Dinsdag 16 Februarie 2016

Hoe benader ons nou hierdie doelwit van godsaligheid?

A. Die antwoorde
Hoe benader ons nou hierdie doelwit van godsaligheid? Ons vind die antwoord op die vraag wanneer ons 2 Petrus 1 verse 1 tot 11 bestudeer. Ek wil graag dit op ‘n vers by vers metode benader sodat ons die antwoorde in die regte perspektief kan plaas, en nie gedeeltes buite hierdie perspektief gebruik nie. Dit beantwoord ook sommer ‘n hele aantal algemene vrae wat ek as Christen elke nou en dan oor wonder. Dit sal vir ons dan die vraag wat ons almal het van “Waarom is ek hier?”, ook beantwoord en betekenis aan gee.
Vers 1: “Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus:” Ons vind nou wie die skrywer van die boek is. Die outeur is Petrus wat ‘n apostel was en ‘n dienskneg is van Jesus Christus. ‘n Dienskneg van Jesus Christus was ‘n kneg vir iemand anders gewees, en nadat hy vrygekoop is en nie meer nodig het om die persoon se kneg te wees nie, hom weer willens en wetens weer as ‘n kneg vir iemand anders stel. Die Christen se vryheid is gekoop deur die bloed van Jesus Christus. “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” (1Pe 1:18-19). “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1Kor 6:19-20) Ons almal was eentyd diensknegte van Satan, maar nadat Jesus ons met Sy bloed losgekoop het, moet ons nou weer onsself as diensknegte van Jesus aanstel. Ek kan nie net verklaar dat ons nou vrygekoop is van die Satan nie, maar moet myself weer skaar by Jesus as Sy dienskneg. Ek moet dit uit myself doen en nie gedwonge voel om dit te doen nie. As Sy diensknegte sal ons Sy wil doen en Sy bevele gehoorsaam. Ons let ook op in die brief dat almal wat losgekoop is, geloof ontvang het. Romeine 12 vers 3 stel dit as volg: “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. So elke Christen het alreeds sy gawe van geloof ontvang soos wat God aan hom toebedeel het. Ons, vandag, is kinders van God “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” Joh 1 vers 12. So Petrus skryf dus die brief aan ons, as kinders en diensknegte van God.
Nou kom vers 2. “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!” Ons genade en vrede kan vermeerder word. Die Engelse vertalings gebruik die woord “muliplied”. So daar word nie net bygevoeg nie, maar dit word vermenigvuldig. Maar hoe word dit gedoen? Deur kennis van God en Jesus, onse HERE. Die woord kennis word 7 keer genoem in hierdie kort brief, en maak dit die kern van hierdie boek. Baie valse leraars sê dat hulle God ken, “Tit 1:16 Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.”, maar hulle dade spreek nie daarvan nie. En valse kennis en genade kan nie vermeerder nie.
Vers 3. “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.” So ons het alreeds alles ontvang wat ons benodig omdat Hy dit alreeds vir ons geskenk het. Ek het dit nie verdien nie, maar Hy het dit geskenk. So ons weet dat ons geroep is deur Hom, deur Sy heerlikheid en krag. Dit dwing ons dan ook om Hom te dien, want ons lewe is in Hom.
Vers 4: “Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.” Nie alleen is ons deur Hom geroep nie, maar het ons die grootste gawe wat ons kan kry, verkry. Ons het Sy kind geword, en weet jy wat Jesus is ook Sy kind, en het ons Sy natuur gekry. So ons het dieselfde natuur gekry as wat Jesus het. Nou kan ons wegvlug van alle begeerlikhede in die wêreld. Ons word nou seuns en dogters van die HERE. Ons het Jesus se natuur ontvang. As dit jou nie opgewonde maak nie, weet ek nie hoe om jou opgewonde te kry nie. Ons het al Jesus se mag alreeds in ons lewe. Wanneer ons kyk na Mattheus 28, sê Jesus as volg: “Mat 28:18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Besef jy dat jy dieselfde mag gekry het, want Jesus het ons ook kinders van die Vader gemaak. Het jy al daardie krag geproe en gebruik jy dit elke dag?

Geen opmerkings nie: