Vrydag 19 Februarie 2016

Vers 7“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.”

7. Vers 7“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.” Nou kom ons eers by die laaste twee deugde uit. En dit is deugde wat die meeste mense dink eerste in jou lewe moet gebeur, maar tog vind ons hier dat eers wanneer ons aan die bo punt van hierdie leer kom, ons eers by liefde uitkom. En dit word in twee aparte deugde opgedeel, eerstens liefde teenoor jou mede broeders in die geloof, en dan naaste liefde. So broederliefde is hoe ek teenoor my huishouding, my mede Christen broeder en suster optree. Ons moet mekaar liefhê en daardie band sal lewenslank vir jou belangrik wees. Jy sal uit jou pad gaan om jou familie in die HERE te help sover as wat moontlik is. Dit is tog immers hoe ons binne ‘n huisgesin optree. Ons sal vir mekaar instaan, liefhê, en sommer net omgee. So hierdie is nie net om om te gee nie, maar om jou mede Christen as jou eie familie te aanvaar, want ons het almal een Vader en een Verlosser wat ons saamvoeg.
Dan kom ons by die laaste sport op die leer, en dit is naaste liefde. Dit is die liefde wat vir ons so mooi in 1 Kor.13 beskryf word. “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.” (1Kor 13:1-8) Van die Engelse vertalings gebruik die woord “charity” in die plek van liefde. Dit is eintlik vir my ‘n baie goeie manier om dit te beskryf, want wanneer ek liefdadigheidswerk doen, doen ek dit sonder om iets terug te verwag. En dit is wat Jesus vir ons kom doen het. Hy het Sy lewe vir ons gegee sonder dat ons dit gevra het of dit verdien het. En dit is wat naasteliefde beteken. Wanneer ek my alles gee vir iemand sonder dat hulle dit verdien of vra daarvoor. Eers wanneer ek daar kom het ek die boonste sport bereik, of het ek?
Vers 8 en 9: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (2Pe 1:8-9) So nou begin ons volgende seisoen saam met die HERE. En dit begin weer by die eerste trap, die deug. So iemand wat dalk meer as jy weet of waarna jy dalk opsien, het net al baie keer hierdie leer uitgeklim, en weer van vooraf begin. Dit is wat vers 8 vir ons so mooi uitdruk “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem,”. So ek sal nooit ledig rondsit nie, maar ek sal elke keer weer voor begin en verder groei, tot die dag aanbreek wanneer ek my kop vir die laaste keer op hierdie aarde neerlê. Eers daarna, sal ek my eindbestemming behaal. Indien ek dink ek het dit nou gemaak en is tevrede waar ek nou is, dan tree vers 9 in werking: “want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.”
Ons moet regtig onthou dat Christenskap is nie ‘n gebeurtenis nie, maar ‘n pad wat ek elke dag en elke oomblik van die dag op moet toespits, sodat ek sal weet waar ek staan met die HERE.
Maar nou, wat as ek dalk faal in my poging om hierdie leer uit te klim? Kyk waar jy gefaal het, en spits jou toe om die beginsel weer te verstaan en gaan aan. Niemand van ons is volmaak nie, maar ons kan weet wanneer ons verkeerd optree, en dan kan ons onself toespits om die stap waar ons gefaal het, weer te bestudeer en seker te maak dat ons nie weer in die slagyster trap nie.
Maar Petrus bemoedig ons ook in die volgende vers, en dit is waar ek hoop elkeen van ons eendag sal by uitkom: “2Pe 1:10  Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”  Is dit nie ‘n fantastiese belofte nie. Dat indien ons onself toespits op hierdie deugde, daar ‘n tyd gaan kom waar ons nie meer sal struikel nie. So ons kan weet dat ons weet dat ons op die plek is waar die HERE ons graag wil hê.
Petrus sluit die hoofstuk af met ‘n bede wat ek graag wil uitspreek oor elkeen wat hier lees: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. (2Pe 1:19-21) So ek bid dat die Heilige Gees elkeen van ons sal lei en dat Hy elke profesie sal ontsluit met die regte betekenis, en nie soos deur een of ander teoloog vir ons voorgehou word nie.
So wat is die deugde van ‘n suksesvolle Christen: “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde."  (2Pe 1:4-7)
Hoe vêr het jy al op jou leer gevorder? Hoeveel keer het jy al die leer in jou lewe al uitgeklim?
My gebed is dat ons elkeen hierdie pad sal baasraak, sodat ons werklik in broederliefde met ons mede gelowiges, kan leef.

Amen.

Donderdag 18 Februarie 2016

Die volgende deugde, selfbeheersing, lydsaamheid en godsvrug

Vers 6.Nou volg die volgende drie deugde of trappe op ons leer. “2Pe 1:6  en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,”. Nou nadat ons die kennis het van wie ons bruidegom is, moet ons kan kom by selfbeheersing. Dit is seker een van die moeilikste deugde, om nee te kan sê, en jouself ten alle tye te kan gedra. Ek weet hierdie is iets wat ons elke dag teen moet veg, maar weet jy dat indien ons die Woord regtig ken en die verbond se stappe gevolg het, word die stap vir ons sommer baie makliker. Want weet jy Satan en sy trawante het gesneuwel in die dooie see, die doopbad. Met die doop van die gelowige, verlaat jy Egipte, die plek waar Satan heers, en kom jy uit onder die eienaarskap van Satan en voeg jy jou by die HERE se volk onder Sy gesag, en kan ons ons wapens van Efesiërs 6 soveel makliker gebruik. Want ons weet ons kan onsself heilig en maagdelik hou vir ons bruidegom, maar dit gaan die volgende deug kos, en dit is lydsaamheid. Ons moet weet hierdie versoekings gaan nie maar net vanself ophou nie, dit gaan lydsaamheid kos om dit te weerstaan. Daar is ‘n gedeelte in Lukas wat dit vir my baie goed uitlig: “Wanneer ‘n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.” (Luk 11:21-22) So ons moet heeltyd waak en op die uitkyk wees vir hierdie goed wat ons selfbeheersing en lydsaamheid gaan toets. “Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” So ons kan die versoekings wat oor ons pad kom weerstaan, en so selfbeheersing aan die dag lê. Ek weet ons sien selfbeheersing meeste kere as iets waar ek nie mag teen uitvaar nie, maar ek dink Dawid het ook daaroor gewonder en die volgende kwytgeraak: “Psa 15:4  in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;”. So ek mag maar kwaad raak vir die goddeloses en dit het geen invloed op my selfbeheersing nie.
“Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2Pe 3:8-9) So die HERE leer ons ook om lydsaamheid te ken, want Hy wil dat alle mense tot die waarheid moet kom. Ons wil so graag dat die einde van hierdie lewe moet kom, maar die HERE wil graag dat elke persoon ‘n besluit sal neem om Hom te dien. Maar daar gaan ‘n dag kom wanneer dit te laat gaan wees om uit te stel om Hom as Bruidegom van jou lewe te maak.
Die laaste deug in die vers is die godsvrug. Dit beteken dat ek sal begin om heiligheid en geregtigheid uit te straal. Dit beteken dat ek sal begin om vrugte te dra wat by die bekering pas. Ek sal nie meer kan wegkruip agter verskonings nie, nee, ek sal moet kan pa staan vir dit wat in my lewe gebeur en hoe ek optree.
Ons is veronderstel om almal vroom of godvrugtig te wees en so te lewe. Die heel eerste en belangrikste eienskap van godsvrug is dat slegs iemand wat God ken, sal verstaan hoe hy in sy lewe van elke dag die beeld van God moet uitlewe. Ons is elke sekonde in God se teenwoordigheid, wat ons ookal doen en waar ons ook al is. As mens dit besef, dan moet dit jou lewe verander. Die Bybel praat ‘n hele paar keer van godsvrug of vroomheid. Die dinge wat elke keer gekoppel word aan die woord godsvrug of vroomheid, gee ‘n baie mooi inhoud van hoe iemand wat godvrugtig lewe, se doen en late na ander mense (en na God) toe oorkom. So lees ons in Handelinge 22:12 dat Ananías 'n man was wat vroom gelewe het. Hy het dus alles gehoorsaam gedoen wat die Here van hom verwag het. Die Bybel voeg dan iets bitterlik belangriks by: Ananías het goeie naam gehad by al die Jode wat daar woon. Presies dieselfde beginsels rondom godsvrug lees ons ook in Job se geskiedenis: Is jou godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel, jou verwagting nie? (Job 4:6) Heidene doen baie keer dinge wat vir die Here en sy heiligheid net totaal onaanvaarbaar is. Wanneer ‘n heiden tot bekering kom, moet sy lewe verander, sodat dit godvrugtig kan wees. Titus, (2:12) het daarom opdrag gekry om sy lidmate te leer dat hulle die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede moet verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld moes lewe. Dis presies wat godsvrug is - en presies wat van ons ook verwag word dat ons Godsvrug aan almal rondom ons sigbaar moet wees.
Later het Timoteus weer ‘n brief gekry waarin daar ‘n duidelike beskrywing was van mense in wie se lewens godsvrug (vroomheid) ontbreek. Kyk wat vind ons in 2 Timoteus 3:2-5 “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af”.

Woensdag 17 Februarie 2016

Die eerste twee deugde, deug (godsaligheid) en kennis. Vers 5 van 2 Petrus 1

B. DIE DEUGDE
Vers 5. “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,”. Nou begin ons by die deugde van die mees suksesvolste Christen. Die drie verse, (5, 6 en 7) lig hierdie deugdes vir ons uit. Dit laat my altyd dink aan ‘n leer, waar jy onder begin by dit waar almal is en gekry het, naamlik geloof. So sodra jy die eerste trap bereik het, lê die volgende trap vir jou voor. Jy kan ook nie sommer dink dat jy net vinnig dit kan klim nie, want jy moet met elke stap verseker dat die leer nog stewig staan voordat jy na die volgende trap kan gaan. Val jou leer om, dan moet jy maar weer van vooraf begin, en gly jou voet af na die vorige trap, moet jy maar net uithou en aanhou totdat jy bo kan uitkom. Ek weet nie een van ons hou van terugslae nie, maar miskien is daar nog iets wat jy op die vorige trap mis gekyk het en eers nog moet leer. Die ander eienskap wat ek by ‘n leer vind is dat iemand wat heeltyd afkyk nie maklik bo uitkom nie, want jy wil nie boontoe kyk nie. Maar jou hulp kom juis van bo af, want dan kan jy die res van die leer nog sien wat voorlê, en gee dit jou moed en por jou aan om seker te maak dat jy bo kan kom. Die ander gedeelte wat ek hieruit leer is dat ons as Christenne geloof kry as ‘n geskenk, en wanneer ons hierdie leer begin klim verander ons morele standaarde na Bybelse standaarde. En dit is iets wat die wêreldse mense en die lig gelowiges nie van weet nie, omdat hulle nie geloof het nie. So slegs die persone wat geloof ontvang het, sal hierdie leer kan uitklim. Ek hou nogal van die NASB(New American Standard Bible) se uitdrukking van “moral excelence”. Dit is wat die eerste trappie is, en dit is om jou morele standaarde te vestig. Indien die Bybel iets as verkeerd verklaar moet ons nie kom met slinkse stories om die gewoonte en sonde as niks af te maak nie. Dit is iets wat ons so baie kry by teoloë vandag wat die Bybel bevraagteken, of dit afmaak as iets wat nie meer vandag kan geld nie. Of hulle kom met voorstelle wat hulle met geen gedeelte in die Bybel kan vasmaak nie. Of hulle verskuif die klem na iets anders. So word byvoorbeeld gesê Sodom en Gomorra is verwoes omdat hulle nie na hul naaste omgesien het nie, maar Genesis 19 beskryf waaroor dit verwoes is, oor seksueele immoraliteit. Ons kan maar net terug dink aan die afgelope paar maande hoeveel van hierdie standaarde aangeval is. En dit is waar ons menseregte vandaan kom, want almal wil dat ons nie dit wat vir ons reg is meer mag toepas nie, want dit is “vernederend” vir die wat nie glo in die HERE nie. Ons het mos ons regte.
Die mense laat my dink aan ‘n gelykenis van Jesus. “Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.”(Mat 25:23-30.Die volgende trap wat ons moet baas raak is kennis. Hoe goed ken jy die Bybel? En die boodskap van die Bybel? Kan jy Christus aan mense bekendstel deur net die Ou Verbond te gebruik? Dit is waarvan Petrus hier praat. Ons moet weet wie die HERE is, in al drie vorme, Vader, Seun en Heilige Gees. Ons moet Hom intiem ken soos jy jou lewensmaat ken, indien jy wel jou lewensmaat liefhet, en nie net as ‘n slaaf gebruik nie. So ons moet die Bybel en die verlossingsboodskap ken. Ons moet weet hoekom goed gebeur het, en mense kan leer. Dit is tog wat ‘n dissipel is. Iemand wat soos sy meester geword het in alle aspekte. Iemand wat mense na kan opkyk en weet dat die persoon die HERE ken en liefhet. “En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” (Mar 12:32-34) Dit is die kennis wat ons moet leer. Daardie opgewondenheid wat jy gehad het die eerste paar kere wat jy jou lewensmaat ontmoet het, met jou hart wat hier in jou keel geklop het en waar jy nie kon wag vir die volgende kuier nie. Jesus is immers ons bruidegom waarmee ons in die huwelik bevestig gaan word as Sy bruid. Het jy nog daardie uitkyk in jou lewe dat jy soveel van Hom weet dat jy nie kan wag om eendag voltyds met Hom te wees nie. En dan sal ons Hom eers ten volle kan ken, soos ons lewensmaat.

Dinsdag 16 Februarie 2016

Hoe benader ons nou hierdie doelwit van godsaligheid?

A. Die antwoorde
Hoe benader ons nou hierdie doelwit van godsaligheid? Ons vind die antwoord op die vraag wanneer ons 2 Petrus 1 verse 1 tot 11 bestudeer. Ek wil graag dit op ‘n vers by vers metode benader sodat ons die antwoorde in die regte perspektief kan plaas, en nie gedeeltes buite hierdie perspektief gebruik nie. Dit beantwoord ook sommer ‘n hele aantal algemene vrae wat ek as Christen elke nou en dan oor wonder. Dit sal vir ons dan die vraag wat ons almal het van “Waarom is ek hier?”, ook beantwoord en betekenis aan gee.
Vers 1: “Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus:” Ons vind nou wie die skrywer van die boek is. Die outeur is Petrus wat ‘n apostel was en ‘n dienskneg is van Jesus Christus. ‘n Dienskneg van Jesus Christus was ‘n kneg vir iemand anders gewees, en nadat hy vrygekoop is en nie meer nodig het om die persoon se kneg te wees nie, hom weer willens en wetens weer as ‘n kneg vir iemand anders stel. Die Christen se vryheid is gekoop deur die bloed van Jesus Christus. “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” (1Pe 1:18-19). “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1Kor 6:19-20) Ons almal was eentyd diensknegte van Satan, maar nadat Jesus ons met Sy bloed losgekoop het, moet ons nou weer onsself as diensknegte van Jesus aanstel. Ek kan nie net verklaar dat ons nou vrygekoop is van die Satan nie, maar moet myself weer skaar by Jesus as Sy dienskneg. Ek moet dit uit myself doen en nie gedwonge voel om dit te doen nie. As Sy diensknegte sal ons Sy wil doen en Sy bevele gehoorsaam. Ons let ook op in die brief dat almal wat losgekoop is, geloof ontvang het. Romeine 12 vers 3 stel dit as volg: “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. So elke Christen het alreeds sy gawe van geloof ontvang soos wat God aan hom toebedeel het. Ons, vandag, is kinders van God “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” Joh 1 vers 12. So Petrus skryf dus die brief aan ons, as kinders en diensknegte van God.
Nou kom vers 2. “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!” Ons genade en vrede kan vermeerder word. Die Engelse vertalings gebruik die woord “muliplied”. So daar word nie net bygevoeg nie, maar dit word vermenigvuldig. Maar hoe word dit gedoen? Deur kennis van God en Jesus, onse HERE. Die woord kennis word 7 keer genoem in hierdie kort brief, en maak dit die kern van hierdie boek. Baie valse leraars sê dat hulle God ken, “Tit 1:16 Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.”, maar hulle dade spreek nie daarvan nie. En valse kennis en genade kan nie vermeerder nie.
Vers 3. “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.” So ons het alreeds alles ontvang wat ons benodig omdat Hy dit alreeds vir ons geskenk het. Ek het dit nie verdien nie, maar Hy het dit geskenk. So ons weet dat ons geroep is deur Hom, deur Sy heerlikheid en krag. Dit dwing ons dan ook om Hom te dien, want ons lewe is in Hom.
Vers 4: “Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.” Nie alleen is ons deur Hom geroep nie, maar het ons die grootste gawe wat ons kan kry, verkry. Ons het Sy kind geword, en weet jy wat Jesus is ook Sy kind, en het ons Sy natuur gekry. So ons het dieselfde natuur gekry as wat Jesus het. Nou kan ons wegvlug van alle begeerlikhede in die wêreld. Ons word nou seuns en dogters van die HERE. Ons het Jesus se natuur ontvang. As dit jou nie opgewonde maak nie, weet ek nie hoe om jou opgewonde te kry nie. Ons het al Jesus se mag alreeds in ons lewe. Wanneer ons kyk na Mattheus 28, sê Jesus as volg: “Mat 28:18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Besef jy dat jy dieselfde mag gekry het, want Jesus het ons ook kinders van die Vader gemaak. Het jy al daardie krag geproe en gebruik jy dit elke dag?

Maandag 15 Februarie 2016

Die agt deugde van die mees suksesvolste Christenne


Gebaseer op die 2de brief van Petrus

Ek wil graag in hierdie kort reeks kyk na die 8 deugde wat Petrus vir ons as Christenne uitlig en wat hierdie deugde vir ons beteken wanneer ons dit as ons waardestelsel gebruik . Maar voor ons daar kan kom moet ons eers kyk na wat beteken die woord sukses. Hoe definieër ons sukses?
Woordeboek betekenis: Gunstige beëindiging van 'n onderneming; dikwels, spesifiek, die bereiking van rykdom, roem, ens. As ons na wêreldse suksesse kyk kry ons name soos Bill Gates, Bill Clinton, Donald Trump, Warren Buffet en dalk ook Nelson Mandela. Maar wat van Billy Graham? Meeste mense sal sê dat hy baie gedoen het om die boodskap van Jesus uit te dra, maar sal hom nie sommer as een van die suksesvolste persone beskryf nie.
Maar ek wonder altyd oor die volgende vers wanneer ek aan sulke persone dink: Markus 8:36 “Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?
Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2Kor. 4:17-18) So Jesus vertel ons dat ons nie moet let op die sigbare tekens nie, maar na die onsigbare tekens wat vir ons saligheid, siel en gees, sal waarde toevoeg.  So dit gaan nie oor ons fisiese lewe nie, maar oor ons geestelike lewe waar ons op moet konsentreer en suksesvol moet wees. Ons moet konsentreer op dit wat ewigheids waarde het. Nou skryf Paulus ook die volgende aan Timotheus: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het. (1Ti 4:7-8) Nou kom ons nader aan die waarheid, en iets om na te streef en te bereik wat ewigheids waarde het. Maar dit gaan oefening en dissipline verg om by die punt uit te kom waar dit nie net vir die lewe hierna nie, maar ook ons lewe nou gaan beïnvloed. Nou kom ons nader aan ‘n definisie van werklike sukses vir Christenne. ‘n Gedissiplineerde najaag van ‘n godsalige lewe sal vir ons sommer ‘n dubbel dosis sukses inhou, beide fisies en geestelik.
Bybelse sukses word dan gedefinieer volgens hoeveel godsaligheid ons bereik tydens ons lewe hier op aarde.
Nou het ons ons doel gedefinieër: om godsaligheid te bereik. So ons moet onsself disiplineer om die doel te bereik soos wat ons vind atlete dit doen om sukses op hulle gekose vlak te bereik, of akedemiese persone wat hulle toewy om hul doel te bereik, of ‘n besigheids persoon wat graag die hoogste sport in sy besigheid wil bereik. Hulle lewe en wy hulle self toe om hierdie doel van hulle te bereik, maar dit kos disipline en toegewydheid. Dit is hoe ons dit ook moet doen. Ons godsaligheid moet die hele tyd ons hoogste prioriteit wees, en dit is wat ons moet nastreef.
Dit is ook hoekom Jesus gesê het: “Mat 6:24  Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” So ons moet ons godsaligheid najaag met dieselfde erns as wat jy jou besigheids sukses najaag. Ek sê verseker nie jy moet jou werk los en nou net jou godsaligheid najaag nie, maar jy moet dit in dieselfde lig sien soos jy jou hele lewe sien. Dit is nie net maar iets wat ek elke nou en dan aandag aan spandeer nie. Dit moet heeltyd iets wees wat ek nastreef om te bereik.