Dinsdag 25 Augustus 2015

Wat is genade?

Vir my is dit die jaar 20 jaar.

Dit is hierdie week 20 jaar gelede wat my lewe van genade begin het. Ek het toe net verneem dat ek dalk 3 jaar oor het as dinge goed gaan, en ‘n jaar as dinge sleg gaan, om te lewe. Al die kanker wat die dokters kon uitsny het hulle gedoen, en chemo kon dalk help om die res in toom te hou. En om te dink alles het begin met ‘n blindederm wat gepla het en die medici wat so per ongeluk op een gewas afgekom het.

En selfs die onkoloog het nie baie hoop gehad en het in sy verslag aan die chirurg gesê: “Soos telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasient werkilk problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante situasie getoets nie. Vanweë die problematiese area, nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie. Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente. Daar was ‘n reeks beskikbaar van 23 pasiente waarvan 4 van hulle, dit is 17% ‘n krimping van tumor getoon het. Maar meer resente studies toon ‘n 0-9% vermindering in volume van die siekte. Die literatuur se konklusie is dat die anti-tumor refektor van oktreotied nie indrukwekkend is nie.”

Teen die einde van daardie jaar was ek redelik moeg vir chemo, om jou elke dag self in te spuit, meeste kere met Hettie se hande, en elke tweede week onkoloog toe te gaan en daar te gaan sit vir ‘n uur of twee, was nie my idee van lewe nie. Veral nie op 44 jarige leeftyd nie. Dan kan jy net dankie sê vir jou kinders om te sien dat hulle soos kinders glo wat in die Bybel staan, en waar hulle na spesiale dienste gegaan het waar daar vir genesing voor gebid is, en dan vir my ‘n sakdoek bring en op my kom lê, want hulle glo dat die Bybel waar is. As Paulus dit kon doen dan kan ons mos ook so glo.

Dit was die rede waarom ek toe regtig in alle erns die Bybel begin bestudeer het. Om seker te maak dat wanneer ek die dag sterf, ek weet waar ek sal wees na hierdie lewe. Want dit was nie ‘n kwessie van eendag nie, maar dalk is dit vandag, dalk more, maar ek weet daardie dag kom. Ek kon nie vertrou op enige ander persoon om namens my te besluit wat vir my goed is in die lewe nie. Ek moes eienaarskap neem van my eie toekoms.


Verseker glo ek nie meer soos vroeër nie.Maar ek het my kinders sien trou, kleinkinders is gebore en die jongste kleinkind begin al volgende jaar met groot skool, en my lewe is verseker nie meer dieselfde nie.

En dit is alles genade, want as die HERE nie vir my die geleentheid gegee het nie, sou my einde verseker anders gewees het. Maar Hy het my aandag gekry en my toe op ‘n pad gevat wat ek meeste keer net as verbysterend kan beskryf.

Alhoewel die afgelope twee jaar nie ‘n tyd was wat ek vir enige persoon toewens nie, is ek nog steeds gefokus op Hom en wat Hy vandag deur my wil doen. Twee jaar gelede het ek vir die eerste keer weer ‘n Carcinoid krisis ervaar, en moes ek verlede jaar weer ‘n operasie ondergaan het om die dun- en dikderm te omlyn om te maak dat daar ‘n ander pad is vir die voedsel om om die gewas te gaan, want die gewas het gegroei en is so verstengeld met die derms dat dit onmoontlik is om daaraan te werk. So moes hulle toe ook ‘n stuk van die lewer verwyder waarheen die kanker versprei het. Dan het die gewas ook om die hoofbloedvat gegroei wat tussen die dunderm en lewer is, die een wat al jou voedingstowwe na die lewer vat om gesuiwer te word, en is die gewas maar besig om die bloedvat stadig maar seker toe te druk, sodat ek meeste tyd ‘n regter nier het wat baie kla dat hy nie vloeistof kry om sy werk te doen nie. Dit is ook die oorsaak hoekom hulle nie die gewas kan verwyder of kleiner te maak nie. Sodra hulle die aar klamp is dit verby met my.

Die afgelope paar weke is dit ongelukkig so dat ek amper elke dag deur ‘n Carcinoid krisis moet werk, of party dae sommer twee of drie, maar ek kry nogsteeds tyd om dit te vier met die mense wat ek voor lief is en hulle vir my. En dit is vir my genoeg, en is vir my elke dag, net genade. So die week is vir my ‘n baie besonderse week, met ons huweliksherdenking op 26 Augustus (43 jaar), my verjaarsdag op die 27 ste, en dan my nuwe lewe wat hierdie jaar 20 jaar is op die 31 ste, die dag van die eerste operasie. O ja, en dan gaan ek weer Woensdag hospitaal toe. Sal maar sien wat gebeur en of hulle iets kan doen vir my.

En wat kan ek sê?

Dankie HERE.

Die wat belangstel kan hier lees waaroor die soort kanker gaan, en wat ‘n Carcinoid krisis is. Ek kan probeer om dit te verduidelik, maar die medici doen dit nogal goed. Kyk veral na die foto op skyfie 20, en dan sal jy kan sien wat dit aan jou gesig maak. Hettie was baie bekommerd dat ek dalk nie suurstof kry en dat dit die rede is vir my neus so blou word, maar nou verstaan sy ook wat besig is om te gebeur.

Sondag 02 Augustus 2015

Genesing - Is jou geloof in Jesus Christus, of in jou geloof, in jou manier van glo.


Genesing - Is jou geloof in Jesus Christus, of in jou geloof, in jou manier van glo.

Oor genesing kry ek amper daagliks te doen met mense wat nie verstaan waaroor genesing in die Bybel gaan nie. Hulle standpunt word gewoonlik gebou op ‘n geloof in hul geloof, en nie geloof op wat die Bybel ons leer nie. Die mense huldig die standpunt dat genesing vir almal is en dat indien jy nie genesing ontvang nie, jy nie geloof het nie. Alhoewel wanneer mense hoor wat ek vir die HERE gevra het 3 jaar terug en vind dat Hy my presies gegee wat ek voor gevra het, hulle nie antwoorde vir my het nie, behalwe dat hulle glo hulle is reg. Ek het gevra en het tyd gekry om afskeid te neem van die wat vir my lief en dierbaar is, Sy liefde uit te straal na almal wat ons mee te doen het, en tyd om dit te skryf wat Hy oor ‘n periode van meer as 25 jaar met my gedeel het en nog steeds elke dag deel.

Ek weet hoe dit voel om aanhoudend aangeval te word, en dit krap my ook om wanneer mense met hulle eie insigte ander wil uitmaak as mense met sonde of nie voldoende geloof nie. Hulle wil net dat dit altyd alles goed gaan met kinders van die HERE, maar dit is nie die boodskap wat ek in die Bybel kry nie.

Ek weet dat daar elke dag genesings plaasvind want ek en Hettie het al vir mense gebid en hulle is genees, so daar is kere wat die HERE ingryp en kere wat Hy dit nie doen nie. Hoekom? Hy weet. Ek wonder net of die mense weet dat hulle mense se lewens en verhouding met die HERE skade aan doen deur hulle geloof in hulle geloof en deur dit te probeer regverdig sonder dat hulle die Bybel ken.
Psalms 41: Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie. Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is." So dit lyk my Dawid sê dat ons siek kan wees, maar dat die HERE jou sal ondersteun op jou siekbed. Hierdie gedeelte kan ek persoonlik elke dag van getuig. Slegs 5 persone per miljoen word met Carcinoid Sindroom gediagnoseer voor hul sterfte, terwyl wanneer ons die resultate van lykskouïngs bywerk, sowat tussen 60 en 70 persone per jaar per miljoen net in die VSA sterf van dié tipe kanker sonder dat dit by hulle gediagnoseer word. So hulle sterf aan kanker sonder dat hulle eers daarvan bewus is. Die siekte is eers in die vroeg vyftigs vir die eerste keer beskryf en uitgevind. Gelukkig weet ek daarvan en kan ek elke dag daarteen baklei.

Meeste mense op aarde sterf as gevolg van siekte, maar party mense wil hê dat ons almal gesond moet wees wanneer ons sterf, want anders het ons nie geloof nie. Hoeveel van die mense wat vir jou voorhou dat jy nie genoeg geloof het sterf nie as gevolg van hoë cholestrol en hoë bloeddruk? O ja, hulle mag mos maar net ‘n pilletjie drink, want hulle is mos nie siek nie. Ek drink ook net ‘n paar pilletjies, so tussen 16 en 20 ‘n dag om die pyn te demp en die derms te ontspan maar ek het mos nie geloof om te herstel van die kanker nie. Die feit dat ek geglo het vir 14 jaar na hoeveeel gebede dat ek nie meer kanker het nie en dat ek toe weer moes uitvind dat dit nie die geval was nie, tel blykbaar nie. Dié tipe mense gee my sommer hoë bloeddruk ook.

Johannes 11:1 "1 ¶ En daar was 'n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. 2  En dit was Maria wat die HERE gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was. 3  Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: HERE, hy vir wie U liefhet, is siek. 4  En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word." As ek die gedeelte regverstaan lyk dit vir my of Jesus hom ook nie sou genees het as dit ‘n siekte was wat tot sy uiteindelike dood sou lei nie. Maar die HERE het hom genees sodat die mense kon sien dat Hy mag het oor die dood. En arme Lasarus het nie geloof nodig gehad nie, want hy was reeds dood.

Hand 10:37-38  “Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het,  (38)  met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”  So wat van die wat nie onder die mag van Satan was nie? Dit lyk nie of hulle ook genees is nie, want Lukas beskryf dit nie, anders sou hy mos gesê het almal is genees. Dit is hoe my logika werk.

Jes 53:5-12 “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.”

Die gedeelte is seker die gewildste gedeelte wat aangehaal word deur mense wat vir jou vertel dat die HERE almal wil genees. Ja, dit is so, ons almal word gebore en sal sterwe as sondaars indien Jesus nie vir ons genesing gebring het van ons ongeneeslike siekte, die ewige dood, nie. Hy het gesterf sodat ek en jy kan lewe, en lewe tot in ewigheid. Dit is die genesing waarvan Jesaja hier praat. Moses het ‘n soortgelyke voorbeeld in die woestyn gehad vir die Israeliete wat gesondig het. Moses moes ‘n slang maak, dit is wat hulle gepik het en laat sterf het, en moes die slang op ‘n paal sit sodat elkeen wat gepik word kon opkyk na die slang en geleef het. So die oorsaak van hulle dood, die slang (sonde) is op ‘n paal (kruis) gesit sodat elkeen wat na die kruis kyk en glo dat Jesus ons sonde gedra het, kan lewe. Dit is die genesing wat Jesaja van praat. Ek weet daar is mense wat vertel dat Jesus 39 houe op sy rug gekry het om elke tipe siekte te verteenwoordig en dus het Hy reeds die staf daarvoor betaal, maar dit is loutere onsin, want dit staan nêrens in die Bybel nie.

So daar sal mense wees wat van jou en van my sal verskil, maar dit maak gelukkig die lewe interesant. Solank ons net die liefde van die HERE uitstraal elke dag na elke persoon wat oor ons pad kom en in geloof volhard, is dit al wat gaan tel op die einde van die dag. So miskien is daardie autistiese kind juis sy ouers se doring in die vlees, soos wat Paulus ook gehad het. 2Kor 12:7  “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”

Dan is daar die verhaal van die Samaritaan wat Lukas vir ons opgeteken het. “En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.”  (Luk 10:30-35) So die Samaritaan kon mos net gebid het dat ou die genees word en dan het hy mos ‘n hoop geld gespaar.

Dawid vertroos ons ook oor die tipe omstandighede: “Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.”(Psa 34:18-19) “Psa_41:3  (41:4) Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.

Ek wil graag nou ‘n gedeelte aanhaal wat ek seker is die mat onder almal se voete sal uitpluk, en dit is dat daar siekte in die Nuwe Jerusalem is. “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies. (Open 22:2) Nou wonder ek maar net of die mense al ooit hulle Bybels gelees het wat so tekere gaan oor genesing. Ek glo nie, want dan sou hulle die vers moes raakgelees het al. Hoekom sal die bome wat langs die rivier in die Nuwe Jerusalem se blare vir genesing gebruik word as almal dan gesond is? Ek vra maar net. Dit is natuurlik ook ‘n aanhaling van Esegiël om te bewys dat Esegiël die eindtyd in die Ou Verbonds verstaan skets, terwyl Johannes in Openbaring dit in ‘n Nuwe Verbonds verstaan skets. “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.(Eze 47:12)

Hiermee sal ek volstaan, want dit help nie om te redeneer oor goed wat mense net in glo nie. En dan is dit volgens hulle altyd die ander mense wat verkeerd is, en nie hulle nie. So gaan sien maar die dokter, ek het en leef nou al 19 jaar langer as wat ek sou leef indien die dokters nie ingegryp het nie. En dan praat ek nie eers oor hoe my verhouding met die HERE in daardie 19 jaar verander het nie.

 “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” (1Kor 13:11-13)