Sondag 04 Desember 2016

Hoe goed ken jy die Bybel?

My grootste probleem met mense is dat hulle nie wil leer nie, of hulle word nie geleer nie. Nou sit ons met verdere probleme in die dat ons mense het wat verskillend glo. So kry ons die wat glo dat alle profesië en alle ander verwysings in Jesus vervul is, so ons hoef nie te kyk en te leer uit die Ou Testament nie, want ons is nou deel van die Nuwe Testament, met ander wat glo dat ons nogsteeds kan profeteer en wonderwerke nog gebeur. ‘n Verdere probleem is dat ons twee hoof groepe in Christenskap mee sit. Die wat onder ‘n koning staan, en die wat onder die koningskap van die HERE staan. Dit klink dalk snaaks, maar gaan lees 1 Samuel 8, dan sal jy sien wat ek bedoel. Die NG Kerk se sinode (so hulle koning en parlement) se besluit van ‘n paar weke gelede is vir my ‘n goeie voorbeeld van die wat onder ‘n koning staan. In die verlede as die sinode iets besluit het, was dit wet. So as die koning iets verklaar sal jy dit doen. Nou sê hulle elke gemeente moet besluit oor die LGBT kwessie, en nou is daar verwarring, want die leraars wat net bevele uitgevoer het, moet nou ewe skielik self besluit. Hulle moet nou self verantwoording neem, en dit weet hulle nie hoe nie want hulle kon in die verlede wegkruip agter sinode besluite. Stel jou voor dat die weermag skielik besluit dat die soldate kan besluit hoe hulle ‘n geveg wil aanpak, sonder dat hulle ‘n bevelvoerder of inligtings offisiere het. Dit is pandemonium.

Nou gee Paulus vir ons ‘n skrif wat ek nog nooit iemend oor hoor preek het in my lewe nie. 1Kor. 10 verse 1 -11. Vers elf som dit baie mooi op: “Maar al hierdie dinge het hulle (Israel) oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”  So Paulus sê Israel is ons voorbeeld en kan ons al ons antwoorde uit die Ou Testament gaan soek. 
Indien jy iemand sien iets verkeerd doen sê die HERE vir Esegiël die volgende: “As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.” (Eze 33:8-9) So dit is nie dat jy die persoon oordeel nie, jy doen slegs die wil van die HERE, maar dan moet jy die Woord reg ken en reg kan interpreteer en implementeer.

Hoe nou gemaak?

Wanneer ons na Israel se geskiedenis kyk sien ons die volgende: “En die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jy moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.” (Exo 7:1-2) So hier stel die HERE Moses as Sy verteenwoordiger aan, Aäron as sy profeet, so hy sal Moses se spreekbuis wees, en die Farao as die teenstander, of die Satan. So nou kan ek Israel se tog volg om te sien hoe hulle in Kanaän uitgekom het, wat hulle moes doen, en dit volg in my eie lewe om seker te maak dat ek in Kanaän uitkom, dit wat die HERE vir my het. Dit leer ons alles rondom die verbond, want Jesus is ons Lam en so kan ons aangaan. Nou kan ons sien hoe Paulus die mense waarsku om nie afgode te maak nie, seksueele sondes word veroordeel gebaseer op die tweede laaste hoofstuk van Rigters waar daar in die hoofstuk leer dat daar 65,000 manne omkom in drie dae as gevolg van ‘n paar mans se seksueele sonde, maar die oorgrote mederheid, 99%+ van die wat omkom omdat hulle dit goedgekeur het en nie wou gehoor gee om dit verkeerd te ag nie.

Dan leer ons ook dat die leiers sal sê soos Aäron gesê het toe hy die goue kalf gemaak het: “Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.” Eks 32 vers  24. Hy neem nie verantwoordelikheid  vir sy dade nie. Hy het nie die beloofde land gesien nie, en almal  saam met hom wat 20 jaar en ouer was is gedood in die woestyn. “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” (Heb 3:17-19)

Hoeveel van ons “groot” geldmakers uit Christenskap sê hulle kan nie verantwoordelik gehou word as hulle ‘n beroep doen vir finansieële ondersteuning en mense ondersteun hulle alhoewel die mense hulleself daarmee verarm. Die feit dat hulle vir jou sê dat indien jy ‘n groot nood het dat jy ‘n groot bydrae moet maak is volgens hulle nie omkoop nie. Of die feit dat hulle nooit sal praat oor sonde nie maar net altyd praat en posters maak wat net “goeie” boodskappe deel, is nie hulle saak nie. Onthou net jy kan nie die HERE omkoop nie, en Hy verwag nie van jou om te gee as jy nie het nie. “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees.” (2Co 8:12-14) Het  jy geweet dat die nommer 1 geldmaker  en tiende prediker in Christenskap sowat $700 miljoen sterk is. En dit is nie sy bediening se bates nie maar sy eie bates.

Wat probeer ek sê? Ons moet luister na die Heilige Gees. Die Nederlanse Geloofs Belydenis van die Calvinistiese Kerke sê net: “Ek glo in die Heilige Gees”. Wie of wat Hy is word nêrens bespreek nie, en jou gemiddelde lidmaat het nie ‘n clue wie of wat Hy is of doen nie. Maar dit is Sy werk: “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.” (Joh 16:7-11) So die Heilige Gees gaan kom om ons, alle mense van alle tale en volke, te oortuig van sonde sodat ons kan weet dat ons ‘n verlosser nodig het, en dan gaan Hy deur die Heilige Gees ons soos ‘n Moses vat op ‘n pad om in die werklike Kanaän uit te kom. Dit is ‘n tog wat vir elke Christen wag, maar ons moet kies of ons onder ‘n Koning wil staan of onder ‘n Herder wat ons sal neem na waar ons gevoed gaan word. Glo my daar is baie gemeentes, beide wat onder konings staan of onafhanklike gemeentes waar jy wel gevoed sal word, maar wees op die uitkyk wanneer hulle soos konings optree. Hoe weet ek of die herder ‘n koning of  ‘n leraar is? Indien die persoon wil heers is dit ‘n koning, maar ‘n leraar gaan jou vra waarmee jy gehelp kan word. In die Ou Testament het die priesters nie geheers nie, maar namens mense ingetree. So dit is die karaktertrek wat jy by ‘n leraar soek, iemand wat jou eerste stel en jou verhouding met die HERE wil verbeter.  Lees ‘n bietjie Esegiël 34 en kyk wat hy sê hoe herders sal optree in ons tyd, en vergelyk dit met wat Petrus en Paulus van praat. “Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.” (2Pe 2:17-21)

So begin te lees en vra dat die Heilige Gees jou sal bystaan elke dag en elke oomblik van jou lewe. Dit is ‘n pad wat soveel genot kan verskaf as jy die regte rigting kies. Dit is ook die pad wat ek neem met predikers wat graag meer wil leer, of mense wat wil seker maak dat hulle in die hemel sal opeindig. En dit is my roeping. Ek wil so graag dat elke persoon die boodskap van die Bybel verstaan en nie net hulle groep of koning se interpretasie nie. So ek vra nie dat jy jou gemeente moet prys gee nie, maar dat jy soos die gemeente in Berea van die Bybel sal optree. “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.” (Hand 17:10-12) Die enigste geskrifte wat hulle gehad het was die Ou Testament. So indien jy elke dag net ‘n “goeie opbouende” boodskap kry, gaan ondersoek die skrifte soos die gemeente. Maar dit is wat ons mos met al ons Facebook vriende deel, of amen op moet sê.  Petrus se woorde is as volg: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1Pe 1:13-16)

So op ander vrae soos of die doop jou red, wat baie mense jou wil wys maak dat jy nie die hemel daarsonder gaan beërf nie, nee, net die bloed van Jesus kan jou red, maar jy kan net eenkeer gedoop word en dit is wanneer jy uitkom onder die gesag van die Farao, die duiwel en jou onder die heerskappy van die Vader sit soos toe Israel uit Egipte getrek het. En dit kan jy slegs doen nadat jy die eerste keer Nagmaal gebruik het. Lees maar Romeine 6 oor wat Paulus daaroor sê. Dit gaan maar terug na die werking van die Heilige Gees, want eers as jy besef jy het ‘n verlosser nodig, kan jou paadjie begin.

Daar bestaaan nie iets soos backsliders nie, nee hulle is sondaars en indien hulle onder die bloed van Jesus gekom het en besef het wat dit beteken, is hulle volgens Paulus verdoem. ‘n Voorbeeld hiervan is in Jeremia vir ons opgeteken: “Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Egipte te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vryraak of ontvlug van die onheil wat Ek oor hulle bring nie. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Soos my toorn en my grimmigheid uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my grimmigheid oor julle uitgestort word as julle na Egipte trek; en julle sal wees ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing, van vervloeking en van smaad, en julle sal hierdie plek nie meer sien nie. Die HERE het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku. Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die HERE julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die HERE onse God vir ons; en net soos die HERE onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen. So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die HERE julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie. Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.” (Jer 42:17-22) Dan is daar ook Hebreërs 6: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Heb 6:4-6)

Daarom dat ons leer in die profete en Openbaring dat slegs een derde van mense wat hulself Christene noem, gered sal word met die oordeel in Openbaring. Die ander twee derdes is deel van die hoer. Die HERE is nie ons speelmaat nie, en ook nie iemand wat ek op die rak kan sit totdat ek Hom volgende keer nodig het en daarna weer op die rak kan sit nie. Nee, ons hele lewe moet deur Hom beheer word. Sodra ek onder Sy bloed kom, moet ek my vol eet van die Lam, daar moet nie nog geleentheid of plek gemaak word vir ‘n Egiptiese burger nie.

Aangesien hierdie seker die laaste bedieningsboodskap vir die jaar is wat ek sal deel, wil ek vra dat jy dit as een van jou oogmerke sal stel om 2017 ‘n jaar te maak waar jy gaan leer wat die Bybel se boodskap is. Dat jy nie maar net weer dieselfde boodskappe jaar vir jaar sal hoor nie maar nooit vorder in jou verhouding en geloof in die HERE nie. Dat ons aan die einde van aanstaande jaar kan sê dat ons nou die melkkos geloof verstaan en kan aangaan na vaste spys, soos vir ons uitgelig word in Hebreërs 5 en 6. Ek sal wel nog een of twee oor ons lewe met kanker deel hierdie jaar, hang maar af wat Hettie se diagnose is en wanneer ons die uitslae kry van haar biopsie van die knop in die bors. Sovêr weet ons dat die dokter gesê het dat dit ‘n soliede massa is.

Mag jy hierdie tydperk waar baie mense ‘n breuk vat, jy jou tyd met jou geliefdes sal geniet en dat julle verhouding as huisgesin sal groei, so ook julle verhouding met die Vader, Jesus as Sy Seun en dan met die Heilige Gees wat ons elke dag wil bystaan. Seën op hierdie paadjie en mag jy die nabyheid van die HERE in hierdie tyd voel en jou dryf om meer van Hom te leer.

Geen opmerkings nie: