Donderdag 13 April 2017

My verstaan van liefde volgens die Bybel

Ek wil vandag oor iets skryf wat ek maar min oor praat. Iets wat ontsettend baie na aan my hart is, maar wat ek nog altyd maar huiwerig was om oor te skryf.

Ek kry sovele mense wat nie kan glo dat ek kanker het nie, want ek tree nie altyd op soos een wat kanker het nie. Of hulle kan nie verstaan dat ek maar net kan aangaan met my lewe nie. Partykeer kry ek die gevoel dat baie mense dink dat ek in ontkenning lewe, of dat ek dalk glad nie so ernstig siek is as wat ek dit dalk vir hulle beskryf nie.

Nou kom ons by dit wat ek graag vandag oor wil skryf.

Daar is basies vir my twee redes waaroor ek so leef soos wat ek leef en my optrede bepaal. Ek moet erken dat daar van die goed is wat ek nie altyd oor gelukkig voel nie, maar dit is wanneer ek maar toegee dat dit wat binne my is laat kop uitsteek of sommer net in goeie ou boeretaal, laat ontplof. Of in gewone taal ek net my top blaas. So dit is maar die mees algemeenste rede hoekom ek dalk probeer om nie betrokke te raak by omstandighede wat my omkrap nie, want ek weet nooit wanneer die gebeure my gaan bring by die punt waar ek net genoeg gehad het en alles wat ek mee opgekrop loop het, kop uitsteek. Dit is so dat dit nie vir my of die persone om my ‘n goeie ondervinding is nie, want ek sê baie goed wat mense dalk nie sal dink is woorde wat hulle met my sal vereenselwig nie. Ek het al, en partykeer sukkel ek nogsteeds om dit nie te doen nie, mense aangevat het wat doen wat vir my as Christen net onaanvaarbaar is. Hettie weet maar al te goed van die kant want sy is die een wat my tot bedaring kry, en partykeer voel ek nie lus om af te sien daarvan nie. Soos wanneer ek kommentaar sal lewer op ‘n koerant berig en dan skielik uitvind dat daar mense opkom op my lys van mense wat ek as vriende kan bysit op my Facebook rekening wat ek nog nooit iets mee te doen gehad het nie, en ek maar net weereens besef dat in vandag se dae jy maar baie versigtig moet wees oor wat jy sê.

‘n Goeie voorbeeld wat wel die regte uitwerking gehad het was baie jare gelede, vroeg 2002, toe die program Uit en Tuis nog op ‘n Vrydagaand op TV2 uitgesaai is. In die een program het die regisseur haar eie new age denke volgens my net te vêr gevat en het ek hulle aangekla by die Broadcasting and Complaints Commission of South Africa (BCCSA) en gesê dat die program mense verlei omdat hulle dink dit is ‘n gesins program, maar eintlik probeer hulle soveel as moontlik mense te kry om te dink new age is niks nie, so dit kwalifiseer as ‘n godsdiens program. Die standpunt het toe al ‘n geruime tyd op die program kop uitgesteek. Gelukkig het hulle saam met my gestem en is die program na ‘n Sondag geskuif omrede dit eerder as ‘n godsdiens program gesien moes word as gesinsvermaak. So baie mense sal sê ek is ‘n ou korrelkop, maar vir my is daar geen grys areas nie. Net soos Jesus sê ek maar: “En Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (Luk 9:49-50) So ek sal nie sommer teen iemand optree nie, maar dan moet dit nie ten koste van die regte verduideliking wees nie.

Altyd twee om aan te dink.

Eerstens leef ek nie vir myself nie, maar vir Hettie. Daar is geen lewe sonder haar op aarde vir my nie. Sy is die een wat daar is vir my, maak nie saak hoe ek voel nie. Deur dik en dun altyd daar. Sy is die een wat my nog altyd tot bedaring kan kry, en net sonder dat ek om vergifnis te vra, te vergewe. En dit is waarom ek kan veg want met my siekte is dit dalk makliker om op te gee en die siekte die oorhand oor my te laat kry, maar ek kan nie die lewe indink sonder haar nie, of dat sy sonder my moet aangaan nie.

Ons is later hierdie jaar al 45 jaar getroud en is een van die mooi dae al 47 jaar bymekaar, en was daar van my kant af en sover ek van haar kant af weet, nog nooit eers ‘n gedagte om die een sonder die ander een te lewe nie. Ja, daar was tye wat dit nie altyd maklik was nie, en dan was dit maar my skuld, maar die Bybel beveel my dat die man sy vrou sal lief hê. Dit is nooit net ‘n gevoel nie, maar ‘n opdrag van die HERE om jou vrou lief te hê. En dan sal die HERE jou verhouding seën. Dan sal hy jou koester en beskerm in alle situasies. Dan kan jy ten spyte van dit wat die vyand probeer, en glo my hy is baie kwaad en probeer baie hard, nog doen wat verliefdes doen en hand aan hand elke dag rondloop, al is daar tye waar ek net in staat is om na my blomme te gaan kyk wat sy baie keer voor moet sorg. Dan kan ek stilletjies uitglip by die deur agter en vir haar ‘n roos gaan pluk om net vir haar te wys ek is nogsteeds lief vir haar. Mense moet ook onthou op ons ou dorpie is daar verseker niemand wat vir jou ‘n ruiker kan opmaak en stuur nie, want daar bestaan nie ‘n mark daarvoor nie, en verseker dus ook nie ‘n aanvraag daarvoor nie. Om blomme by ons te kry maak die vervoerkoste dit net nie lonend nie. So ‘n enkele roos, of ‘n tros blomme is al wat ons vir mekaar kan gee. En dan gebeur dit ook dat ons die blomme aan die plant laat bly, veral as jy sien dat ‘n nuwe loot by een van jou rose tot 9 knoppe uitsteek en ons weet dat om dit aan te los, dit vir ons sommer ‘n week of twee sal hou, en jy elke dag ‘n ruiker vir die ander een kan gee. Al is dit dieselfde tros blomme aan dieselfde roos.

So my lewe gaan verseker nie oor myself nie, maar ek lewe vir haar, en ek weet ook dat sy vir my lewe.

Die Bybel as riglyn

Die eerste gedeelte het gehandel oor my verhouding met Hettie, maar dit is gebou op my liefde vir die HERE. Johannes beskryf dit so mooi vir my in 1 Johannes 4: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.” (1Jn 4:7-11) Hoe het Jesus dit gestel: “En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.”  (Luk 10:26-28)

Wie is my naaste? My naaste naaste is my lewensmaat, en dit is hoekom ek die stuk ook so geskryf het hoekom Hettie altyd eerste kom. Hoe kan ek sê dat ek die HERE liefhet as ek nie my naaste naaste, my vrou, liefhet nie. Daarna kom my familie, ongeag van hulle sienings of foute, hulle is immers my kinders, my broers en susters.

Die volgende naaste is mense wat glo dat Jesus die Christus is. En dit is die rede waarvoor ek geroep is, en dit is om kinders van die HERE te help om op die nou paadjie te bly. Dit is so maklik om van die pad af te draai en jou te wend na wat mense verkondig, sonder om dit Bybels te ondersoek en dan te volg. Ons lewe vandag in ‘n era waar polities korrekte optrede hoër geag word as die Bybel, en dit is wat vir my dit moeilik maak om mense te laat insien dat hulle ten alle tye sal doen wat die HERE van ons verwag.

Daar is sovele gedeeltes in die Bybel wat vir ons wys hoe ons moet lewe, maar ons wil mos altyd graag mense volg wat hoog geag word in die samelewing. En ek dink dit is waar die eerste probleem ontstaan. Die mense se uitspraak is gewoonlik as volg: “Weet jy as jy net hierdie persoon se preke na luister,of hierdie ou se kamp bywoon gaan jy ‘n ander persoon wees.”

Maar ons lees in Handelinge van ‘n ander maatstaf. “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.” (Hnd 17:10-12) Hierdie gedeelte is seker een van die grootste probleme wat ek by mense bespeur, en dit is dat net terwyl die persoon op ‘n kansel of verhoog staan, lees uit die Bybel, dan kan ek maar agteroor sit en alles aanvaar wat die persoon kwytraak. Ons het lui geword om op ons hoede te wees om regtig onderskeid te kan maak tussen dit wat ons hoor of dit die waarheid is, en of dit net dalk ‘n boodskap is waarvan Jesus, Paulus, Johannes en Petrus ons waarsku.

Jesus se waarskuwing: “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Mat 24:10-12)

Paulus: “Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies; hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.” (1Ti 1:5-7) “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2Ti 4:3-4)

Johannes: “1Jo_2:18  Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. 1Jo_2:22  Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. 1Jo_4:3  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. 2Jo_1:7  Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.”

Petrus: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.” (2Pe 2:1-3)

Ek het spesifiek Jesus se gedeelte ingesluit uit Mattheus 24, want in die hoofstuk word die toekoms soos Jesus dit vir ons uitgelig het, gestel van Sy tyd af tot die einde van die aarde wanneer die sesde seël oopgemaak word, en dan in hoofstuk 25 vertel Hy ons wat Sy maatstaf gaan wees om te onderskei tussen die skape, die werklike kinders van die HERE, en die bokke, die wat godsdiens aanbid. Daar is drie kriteria wat Hy gaan gebruik. Die eerste gaan soos met die maagde wat gewag het vir die Bruidegom om te kom, waar daar onderskeid getref gaan word tussen die wat deur die Heilige Gees gelei word elke dag en die wat nie die Helige Gees leiding het nie, dan die tweede kriteria of jy jou talente tot Sy eer gebruik het, of vir jouself of glad nie gebruik het nie, en dan die laaste kriteria of jy jou naaste lief gehad het met die daad of nie.

Indien jy my verduideliking van die twee hoofstukke wil naspeur, dit is op my webtuiste by: http://shamaministries.org.za/wp/blog/2017/03/31/mattheus-24-en-25-verduidelik-olyfberg-prediking-van-jesusolivet-discourse/

Nou waaroor wil ek dan in hierdie tweede gedeelte skryf? Ons lees spesifiek wat Jesus as maatstaf gaan gebruik om te bepaal of ek ‘n skaap of ‘n bok is. Die afgelope maand of wat was ons nou tweekeer op die plaas terwyl Hettie moes gaan vir chemo na haar bilaterale mastektomie, en lê daar nog vier chemo sessies voor vir haar en dan 4 weke van bestraling elke dag. Maar dit is ‘n bysaak en nie waaroor ek nou skryf nie. Ons het saam gekyk na twee opnames van programme wat op DSTV uitgesaai is waar Bobbie en Karlien van Jaarsveld by betrokke was. Die eerste een was waar hulle moes help om geld in te samel vir ‘n tehuis wat na babas kyk wat weggegooi is deur hul ouers, en dan die tweede een oor werk wat hulle by ‘n kleuterskool gedoen het waar daar ook vir kinders kos gegee word. Meeste van die kinders woon in karavane saam met hul ouers of familie wat of nie werk nie, of nie die geld het om op ‘n ander manier te lewe nie. Van die kindertjies kry Vrydagmiddag ‘n groot ete by die skooltjie, en dan is hul eerste kos weer ontbyt Maandagoggend by die skool. Ek kan en sal nie die ouers oordeel nie want ek het nie die inligting om tot ‘n slotsom te kom nie, en elke geval is gewoonlik uniek.

Maar nou kyk ek na die gesamentlike biddag wat uitgeroep is vir 22 April waar almal om en by ‘n miljoen mense gaan verwag. Nou sien ek dat daar busse en alles gereel word om die Sondag vir 2 ure aftesonder en te bid vir ons land. Die idee het ek regtig geen probleem mee nie. Maar, wanneer ek kyk na wat mense sê hoe hulle daar gaan kom, dat daar tot mense is wat van oor die wêreld af gaan vlieg om die byeenkoms by te woon, kan ek net wonder hoeveel geld mense daarop gaan spandeer. Ek sien jy kon indien jy vroeg genoeg was ‘n lugversorgde bus kon kry om saam met ander van Pretoria af na Bloemfontein ry vir R650 per persoon. Nou is al daardie busse vol en kan jy by dieselfde plek nog ‘n kaartjie kry vir R850 per persoon, net daar is nie lugreëling nie. Dit sluit glo twee maaltye in. Ander het ek weer van gehoor wat so om en by R3000 en meer gaan spandeer om daarheen te gaan, en dan is dit net brandstofkostes.

Nou wonder ek net hoeveel geld gaan die naweek spandeer word, en hoeveel minder bevooregte mense se omstandighede met die bydraes drasties verander sou word indien ons dit as ‘n fondsinsameling sou gebruik. Indien ek die syfers van die laaste MMC 2010 gebruik, het dit gemiddeld R500 gekos om daar te wees. Ek weet nou nie of dit kos ingesluit het nie, want ek was nie daar nie. Daar was glo om en by 300,000 mans die naweek daar, so as ek so ‘n vinnige sommetjie maak is daar ‘n minimum van R150 miljoen daardie naweek gespandeer. Ek dink ek kon nogal ‘n groot verskil in baie mense se lewens kon maak met so ‘n bedrag. So met ‘n miljoen mense dink ek sal ons seker hier by die R600 miljoen kon insamel en regtig baie meer werk kon doen as wat Bobbie en Karlien op hul program kon doen. Ek weet hoe mense optree wanneer hulle niks het en jy vir hulle net ‘n sak met ‘n paar appels gee wat ek by boere verniet gekry het. Ek moes dit net gaan haal. Dat ‘n ou omie my om die nek val en vir sy sê vrou “Sien die HERE bestaan, Hy het ons gebed gehoor.” Dan vind jy uit dat hy die Saterdagoggend moes kies tussen R15 se maalvleis of ‘n sak appels. Hy wou so graag ‘n appel hê, maar moes besluit dat die maalvleis darem iets is wat hulle die week lank sal kan eet.

Maar, ek weet ons moet vas en bid, want dit is wat ons geleer word om te doen. En dit is immers waaroor die dag gaan, want ons vra mos dat die HERE ons omstandighede moet verander. Hy het immers vir Israel uit Egipte laat trek en hulle omstandighede drasties verander. Ons moet mos net bid en dan kan ons terug sit en kyk hoe die HERE ons lot en land sal verander. Ek kan onthou hoe dieselfde sameroeper geprofeteer het dat Thabo Mbeki die parlement nog sal open met skriflesing en gebed, en ek wag nogsteeds.

Maar, ongelukkig is dit nie die boodskap wat Jesus gepredik het nie, en ook nie een van die profete nie. Wat sê Jesaja daaroor? “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes. Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God. Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? —Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak. As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jes 58:1-14)

Hierdie is presies dieselfde maatstaf wat Jesus gebruik in Matteus 25, maar ons sal mos eerder gaan en onsself geniet om net die “teenwoordigheid” van die HERE te ervaar. Maar weet jy dat Jesus sê waar twee of drie in my naam vergader is Hy ook daar. So gebruik liewer jou geld om ‘n verskil in mense se lewensomstandighede te maak en so te verseker dat jy die wil van die Vader doen, as wat jy duisende rande spandeer om ‘n twee uur lange byeenkoms by te woon wat net mense wat alreeds het, net ryker maak. Kry eerder ‘n paar vriende bymekaar en gaan deel die Woord en middele met die wat nie so gelukkig is soos jy nie.

Maar ongelukkig wil ons maar soos die mense optree wat Jesus ons juis teen waarsku: “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Matt 24 10-12)