is om so na jou mede gelowige om te sien soos jy na jouself omsien. Geen veroordeling nie. Ek weet dit is moeilik, maar Christenskap is nie vir sissies nie. Jy moet die daad by die woord sit, en dit vat aan ’n mens.
Dit is wat ons as die eerste beginsel by ons gemeente moet leer. Nou moet ek byvoeg dat ek nie glo dat ek al ooit in my bestaan van oor die sestig jaar, al in ’n gemeente was waar dit geleer is nie.
Solank ons gee om te ontvang, sal ons nooit by die punt uitkom nie. Dat ek sal ophou om aan myself te dink en te dink oor hoe ek ’n verskil in mense se lewens kan maak. En die Bybel is baie spesifiek oor watter mense ek moet help, naamlik eerstens ons mede gelowiges wat dit nie altyd so maklik het as wat ons dit het nie en dan aan nie gelowiges, want dit gee my ’n geleentheid om die evangelie van Jesus met hulle te deel. Maar hoe kan ek met hulle deel as ek self nie weet wat die ses beginsels van die Christelike geloof is nie, of hoe om dit te verduidelik nie? Dit is wat ek moet leer en sodra ek dit weet moet ek dit kan gebruik, om dit uit te leef en ander weer te oplei.
So, as jy vrae het oor hoekom dinge nie reg is in jou lewe nie, of hoekom moet jy deur hierdie en daardie beproewing gaan, is die antwoord dalk voor die handliggend: Of jy moet leer om dit wat jy het te deel met ander, of jy moet leer om te ontvang van ander. Die laaste gedeelte is seker die moeilikste gedeelte, om tot die besef te kom dat jy nie meer self alles kan doen of in alles self kan voorsien nie, en jou lewe oop te stel sodat ander jou kan help.
Dit is my boodskap vir vandag: Kom ons leer wat werklike liefde is, kom werklik tot bekering en dan sal baie van my vrae verdwyn en sal die HERE my leer wat dit is om geloof in Hom te hê, en nie geloof in my geloof nie. Daarna sal ek eers kan leer wat doop en die daarop volgende beginsels beteken.