Vrydag 09 September 2016

Die goue kalf is ‘n gebeurtenis wat ‘n geweldige impak op ons lewens het, en dit is wat afspeel gedurende die tydperk wat Moses op die berg was om die wet van die HERE te ontvang. Paulus het dit vir ons opgeteken in 1 Korintiërs: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.

Die stuk verwys na Exodus 32, waar Israel gewag het vir Moses om van die berg af te kom. “15 En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand, tafels wat op altwee kante beskrywe was; hulle was op die een en op die ander kant beskrywe. 16 En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer”. Ons lees in die geskiedenis dat die mense na Aäron gaan en vir hom sê dat hy vir hulle moet afgode maak want Moses kom nie terug nie. Nou volg die gedeelte oor hoe hy toe die goue kalf gemaak het. “Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. 5 Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE. 6 En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.” ‘n Baie interesante gedeelte is dat Aäron sê hy het net die goud in die vuur gegooi en toe spring die goue kalf daaruit. U sien ons wil ook nie erken dat dit ons handewerk is nie, dit het sommer vanself gebeur.

Dit is die gedeelte wat Paulus hier aanhaal. Maar hoekom juis die gedeelte? Daar is so baie simboliek wat hier afspeel waarna ons kan kyk. Eerstens moet ons onthaou dat die HERE vir Moses geroep het met ‘n spesifieke roeping. “Eksodus 7:1 En die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.” So Moses is aangestel as God se verteenwoordiger en sy broer as die profeet, so hy moes die spreekbuis van God wees. Nou gaan Moses weg, net soos Jesus ook weg is huidiglik om vir ons plek te gaan berei, en die volk, so in ons tyd die lidmate van die verskillende gemeentes, dring daarop aan dat die Kerk moet verander, en die bestuur van die kerke stem saam. Die leiers bring al hierdie afgode dienste in, en sê dit is hoe ons nou gaan “kerk hou”. Aäron bou selfs ‘n altaar en kondig aan dat hulle die volgende dag ‘n fees vir die HERE gaan hou, met die goue kalf as die hoof trekpleister. Maar, wat het gebeur? Moses word terug gestuur na die volk met die oorspronklike beloftes na die volk, en hy gooi dit stukkend wat ons daarop wys dat die Ou Verbond deur die HERE verbreek sal word aangesien Israel nie vir Jesus as God wou aanvaar nie. Nou gaan Moses terug en kry die tweede stel woorde by die HERE, en dit wys op die Nuwe Verbond wat vir alle mense gemaak is. Dit is ook interesant dat Moses die tweede stel tafels moet maak, waar die eerstes deur die HERE voorsien is. Dit dui ook daarop dat die mens die oorspronklike verbond gebreek het en daarom moes die tweede of nuwe verbond van die mens se kant af herstel word, en daarvoor moes Jesus as mens dit kom herstel. Nêrens word ook na die tafels as die tien gebooie verwys nie, aangesien dit reeds in hoofstuk 20 aan die volk meegedeel is. Hierdie tafels word slegs as die tafels van die Getuienis genoem in die Bybel. Wat alles daarop geskryf was word nooit verder vir ons weergegee nie.

Verder wys dit ook daarop dat die afval sal kom deur die leiers van die Kerk in ons dae, omdat hulle sal toegee aan die lidmate se versoeke, en het ons dit reeds gesien met die kerke se siening oor seksueele wanpraktyke en ander gebruike, veral die uit die ooste, wat hulle goedkeur. Verder sal ons oplet dat Paulus ook verklaar dat nie een van die mense in Kanaän ingegaan het nie, behalwe Kaleb en Josua se stamme wat God geglo het. So sal dit ook in ons dae wees, dat niemand wat deel in hierdie vernuwing, of soos dit eintlik uitgespel is in Eksodus, afgodediens, se name in die boek van die lewe sal staan nie. Slegs die kinders wat 20 jaar en jonger was, is in die beloofde land in, so hulle was die oudstes wat Kanaän ingegaan het, want hulle was te jonk om self verantwoordelikheid te neem vir hul dade, hulle ouers moes die verantwoordelikheid dra.

So dit beantwoord ook die vraag van Openbaring 18 vir ons wie die hoer is. “4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. 5 Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. 6 Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het. 7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie 8 daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. Dit val saam met wat Jesaja in hoofstuk 1 vir ons ook uitlig. “21 Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars! 22 Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. 23 Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie. 24 Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande!”

Ons lees verder in Eksodus 32 die volgende wat Moses gesê het: “Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. 27 En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. 28 En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval. 29 Toe het Moses gesê: Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE—want elkeen is teen sy seun en teen sy broer—sodat Hy vandag ‘n seën oor julle kan gee. 30 En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het ‘n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die HERE opklim: miskien kan ek vir julle sonde versoening doen. 31 En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. 32 Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! 33 Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek. 34 Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek. 35 So het die HERE dan die volk getref, omdat hulle die kalf gemaak het wat Aäron vervaardig het.”

So ons leer hier dat indien jy deel het aan die afgodediens wat ons vandag mee te doen het, die persone se name uit die boek uitgedelg sal word. Daar is soveel kerke en mense wat leer eenmaal gered, altyd gered, maar dit is nie wat hier staan nie. Nee, die HERE sal jou naam uitwis uit die boek van die lewe indien jy jou voeg by die wat ontrou is en afgodediens beoefen. Dit word ook bevestig in Esegiël 18 en Hebreërs 6. Lees die hoofstuk in Esegiël en jy sal geskok wees oor wat daar staan. Ek sluit die gedeelte van Hebreërs hier in: “4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 6 en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” Dit sluit ook aan by wat die HERE vir Moses gesê het toe Moses net na die goue kalf episode vergifnis gaan vra het. Eks. 32 34: “Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek.”

Die gedeelte is ‘n uittreksel uit my boek “Teologie vir Jan Alleman”. Ek het nou die jongste weergawe op my webtuiste en kan dit gratis daar afgelaai word. Klik maar net op die skakel hier onder en dit sal jou direk na die boek toe neem. Ek hoop julle geniet dit net soos ek dit geniet het om dit te skryf en na te vors die afgelope 20 jaar. Dit mag dalk vir u as leser voel dat ek net die veroordelings promoveer, maar dit is nodig dat ons albei kante van die HERE leer ken, dat ons daardie vrees van die HERE weer kan herstel, en nie net wegkruip agter al die voorspoed versies in die Bybel nie. En net die predikers aanhang wat ons laat goed voel met hul breë klimlagte wat hul kenmerke is nie.

Hier dan die skakel: http://www.shamaministries.org.za/boeke/Teologie%20vir%20Jan%20Alleman.pdf