Donderdag 28 Desember 2017

Nuwejaar 2018

Is jy ’n toeskouer of deelnemer?

Dit is my gebed vandag dat jy regtig, in die lig van wat ek vandag gaan sê, vir jou ʼn paar vrae gaan afvra.  Ek wil vandag vir jou vra of jy ʼn toeskouer is en of is jy ʼn speleris?  Ek sien in die liggaam van Christus ʼn algemene verskynsel en dit is dat mense gou-gou op ʼn plek kom waar hulle hul opgewondenheid verloor. Waar hulle hul entoesiasme teenoor die Woord verloor.

Ek weet nie of daar een area in die wêreld is waar daar meer boeke oor verskyn as geestelike boeke nie. Is die meeste boeke, as ons nou eerlik met mekaar is, nie ook maar net resepte nie? Ongelukkig is my skrywes nou nie van die aard nie en stel die uitgewers nie eers belang om dit te publiseer nie. Maar hulle sal vinnig die boeke wat vir jou sewe stappe tot dit... Agt stappe tot dat...  publiseer. Dit is eintlik ʼn resep.  Ek het al hoeveel keer daaroor geskryf dat die Here nie volgens resepte werk nie. Maar dan kry iemand ʼn boek en hy is opgewonde en hy vertel vir almal hoe opgewonde die boek hom gemaak het, net om drie weke later weer by die ou te kom en hy is maar weer plat. Dan kry hy weer ʼn nuwe boek. Die probleem is dat ons nie verstaan hoekom ons wiele so gou pap word nie. Beslis lewe ons in ʼn wêreld waar daar baie negatiwiteit is en die negatiwiteit is oorweldigend. Dit is op lamppale en die internet vol daarvan, en die gesprekke is net negatief en mense verloor gou hul fokus. Ek dink dit is omdat ons nie in ons potensiaal stap nie. Ek dink nie ons weet wat is ons potensiaal nie. Ek dink nie ons weet wat is ons verantwoordelikheid nie. Ons sit partykeer die fokus op verkeerde plek. Ek wil dit vandag deur ʼn illustrasie probeer voorhou. As ek by ʼn motorhandelaar instap staan die motors daar en hulle was hulle elke dag dat hulle blink. Nou kom die ou baie vriendelik en hy begin vir jou vertel wat hierdie moter se vermoë is. Die motorkar gee ten minste twaalf km per liter in die dorp en as jy langpad ry en jy hou by 120 km/h, dan kan dit opgaan na dertien km per liter.  Hy vertel vir jou alles van hierdie motorkar, maar as jy na die kilometer-lesing kyk van die motor, staan dit op nul. Die motor het nog nie ʼn enkele km geloop nie. Hoekom kan die ou dan al die goed van die motor vertel?  Hy kan dit vertel, want hierdie motor is ʼn presiese replika van die prototipe, van die oorspronklike. Dit het iewers in ʼn tekenkamer begin en toe later in ʼn fabriek het hulle die motor ontwerp. Die eerste prototipe het deur al die toetse gegaan en toe hy die toets geslaag het, het hulle al die motors volgens daardie spesifikasies gebou. Dit is gewaarborg omdat dit in hom ingebou is.  As hierdie motor op die oop pad kom, kan ons met geloofwaardigheid sê dat dit die “output” is wat jy kan verwag. Dit is wat jy van hierdie motor kan verwag omdat die prototipe getoets is.

Ek wil vandag vir julle sê dat die liggaam van Christus nie naastenby volgens ons potensiaal leef nie, want ons is ʼn replika van die prototipe. Ons is ʼn afdruksel, ʼn beeld, ʼn gelykenis van die prototipe en dit is God self.  God kyk na ons en Hy is opgewonde oor elke een van ons. Oor elkeen wat hier lees.  Of jy vandag hartseer is of jy teleurgesteld is of wat ookal in jou gemoed aangaan, God is opgewonde oor jou, oor een rede.  Hy weet wat is jou potensiaal, want Hy ken Homself. Gen. 1:26 sê: “Laat Ons die mens maak na ons beeld, na ons gelykenis en laat hulle heers oor die voëls van die hemel en oor die visse van die see en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

Met ander woorde God het gesê: “Kom Ons maak hierdie mens na ons beeld en ons gelykenis.” Ek wil hê jy moet mooi dink oor hierdie stukkie, want dit klink te goed om waar te wees as iemand sê dat ons God se afdruksel is, ons is sy beeld, sy identika. “Nee nou klink jy soos die "New Age", jy maak ons nou God.”  “Nee, nee...” Ek vat net sy eie woord.  Daardie selfde uitspraak kan julle gaan lees in Gen. 5:1 en Gen. 9. ʼn Paar keer in Genesis sê God dat ons sy beeld en sy gelykenis is en dit praat nie net van geestelik nie, dit praat van potensiaal.  Hy het gesê dat ek en jy in sy plek moet heers. Kol. 10:3 sê dieselfde. Hy sê dat ons tot die kennis kan kom van die beeld van Christus sodat ons in sy plek kan heers en in sy plek kan stap.  Daar is dus ʼn paar Skrifte wat wys hoe God oor my en jou voel en hoe Hy ons sien en as Hy iets sê, dan bedoel Hy dit.

Nou sit ons as liggaam van Christus en weet julle, ons kla van die oggend tot die aand en ons beleef nie wat die Bybel sê nie.  Ons hoor wat die kerk sê, maar ons ervaar dit nie. Ons is maklik om vinger na buite te wys en ons is maklik om ander die skuld te gee.  Ons is maklik om ander die skuld te gee en ons is maklik om te sê dat dit is omdat dit en dat gebeur, maar die Here sê: “Nee, die potensiaal is in jou.” Dit waarna jy smag is klaar binne jou gedeponeer.  Ek het gewonder of ek dit twintig keer oor moet sê dat dit wat jy soek en dit waarna jy smag is klaar binne jou. Dit waarvan jy droom en waarna jy verlang en na smag en wat jy baie keer vir die Here vra, is klaar in jou gedeponeer. 

Daar is ʼn paar goed wat ons oor en oor sê en ek dink ons verloor die krag daarvan omdat ons dit sê en op daardie oomblik maak dit sin, maar ons word nie stil daaroor nie. Wanneer jy iets laat val, gaan dit grond toe. Die rede is voor die hand liggend. Swaartekrag, of jy dit nou glo of nie glo nie, dit werk. Spring van die dak af en jy sal gou daarin glo. Dit is vas en jy kan daaraan niks doen nie. Elke stelsel in die wêreld werk volgens ʼn vaste beginsel en ons het geen probleem daarmee nie en ons stap daarmee en ons sê dat dit aanvaarbaar is, maar sodra dit by die dinge van die Here kom, dan wil ons hê dat Hy volgens ons manier werk en as dit nie werk volgens ons oorleweringe en ons manier nie, dan het ons ʼn probleem. Dan begin ons die kredietwaardigheid van die Boodskap en God afskiet en dan begin ons verklarings te maak en sê dat dit eintlik nie vir vandag is nie. Wonderwerke is nie vir vandag nie. Dit was vir die Handelinge kerk en dit gaan eendag weer wees en so kry ons ʼn klomp verduidelikings om ons net in posisie te plaas, want dit kan darem nie ons wees nie. 

Gaan lees Gal. 4:7.  Hy sê dat jy ʼn erfgenaam is van God. Jy is sy kind.

Fil.3:20 sê dat jy sy ambassadeur is, want jou burgerskap is nie van hier nie.

Ons lees in Mattheus 28 die volgende: En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (Mat 28:18-20) ’n Dissipel is iemand wat alles doen wat sy meester doen. Nou sê Jesus dat Hy alle mag gekry het in die hemel en op die aarde. So wanneer ons Sy dissipel word, het ek ook alle krag in die hemel en op aarde.

As jy hierdie Woord gaan lees gaan jy sien dat God potensiaal in jou geplaas het om in sy plek te stap.  Jy is ʼn verteenwoordiger van die Hemel soos jy hier lees vandag.  Jy is ʼn verteenwoordiger van die koninkryk van God. Met ander woorde alles wat daarin beskikbaar is, is vir jou beskikbaar; is in jou gedeponeer, maar nou beleef ons nie dit nie. Hoekom beleef ons dit nie?

Daar is ʼn vaste beginsel waarvan jy nie kan wegkom nie. Dit is dat as jy nie betrokke gaan wees nie, as jy nie gaan hoor en doen nie, sal jy sekere goed nooit beleef nie.  Jy sal die kennis opneem en jy sal kennisname kry en jy sal vol word van die Woord, maar die belewenis sal jy nie smaak nie. Dit is hoekom ek jou vandag wil uitdaag en vir jou vra, is jy ʼn toeskouer of is jy is speler?  Staan jy in die “showroom”, of is jy op die oop pad? Weet jy, daardie motor wat in daardie vertoonlokaal staan, kan hoe blink wees en jy kan tot inklim, die sleutel draai sodat die enjin loop en jy gee bietjie petrol en die enjin raas, maar kan jy sy potensiaal ten volle beleef? Daar is nie ʼn manier nie, want hy is nie gemaak om in die vertoonlokaal te staan en luier nie.  Hy is ontwerp vir die oop pad. Eers wanneer hy in sy skeppingsdoel gebruik word, kan jy by die potensiaal uitkom.

Ons staan hier aan die begin van 2018 en baie mense sê en profeteer dat die krag van die Here in die gemeentes gaan deurbreek en almal het hierdie verwagting, maar dit gaan elke jaar in Januarie so. Dit is dan net so ‘n entjie en die wind is uit die seile uit. Hoekom? Omdat ons in ʼn gewoonte is om maklik toeskouers te word en te bly.

Nou hoe lyk ʼn toeskouer?

  •           ʼn Toeskouer is iemand wat se opgewondenheid nie lank hou nie. Hy kom by ʼn kerk en daar is ʼn nuwe dominee of daar is ʼn nuwe jeug persoon. Opgewonde, maar net om later sy opgewondenheid te verloor en na die status quo terug te keer. Weet julle wat? Dan kry die nuwe dominee of die kerk of wat ook al die skuld, want ek is nou nie meer opgewonde nie. Dit is wat baie keer by ʼn toeskouer gebeur. Daar is nie daardie voortdurende borreling van die fontein nie.
  • .        ʼn Toeskouer is nie betrokke in die koninkryk van God nie. Ek praat nie van betrokke by ʼn kerk of by ʼn organisasie of by ʼn persoon nie. Ek praat van betrokkenheid by die koninkryk daarbuite. Dit gaan nie oor kerke en denominasies nie. Die Here het jou geskape in lyn met Hom as prototipe om die wêreld daarbuite te bedien: waar jy ookal is, enige tyd van die dag. Of jy op ʼn golfbaan is of by die werk is, as jy wil betrokke raak in die koninkryk, dan praat dit van die markplein. Dat jy ʼn kanaal sal wees dat God se liefde deur jou sal vloei. Dat God se goedheid, sy goeie nuus, deur jou sal vloei. Weet julle waar is toeskouers betrokke? Sondagoggend by die diens of soms by ʼn sel.  Dit is al waar jy van hulle hoor of waar jy hulle sien. Dit is belangrike byeenkomste, maar daardie sal jou nooit in ʼn borrelende opgewondenheid hou nie.
  • .       Hy wil jou gebruik elke oomblik daarbuite. Daar is hoeveel mense wat wysheid en kennis en ʼn woord van die Here nodig het. Hy kan net deur mense werk. Nie deur gekwalifiseerde mense nie, nee, maar beskikbare mense.  ʼn Toeskouer is onbetrokke en hy sal dit nie beleef nie. ʼn Toeskouer is nie beskikbaar van Maandag tot Sondag nie. Onthou, ʼn toeskouer is iemand wat in ʼn ‘showroom’ sit.
  • .       ʼn Toeskouer weet altyd beter. Ons kan dit terugvat na sport toe.  Wie is die beste skeidsregter? Dit is die manne wat langs die kant staan. Wie is die ou wat weet wat Percy moes gedoen het op die rugbyveld? Dan sit die ou met net so ʼn maag op die sitkamerbank, maar hy is die een wat weet hoe Percy die “gap” moes gevat het. Hy weet altyd beter. Dit is in sport ʼn toeskouer, maar weet jy, geestelik is dit dieselfde. Die toeskouer weet van beter en hy vertel almal hoe dit moet werk, maar hy doen niks self nie. Daar is net kommentaar en baie keer lei dit tot kritiek. Net om rugby as ‘n voorbeeld te neem, is daar maar 15 lede per span wat speel, maar kyk ons na die pawiljoene is daar duisende mense wat toeskouers is. En ek glo dit werk maar dieselfde vandag op elke vlak, veral op die geestelike vlak.
  •           Iemand vertel my ‘n ruk gelede van ʼn ou in Pietersburg wat boer en hy het besluit dat hy vir die Here boer en lewe. Hy het nie saak wat mense van hom sê.  Maak nie saak wat mense van hom dink nie, want as die Here vir hom iets sê om te doen, dan doen hy dit.  Die oomblik toe hy in daardie gehoorsaamheid begin stap het, het die toeskouers (dorpsmense) hom “Koe-koes Jan” begin noem.  Die Here het eendag dit op sy hart gesit om voor Standard Bank ʼn gebed te gaan doen. Hy kniel toe daar voor die bank. Wat dink die toeskouer van hom? Hy kyk en sê: “Ai, die hekke is weer oop en die varkies wei wyd vandag.”  Dit is wat ʼn toeskouer doen, want hulle weet altyd beter en hulle begin krities raak.
  • .         Baie keer omdat ʼn toeskouer nie betrokke is nie, is daar in Afrikaans ʼn gesegde wat sê: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing.”  As jy nie betrokke raak in die koninkryk nie, begin jy ʼn plekkie te kry vir die duiwel se oorkussing. Dan begin jy ʼn plekkie te kry waar steel, slag en verwoes ʼn kanaal deur jou kan kry en waar hy daardeur juis wat jy moet bevorder en uitbrei, juis begin teëstaan. 
  • .       ʼn Ou wat ʼn toeskouer is, is baie maklik beïnvloedbaar. “’n Rebel soek ʼn pel.” Sulke persone word altyd deur mense se opinies en deur omstandighede gelei. As dit goed gaan met my en die bankrekening is goed, dan gaan dit goed. As dit sleg is, is dit sleg.  As die ouens almal opgewonde is oor wat ek sê, dan is dit goed.  As hulle negatief is, dan moet ek aanpas, want ek kan dit darem nie verloor nie. ʼn Toeskouer is soos ʼn golf wat rondgeslinger word. ʼn Toeskouer kan nie standpunt inneem vir die Here nie, want soms kan mense agter jou sê dat jy nie so “lekker” is nie. Onthou, om gehoorsaam te wees vir die Here, maak nie altyd sin nie, want God werk nie volgens resepte nie.  Hy het nog nooit volgens resepte gewerk nie. Kyk maar na die water by Mara wat bitter was en hulle moes ʼn stok ingooi. Die stok verwys natuurlik na die kruis van Jesus wat maak dat dit wat dit aanraak, tot voordeel van die mens sal wees. Dit maak nie vir ons sin nie. Toe hulle weer water soek later, toe moet die rots geslaan word. Die Here kon maar net ʼn wolk verbygestuur het.
  • .        Ons verhouding met die Here kan nie deur omstandighede en mense bepaal word nie.
  • .        As jy kyk na ʼn toeskouer en jy is net vyf minute in ʼn toeskouer se teenwoordigheid, sal jy sien dat dit eintlik ʼn baie negatiewe persoon is. Ek het die vakansie nogal geskrik oor negatiwiteit. Rassisme!  Ek het nog nooit in my lewe met so baie te doen gehad nie. Vrese!  Met Zuma as president span baie van die mense hulle seile om te gaan. As jy met die Here, met sy beloftes en sy krag besig is, dan is daar mos iets wat die feite en die realiteite oorweldig. Die Here se vermoë en sy hart. As ek vol is daarmee, laat ek my nie aftrek deur hierdie goed nie. Dit kan my beïnvloed en ek moet keuse op keuse maak. As jy fokus op die Here en op sy hart, dan gaan negatiwiteit nie jou deel wees nie.  Daar is mense wat klink of dit hulle roeping is om te kerm en te kla.  Hoor by die werk en tussen jou vriendekring. Hulle het geen positiewe woord nie. Ek maak vandag ʼn uitspraak en ek veralgemeen. Ek sê nie jy is skuldig nie, maar as jy heeltyd negatief is, gaan kyk bietjie wat jou “fellowship” met die Here is. Tyd met sy beloftes en sy Woord. Dan sal jy sien dat jy dit bietjie agterweë gelaat het en dat jy jou vol gemaak het met die pratery van die feite en die realiteite en die mense om jou.  Ek het teruggesit en ʼn toeskouer geword.
  • .        As ek praat van toeskouer, dan sê ek dat dit is nie iemand wat aktief stap in sy potensiaal nie en sê: “Here, ek kies dat U deur my sal werk daarbuite” nie.  Dit is wat ʼn speler sê. 

Hoe lyk ʼn speler?


  • .       ʼn Speler is iemand wat voortdurend besig is in die koninkryk. Ek praat nie van Bybel-onder-die-arm nie. Dit praat van ʼn beskikbaarheid. Dat jy dalk agter jou rekenaar sit en jou gedagtes gaan oor ʼn skriffie wat jy vanoggend gelees het en die Here sê vir jou om iemand te bel en jy maak tyd daarvoor en jy doen dit.  Jy maak tyd om beskikbaar te wees, want hoekom?  Jy begin jou potensiaal te snap. God kan nie - nie omdat Hy nie die vermoë het nie, nee, omdat Hy dit gekies het - Hy kan nie anders op hierdie aarde werk as deur mense nie. Hy het gekies in hierdie realm om deur mense te werk en jy is daardie mens. Daar hoef nie ʼn papier teen die muur te wees wat vir jou daardie kwalifikasie hoef te gee nie. As jy sê: “Here, ek is beskikbaar en jy hou jou besig met sy Woord, sê ek vir jou dat jy die een “blessing” op die ander “blessing” in jou lewe sal ervaar. Gaan dit nie lekker wees as dit elke dag met jou gebeur nie? Of jy ʼn huisvrou is of ʼn baie besige besigheidsman is, maar as jy daar staan en die Here gee vir jou ʼn Woord vir iemand spesifieks en jy bel en die ou sê dankie of miskien gaan hy aan die huil, want hier kom jy met ʼn Woord van Wysheid en die ou se hele situasie draai.  Weet jy wat gaan dit aan jouself doen?
  • .       Ek het gehoor van ‘n geval waar iemand ‘n getuienis gegee het eendag. Hy stap in ʼn koopsentrum en hy is bietjie laat en toe hy sien is die deure al gesluit en sy motor staan aan die ander kant. Die deurwag staan daar en as hy nou nie vir hom die deur gaan oopsluit nie beteken dit dat hy vêr moet loop na sy kar toe.  Hy wys toe vir die man dat hy vir hom moet wag en terwyl hy na die man toe stap wys die Here duidelik vir hom dat die man by die deur se naam “John” is. Met ander woorde God het ʼn plan.  Wat doen die persoon? Hy sê: “Nee, dit kan nie wees nie.”  Hy kom by die man en hy is toe bereid om vir hom die slotte oop te sluit dat hy kan deurgaan. Hy vra hom toe wat sy naam is en hy antwoord: “John, meneer.”  Dit voel toe vir hom of iemand hom met koue water gooi. Niks gaan nou fout gaan met John nie, maar hy het ʼn “blessing” gemis.  Wat sou in John se lewe gebeur het as hy gesê het: “John man, kan jy asseblief die deur vir my oopsluit?”  Hy sou vra hoe die persoon geweet het dat sy naam John is. Die persoon sou kon antwoord dat die Here dit op sy hart gelê het en dat hy baie kosbaar is vir die Here. John en die persoon sou op ʼn ander planeet gewees het. Dit is “awesome” en dit wil God doen. Jy moet net beskikbaar wees en iemand wat ʼn speler is en wat op die veld is, is beskikbaar in die koninkryk en is besig en maak tyd daarvoor.
  • .       ʼn Speler gaan gereeld ʼn getuienis hê.  Wanneer laas het jy by ʼn selgroep of by jou vriende kom sit met ʼn vars getuienis?  Wanneer laas het jy ʼn getuienis gehad van die Here se goedheid in jou lewe?  ʼn Speler het gereeld ʼn getuienis.
  • .       ‘n Mens hoef net te luister na iemand wat ‘n wedstryd gespeel het. Al was jy daar en het jy alles gesien.  Jy moet ná die wedstryd gaan sit en alles weer oor hoor.  Hy borrel, want hy was op die veld en hy het dit geniet.  Jy hoor tot die volgende wedstryd van dié wedstryd en dan gebeur daar iets nuuts en daar is voortdurend ʼn gesprek oor of dit nou krieket of rugby is waar daar iets beleef is. As jy betrokke is in die koninkryk, nie in die kerk nie, maar daar op die markplein waar die mense siek en moeg en moedeloos is, gaan jy voortdurend ʼn getuienis hê.
  • .       Ander mense sal in ʼn speler se lewe sien hoe hulle groei. Jy was dalk baie kort van draad en jy kom by die werk en iemand staan op jou plek en nou sorteer jy dit uit op ʼn rustige manier. Die ou stap daar weg en hy besef dat jy nie meer so “agro” is soos jy was nie. Hulle sal dit nie vir jou sê nie, maar iemand wat met die Woord en die beloftes in die koninkryk van God besig is, daar is voortdurend persoonlike groei van heerlikheid tot heerlikheid.
  • .       Iemand wat ʼn speler is in die koninkryk van God, gaan anders deur moeilike omstandighede.  Die toeskouer is die een wat “sulk” en kla en by almal hul lot gaan bekla. Ons het almal daardie neiging, maar ʼn speler sê: “Here, wys my net hoe moet ek my seile in hierdie wind span sodat ek spoed kan kry.”  Dit is die een wat opstyg soos ʼn arend wat die wind gebruik om uit te styg. Dit is wat Jak. 1:2-3 skryf – “Ag dit loutere vreugde my broers as allerhande versoekings oor jou pad kom, want die beproewing van die geloof bewerk lydsaamheid”. As die speler dit verstaan, gaan hy anders deur moeilike omstandighede.  Die omstandighede is nie dadelik weg nie, maar jy gaan dit heel anders hanteer en die “blessing” omdat jy God daarby betrek, gaan net soveel groter wees. Maar jy gaan dit net kan doen as jy betrokke is en besig is in die koninkryk.
  • .       As jy ʼn speler is, sal jy ʼn vreugde en ʼn vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Dit bly keuse op keuse op keuse. Nie een van ons is gevrywaar van moeilike omstandighede nie.  Ons is nie gevrywaar van seer nie.  Almal van ons maak ook foute, maar as jy besig is met die Woord, dan lei die Here jou. Jy leer en jy ontdek en daar is ʼn vrede, ten spyte van moeilike omstandighede wat alle verstand te bowe gaan.  Jy kan dalk hierdie week voor groot vergaderings of hofsake wees wat jy weet dat jy nie skuldig is nie en jy kan te midde van die moeilike omstandighede ʼn vrede en vreugde hê wat alle verstand te bowe gaan.
  • .       Nou kom hul dalk by die werk en hulle roep die werkers in en hulle kondig aan dat die besigheid toe gaan maak. Die ouens wat nie deel is van die koninkryk nie en nie verstaan van hoe dit daarbuite werk nie, is die ouens wat in ʼn depressie gaan en op medikasie gaan; dít is die ou wat hom so doodskrik. Maar die ou wat weet waar lê sy troos en wat weet Wie by hom is en weet hoe dit werk in die koninkryk, dit is die een wat sê: “Dit is nie lekker nie, maar dankie Vader, U het beloftes vir my gegee,” en hy begin die beloftes proklameer en daarop staan. Dit is keuse op keuse, en dit is dan wanneer die ander by die werk kyk en sê: “Hoe kry hy/sy dit reg?” Dit is wat ʼn vreugde en ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan, bewerk. 
  • .       Ek wil jou uitdaag vandag. Jy weet of jy ʼn toeskouer is en of is jy ʼn speler in die koninkryk. Ek glo almal wil die dinamika van God se krag ervaar.  Raak betrokke met die Woord se uitdra, dat die Woord deur jou sal uitgaan.  Die Woord is “dinamus”. Dit is soos ʼn “dinamo” – hoe meer jy daarmee besig raak, hoe sterker word dit. ʼn Dinamo is ʼn wieletjie wat jy teen jou fiets se wiel gesit het wat gekoppel is aan ʼn lig. Hoe vinniger die wieletjie draai, hoe meer krag genereer dit en hoe skerper skyn die lig.  Daardie woord kom van Hand. 1:8 af. En julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom en almal van julle het dit.  As kind van God het jy dit klaar in jou.  Die geheim is – daar waar die tekkie die teer slaan. Laat die wieletjie maar teen die tekkie kom. Hoe meer jy dit gaan uitgee en hoe meer jy daarmee gaan betrokke raak, hoe sterker gaan die krag deur jou begin vloei, maar dit bly jou keuse.

Ek vertrou dat jy 2018 as speler sal toetree indien jy nog as toeskouer besig is.

Liefde, Louwrens en Hettie.