Donderdag 28 Desember 2017

Nuwejaar 2018

Is jy ’n toeskouer of deelnemer?

Dit is my gebed vandag dat jy regtig, in die lig van wat ek vandag gaan sê, vir jou ʼn paar vrae gaan afvra.  Ek wil vandag vir jou vra of jy ʼn toeskouer is en of is jy ʼn speleris?  Ek sien in die liggaam van Christus ʼn algemene verskynsel en dit is dat mense gou-gou op ʼn plek kom waar hulle hul opgewondenheid verloor. Waar hulle hul entoesiasme teenoor die Woord verloor.

Ek weet nie of daar een area in die wêreld is waar daar meer boeke oor verskyn as geestelike boeke nie. Is die meeste boeke, as ons nou eerlik met mekaar is, nie ook maar net resepte nie? Ongelukkig is my skrywes nou nie van die aard nie en stel die uitgewers nie eers belang om dit te publiseer nie. Maar hulle sal vinnig die boeke wat vir jou sewe stappe tot dit... Agt stappe tot dat...  publiseer. Dit is eintlik ʼn resep.  Ek het al hoeveel keer daaroor geskryf dat die Here nie volgens resepte werk nie. Maar dan kry iemand ʼn boek en hy is opgewonde en hy vertel vir almal hoe opgewonde die boek hom gemaak het, net om drie weke later weer by die ou te kom en hy is maar weer plat. Dan kry hy weer ʼn nuwe boek. Die probleem is dat ons nie verstaan hoekom ons wiele so gou pap word nie. Beslis lewe ons in ʼn wêreld waar daar baie negatiwiteit is en die negatiwiteit is oorweldigend. Dit is op lamppale en die internet vol daarvan, en die gesprekke is net negatief en mense verloor gou hul fokus. Ek dink dit is omdat ons nie in ons potensiaal stap nie. Ek dink nie ons weet wat is ons potensiaal nie. Ek dink nie ons weet wat is ons verantwoordelikheid nie. Ons sit partykeer die fokus op verkeerde plek. Ek wil dit vandag deur ʼn illustrasie probeer voorhou. As ek by ʼn motorhandelaar instap staan die motors daar en hulle was hulle elke dag dat hulle blink. Nou kom die ou baie vriendelik en hy begin vir jou vertel wat hierdie moter se vermoë is. Die motorkar gee ten minste twaalf km per liter in die dorp en as jy langpad ry en jy hou by 120 km/h, dan kan dit opgaan na dertien km per liter.  Hy vertel vir jou alles van hierdie motorkar, maar as jy na die kilometer-lesing kyk van die motor, staan dit op nul. Die motor het nog nie ʼn enkele km geloop nie. Hoekom kan die ou dan al die goed van die motor vertel?  Hy kan dit vertel, want hierdie motor is ʼn presiese replika van die prototipe, van die oorspronklike. Dit het iewers in ʼn tekenkamer begin en toe later in ʼn fabriek het hulle die motor ontwerp. Die eerste prototipe het deur al die toetse gegaan en toe hy die toets geslaag het, het hulle al die motors volgens daardie spesifikasies gebou. Dit is gewaarborg omdat dit in hom ingebou is.  As hierdie motor op die oop pad kom, kan ons met geloofwaardigheid sê dat dit die “output” is wat jy kan verwag. Dit is wat jy van hierdie motor kan verwag omdat die prototipe getoets is.

Ek wil vandag vir julle sê dat die liggaam van Christus nie naastenby volgens ons potensiaal leef nie, want ons is ʼn replika van die prototipe. Ons is ʼn afdruksel, ʼn beeld, ʼn gelykenis van die prototipe en dit is God self.  God kyk na ons en Hy is opgewonde oor elke een van ons. Oor elkeen wat hier lees.  Of jy vandag hartseer is of jy teleurgesteld is of wat ookal in jou gemoed aangaan, God is opgewonde oor jou, oor een rede.  Hy weet wat is jou potensiaal, want Hy ken Homself. Gen. 1:26 sê: “Laat Ons die mens maak na ons beeld, na ons gelykenis en laat hulle heers oor die voëls van die hemel en oor die visse van die see en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

Met ander woorde God het gesê: “Kom Ons maak hierdie mens na ons beeld en ons gelykenis.” Ek wil hê jy moet mooi dink oor hierdie stukkie, want dit klink te goed om waar te wees as iemand sê dat ons God se afdruksel is, ons is sy beeld, sy identika. “Nee nou klink jy soos die "New Age", jy maak ons nou God.”  “Nee, nee...” Ek vat net sy eie woord.  Daardie selfde uitspraak kan julle gaan lees in Gen. 5:1 en Gen. 9. ʼn Paar keer in Genesis sê God dat ons sy beeld en sy gelykenis is en dit praat nie net van geestelik nie, dit praat van potensiaal.  Hy het gesê dat ek en jy in sy plek moet heers. Kol. 10:3 sê dieselfde. Hy sê dat ons tot die kennis kan kom van die beeld van Christus sodat ons in sy plek kan heers en in sy plek kan stap.  Daar is dus ʼn paar Skrifte wat wys hoe God oor my en jou voel en hoe Hy ons sien en as Hy iets sê, dan bedoel Hy dit.

Nou sit ons as liggaam van Christus en weet julle, ons kla van die oggend tot die aand en ons beleef nie wat die Bybel sê nie.  Ons hoor wat die kerk sê, maar ons ervaar dit nie. Ons is maklik om vinger na buite te wys en ons is maklik om ander die skuld te gee.  Ons is maklik om ander die skuld te gee en ons is maklik om te sê dat dit is omdat dit en dat gebeur, maar die Here sê: “Nee, die potensiaal is in jou.” Dit waarna jy smag is klaar binne jou gedeponeer.  Ek het gewonder of ek dit twintig keer oor moet sê dat dit wat jy soek en dit waarna jy smag is klaar binne jou. Dit waarvan jy droom en waarna jy verlang en na smag en wat jy baie keer vir die Here vra, is klaar in jou gedeponeer. 

Daar is ʼn paar goed wat ons oor en oor sê en ek dink ons verloor die krag daarvan omdat ons dit sê en op daardie oomblik maak dit sin, maar ons word nie stil daaroor nie. Wanneer jy iets laat val, gaan dit grond toe. Die rede is voor die hand liggend. Swaartekrag, of jy dit nou glo of nie glo nie, dit werk. Spring van die dak af en jy sal gou daarin glo. Dit is vas en jy kan daaraan niks doen nie. Elke stelsel in die wêreld werk volgens ʼn vaste beginsel en ons het geen probleem daarmee nie en ons stap daarmee en ons sê dat dit aanvaarbaar is, maar sodra dit by die dinge van die Here kom, dan wil ons hê dat Hy volgens ons manier werk en as dit nie werk volgens ons oorleweringe en ons manier nie, dan het ons ʼn probleem. Dan begin ons die kredietwaardigheid van die Boodskap en God afskiet en dan begin ons verklarings te maak en sê dat dit eintlik nie vir vandag is nie. Wonderwerke is nie vir vandag nie. Dit was vir die Handelinge kerk en dit gaan eendag weer wees en so kry ons ʼn klomp verduidelikings om ons net in posisie te plaas, want dit kan darem nie ons wees nie. 

Gaan lees Gal. 4:7.  Hy sê dat jy ʼn erfgenaam is van God. Jy is sy kind.

Fil.3:20 sê dat jy sy ambassadeur is, want jou burgerskap is nie van hier nie.

Ons lees in Mattheus 28 die volgende: En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (Mat 28:18-20) ’n Dissipel is iemand wat alles doen wat sy meester doen. Nou sê Jesus dat Hy alle mag gekry het in die hemel en op die aarde. So wanneer ons Sy dissipel word, het ek ook alle krag in die hemel en op aarde.

As jy hierdie Woord gaan lees gaan jy sien dat God potensiaal in jou geplaas het om in sy plek te stap.  Jy is ʼn verteenwoordiger van die Hemel soos jy hier lees vandag.  Jy is ʼn verteenwoordiger van die koninkryk van God. Met ander woorde alles wat daarin beskikbaar is, is vir jou beskikbaar; is in jou gedeponeer, maar nou beleef ons nie dit nie. Hoekom beleef ons dit nie?

Daar is ʼn vaste beginsel waarvan jy nie kan wegkom nie. Dit is dat as jy nie betrokke gaan wees nie, as jy nie gaan hoor en doen nie, sal jy sekere goed nooit beleef nie.  Jy sal die kennis opneem en jy sal kennisname kry en jy sal vol word van die Woord, maar die belewenis sal jy nie smaak nie. Dit is hoekom ek jou vandag wil uitdaag en vir jou vra, is jy ʼn toeskouer of is jy is speler?  Staan jy in die “showroom”, of is jy op die oop pad? Weet jy, daardie motor wat in daardie vertoonlokaal staan, kan hoe blink wees en jy kan tot inklim, die sleutel draai sodat die enjin loop en jy gee bietjie petrol en die enjin raas, maar kan jy sy potensiaal ten volle beleef? Daar is nie ʼn manier nie, want hy is nie gemaak om in die vertoonlokaal te staan en luier nie.  Hy is ontwerp vir die oop pad. Eers wanneer hy in sy skeppingsdoel gebruik word, kan jy by die potensiaal uitkom.

Ons staan hier aan die begin van 2018 en baie mense sê en profeteer dat die krag van die Here in die gemeentes gaan deurbreek en almal het hierdie verwagting, maar dit gaan elke jaar in Januarie so. Dit is dan net so ‘n entjie en die wind is uit die seile uit. Hoekom? Omdat ons in ʼn gewoonte is om maklik toeskouers te word en te bly.

Nou hoe lyk ʼn toeskouer?

  •           ʼn Toeskouer is iemand wat se opgewondenheid nie lank hou nie. Hy kom by ʼn kerk en daar is ʼn nuwe dominee of daar is ʼn nuwe jeug persoon. Opgewonde, maar net om later sy opgewondenheid te verloor en na die status quo terug te keer. Weet julle wat? Dan kry die nuwe dominee of die kerk of wat ook al die skuld, want ek is nou nie meer opgewonde nie. Dit is wat baie keer by ʼn toeskouer gebeur. Daar is nie daardie voortdurende borreling van die fontein nie.
  • .        ʼn Toeskouer is nie betrokke in die koninkryk van God nie. Ek praat nie van betrokke by ʼn kerk of by ʼn organisasie of by ʼn persoon nie. Ek praat van betrokkenheid by die koninkryk daarbuite. Dit gaan nie oor kerke en denominasies nie. Die Here het jou geskape in lyn met Hom as prototipe om die wêreld daarbuite te bedien: waar jy ookal is, enige tyd van die dag. Of jy op ʼn golfbaan is of by die werk is, as jy wil betrokke raak in die koninkryk, dan praat dit van die markplein. Dat jy ʼn kanaal sal wees dat God se liefde deur jou sal vloei. Dat God se goedheid, sy goeie nuus, deur jou sal vloei. Weet julle waar is toeskouers betrokke? Sondagoggend by die diens of soms by ʼn sel.  Dit is al waar jy van hulle hoor of waar jy hulle sien. Dit is belangrike byeenkomste, maar daardie sal jou nooit in ʼn borrelende opgewondenheid hou nie.
  • .       Hy wil jou gebruik elke oomblik daarbuite. Daar is hoeveel mense wat wysheid en kennis en ʼn woord van die Here nodig het. Hy kan net deur mense werk. Nie deur gekwalifiseerde mense nie, nee, maar beskikbare mense.  ʼn Toeskouer is onbetrokke en hy sal dit nie beleef nie. ʼn Toeskouer is nie beskikbaar van Maandag tot Sondag nie. Onthou, ʼn toeskouer is iemand wat in ʼn ‘showroom’ sit.
  • .       ʼn Toeskouer weet altyd beter. Ons kan dit terugvat na sport toe.  Wie is die beste skeidsregter? Dit is die manne wat langs die kant staan. Wie is die ou wat weet wat Percy moes gedoen het op die rugbyveld? Dan sit die ou met net so ʼn maag op die sitkamerbank, maar hy is die een wat weet hoe Percy die “gap” moes gevat het. Hy weet altyd beter. Dit is in sport ʼn toeskouer, maar weet jy, geestelik is dit dieselfde. Die toeskouer weet van beter en hy vertel almal hoe dit moet werk, maar hy doen niks self nie. Daar is net kommentaar en baie keer lei dit tot kritiek. Net om rugby as ‘n voorbeeld te neem, is daar maar 15 lede per span wat speel, maar kyk ons na die pawiljoene is daar duisende mense wat toeskouers is. En ek glo dit werk maar dieselfde vandag op elke vlak, veral op die geestelike vlak.
  •           Iemand vertel my ‘n ruk gelede van ʼn ou in Pietersburg wat boer en hy het besluit dat hy vir die Here boer en lewe. Hy het nie saak wat mense van hom sê.  Maak nie saak wat mense van hom dink nie, want as die Here vir hom iets sê om te doen, dan doen hy dit.  Die oomblik toe hy in daardie gehoorsaamheid begin stap het, het die toeskouers (dorpsmense) hom “Koe-koes Jan” begin noem.  Die Here het eendag dit op sy hart gesit om voor Standard Bank ʼn gebed te gaan doen. Hy kniel toe daar voor die bank. Wat dink die toeskouer van hom? Hy kyk en sê: “Ai, die hekke is weer oop en die varkies wei wyd vandag.”  Dit is wat ʼn toeskouer doen, want hulle weet altyd beter en hulle begin krities raak.
  • .         Baie keer omdat ʼn toeskouer nie betrokke is nie, is daar in Afrikaans ʼn gesegde wat sê: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing.”  As jy nie betrokke raak in die koninkryk nie, begin jy ʼn plekkie te kry vir die duiwel se oorkussing. Dan begin jy ʼn plekkie te kry waar steel, slag en verwoes ʼn kanaal deur jou kan kry en waar hy daardeur juis wat jy moet bevorder en uitbrei, juis begin teëstaan. 
  • .       ʼn Ou wat ʼn toeskouer is, is baie maklik beïnvloedbaar. “’n Rebel soek ʼn pel.” Sulke persone word altyd deur mense se opinies en deur omstandighede gelei. As dit goed gaan met my en die bankrekening is goed, dan gaan dit goed. As dit sleg is, is dit sleg.  As die ouens almal opgewonde is oor wat ek sê, dan is dit goed.  As hulle negatief is, dan moet ek aanpas, want ek kan dit darem nie verloor nie. ʼn Toeskouer is soos ʼn golf wat rondgeslinger word. ʼn Toeskouer kan nie standpunt inneem vir die Here nie, want soms kan mense agter jou sê dat jy nie so “lekker” is nie. Onthou, om gehoorsaam te wees vir die Here, maak nie altyd sin nie, want God werk nie volgens resepte nie.  Hy het nog nooit volgens resepte gewerk nie. Kyk maar na die water by Mara wat bitter was en hulle moes ʼn stok ingooi. Die stok verwys natuurlik na die kruis van Jesus wat maak dat dit wat dit aanraak, tot voordeel van die mens sal wees. Dit maak nie vir ons sin nie. Toe hulle weer water soek later, toe moet die rots geslaan word. Die Here kon maar net ʼn wolk verbygestuur het.
  • .        Ons verhouding met die Here kan nie deur omstandighede en mense bepaal word nie.
  • .        As jy kyk na ʼn toeskouer en jy is net vyf minute in ʼn toeskouer se teenwoordigheid, sal jy sien dat dit eintlik ʼn baie negatiewe persoon is. Ek het die vakansie nogal geskrik oor negatiwiteit. Rassisme!  Ek het nog nooit in my lewe met so baie te doen gehad nie. Vrese!  Met Zuma as president span baie van die mense hulle seile om te gaan. As jy met die Here, met sy beloftes en sy krag besig is, dan is daar mos iets wat die feite en die realiteite oorweldig. Die Here se vermoë en sy hart. As ek vol is daarmee, laat ek my nie aftrek deur hierdie goed nie. Dit kan my beïnvloed en ek moet keuse op keuse maak. As jy fokus op die Here en op sy hart, dan gaan negatiwiteit nie jou deel wees nie.  Daar is mense wat klink of dit hulle roeping is om te kerm en te kla.  Hoor by die werk en tussen jou vriendekring. Hulle het geen positiewe woord nie. Ek maak vandag ʼn uitspraak en ek veralgemeen. Ek sê nie jy is skuldig nie, maar as jy heeltyd negatief is, gaan kyk bietjie wat jou “fellowship” met die Here is. Tyd met sy beloftes en sy Woord. Dan sal jy sien dat jy dit bietjie agterweë gelaat het en dat jy jou vol gemaak het met die pratery van die feite en die realiteite en die mense om jou.  Ek het teruggesit en ʼn toeskouer geword.
  • .        As ek praat van toeskouer, dan sê ek dat dit is nie iemand wat aktief stap in sy potensiaal nie en sê: “Here, ek kies dat U deur my sal werk daarbuite” nie.  Dit is wat ʼn speler sê. 

Hoe lyk ʼn speler?


