Vrydag 19 Februarie 2016

Vers 7“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.”

7. Vers 7“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.” Nou kom ons eers by die laaste twee deugde uit. En dit is deugde wat die meeste mense dink eerste in jou lewe moet gebeur, maar tog vind ons hier dat eers wanneer ons aan die bo punt van hierdie leer kom, ons eers by liefde uitkom. En dit word in twee aparte deugde opgedeel, eerstens liefde teenoor jou mede broeders in die geloof, en dan naaste liefde. So broederliefde is hoe ek teenoor my huishouding, my mede Christen broeder en suster optree. Ons moet mekaar liefhê en daardie band sal lewenslank vir jou belangrik wees. Jy sal uit jou pad gaan om jou familie in die HERE te help sover as wat moontlik is. Dit is tog immers hoe ons binne ‘n huisgesin optree. Ons sal vir mekaar instaan, liefhê, en sommer net omgee. So hierdie is nie net om om te gee nie, maar om jou mede Christen as jou eie familie te aanvaar, want ons het almal een Vader en een Verlosser wat ons saamvoeg.
Dan kom ons by die laaste sport op die leer, en dit is naaste liefde. Dit is die liefde wat vir ons so mooi in 1 Kor.13 beskryf word. “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.” (1Kor 13:1-8) Van die Engelse vertalings gebruik die woord “charity” in die plek van liefde. Dit is eintlik vir my ‘n baie goeie manier om dit te beskryf, want wanneer ek liefdadigheidswerk doen, doen ek dit sonder om iets terug te verwag. En dit is wat Jesus vir ons kom doen het. Hy het Sy lewe vir ons gegee sonder dat ons dit gevra het of dit verdien het. En dit is wat naasteliefde beteken. Wanneer ek my alles gee vir iemand sonder dat hulle dit verdien of vra daarvoor. Eers wanneer ek daar kom het ek die boonste sport bereik, of het ek?
Vers 8 en 9: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (2Pe 1:8-9) So nou begin ons volgende seisoen saam met die HERE. En dit begin weer by die eerste trap, die deug. So iemand wat dalk meer as jy weet of waarna jy dalk opsien, het net al baie keer hierdie leer uitgeklim, en weer van vooraf begin. Dit is wat vers 8 vir ons so mooi uitdruk “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem,”. So ek sal nooit ledig rondsit nie, maar ek sal elke keer weer voor begin en verder groei, tot die dag aanbreek wanneer ek my kop vir die laaste keer op hierdie aarde neerlê. Eers daarna, sal ek my eindbestemming behaal. Indien ek dink ek het dit nou gemaak en is tevrede waar ek nou is, dan tree vers 9 in werking: “want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.”
Ons moet regtig onthou dat Christenskap is nie ‘n gebeurtenis nie, maar ‘n pad wat ek elke dag en elke oomblik van die dag op moet toespits, sodat ek sal weet waar ek staan met die HERE.
Maar nou, wat as ek dalk faal in my poging om hierdie leer uit te klim? Kyk waar jy gefaal het, en spits jou toe om die beginsel weer te verstaan en gaan aan. Niemand van ons is volmaak nie, maar ons kan weet wanneer ons verkeerd optree, en dan kan ons onself toespits om die stap waar ons gefaal het, weer te bestudeer en seker te maak dat ons nie weer in die slagyster trap nie.
Maar Petrus bemoedig ons ook in die volgende vers, en dit is waar ek hoop elkeen van ons eendag sal by uitkom: “2Pe 1:10  Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”  Is dit nie ‘n fantastiese belofte nie. Dat indien ons onself toespits op hierdie deugde, daar ‘n tyd gaan kom waar ons nie meer sal struikel nie. So ons kan weet dat ons weet dat ons op die plek is waar die HERE ons graag wil hê.
Petrus sluit die hoofstuk af met ‘n bede wat ek graag wil uitspreek oor elkeen wat hier lees: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. (2Pe 1:19-21) So ek bid dat die Heilige Gees elkeen van ons sal lei en dat Hy elke profesie sal ontsluit met die regte betekenis, en nie soos deur een of ander teoloog vir ons voorgehou word nie.
So wat is die deugde van ‘n suksesvolle Christen: “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde."  (2Pe 1:4-7)
Hoe vêr het jy al op jou leer gevorder? Hoeveel keer het jy al die leer in jou lewe al uitgeklim?
My gebed is dat ons elkeen hierdie pad sal baasraak, sodat ons werklik in broederliefde met ons mede gelowiges, kan leef.

Amen.

Geen opmerkings nie: