Dinsdag 20 Desember 2016

Kersfees: Opstanding

Ons kan nie Kersfees van Christus se opstanding skei nie. Jy sal moontlik dink aan die opstanding as 'n Paasfees boodskap, maar die geboorte van die Kind in die krip kan nie geskei word van die Man aan die kruis nie. God se boodskap aan ons tydens beide geleenthede, is een en dieselfde.
Terwyl die herders na die baba in die krip gestaar het, het hulle 'n Verlosser gesien wat die hele mensdom sou verlos. Toe die wyse manne Hom aanskou het, het hulle 'n Koning wat die dood sou oorwin, gesien. Toe die profete vooruitgekyk het na sy tyd, het hulle 'n Bevryder gesien, wat tronkdeure sou oopmaak, boeie sou oopsluit en die gevangenes sou vrylaat. Hulle het almal hulle visie gehad van wie Jesus was en waarom Hy gekom het.
Christus was gebore in die wêreld van duisternis en ongeloof, toe God se volk onder die vreesaanjaende greep van die Romeinse Ryk geleef het. Israel se godsdienstige leiers het nie veel hoop gebied nie. Die Fariseers het geglo verlossing was haalbaar deur werke; hulle het God se wette opgerol in 'n rigiede stelsel wat onmoontlik was om uit te voer. Die Sadduseers het nie eens in die opstanding geglo nie. Baie min mense het enige visie van 'n ewige bestaan gehad. Dit was die duisternis waarin Jesus gebore is.
As ons kyk na die krip in Bethlehem, sien ek die opstanding kom. Ek sien Koning Jesus die vloedgety van die ewige lewe inlei. Christus was volkome mens by geboorte - dit was Maria se bloed wat Hom in die baarmoeder gevoed het en haar melk wat Hom gevoed het deur sy kinderjare - maar sy geboorte was ook 'n uitbarsting van die ewige. Die Bybel sê, "Die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan" (Mattheus 4:16).
Hierdie lig was die ewige lewe - die moontlikheid van opstanding uit die dood. Hosea het geprofeteer van die komende Messias, "Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf?" (Hosea 13:14). Toe Jesus gekom het, het Hy hierdie profesie vervul en gesê, "Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie" (Johannes 11:25-26).
Jesus self verbind sy geboorte met die opstanding: "Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag" (Johannes 6:38-40).
Christus het in wese gesê, "Weet julle waarom Ek hier is? Weet julle waarom Ek in armoede gebore was, waarom die herders my bewonder het, waarom die wyse manne geskenke gebring het, waarom die engele gesing het daardie nag? Dit is sodat julle die ewige lewe kon hê." Christus se belydenis wys direk na die opstanding: grafte wat oopgaan, die dooies wat lewend word en die hoogste vervulling van God se ewige verbond.
Die Opstanding is die klem dwarsdeur die Nuwe Testament.
Die eerste kerkleiers het Christus se vleeswording as 'n realiteit aanvaar. Hulle prediking het egter nie rondom daardie geleentheid gesentreer nie, maar rondom die opstanding. So vroeg as die Bovertrek byeenkoms by Pinkster, het Petrus gesê, "Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word' (Handelinge 2:23-24).
Oral waarheen Paulus en die ander apostels gereis het, het hulle prediking verder gegaan as Christus se vleeswording en wonderwerke, om te vorder tot by die opstanding: "Toe het hulle...in Thessalonika gekom, waar 'n sinagoge van die Jode was. En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgele en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gese: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus" (Handelinge 17:1-3).
By Mars Heuwel in Athene, het Paulus gepreek, "Omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek" (Handelinge 17:31).
Paulus het ook gepreek oor die opstanding toe hy voor die Romeinse goewerneur Felix en voor Koning Agrippa verskyn het. Sonder die opstanding, het Paulus gesê, is al ons prediking van Christus se evangelie inderdaad verniet. Hy verduidelik waarom: "En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes" (1 Korinthiers 15:17). Paulus sê in wese vir ons, "As dit nie alles oor die opstanding gaan nie, kan julle vergeet van die Kersfees boodskap. Waarom die geboorte van Christus verkondig? Waarom heilig wees? Waarom hoegenaamd geestelike sake najaag? Sonder die opstanding, bly ons dood in ons sondes. Alles wat ons doen, is verniet."
Hierdie is nie net een of ander abstrakte teologiese waarheid nie. Hier is die punt van al ons verkondiging van die opstanding: JESUS HET GEKOM OM JOU EN MY TE KRY. Hy was gebore om te leef en te sterf en op te staan uit die dood - en ons op te wek tot die ewige lewe saam met Hom. Hy het gekom om ons huistoe te neem na Hom toe vir die hele ewigheid!
Dit was die boodskap van die Nuwe Testamentiese kerk. "Maar nou, Christus is opgewek uit die dode: Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het" (1 Korinthiers 15:20). Met ander woorde, net so seker as wat die Gees Christus uit die dood opgewek het, sal Hy ons ook opwek: "Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel" (2 Korinthiers 4:14).
Terwyl ek binne-in die krip kyk, sien ek 'n brug. Christus is die brug tussen die aarde en die hemel, wat die afgrond van die dood oorkruis en die tydelike lewe van die ewige lewe skei. Eendag sal ons daardie brug oorsteek en dit sal plaasvind in 'n oogwink: "In 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Korinthiers 15:52).
Talle Christene wonder, "Wie sal ek eerste sien wanneer ek opgewek word in die ewigheid?"
Ek is oortuig dat wanneer hierdie oomblik kom, sal ons almal vir Jesus eerste wil sien. Hy is Liefde wat vlees geword het - ons Verlosser, Geneesheer en Koning. Die Bybel sê daar is geen huwelike in die hemel nie, maar daar is liefde, want Hy is liefde. Almal sal een in Christus se liggaam wees en ons sal mekaar herken met 'n geestelike intuisie. Die Skrif sê, op daardie oomblik sal ons ken, net soos ons geken word.
Miskien het jy nie grootgeword met 'n liefdevolle vader of moeder nie. Miskien het niemand in jou huis Jesus geken of ooit sy kosbare liefde aan jou betoon nie. Jy wonder, "Wie sal daar vir my wag?" Ek sê vir jou, jy het ander familie - die familie van God. Ek is oortuig daar is niemand in Christus se liggaam wat nie voor gebid is deur iemand wat voor hom gekom het nie - 'n ouer man of vrou, 'n herder, 'n vêrlangse familielid. Jy sal herken en omhels word met die familieliefde wat God vir jou voorberei het in die ewigheid.
Astronome het melkwee ontdek wat groter is as wat ons ons kan indink, asook planete deurslaggewend groter as die aarde. Dit is niks vir die Skepper van hierdie uitgestrekte heelal om sy skepsels uit die dood uit op te wek nie.
Paul Harvey vertel die storie van 'n ateïs wetenskaplike wat vir dekades lank na kollege kampusse gereis het om klas te gee oor hoe onmoontlik dit is dat God kan bestaan. Jare later het hierdie man 'n Christen geword. Wanneer hy ook al gevra is waarom hy hom bekeer het, het hy met een woord geantwoord: "DNA."
Binne-in elke mens is hierdie verstommende ontdekking genaamd DNA. Dit is 'n unieke identifiseerder so akkuraat dat iemand skuldig bewys kan word van 'n misdaad as sy DNA by die misdaadtoneel gevind word. DNA is kompleks, tog kan dit uit iets so eenvoudig soos 'n haar geneem word. Daarin, het wetenskaplikes 'n "genetiese kode" ontdek met biljoene stukkies inligting, wat as dit aaneen verbind word, uniek is aan daardie persoon.
Wie het hierdie ongelooflike verskynsel geskep wat die verstand te bowe gaan? Wie het die unieke genetiese kode van elke mens geken sedert Adam en Eva? Slegs God. Hy het nie net elke haar op ons hoofde getel nie, maar het ons unieke DNA op elke string gedruk. Dit is wat die ateïstiese wetenskaplike nederig gemaak het: die manjifiekheid van 'n Skepper en sy ewig-indrukwekkende skepping.
God ken die DNA van elke mens wat ooit geleef het - en Hy weet hoe om dit te rekonstrueer wanneer Hy ons op die laaste dag opwek. Dit behoort alle vreemde leerstellinge wat onstaan het oor die jare oor die opstanding tot ruste te laat kom. Sommige sê daar kan nie 'n liggaamlike opstanding wees vir mense wat veras of bloedige dode gesterf het nie; hulle kan nie verstaan hoe God dit kan doen nie. Dit is in werklikheid ons verbeeldings wat nie die heerlikheid van God kan peil nie. Ons breine is te beperk.
Ons weet wel dat die liggame wat God uit die graf sal bring, veranderde liggame sal wees. Sommige dink ons sal geeste wees, maar die Bybel maak dit duidelik ons sal liggaamlik opgewek word. Alles beskadig, afgekap of vernietig, sal binne 'n oogwink herstel word. Krom mense sal regop loop. Die blindes sal sien. Diegene wat gebreklik is van geboorte af of in oorloë gesneuwel het, sal heelgemaak word. Hulle DNA sal volmaak gemaak word deur hulle Skepper!
Ek dink ook aan die opstanding wanneer ek hartseer, eensame mense sien tydens Kersfees.
Ek wil vir hulle almal vertel: "Daar is 'n nuwe wêreld aan die kom - 'n wêreld sonder sonde, armoede of siekte. Dit is waarom Hy gekom het - om ons na die nuwe wêreld te neem wat Hy geskep het. Dit is vêr bokant enigiets wat ons kan verstaan. Jou Koning kom om jou te kom haal!"
In die tussentyd, is die opstandingslewe reeds vir ons beskikbaar - in hierdie lewe. Ons is beloof, "Sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel" (Romeine 6:4).
Laat ons hierdie Kersfeestyd, hierdie Christusfeestyd 'n opstandingsingesteldheid hê. Soos Paulus vermaan, "Maar, broeders, ek wil nie hê dat hulle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring...Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thessalonicense 4:13-14, 18).
"En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?...Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus" (1 Korinthiers 15:54-57).


Sondag 04 Desember 2016

Hoe goed ken jy die Bybel?

My grootste probleem met mense is dat hulle nie wil leer nie, of hulle word nie geleer nie. Nou sit ons met verdere probleme in die dat ons mense het wat verskillend glo. So kry ons die wat glo dat alle profesië en alle ander verwysings in Jesus vervul is, so ons hoef nie te kyk en te leer uit die Ou Testament nie, want ons is nou deel van die Nuwe Testament, met ander wat glo dat ons nogsteeds kan profeteer en wonderwerke nog gebeur. ‘n Verdere probleem is dat ons twee hoof groepe in Christenskap mee sit. Die wat onder ‘n koning staan, en die wat onder die koningskap van die HERE staan. Dit klink dalk snaaks, maar gaan lees 1 Samuel 8, dan sal jy sien wat ek bedoel. Die NG Kerk se sinode (so hulle koning en parlement) se besluit van ‘n paar weke gelede is vir my ‘n goeie voorbeeld van die wat onder ‘n koning staan. In die verlede as die sinode iets besluit het, was dit wet. So as die koning iets verklaar sal jy dit doen. Nou sê hulle elke gemeente moet besluit oor die LGBT kwessie, en nou is daar verwarring, want die leraars wat net bevele uitgevoer het, moet nou ewe skielik self besluit. Hulle moet nou self verantwoording neem, en dit weet hulle nie hoe nie want hulle kon in die verlede wegkruip agter sinode besluite. Stel jou voor dat die weermag skielik besluit dat die soldate kan besluit hoe hulle ‘n geveg wil aanpak, sonder dat hulle ‘n bevelvoerder of inligtings offisiere het. Dit is pandemonium.

Nou gee Paulus vir ons ‘n skrif wat ek nog nooit iemend oor hoor preek het in my lewe nie. 1Kor. 10 verse 1 -11. Vers elf som dit baie mooi op: “Maar al hierdie dinge het hulle (Israel) oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”  So Paulus sê Israel is ons voorbeeld en kan ons al ons antwoorde uit die Ou Testament gaan soek. 
Indien jy iemand sien iets verkeerd doen sê die HERE vir Esegiël die volgende: “As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.” (Eze 33:8-9) So dit is nie dat jy die persoon oordeel nie, jy doen slegs die wil van die HERE, maar dan moet jy die Woord reg ken en reg kan interpreteer en implementeer.

Hoe nou gemaak?

Wanneer ons na Israel se geskiedenis kyk sien ons die volgende: “En die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jy moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.” (Exo 7:1-2) So hier stel die HERE Moses as Sy verteenwoordiger aan, Aäron as sy profeet, so hy sal Moses se spreekbuis wees, en die Farao as die teenstander, of die Satan. So nou kan ek Israel se tog volg om te sien hoe hulle in Kanaän uitgekom het, wat hulle moes doen, en dit volg in my eie lewe om seker te maak dat ek in Kanaän uitkom, dit wat die HERE vir my het. Dit leer ons alles rondom die verbond, want Jesus is ons Lam en so kan ons aangaan. Nou kan ons sien hoe Paulus die mense waarsku om nie afgode te maak nie, seksueele sondes word veroordeel gebaseer op die tweede laaste hoofstuk van Rigters waar daar in die hoofstuk leer dat daar 65,000 manne omkom in drie dae as gevolg van ‘n paar mans se seksueele sonde, maar die oorgrote mederheid, 99%+ van die wat omkom omdat hulle dit goedgekeur het en nie wou gehoor gee om dit verkeerd te ag nie.

Dan leer ons ook dat die leiers sal sê soos Aäron gesê het toe hy die goue kalf gemaak het: “Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.” Eks 32 vers  24. Hy neem nie verantwoordelikheid  vir sy dade nie. Hy het nie die beloofde land gesien nie, en almal  saam met hom wat 20 jaar en ouer was is gedood in die woestyn. “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” (Heb 3:17-19)

Hoeveel van ons “groot” geldmakers uit Christenskap sê hulle kan nie verantwoordelik gehou word as hulle ‘n beroep doen vir finansieële ondersteuning en mense ondersteun hulle alhoewel die mense hulleself daarmee verarm. Die feit dat hulle vir jou sê dat indien jy ‘n groot nood het dat jy ‘n groot bydrae moet maak is volgens hulle nie omkoop nie. Of die feit dat hulle nooit sal praat oor sonde nie maar net altyd praat en posters maak wat net “goeie” boodskappe deel, is nie hulle saak nie. Onthou net jy kan nie die HERE omkoop nie, en Hy verwag nie van jou om te gee as jy nie het nie. “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees.” (2Co 8:12-14) Het  jy geweet dat die nommer 1 geldmaker  en tiende prediker in Christenskap sowat $700 miljoen sterk is. En dit is nie sy bediening se bates nie maar sy eie bates.

Wat probeer ek sê? Ons moet luister na die Heilige Gees. Die Nederlanse Geloofs Belydenis van die Calvinistiese Kerke sê net: “Ek glo in die Heilige Gees”. Wie of wat Hy is word nêrens bespreek nie, en jou gemiddelde lidmaat het nie ‘n clue wie of wat Hy is of doen nie. Maar dit is Sy werk: “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.” (Joh 16:7-11) So die Heilige Gees gaan kom om ons, alle mense van alle tale en volke, te oortuig van sonde sodat ons kan weet dat ons ‘n verlosser nodig het, en dan gaan Hy deur die Heilige Gees ons soos ‘n Moses vat op ‘n pad om in die werklike Kanaän uit te kom. Dit is ‘n tog wat vir elke Christen wag, maar ons moet kies of ons onder ‘n Koning wil staan of onder ‘n Herder wat ons sal neem na waar ons gevoed gaan word. Glo my daar is baie gemeentes, beide wat onder konings staan of onafhanklike gemeentes waar jy wel gevoed sal word, maar wees op die uitkyk wanneer hulle soos konings optree. Hoe weet ek of die herder ‘n koning of  ‘n leraar is? Indien die persoon wil heers is dit ‘n koning, maar ‘n leraar gaan jou vra waarmee jy gehelp kan word. In die Ou Testament het die priesters nie geheers nie, maar namens mense ingetree. So dit is die karaktertrek wat jy by ‘n leraar soek, iemand wat jou eerste stel en jou verhouding met die HERE wil verbeter.  Lees ‘n bietjie Esegiël 34 en kyk wat hy sê hoe herders sal optree in ons tyd, en vergelyk dit met wat Petrus en Paulus van praat. “Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.” (2Pe 2:17-21)

So begin te lees en vra dat die Heilige Gees jou sal bystaan elke dag en elke oomblik van jou lewe. Dit is ‘n pad wat soveel genot kan verskaf as jy die regte rigting kies. Dit is ook die pad wat ek neem met predikers wat graag meer wil leer, of mense wat wil seker maak dat hulle in die hemel sal opeindig. En dit is my roeping. Ek wil so graag dat elke persoon die boodskap van die Bybel verstaan en nie net hulle groep of koning se interpretasie nie. So ek vra nie dat jy jou gemeente moet prys gee nie, maar dat jy soos die gemeente in Berea van die Bybel sal optree. “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.” (Hand 17:10-12) Die enigste geskrifte wat hulle gehad het was die Ou Testament. So indien jy elke dag net ‘n “goeie opbouende” boodskap kry, gaan ondersoek die skrifte soos die gemeente. Maar dit is wat ons mos met al ons Facebook vriende deel, of amen op moet sê.  Petrus se woorde is as volg: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1Pe 1:13-16)

So op ander vrae soos of die doop jou red, wat baie mense jou wil wys maak dat jy nie die hemel daarsonder gaan beërf nie, nee, net die bloed van Jesus kan jou red, maar jy kan net eenkeer gedoop word en dit is wanneer jy uitkom onder die gesag van die Farao, die duiwel en jou onder die heerskappy van die Vader sit soos toe Israel uit Egipte getrek het. En dit kan jy slegs doen nadat jy die eerste keer Nagmaal gebruik het. Lees maar Romeine 6 oor wat Paulus daaroor sê. Dit gaan maar terug na die werking van die Heilige Gees, want eers as jy besef jy het ‘n verlosser nodig, kan jou paadjie begin.

Daar bestaaan nie iets soos backsliders nie, nee hulle is sondaars en indien hulle onder die bloed van Jesus gekom het en besef het wat dit beteken, is hulle volgens Paulus verdoem. ‘n Voorbeeld hiervan is in Jeremia vir ons opgeteken: “Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Egipte te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vryraak of ontvlug van die onheil wat Ek oor hulle bring nie. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Soos my toorn en my grimmigheid uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my grimmigheid oor julle uitgestort word as julle na Egipte trek; en julle sal wees ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing, van vervloeking en van smaad, en julle sal hierdie plek nie meer sien nie. Die HERE het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku. Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die HERE julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die HERE onse God vir ons; en net soos die HERE onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen. So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die HERE julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie. Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.” (Jer 42:17-22) Dan is daar ook Hebreërs 6: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Heb 6:4-6)

Daarom dat ons leer in die profete en Openbaring dat slegs een derde van mense wat hulself Christene noem, gered sal word met die oordeel in Openbaring. Die ander twee derdes is deel van die hoer. Die HERE is nie ons speelmaat nie, en ook nie iemand wat ek op die rak kan sit totdat ek Hom volgende keer nodig het en daarna weer op die rak kan sit nie. Nee, ons hele lewe moet deur Hom beheer word. Sodra ek onder Sy bloed kom, moet ek my vol eet van die Lam, daar moet nie nog geleentheid of plek gemaak word vir ‘n Egiptiese burger nie.

Aangesien hierdie seker die laaste bedieningsboodskap vir die jaar is wat ek sal deel, wil ek vra dat jy dit as een van jou oogmerke sal stel om 2017 ‘n jaar te maak waar jy gaan leer wat die Bybel se boodskap is. Dat jy nie maar net weer dieselfde boodskappe jaar vir jaar sal hoor nie maar nooit vorder in jou verhouding en geloof in die HERE nie. Dat ons aan die einde van aanstaande jaar kan sê dat ons nou die melkkos geloof verstaan en kan aangaan na vaste spys, soos vir ons uitgelig word in Hebreërs 5 en 6. Ek sal wel nog een of twee oor ons lewe met kanker deel hierdie jaar, hang maar af wat Hettie se diagnose is en wanneer ons die uitslae kry van haar biopsie van die knop in die bors. Sovêr weet ons dat die dokter gesê het dat dit ‘n soliede massa is.

Mag jy hierdie tydperk waar baie mense ‘n breuk vat, jy jou tyd met jou geliefdes sal geniet en dat julle verhouding as huisgesin sal groei, so ook julle verhouding met die Vader, Jesus as Sy Seun en dan met die Heilige Gees wat ons elke dag wil bystaan. Seën op hierdie paadjie en mag jy die nabyheid van die HERE in hierdie tyd voel en jou dryf om meer van Hom te leer.