  • .       ʼn Speler is iemand wat voortdurend besig is in die koninkryk. Ek praat nie van Bybel-onder-die-arm nie. Dit praat van ʼn beskikbaarheid. Dat jy dalk agter jou rekenaar sit en jou gedagtes gaan oor ʼn skriffie wat jy vanoggend gelees het en die Here sê vir jou om iemand te bel en jy maak tyd daarvoor en jy doen dit.  Jy maak tyd om beskikbaar te wees, want hoekom?  Jy begin jou potensiaal te snap. God kan nie - nie omdat Hy nie die vermoë het nie, nee, omdat Hy dit gekies het - Hy kan nie anders op hierdie aarde werk as deur mense nie. Hy het gekies in hierdie realm om deur mense te werk en jy is daardie mens. Daar hoef nie ʼn papier teen die muur te wees wat vir jou daardie kwalifikasie hoef te gee nie. As jy sê: “Here, ek is beskikbaar en jy hou jou besig met sy Woord, sê ek vir jou dat jy die een “blessing” op die ander “blessing” in jou lewe sal ervaar. Gaan dit nie lekker wees as dit elke dag met jou gebeur nie? Of jy ʼn huisvrou is of ʼn baie besige besigheidsman is, maar as jy daar staan en die Here gee vir jou ʼn Woord vir iemand spesifieks en jy bel en die ou sê dankie of miskien gaan hy aan die huil, want hier kom jy met ʼn Woord van Wysheid en die ou se hele situasie draai.  Weet jy wat gaan dit aan jouself doen?
  • .       Ek het gehoor van ‘n geval waar iemand ‘n getuienis gegee het eendag. Hy stap in ʼn koopsentrum en hy is bietjie laat en toe hy sien is die deure al gesluit en sy motor staan aan die ander kant. Die deurwag staan daar en as hy nou nie vir hom die deur gaan oopsluit nie beteken dit dat hy vêr moet loop na sy kar toe.  Hy wys toe vir die man dat hy vir hom moet wag en terwyl hy na die man toe stap wys die Here duidelik vir hom dat die man by die deur se naam “John” is. Met ander woorde God het ʼn plan.  Wat doen die persoon? Hy sê: “Nee, dit kan nie wees nie.”  Hy kom by die man en hy is toe bereid om vir hom die slotte oop te sluit dat hy kan deurgaan. Hy vra hom toe wat sy naam is en hy antwoord: “John, meneer.”  Dit voel toe vir hom of iemand hom met koue water gooi. Niks gaan nou fout gaan met John nie, maar hy het ʼn “blessing” gemis.  Wat sou in John se lewe gebeur het as hy gesê het: “John man, kan jy asseblief die deur vir my oopsluit?”  Hy sou vra hoe die persoon geweet het dat sy naam John is. Die persoon sou kon antwoord dat die Here dit op sy hart gelê het en dat hy baie kosbaar is vir die Here. John en die persoon sou op ʼn ander planeet gewees het. Dit is “awesome” en dit wil God doen. Jy moet net beskikbaar wees en iemand wat ʼn speler is en wat op die veld is, is beskikbaar in die koninkryk en is besig en maak tyd daarvoor.
  • .       ʼn Speler gaan gereeld ʼn getuienis hê.  Wanneer laas het jy by ʼn selgroep of by jou vriende kom sit met ʼn vars getuienis?  Wanneer laas het jy ʼn getuienis gehad van die Here se goedheid in jou lewe?  ʼn Speler het gereeld ʼn getuienis.
  • .       ‘n Mens hoef net te luister na iemand wat ‘n wedstryd gespeel het. Al was jy daar en het jy alles gesien.  Jy moet ná die wedstryd gaan sit en alles weer oor hoor.  Hy borrel, want hy was op die veld en hy het dit geniet.  Jy hoor tot die volgende wedstryd van dié wedstryd en dan gebeur daar iets nuuts en daar is voortdurend ʼn gesprek oor of dit nou krieket of rugby is waar daar iets beleef is. As jy betrokke is in die koninkryk, nie in die kerk nie, maar daar op die markplein waar die mense siek en moeg en moedeloos is, gaan jy voortdurend ʼn getuienis hê.
  • .       Ander mense sal in ʼn speler se lewe sien hoe hulle groei. Jy was dalk baie kort van draad en jy kom by die werk en iemand staan op jou plek en nou sorteer jy dit uit op ʼn rustige manier. Die ou stap daar weg en hy besef dat jy nie meer so “agro” is soos jy was nie. Hulle sal dit nie vir jou sê nie, maar iemand wat met die Woord en die beloftes in die koninkryk van God besig is, daar is voortdurend persoonlike groei van heerlikheid tot heerlikheid.
  • .       Iemand wat ʼn speler is in die koninkryk van God, gaan anders deur moeilike omstandighede.  Die toeskouer is die een wat “sulk” en kla en by almal hul lot gaan bekla. Ons het almal daardie neiging, maar ʼn speler sê: “Here, wys my net hoe moet ek my seile in hierdie wind span sodat ek spoed kan kry.”  Dit is die een wat opstyg soos ʼn arend wat die wind gebruik om uit te styg. Dit is wat Jak. 1:2-3 skryf – “Ag dit loutere vreugde my broers as allerhande versoekings oor jou pad kom, want die beproewing van die geloof bewerk lydsaamheid”. As die speler dit verstaan, gaan hy anders deur moeilike omstandighede.  Die omstandighede is nie dadelik weg nie, maar jy gaan dit heel anders hanteer en die “blessing” omdat jy God daarby betrek, gaan net soveel groter wees. Maar jy gaan dit net kan doen as jy betrokke is en besig is in die koninkryk.
  • .       As jy ʼn speler is, sal jy ʼn vreugde en ʼn vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Dit bly keuse op keuse op keuse. Nie een van ons is gevrywaar van moeilike omstandighede nie.  Ons is nie gevrywaar van seer nie.  Almal van ons maak ook foute, maar as jy besig is met die Woord, dan lei die Here jou. Jy leer en jy ontdek en daar is ʼn vrede, ten spyte van moeilike omstandighede wat alle verstand te bowe gaan.  Jy kan dalk hierdie week voor groot vergaderings of hofsake wees wat jy weet dat jy nie skuldig is nie en jy kan te midde van die moeilike omstandighede ʼn vrede en vreugde hê wat alle verstand te bowe gaan.
  • .       Nou kom hul dalk by die werk en hulle roep die werkers in en hulle kondig aan dat die besigheid toe gaan maak. Die ouens wat nie deel is van die koninkryk nie en nie verstaan van hoe dit daarbuite werk nie, is die ouens wat in ʼn depressie gaan en op medikasie gaan; dít is die ou wat hom so doodskrik. Maar die ou wat weet waar lê sy troos en wat weet Wie by hom is en weet hoe dit werk in die koninkryk, dit is die een wat sê: “Dit is nie lekker nie, maar dankie Vader, U het beloftes vir my gegee,” en hy begin die beloftes proklameer en daarop staan. Dit is keuse op keuse, en dit is dan wanneer die ander by die werk kyk en sê: “Hoe kry hy/sy dit reg?” Dit is wat ʼn vreugde en ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan, bewerk. 
  • .       Ek wil jou uitdaag vandag. Jy weet of jy ʼn toeskouer is en of is jy ʼn speler in die koninkryk. Ek glo almal wil die dinamika van God se krag ervaar.  Raak betrokke met die Woord se uitdra, dat die Woord deur jou sal uitgaan.  Die Woord is “dinamus”. Dit is soos ʼn “dinamo” – hoe meer jy daarmee besig raak, hoe sterker word dit. ʼn Dinamo is ʼn wieletjie wat jy teen jou fiets se wiel gesit het wat gekoppel is aan ʼn lig. Hoe vinniger die wieletjie draai, hoe meer krag genereer dit en hoe skerper skyn die lig.  Daardie woord kom van Hand. 1:8 af. En julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom en almal van julle het dit.  As kind van God het jy dit klaar in jou.  Die geheim is – daar waar die tekkie die teer slaan. Laat die wieletjie maar teen die tekkie kom. Hoe meer jy dit gaan uitgee en hoe meer jy daarmee gaan betrokke raak, hoe sterker gaan die krag deur jou begin vloei, maar dit bly jou keuse.

Ek vertrou dat jy 2018 as speler sal toetree indien jy nog as toeskouer besig is.

Liefde, Louwrens en Hettie.

Donderdag 13 April 2017

My verstaan van liefde volgens die Bybel

Ek wil vandag oor iets skryf wat ek maar min oor praat. Iets wat ontsettend baie na aan my hart is, maar wat ek nog altyd maar huiwerig was om oor te skryf.

Ek kry sovele mense wat nie kan glo dat ek kanker het nie, want ek tree nie altyd op soos een wat kanker het nie. Of hulle kan nie verstaan dat ek maar net kan aangaan met my lewe nie. Partykeer kry ek die gevoel dat baie mense dink dat ek in ontkenning lewe, of dat ek dalk glad nie so ernstig siek is as wat ek dit dalk vir hulle beskryf nie.

Nou kom ons by dit wat ek graag vandag oor wil skryf.

Daar is basies vir my twee redes waaroor ek so leef soos wat ek leef en my optrede bepaal. Ek moet erken dat daar van die goed is wat ek nie altyd oor gelukkig voel nie, maar dit is wanneer ek maar toegee dat dit wat binne my is laat kop uitsteek of sommer net in goeie ou boeretaal, laat ontplof. Of in gewone taal ek net my top blaas. So dit is maar die mees algemeenste rede hoekom ek dalk probeer om nie betrokke te raak by omstandighede wat my omkrap nie, want ek weet nooit wanneer die gebeure my gaan bring by die punt waar ek net genoeg gehad het en alles wat ek mee opgekrop loop het, kop uitsteek. Dit is so dat dit nie vir my of die persone om my ‘n goeie ondervinding is nie, want ek sê baie goed wat mense dalk nie sal dink is woorde wat hulle met my sal vereenselwig nie. Ek het al, en partykeer sukkel ek nogsteeds om dit nie te doen nie, mense aangevat het wat doen wat vir my as Christen net onaanvaarbaar is. Hettie weet maar al te goed van die kant want sy is die een wat my tot bedaring kry, en partykeer voel ek nie lus om af te sien daarvan nie. Soos wanneer ek kommentaar sal lewer op ‘n koerant berig en dan skielik uitvind dat daar mense opkom op my lys van mense wat ek as vriende kan bysit op my Facebook rekening wat ek nog nooit iets mee te doen gehad het nie, en ek maar net weereens besef dat in vandag se dae jy maar baie versigtig moet wees oor wat jy sê.

‘n Goeie voorbeeld wat wel die regte uitwerking gehad het was baie jare gelede, vroeg 2002, toe die program Uit en Tuis nog op ‘n Vrydagaand op TV2 uitgesaai is. In die een program het die regisseur haar eie new age denke volgens my net te vêr gevat en het ek hulle aangekla by die Broadcasting and Complaints Commission of South Africa (BCCSA) en gesê dat die program mense verlei omdat hulle dink dit is ‘n gesins program, maar eintlik probeer hulle soveel as moontlik mense te kry om te dink new age is niks nie, so dit kwalifiseer as ‘n godsdiens program. Die standpunt het toe al ‘n geruime tyd op die program kop uitgesteek. Gelukkig het hulle saam met my gestem en is die program na ‘n Sondag geskuif omrede dit eerder as ‘n godsdiens program gesien moes word as gesinsvermaak. So baie mense sal sê ek is ‘n ou korrelkop, maar vir my is daar geen grys areas nie. Net soos Jesus sê ek maar: “En Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (Luk 9:49-50) So ek sal nie sommer teen iemand optree nie, maar dan moet dit nie ten koste van die regte verduideliking wees nie.

Altyd twee om aan te dink.

Eerstens leef ek nie vir myself nie, maar vir Hettie. Daar is geen lewe sonder haar op aarde vir my nie. Sy is die een wat daar is vir my, maak nie saak hoe ek voel nie. Deur dik en dun altyd daar. Sy is die een wat my nog altyd tot bedaring kan kry, en net sonder dat ek om vergifnis te vra, te vergewe. En dit is waarom ek kan veg want met my siekte is dit dalk makliker om op te gee en die siekte die oorhand oor my te laat kry, maar ek kan nie die lewe indink sonder haar nie, of dat sy sonder my moet aangaan nie.

Ons is later hierdie jaar al 45 jaar getroud en is een van die mooi dae al 47 jaar bymekaar, en was daar van my kant af en sover ek van haar kant af weet, nog nooit eers ‘n gedagte om die een sonder die ander een te lewe nie. Ja, daar was tye wat dit nie altyd maklik was nie, en dan was dit maar my skuld, maar die Bybel beveel my dat die man sy vrou sal lief hê. Dit is nooit net ‘n gevoel nie, maar ‘n opdrag van die HERE om jou vrou lief te hê. En dan sal die HERE jou verhouding seën. Dan sal hy jou koester en beskerm in alle situasies. Dan kan jy ten spyte van dit wat die vyand probeer, en glo my hy is baie kwaad en probeer baie hard, nog doen wat verliefdes doen en hand aan hand elke dag rondloop, al is daar tye waar ek net in staat is om na my blomme te gaan kyk wat sy baie keer voor moet sorg. Dan kan ek stilletjies uitglip by die deur agter en vir haar ‘n roos gaan pluk om net vir haar te wys ek is nogsteeds lief vir haar. Mense moet ook onthou op ons ou dorpie is daar verseker niemand wat vir jou ‘n ruiker kan opmaak en stuur nie, want daar bestaan nie ‘n mark daarvoor nie, en verseker dus ook nie ‘n aanvraag daarvoor nie. Om blomme by ons te kry maak die vervoerkoste dit net nie lonend nie. So ‘n enkele roos, of ‘n tros blomme is al wat ons vir mekaar kan gee. En dan gebeur dit ook dat ons die blomme aan die plant laat bly, veral as jy sien dat ‘n nuwe loot by een van jou rose tot 9 knoppe uitsteek en ons weet dat om dit aan te los, dit vir ons sommer ‘n week of twee sal hou, en jy elke dag ‘n ruiker vir die ander een kan gee. Al is dit dieselfde tros blomme aan dieselfde roos.

So my lewe gaan verseker nie oor myself nie, maar ek lewe vir haar, en ek weet ook dat sy vir my lewe.

Die Bybel as riglyn

Die eerste gedeelte het gehandel oor my verhouding met Hettie, maar dit is gebou op my liefde vir die HERE. Johannes beskryf dit so mooi vir my in 1 Johannes 4: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.” (1Jn 4:7-11) Hoe het Jesus dit gestel: “En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.”  (Luk 10:26-28)

Wie is my naaste? My naaste naaste is my lewensmaat, en dit is hoekom ek die stuk ook so geskryf het hoekom Hettie altyd eerste kom. Hoe kan ek sê dat ek die HERE liefhet as ek nie my naaste naaste, my vrou, liefhet nie. Daarna kom my familie, ongeag van hulle sienings of foute, hulle is immers my kinders, my broers en susters.

Die volgende naaste is mense wat glo dat Jesus die Christus is. En dit is die rede waarvoor ek geroep is, en dit is om kinders van die HERE te help om op die nou paadjie te bly. Dit is so maklik om van die pad af te draai en jou te wend na wat mense verkondig, sonder om dit Bybels te ondersoek en dan te volg. Ons lewe vandag in ‘n era waar polities korrekte optrede hoër geag word as die Bybel, en dit is wat vir my dit moeilik maak om mense te laat insien dat hulle ten alle tye sal doen wat die HERE van ons verwag.

Daar is sovele gedeeltes in die Bybel wat vir ons wys hoe ons moet lewe, maar ons wil mos altyd graag mense volg wat hoog geag word in die samelewing. En ek dink dit is waar die eerste probleem ontstaan. Die mense se uitspraak is gewoonlik as volg: “Weet jy as jy net hierdie persoon se preke na luister,of hierdie ou se kamp bywoon gaan jy ‘n ander persoon wees.”

Maar ons lees in Handelinge van ‘n ander maatstaf. “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.” (Hnd 17:10-12) Hierdie gedeelte is seker een van die grootste probleme wat ek by mense bespeur, en dit is dat net terwyl die persoon op ‘n kansel of verhoog staan, lees uit die Bybel, dan kan ek maar agteroor sit en alles aanvaar wat die persoon kwytraak. Ons het lui geword om op ons hoede te wees om regtig onderskeid te kan maak tussen dit wat ons hoor of dit die waarheid is, en of dit net dalk ‘n boodskap is waarvan Jesus, Paulus, Johannes en Petrus ons waarsku.

Jesus se waarskuwing: “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Mat 24:10-12)

Paulus: “Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies; hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.” (1Ti 1:5-7) “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2Ti 4:3-4)

Johannes: “1Jo_2:18  Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. 1Jo_2:22  Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. 1Jo_4:3  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. 2Jo_1:7  Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.”

Petrus: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.” (2Pe 2:1-3)

Ek het spesifiek Jesus se gedeelte ingesluit uit Mattheus 24, want in die hoofstuk word die toekoms soos Jesus dit vir ons uitgelig het, gestel van Sy tyd af tot die einde van die aarde wanneer die sesde seël oopgemaak word, en dan in hoofstuk 25 vertel Hy ons wat Sy maatstaf gaan wees om te onderskei tussen die skape, die werklike kinders van die HERE, en die bokke, die wat godsdiens aanbid. Daar is drie kriteria wat Hy gaan gebruik. Die eerste gaan soos met die maagde wat gewag het vir die Bruidegom om te kom, waar daar onderskeid getref gaan word tussen die wat deur die Heilige Gees gelei word elke dag en die wat nie die Helige Gees leiding het nie, dan die tweede kriteria of jy jou talente tot Sy eer gebruik het, of vir jouself of glad nie gebruik het nie, en dan die laaste kriteria of jy jou naaste lief gehad het met die daad of nie.

Indien jy my verduideliking van die twee hoofstukke wil naspeur, dit is op my webtuiste by: http://shamaministries.org.za/wp/blog/2017/03/31/mattheus-24-en-25-verduidelik-olyfberg-prediking-van-jesusolivet-discourse/

Nou waaroor wil ek dan in hierdie tweede gedeelte skryf? Ons lees spesifiek wat Jesus as maatstaf gaan gebruik om te bepaal of ek ‘n skaap of ‘n bok is. Die afgelope maand of wat was ons nou tweekeer op die plaas terwyl Hettie moes gaan vir chemo na haar bilaterale mastektomie, en lê daar nog vier chemo sessies voor vir haar en dan 4 weke van bestraling elke dag. Maar dit is ‘n bysaak en nie waaroor ek nou skryf nie. Ons het saam gekyk na twee opnames van programme wat op DSTV uitgesaai is waar Bobbie en Karlien van Jaarsveld by betrokke was. Die eerste een was waar hulle moes help om geld in te samel vir ‘n tehuis wat na babas kyk wat weggegooi is deur hul ouers, en dan die tweede een oor werk wat hulle by ‘n kleuterskool gedoen het waar daar ook vir kinders kos gegee word. Meeste van die kinders woon in karavane saam met hul ouers of familie wat of nie werk nie, of nie die geld het om op ‘n ander manier te lewe nie. Van die kindertjies kry Vrydagmiddag ‘n groot ete by die skooltjie, en dan is hul eerste kos weer ontbyt Maandagoggend by die skool. Ek kan en sal nie die ouers oordeel nie want ek het nie die inligting om tot ‘n slotsom te kom nie, en elke geval is gewoonlik uniek.

Maar nou kyk ek na die gesamentlike biddag wat uitgeroep is vir 22 April waar almal om en by ‘n miljoen mense gaan verwag. Nou sien ek dat daar busse en alles gereel word om die Sondag vir 2 ure aftesonder en te bid vir ons land. Die idee het ek regtig geen probleem mee nie. Maar, wanneer ek kyk na wat mense sê hoe hulle daar gaan kom, dat daar tot mense is wat van oor die wêreld af gaan vlieg om die byeenkoms by te woon, kan ek net wonder hoeveel geld mense daarop gaan spandeer. Ek sien jy kon indien jy vroeg genoeg was ‘n lugversorgde bus kon kry om saam met ander van Pretoria af na Bloemfontein ry vir R650 per persoon. Nou is al daardie busse vol en kan jy by dieselfde plek nog ‘n kaartjie kry vir R850 per persoon, net daar is nie lugreëling nie. Dit sluit glo twee maaltye in. Ander het ek weer van gehoor wat so om en by R3000 en meer gaan spandeer om daarheen te gaan, en dan is dit net brandstofkostes.

Nou wonder ek net hoeveel geld gaan die naweek spandeer word, en hoeveel minder bevooregte mense se omstandighede met die bydraes drasties verander sou word indien ons dit as ‘n fondsinsameling sou gebruik. Indien ek die syfers van die laaste MMC 2010 gebruik, het dit gemiddeld R500 gekos om daar te wees. Ek weet nou nie of dit kos ingesluit het nie, want ek was nie daar nie. Daar was glo om en by 300,000 mans die naweek daar, so as ek so ‘n vinnige sommetjie maak is daar ‘n minimum van R150 miljoen daardie naweek gespandeer. Ek dink ek kon nogal ‘n groot verskil in baie mense se lewens kon maak met so ‘n bedrag. So met ‘n miljoen mense dink ek sal ons seker hier by die R600 miljoen kon insamel en regtig baie meer werk kon doen as wat Bobbie en Karlien op hul program kon doen. Ek weet hoe mense optree wanneer hulle niks het en jy vir hulle net ‘n sak met ‘n paar appels gee wat ek by boere verniet gekry het. Ek moes dit net gaan haal. Dat ‘n ou omie my om die nek val en vir sy sê vrou “Sien die HERE bestaan, Hy het ons gebed gehoor.” Dan vind jy uit dat hy die Saterdagoggend moes kies tussen R15 se maalvleis of ‘n sak appels. Hy wou so graag ‘n appel hê, maar moes besluit dat die maalvleis darem iets is wat hulle die week lank sal kan eet.

Maar, ek weet ons moet vas en bid, want dit is wat ons geleer word om te doen. En dit is immers waaroor die dag gaan, want ons vra mos dat die HERE ons omstandighede moet verander. Hy het immers vir Israel uit Egipte laat trek en hulle omstandighede drasties verander. Ons moet mos net bid en dan kan ons terug sit en kyk hoe die HERE ons lot en land sal verander. Ek kan onthou hoe dieselfde sameroeper geprofeteer het dat Thabo Mbeki die parlement nog sal open met skriflesing en gebed, en ek wag nogsteeds.

Maar, ongelukkig is dit nie die boodskap wat Jesus gepredik het nie, en ook nie een van die profete nie. Wat sê Jesaja daaroor? “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes. Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God. Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? —Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak. As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jes 58:1-14)

Hierdie is presies dieselfde maatstaf wat Jesus gebruik in Matteus 25, maar ons sal mos eerder gaan en onsself geniet om net die “teenwoordigheid” van die HERE te ervaar. Maar weet jy dat Jesus sê waar twee of drie in my naam vergader is Hy ook daar. So gebruik liewer jou geld om ‘n verskil in mense se lewensomstandighede te maak en so te verseker dat jy die wil van die Vader doen, as wat jy duisende rande spandeer om ‘n twee uur lange byeenkoms by te woon wat net mense wat alreeds het, net ryker maak. Kry eerder ‘n paar vriende bymekaar en gaan deel die Woord en middele met die wat nie so gelukkig is soos jy nie.

Maar ongelukkig wil ons maar soos die mense optree wat Jesus ons juis teen waarsku: “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Matt 24 10-12)

Dinsdag 21 Februarie 2017

My rede vir skryf en waaroor ek skryf.

Almal vra my altyd hoekom ek baie keer aanhalings uit die Ou Testament gebruik om standpunte te stel of te debatteer, en nie juis Nuwe Testamentiese gedeeltes gebruik nie. Vir my was dit in die begin ook nogal moeilik, want alhoewel ek regtig eers hier in my laat dertigs begin het om werklik die Bybel te bestudeer en eers op vyftig begin skryf het en georden is as ‘n leraar, het ek gevind dat ek veral met die skrywery baie na die Ou Testament verwys het. Om die waarheid te sê het ek eendag vir Hettie gesê dat ek nie kan glo hoeveel waarhede daar in die Ou Testament is wat ek nie van geweet het nie. Ek het amper gevoel asof ek nie nodig het om na die Nuwe Testament te verwys nie, want alles wat ek nodig gehad het om mense in die regte verhouding met die Vader, Seun, en Heilige Gees te sit, kon ek uit die Ou Testament doen. Maar ek weet mense wil mos graag net weet wat Paulus en die ander apostels en dissipels gesê het, en dan is daar natuurlik Openbaring en Daniël wat alles altyd oorheers, veral in die Pinkster/Charismatiese kringe.

Ek wil graag net so ‘n ietsie oor myself en ons familie vir almal meedeel, soos wat ons agtergrond is, en wat met my gebeeur het en my spesifiek op hierdie paadjie met die HERE geplaas het.

Ek en Hettie het maar altyd ingeskakel by ons plaaslike gemeente van die dae van ons huwelik in 1972 af, en voor dit, want ons het darem by die kerk ontmoet. Sy het net eendag skielik van hierdie jong meisie na hierdie pragtige tiener verander, en moes ek inspring voor iemand anders dit dalk kon doen. So het ons lewe maar rondom die familie en kerk gedraai en het ek eenmaal die predikant by ons nuwe gemeente nogal ontkant gevang. Ds. Sakkie was baie verbaas toe ek hom voorkeer nadat ons van Amanzimtoti af terug Florida Glen toe is en ek met ons attestaat in die hand ons as huisgesin aan hom voorgestel het. Toe moes ek hom eers verduidelik dat ek die attes skriba was in die vorige gemeente, so dit was maklik om net die vorige predikant aan te sê om ons attestaat te teken. Hettie my gespot en gesê ek het ‘n twee jaar sindroom, aangesien ons redelik baie rondgetrek het en dit gewoonlik elke tweede jaar was. Dit het regtig so uitgewerk aangesien ons vir die eerste 28 jaar van getroude lewe regtig 14 keer verhuis het, maar nou moet ek by sê dat dit ook maar tussen verskeie dorpe soos Johannesburg omgewing, Pretoria, Suidkus van Natal, en toe later jare die Oos Kaap en Wes Kaapse see dorpe ook ingesluit het. Dan was daar ook maar plekke waar soos voor ons ons eerste huis laat bou het net ses maande lank in ‘n woonstel gebly het en dan na ‘n ander een getrek het vir ‘n verskeidenheid van redes soos bv. geen hysbak toe sy vir Barney verwag het en sy vier stelle trappe moes klim van die ondergrondse parkering na ons blyplek op die boonste vloer. Of soos met ons terugkeer van Natal waar ons net ses maande lank in ‘n huurhuis gebly het voordat ons weer ons eie huis gekoop het.

Maar terug na my oorspronklike skrywe. In Februarie 1982 het ek die eerstekeer in my lewe werklik gesien dat die HERE binne oomblikke omstandighede kan verander, en het dit ‘n blywende impak op my lewe gehad. Ek het op hoërskool terwyl ons geoefen het vir Republiekdag viering by die skool in gimnastiek my neus baie lelik gebreek deurdat ek op my tone beland het na ‘n dubbele tuimelslag en ek my neus teen my knieg gestamp het. In 1982 seker 15 jaar later, het ek besluit dat dit tyd is om my neus reg te kry dat ek ordentlik kon asemhaal en het die dokters ‘n baie goeie taak verrig en kan ek nogsteeds lekker asemhaal. Hulle het ‘n gedeelte van die kraakbeen uitgehaal sodat my neus weer reguit was, maar nou is die voorste kraakbeen gedeelte heeltemal los, en lag die kleinkinders nogsteeds wanneer ons daar kuier en hulle my vra om my neus teen my wang te druk. Maar daar was ook ‘n baie donkerkant die dag daarna gewees toe Hettie vir my die Saterdagoggend by die hospitaal kom kuier het en die bediende vir Barney en Esthee na een van Barney se maatjies toe gevat het sonder ma se toestemming. Met haar terugkeer het Hettie dadelik gesê dat Barney en Esthee moes terugkom, en oppad terug het Barney voor ‘n motorkar ingehardloop.

Hy het skeudelbreuk opgedoen, en amper sy linkervoet ook verloor aangesien die voet onderstebo tussen die band en die pad beland het en hy toe saam met die kar gesleep is vir ‘n hele ent. Daar was geen vleis of enige iets oor nie behalwe wit beentjies wat bo op die voetsool gelê het. Ek is toe dadelik ontslaan en is hy die Saterdag oorgeplaas na ‘n hospitaal met hoësorg afdeling aangesien daar bloeding op die brein was, en hy bewusteloos was. Hy was op die ou einde amper drie maande in die hospitaal en het toe ook twee veloorplantings gehad plus nog vele operasies om die voet te red. Maar wat my gevang het was die Woensdagoggend meer as ‘n week na die operasie waar ek onder in die kar seker die moeilikste gebed in my lewe gebid het. Ek kon dit nie vat om te sien hoe hy net lê sonder dat hy bewus is van enigiets om hom nie. Dit het ook veroorsaak dat hulle nie aan sy voet kon werk nie maar al wat hulle kon doen was om die voet skoon te hou om so te keer dat daar infeksie ontstaan het. Ek het die oggend in die kar die HERE gevra dat hom of sou terug gee vir ons, of as dit sy wil was, om hom te kom haal want ek kon nie toesien hoe hierdie kind van my verder ly nie.

Toe ek bo in die hospitaal kom 7 uur die oggend het die suster vir my gesê daar is geen verandering nie, maar tot almal se verbasing het Barney die oomblik toe ek sy hand vat en vir hom groet, hy vir my gesê het “Môre pappa”. Weet jy al die verpleeg personeel het saam met my die oggend gehuil toe hy sy bewussyn herwin het en sy oë oopgemaak het en ek hulle vertel het van my gebed voor ek in die hospitaal ingegaan het.

Dit was die eerstekeer.

Die tweedekeer was net na my eerste operasie vir kanker in 1986 toe die HERE my volle aandag gekry het, veral toe ek Hom gevra het dat Hy my sal spaar om net ons jongste dogter te sien grootword aangesien ek nie wou hê dat sy en die ander kinders sonder ‘n vader figuur moes groot word nie, en ek nogsteeds hier is om selfs haar kinders te sien wat al baie groter en ouer is as wat sy daardie tyd was. Su-Hannie was toe nog nie eers vyf jaar oud nie. Daardie tyd het ek nie eers gedink dat die laaste kind eerste sal wees nie en dat Esthee eers amper 8 jaar na Su-Hannie se laaste baba haar eerste baba sou hê nie. Die gebeurtenis het regtig ‘n baie groot impak gehad want ek glo nie iemand is reg om op 34 jarige ouderdom al te sterf aan kanker nie. Gelukkig kon hulle alles verwyder wat hulle gesien het in die blaas en na driejaar is ek uiteindelik “skoon” verklaar, net om agt jaar later weer deur die storie te moes begin werk het, net die keer sit ek nou al met hierdie ander tipe kanker vir die afgelope 22 jaar wat ons van weet, maar dit was al heel moontlik daar voor die eerste operasie in 1986, en kon ek dit al selfs as kind gehad het. Dit sal baie van my onverklaarbare episodes van my kinderdae oplos waar ek baie seer in die buik gehad het, en ek gereeld soos ‘n sak aartappels induie gestort het soos wanneer jy die bodem afgesny het en die sak opgetel het. En dan het die dokter my maar ondersoek maar nooit iets fout gekry nie. Ek het dit later jare soort van ontgroei, en kon dit makliker bestuur want ek het geweet wanneer dit sou gebeur aangesien ek geweet het wat die simptome was wat aanleiding gegee het tot so ‘n gebeurlikheid.

Ons het gedurende daardie tyd na my eerste kanker operasie en vir baie jare daarna elke oggend begin met huisgodsdiens in die bed in ons kamer. Die kinders het onder gesit en in die winter hulle toegemaak met of hulle eie duvet’s wat hulle saam gebring het, of net onder pa en ma s’n gesit by die voetenend van die bed. Dit het my nogal half gedwing om regtig die Bybel te begin deurlees sodat ek elke oggend iets kon deel met die res van die huisgesin.

Dit was vir my nogal baie snaaks dat ek so baie keer gedeeltes gekry het in die Ou Testament, en dan was dit nie altyd net verhale soos Simson of Dawid of Salomo nie, maar baie keer gedeeltes uit die profete of Psalms wat ‘n spesifieke onderwerk aangeraak het. So met verloop van tyd het die kinders self hulle eie tyd spandeer in die Bybel en het hulle nie meer lus gehad om saam met Sonja Herholdt uit die rooi boekie (Jeugsangbundel) te sing nie, want hulle het darem nou al te groot geword daarvoor. Dit was nou tenspyte van die feit dat ons daardie jare nog in die Gereformeerde Kerk was, en eers na die kinders in die hoërskool was ‘n kort tydjie, seker maar twee jaar lank, in die NG Kerk was voordat ons oorgegaan het na wat oorspronklik Corpus Christi gemeente van die AGS in Brooklyn Pretoria was, en gedurende ons tyd daar begin is met Doxa Deo gemeente met meer as een kampus, maar wat tog as een gemeente gesien word. Gedurende die jare het ek en Hettie ook saam met mense gewerk om die Jesus film by verskeie plekke te wys, en het ek vandag nog my VHS weergawe plus masjien om dit nog te wys.

Die derdekeer was gedurende Augustus 1995 toe ek wakker geword het met ‘n baie groot pyn in my regter sy. Ek is uiteindelik dokter toe na werk, en is ek toe dadelik hospitaal toe gestuur vir ‘n nood blindederm operasie. Ek is die aand laat eers geopereer en gedurende die operasie het selfs die chirurg erken dat die HERE daar was tydens die operasie. Volgens die chirurg kon hy nie ‘n lekker houvas op die blindederm kry nie en moes hy noodgedwonge die snit groter maak, en toe ‘n gedeelte van die dunderm uitryg om plek te maak om te werk. Volgens hom kon hy vroeër al gestop het maar het hy skielik iets in sy hand gevoel wat groter was en daar het hy toe op die eerste gewas afgekom van so om en by die 10cm lank. Toe hy afkyk het hy geweet dit wat hy gesien het was kanker, en toe hy die blindederm verwyder het hy gesien daar was ook ‘n gewas binne die blindederm. Dit is een van die plekke wat bekend is onder medici waar Carcinoid die meeste ontstaan. So, soos hy my toe meegedeel het dat indien hy gestop het toe hy genoeg plek gehad het, sou hulle nooit die gewas opgespoor het nie en sou my familie heel moontlik in 1996 ‘n begrafnis diens moes hou. Hy het toe ook gesê dat ek so twee maande later in Oktober moes terug kom vir nog ‘n operasie om te kyk hoeveel nodes daar was wat alreeds hierdie snaakse Carcinoid kanker gehad het. So dit was so amper 22 jaar gelede, maar die chirurg het my meegedeel na die opvolg besoek dat hy alles binne sy vermoë gedoen het om die kanker te verwyder, maar daar was tog ‘n gedeelte wat hy moes los aangesien dit onmoontlik is om chirurgies te verwyder. Wat hy my wel meegedeel het is dat hy glo dat die HERE my wel kan genees, maar dat ek nogsteeds vir chemo moes gaan.

Na die tweede operasie in 1995 wat ek vir kanker gehad het, het ek ‘n baie snaakse ondervinding gehad. Ek het die oggend wakker geword en die pragtigste koorsang gehoor wat ek nog ooit in my lewe gehoor het. Ek het elke persoon se radio by sy bed gaan kyk of die sang daarvandaan gekom het, maar almal se radios was af. Verder het ek skielik net hierdie gesig gesien afspeel hier voor my waar ek op ‘n platform gestaan het soos wat jy by baie wildsplase kry sodat jy rustig oor die landskap na die dierelewe kon kyk, maar al wat ek gesien het was mense in wit klere wat gestap het na ‘n heuwel in die verte. Wat vir my baie snaaks was, was dat al hierdie mense wit klere aangehad het en jy net hierdie massas mense gesien het. Daar was nie een plek waar jy ‘n gaping tussen die mense gehad het nie. Hettie het later die oggend kom kuier en is na ‘n kort rukkie weer terug huis toe want ek was nie juis goeie geselskap nie. Ek het net heeltyd geluister na die musiek en my verkyk na die massas mense. En die beeld het afgespeel half in my kop, want ek kon my oë toemaak en nogsteeds die beeld sien, of my kop teen die muur druk en dan het ek nogsteeds hierdie beeld gesien. Daar was twee persone saam met my op hierdie platform, maar ek het nie met hulle gepraat nie. Ek het net geweet die een persoon was Moses.

Dit was ook een van die bydraende faktore hoekom ons toe uit die NG Kerk bedank het aangesien ek een van ons predikante gevra het wat hy dink dit kon beteken, en sy antwoord basies was dat ek dit moet vergeet en aangaan met my lewe want dit sal my nog van my kop laat afgaan. ‘n Mooi manier om te sê dit sal my nog in Weskoppies (‘n hospitaal vir mense met geestelike probleme) laat opeindig. Ek was nogal geskok met sy antwoord aangesien ek regtig gedink het hy dalk ‘n antwoord sou hê aangesien hy ‘n doktorsgraad in teologie gehad het.

So dit is maar waar my paadjie met die HERE ‘n drastiese verandering tot gevolg gehad het. Ek het toe regtig begin om meer uit te vind wat gaan eendag maak dat ek weet ek in die hemel gaan wees, en waarvoor ek moet oppas dat dit my nie van my bestemming beroof nie. Gedurende die tyd het ons saam met vriende in die week by ‘n bekende evangelis gaan leer, en het hy eendag vir my gesê hy sien dat wanneer hy na my kyk ek nogal hoë standaarde stel om te onderskei tussen Christene en nie-Christene. Hy het dieselfde dag ook vir Hettie gesê dat hy sien dat sy ‘n baie diep verhouding met die HERE het en dat Hy baie tevrede met haar is. Vir iemand wat nog nooit so iets ondervind het nie weet ek dit is moeilik om te verstaan of te begryp.

Ek weet hoe ek die eerste keer wat iemand so iets vir my gesê het amper my melk weg geskrik het. Ek moes die Sondagaand ‘n leesdiens hou aangesien die proffie wat ek gereël het om by ons te preek die dag my die Donderdag net laat weet het hy dit nie kon maak nie, en ek en oom HT besluit het om maar preke voor te lees, iets wat verseker nie in die gemeente die gewoonte was nie. Die aand na die diens het almal in die konsistorie my gevra hoekom ek nie vir predikant gaan studeer het nie of sommer nou begin nie aangesien hulle nie kon agterkom dat ek die preek voorgelees het nie. My antwoord was maar dat dit moeilik is om op 39 jarige leeftyd eers te begin en ek drie kinders op skool gehad het, en verseker nie die geldelike vermoë gehad het om dit te doen nie.

‘n Paar weke na die episode is ek en Hettie uitgenooi om saam met ander mense net ‘n aand na hulle kleuterskool te gaan om net ‘n bietjie saam te bid en te sing. Die vrou wat die begeleiding gedoen het die aand, het so halfpad skielik ophou klavierspeel en reguit na my gekyk en gesê sy ervaar dat die HERE nog baie deur my gaan werk en dat Hy my wil gebruik. Dit was toe dat ek amper my melk weg geskrik het, want ek het nog nooit so iets beleef nie.

Terug na die tydperk na my operasies in 1995. Daar het ek toe skielik begin om sekere gedeeltes raak te lees en gevoel ek kon iets daaroor skryf, of net met mense deel. Van dit het dan ook vir my gevoel soos opdragte wat ek uit die Bybel ondervind het wat die HERE vir my gegee het. Ek weet dit klink dalk snaaks maar dit is maar hoe my paadjie met die HERE gewerk het, en was die eerste gedeelte wat Hy my ‘n opdrag gegee het gekom het op 16 April 1996. Ek het nog die boek waarin ek dit neergeskryf het, maar die opdrag was dat ek die verlossingsboodskap moes verkondig, en dat ek ook herders daarop moet wys dat hulle nie die skape wat die HERE aan hulle toevertrou het nie, opgepas het nie. (Esegiël 34) Dan was die laaste gedeelte van die opdrag dat ek ook diegene moet uitwys  wys wat ander Christene verdruk. Die vorige dag het die HERE ‘n gedeelte wat ek nogsteeds vandag ervaar gegee, en dit was uit Jeremia 45, waar Hy sê dat ek my lewe sal behou.

Vir iemand wat net ses maande vroeër gehoor het dat ek seker nog net ‘n paar jaar oor het voor my einde sal kom was en is dié woorde nogsteeds iets wat ek elke dag aan vashou.

Vandag weet ek ook hoekom ek nie vroeër teologie moes gaan studeer het nie, want ek het toe eers geleer dat baie van dit wat ek toe wel geleer het deur die Bybelskool wat ek by studeer het, maar dun gesaai is oor wat in die Bybel staan. Dit gaan meer oor hoe die spesifieke groep glo, hoe om ‘n gemeente te bestuur, oor Grieks en Hebreeus te leer, en nog baie ander onderwerpe soos wat die verskillende uitkyke is van verskillende genootskappe en hul interpretasies van die Bybel. So het ek toe na my studies uiteindelik my eie Bybelskool by ‘n gemeente begin wat vinnig na ‘n nuwe gemeente gelei het, en hoe alles baie vinnig induie gestort het. Maar ek het daaruit geleer dat ek maar moet fokus op dit wat my opdrag was, en dit was maar om neer te skryf wat ek by Hom geleer het, Jeremia 30:2  “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het;” en dan het alles half vanself gekom.

Wat toe vir my baie snaaks was is dat die HERE my op ‘n tog deur die Ou Testament gevat het en soos ek in die begin gesê het, het ek meeste van dit wat ek antwoorde op gesoek het, in die Ou Testament die antwoorde gekry, en dan eers het ek die bevestiging in die Nuwe Testament gekry. Daar is wel gedeeltes wat ek nie in die Nuwe Testament voor antwoorde vind nie, maar wel partykeer bevestiging van Ou Testamentiese leerstellings in wat vandag bekend staan as die Apokriewe boeke, gekry.

Maar gelukkig het die HERE ook deur ander mense en dan ook deur Jesus self ook baie keer vir my antwoorde laat kry deur wat hulle gespreek het. Die eerste gedeelte wat ek gekry het in my soeke hoekom ek altyd in die Ou Testament opgeëindig het, was woorde wat Jesus self geopper het. Ons almal ken die gelykenis van Lasarus en die ryk jongman, waar die ryk jongman vra dat iemand na sy broers gestuur word om hulle te waarsku sodat hulle nie eindig waar hy was nie. Jesus voltooi vir ons die verhaal as volg: “Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Luk 16:25-31)

Die twee gedeeltes wat ek beklemtoon het is nogal baie treffend. Jesus verwys ook daarna dat ons net Moses en die Profete nodig het, so net die Ou Testament, om te verstaan hoe om kind van God te word, en dan voltooi Hy dit deur te na Homself te verwys wat uit die dode sou opstaan en tog het die Jode Hom nie geglo nie.

Dan het Paulus ook ‘n gedeelte vir ons opgeteken in die eerste brief aan die gemeente in Korinte. “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (1Ko 10:1-11)

En dan is daar natuurlik die hele boek aan die Hebreërs wat juis gebruik kan word om soos Paulus hier bo genoem het, vir ons sovele vrae kan beantwoord indien ons weet hoe die Jode geglo het. Die boek beskryf juis hoe Christus groter is as enige ander skepsel van die HERE, en dat Hy deur die Hemelse tabernakel gegaan het met Sy eie bloed om vir ons sondes te betaal.

Die naam van my eerste boek is dan ook Die Boek van Moses. Dit is beide omdat ek maar baie uit die Ou Testament verwys, asook ‘n ander baie persoonlike rede. In ons ouerhuis het ons altyd as iemand iets gesê het wat hy nie dadelik aan die Bybel kon koppel nie, gesê dit staan in Moses X ver X. So was Moses 3 vers 3 altyd “Moenie worry nie”, so die x’se is dan met nommers vervang.

Die boek bring my juis by ‘n ander persoon uit, naamlik Markus. Dit is nou die persoon wat die eerste evangelie geskryf het alhoewel dit nie die eerste boek in die Nuwe Testament is nie. Markus het saam met Barnabas en Paulus gewerk in die eerste volle gemeente nadat Barnabas vir Paulus gaan soek het om hom te kom help het om die gemeente op die been te bring. Dit was ook waar Paulus se bediening begin het. Barnabas en Paulus het toe later van mekaar geskei: “En ‘n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan. En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem. Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil. Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was.” (Hnd 15:36-40)

Na hierdie episode lees ons nooit weer in die Bybel oor Markus of Barnabas nie. Maar hoekom wil ek nou juis Markus uitsonder. Ons leer dat daar baie persone is wat die laaste paar verse van Markus nie aanvaar nie aangesien dit nie in sommige geskrifte voorkom nie. Dit het my ook gepla totdat ek maar na my eie skrywes gekyk het. Dit is so dat van die artikels en boeke wat ek geskryf het verskillende weergawes is, aangesien ek maar elke nou en dan iets nuuts raak lees of vir my oopgaan en ek dan die gedeelte by plaas of verander. Nou neem ek maar aan dat Markus na die episode wat Paulus gehad het toe die adder hom gebyt het, dit self by sy opname van sy evangelie gevoeg het, want hy het dit immers eerstehands beleef. So dalk was daar al ander afskrifte wat nie die gedeelte gehad het toe alreeds in omloop tussen die verskillende gemeentes.

Wanneer ek na die Hebreërs boek kyk, kan ek nie ophou wonder of dit nie dalk ook deur Markus geskryf is nie, aangesien daar nie eenstemmigheid is oor wie dit geskryf het nie. Party mense sê dit was Paulus, ander weer Barnabas, maar beide van hulle het Markus as skrywer gebruik. Lukas het toe saam met Paulus gewerk na hulle opgesplit het en het toe sy eie weergawe van die evangelie geskryf en ook die boek van Handelinge.

Maar wat Markus aanbetref vind ons tog twee verdere boeke wat ook as apokrief bekend staan wat deur hom geskryf is. Die een is die Handelinge van Barnabas wat beskryf hoe hulle van Paulus geskei het, en dan beskryf hoe hulle in Ciprus gewerk het en hoe Barnabas aan sy einde gekom het deurdat hy deur die Jode verbrand was, en dan die brief van Barnabas, waar hy die Ou Testament se letterlike gebeure gebruik en dan die geestelike waarde daaraan koppel. Die Brief van Barnabas moet nie met die Evangelie van Barnabas verwar word nie wat duidelik eers na 1600 jaar na Christus geskryf is en deel maak van die boeke wat die Moslems aanhang. Ek moet erken dat die Brief van Barnabas soveel van my eie interpretasies bevestig het, dat ek dit persoonlik glad nie as apokrief sien nie, aangesien dit juis doen wat Paulus vir ons in die gedeelte wat ek aangehaal het, gedoen het, naamlik om die voorbeeld van Israel voor te hou en dan die geestelike betekenis daarvan uitlê. Verder is dit juis geskryf aan persone wat met die Ou Testament bekend was, aangesien dit juis die gedeeltes vir ons verklaar. Dit stem ook ooreen met wat Lukas geskryf het in Handelinge dat Paulus en Barnabas altyd eers na die plaaslike sinagoge toe gegaan het en daar die skrifte vir die mense verklaar het. So die persone het dus reeds die Ou Testament geken en kon dus doen wat ons vind in Handelinge 17: “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.” (Hnd 17:10-12)

So dit wil vir my voorkom asof ek tog dalk nie alleen staan deur die Ou Testament te gebruik nie, aangesien die eerste apostels dit ook gedoen het. Hier volg so ‘n paar aanhalings uit Handelinge wat wys waar Paulus en Barnabas en al die ander Christene eerste die evangelie van Jesus aan die Jode verkondig het.

“En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk. Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen. En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het. En die hand van die Here was met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer. En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë. Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly; want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring. En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.” (Hand 11:18-26)

Hand 13:14  “Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit.”

Hand 13:42 En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. Hand 13:43  En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.”

Hand 14:1  “En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.”

Hand 16:1-3 “En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ‘n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse vader. Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ‘n Griek was.

Hand 17:1  “Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. Hand 17:2  En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte  Hand 17:3  en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.”

Hand 17:10  “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.  

Hand 17:16  “En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. Hand 17:17  Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. ”

Hand 18:1  “En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. Hand 18:4  En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.

Hand 18:19  “En hy het in Éfese aan kom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek. 

So uit die gedeeltes sien ek nie dat hulle nuwe leerstellings gebring het nie, maar slegs dat hulle die Profete en Moses verklaar het deur te wys wat Jesus moes kom doen. En dit is waar ek gewoonlik verskil van baie mense, aangesien ek voel dat indien die eerste Apostels net Jesus verklaar het uit die Ou Testament, ons nie nou nuwe leerstellings kan bou op wat Petrus of Paulus geskryf het nie. My standpunt is maar dat die Israeliete en Jode wat geglo het, die eerste Kerk was en dit geld al van Moses se tyd. Indien die mense die HERE verwerp het, vind ons nie dat hulle later in die Ou Testament weer genoem word as deel van Israel nie, so dit sê dus dat hulle nie deel is en sal wees van die mense wat saam met Jesus in die hemel sal wees nie.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is wat Paulus self ook noem in 1 Korintiërs 10. “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.” (1Ko 10:1-6)

Dan is daar ook die verhaal in Jeremia waar die wat in Jerusalem agtergebly het na Egipte toe terug gegaan het. “Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele Juda uit te roei. En Ek sal die oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland omkom. Deur die swaard sal hulle val, deur die hongersnood sal hulle verteer word, groot sowel as klein; deur die swaard en die hongersnood sal hulle sterwe; en hulle sal ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing en van vervloeking en smaad word. En Ek sal besoeking doen oor die wat in Egipteland woon, soos Ek besoeking gedoen het oor Jerusalem deur die swaard, die hongersnood en die pes; sodat daar geeneen sal wees wat ontvlug of vryraak vir die oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef nie, dat hulle kan teruggaan in die land Juda waar hulle siel na verlang om terug te gaan, om daar te woon; want hulle sal nie teruggaan behalwe enkele vlugtelinge nie. (Jer 44:11-14) Die enkeles wat wel terug gekeer het was Jeremia en sy mense, asook Barug en sy mense. Barug was die persoon wat as skrywer vir Jeremia opgetree het, en is hulle gedwing om saam terug Egipte toe te gaan.

So wat kan ek nog sê oor my skrywes en standpunte? Nie veel nie, behalwe dat die gedeelte wat ek vroeër uit Jeremia gekwoteer het, ek eers weer baie jare later na gekyk het nadat ek seker meeste van die Boek van Moses, my eerste boek, klaar geskryf het. Die gedeelte bevestig maar waarom ek so glo dat Israel ons voorbeeld in alles is: “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het; want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.” (Jer 30:2-3) So die gedeelte verklaar vir my dat ons as Christene ook eendag ons eie Kanaän, die Nuwe Jerusalem sal beërf, en ons net Israel se voorbeeld kan volg hoe hulle in Kanaän gekom het. Al hulle foute word vir ons uitgewys, so dit is vir ons dus baie maklik om te verseker dat ons nie hulle foute begaan nie. So ons het nie al hierdie geskrifte nodig om te onderhou of aan te glo nie, aangesien ons net deur Israel se voorbeeld te volg, ons die ewige lewe kan beërwe. Meeste van die persone wat kommentare geskryf het oor elke vers in die Bybel, is dit eens dat die gedeelte nog nie nooit vervul is nie. Ek haal hier vir John Gill aan, en wat sy kommentaar daaroor is. “which cannot be understood of their return from the Babylonish captivity; for, as Kimchi rightly observes, only Judah and Benjamin returned from thence; and though there were some few of the other tribes that came with them, especially of the tribe of Levi, yet not sufficient to answer to so great a prophecy as this, which refers to the same time as that in Hos_3:5; as appears by comparing that with Jer_30:9; and when, as the Apostle Paul says, "all Israel shall be saved", Rom_11:25;and I will cause them to return to the land that I gave to their fathers, and they shall possess it; the land of Canaan, given to Abraham, Isaac, and Jacob; and which shall be again by the Jews their posterity; for, without that the Jews upon their call and conversion shall return to their own land, in a literal sense, I see not how we can understand this, and many other prophecies.

Dit sluit aan by vers 9 waar Jeremia die volgende sê en verwys na Jesus wat as Koning sal regeer: “Jer 30:9  Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek.” Gelukkig lewe ek nie gedurende die reformasie tydperk nie, want dan sou meeste van die Kerkvaders my verseker op die brandstapel laat omkom het met my verduidelikings en sienings, ten spyte van die feit dat Jeremia en al die ander aanhalings juis verwys na Israel as voorbeeld vir ons. En dit sluit al ons doen en late in, maar dan moet ons van die gebruike binne konteks lees en verstaan. Want die einste Jeremia vaar ook maar goed uit teen die volk se gebruike, veral in hoofstuk 7 is daar twee gedeeltes: “So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie— dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu. Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie.” (Jer 7:3-8) en dan die tweede gedeelte uit die hoofstuk: “So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis. Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.” (Jer 7:21-23), en dan volg hoofstuk 21 waar die HERE vir die volk sê dat Hy self teen hulle sal oorlog voer. “So spreek die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek laat die oorlogswapens terugdraai wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer buitekant die muur teen die koning van Babel en teen die Chaldeërs wat julle beleër; en Ek sal dit binne-in hierdie stad versamel. En Ek self sal teen julle oorlog voer met ‘n uitgestrekte hand en ‘n sterke arm, ja, in toorn en in grimmigheid en in groot gramskap. En Ek sal die inwoners van hierdie stad verslaan, die mense sowel as die vee—aan ‘n groot pes sal hulle sterwe. En daarna, spreek die HERE, sal Ek Sedekía, die koning van Juda, en sy dienaars en die volk—die wat in hierdie stad oorgebly het van die pes, die swaard en die hongersnood—oorgee in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hy sal hulle verslaan met die skerpte van die swaard; hy sal geen medelyde met hulle hê of hulle spaar of hom ontferm nie. En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood: hy wat in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ‘n buit wees. Want Ek het my aangesig teen hierdie stad gerig ten kwade en nie ten goede nie, spreek die HERE. Dit sal oorgegee word in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.” (Jer 21:4-10)

So dit is wat my lewe gevorm het en waaroor ek skryf en nog elke dag bestudeer. Een iets wat ek uitgevind het is dat daar is seker nie ‘n dag wat verloop in my lewe waar ek nie iets nuut leer of dit hoe ek glo skielik bevestig word deur ‘n ander gedeelte in die Bybel nie.

Daarom kom my eie leuse uit Mattheus 13:52  “Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

En dan seker die grootste waarheid wat daar is in die Bybel en dit is om gehoorsaam te wees. Dit is dan ook waar my bediening se naam, Shama, vandaan kom, want die betekenis van die woord is:
H8085 שָׁמַע shâmaʻ, shaw-mah'; a primitive root; to hear intelligently (often with implication of attention, obedience, etc.; causatively, to tell, etc.):—× attentively, call (gather) together, × carefully, × certainly, consent, consider, be content, declare, × diligently, discern, give ear, (cause to, let, make to) hear(-ken, tell), ×indeed, listen, make (a) noise, (be) obedient, obey, perceive, (make a) proclaim(-ation), publish, regard, report, shew (forth), (make a) sound, × surely, tell, understand, whosoever (heareth), witness.


So dit is my storie en wat ek elke dag probeer uitleef.