Donderdag 18 Februarie 2016

Die volgende deugde, selfbeheersing, lydsaamheid en godsvrug

Vers 6.Nou volg die volgende drie deugde of trappe op ons leer. “2Pe 1:6  en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,”. Nou nadat ons die kennis het van wie ons bruidegom is, moet ons kan kom by selfbeheersing. Dit is seker een van die moeilikste deugde, om nee te kan sê, en jouself ten alle tye te kan gedra. Ek weet hierdie is iets wat ons elke dag teen moet veg, maar weet jy dat indien ons die Woord regtig ken en die verbond se stappe gevolg het, word die stap vir ons sommer baie makliker. Want weet jy Satan en sy trawante het gesneuwel in die dooie see, die doopbad. Met die doop van die gelowige, verlaat jy Egipte, die plek waar Satan heers, en kom jy uit onder die eienaarskap van Satan en voeg jy jou by die HERE se volk onder Sy gesag, en kan ons ons wapens van Efesiërs 6 soveel makliker gebruik. Want ons weet ons kan onsself heilig en maagdelik hou vir ons bruidegom, maar dit gaan die volgende deug kos, en dit is lydsaamheid. Ons moet weet hierdie versoekings gaan nie maar net vanself ophou nie, dit gaan lydsaamheid kos om dit te weerstaan. Daar is ‘n gedeelte in Lukas wat dit vir my baie goed uitlig: “Wanneer ‘n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.” (Luk 11:21-22) So ons moet heeltyd waak en op die uitkyk wees vir hierdie goed wat ons selfbeheersing en lydsaamheid gaan toets. “Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” So ons kan die versoekings wat oor ons pad kom weerstaan, en so selfbeheersing aan die dag lê. Ek weet ons sien selfbeheersing meeste kere as iets waar ek nie mag teen uitvaar nie, maar ek dink Dawid het ook daaroor gewonder en die volgende kwytgeraak: “Psa 15:4  in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;”. So ek mag maar kwaad raak vir die goddeloses en dit het geen invloed op my selfbeheersing nie.
“Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2Pe 3:8-9) So die HERE leer ons ook om lydsaamheid te ken, want Hy wil dat alle mense tot die waarheid moet kom. Ons wil so graag dat die einde van hierdie lewe moet kom, maar die HERE wil graag dat elke persoon ‘n besluit sal neem om Hom te dien. Maar daar gaan ‘n dag kom wanneer dit te laat gaan wees om uit te stel om Hom as Bruidegom van jou lewe te maak.
Die laaste deug in die vers is die godsvrug. Dit beteken dat ek sal begin om heiligheid en geregtigheid uit te straal. Dit beteken dat ek sal begin om vrugte te dra wat by die bekering pas. Ek sal nie meer kan wegkruip agter verskonings nie, nee, ek sal moet kan pa staan vir dit wat in my lewe gebeur en hoe ek optree.
Ons is veronderstel om almal vroom of godvrugtig te wees en so te lewe. Die heel eerste en belangrikste eienskap van godsvrug is dat slegs iemand wat God ken, sal verstaan hoe hy in sy lewe van elke dag die beeld van God moet uitlewe. Ons is elke sekonde in God se teenwoordigheid, wat ons ookal doen en waar ons ook al is. As mens dit besef, dan moet dit jou lewe verander. Die Bybel praat ‘n hele paar keer van godsvrug of vroomheid. Die dinge wat elke keer gekoppel word aan die woord godsvrug of vroomheid, gee ‘n baie mooi inhoud van hoe iemand wat godvrugtig lewe, se doen en late na ander mense (en na God) toe oorkom. So lees ons in Handelinge 22:12 dat Ananías 'n man was wat vroom gelewe het. Hy het dus alles gehoorsaam gedoen wat die Here van hom verwag het. Die Bybel voeg dan iets bitterlik belangriks by: Ananías het goeie naam gehad by al die Jode wat daar woon. Presies dieselfde beginsels rondom godsvrug lees ons ook in Job se geskiedenis: Is jou godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel, jou verwagting nie? (Job 4:6) Heidene doen baie keer dinge wat vir die Here en sy heiligheid net totaal onaanvaarbaar is. Wanneer ‘n heiden tot bekering kom, moet sy lewe verander, sodat dit godvrugtig kan wees. Titus, (2:12) het daarom opdrag gekry om sy lidmate te leer dat hulle die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede moet verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld moes lewe. Dis presies wat godsvrug is - en presies wat van ons ook verwag word dat ons Godsvrug aan almal rondom ons sigbaar moet wees.
Later het Timoteus weer ‘n brief gekry waarin daar ‘n duidelike beskrywing was van mense in wie se lewens godsvrug (vroomheid) ontbreek. Kyk wat vind ons in 2 Timoteus 3:2-5 “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af”.

Geen opmerkings nie: