Dinsdag 24 November 2015

Konings en Kerke

Met my vorige skrywe het ek dalk so ‘n paar kontroversieële onderwerpe aangeraak. Maar dit het my net tot die gevolgtrekking gebring dat mense nie die boodskap van die Bybel ken of wil ken nie.
Daar is so baie mense wat jou nou skielik vra of ons dan moet optree soos Moses dit uitgelig het in Levitikus dat daar so ‘n lang lys is van mense wat gedood moet word indien hulle sekere sondes gedoen het, een van die natuurlik dieselfde geslag seksueele oortreding. Nou word die mense sommer warm onder die kraag want ons ken dan soveel mense wat so is en wil jy nou dat al die mense gedood moet word.

Ongelukkig verstaan die mense nie waarvoor Jesus gekom het nie. Ekself, saam met almal op aarde verdien die dood as gevolg van sonde. Dit maak nie saak watter sonde jy in spesialiseer nie, sonde se straf bly die dood.

Maar nou beskryf Paulus dit vir ons so pragtig in Romeine 5: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat ‘n voorbeeld is van Hom wat sou kom. Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here”.(Rom 5:12-21)

So ek hoef nie die mense dood te maak nie want Jesus het juis vir alle sonde gesterf. Al wat my plig is om mense te oortuig met my lewe, nie my woorde nie want 80% van my woorde sien mense en die ander 20% hoor hulle, dat daar vergifnis vir alle sonde is. Maar dan moet daar bekering wees. Ek kan nie maar voortgaan in my sondige lewe nie, want dan sal ek nie vergifnis verkry nie, en sal ek skuldig voor die HERE staan in Openbaring 20.

Paulus gaan aan met sy argument in hoofstuk 6: Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.” (Rom 6:1-4) “Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? (Rom 6:10-16)

So ons hoef nie besluite te neem of sondaars die reg het om in ons kerke te kom nie. Indien hulle wil voortgaan met hulle sonde kan hulle mos maar hulle eie groep stig en daarheen gaan. Maar ons wil mos nou juis hierdie mense by ons laat tuis voel. Maar, dan lig Jakobus dit baie goed uit. “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is”. (Jas 4:1-4) Meeste van die wat die sonde in volhard, wil juis niks met die Bybel se boodskap te doen hê nie, maar tog sal ons vir hulle sonde (regte) veg.


Hiermee sal ek maar volstaan oor die onderwerp. So as jou koning van jou groep sê dis reg dan moet jy hom maar gehoorsaam, want hy/sy is koning oor jou kerk, en jy kan nie teen die koning rebelleer nie. Hy sal wel eendag verantwoording moet doen vir sy optrede.