Woensdag 17 Februarie 2016

Die eerste twee deugde, deug (godsaligheid) en kennis. Vers 5 van 2 Petrus 1

B. DIE DEUGDE
Vers 5. “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,”. Nou begin ons by die deugde van die mees suksesvolste Christen. Die drie verse, (5, 6 en 7) lig hierdie deugdes vir ons uit. Dit laat my altyd dink aan ‘n leer, waar jy onder begin by dit waar almal is en gekry het, naamlik geloof. So sodra jy die eerste trap bereik het, lê die volgende trap vir jou voor. Jy kan ook nie sommer dink dat jy net vinnig dit kan klim nie, want jy moet met elke stap verseker dat die leer nog stewig staan voordat jy na die volgende trap kan gaan. Val jou leer om, dan moet jy maar weer van vooraf begin, en gly jou voet af na die vorige trap, moet jy maar net uithou en aanhou totdat jy bo kan uitkom. Ek weet nie een van ons hou van terugslae nie, maar miskien is daar nog iets wat jy op die vorige trap mis gekyk het en eers nog moet leer. Die ander eienskap wat ek by ‘n leer vind is dat iemand wat heeltyd afkyk nie maklik bo uitkom nie, want jy wil nie boontoe kyk nie. Maar jou hulp kom juis van bo af, want dan kan jy die res van die leer nog sien wat voorlê, en gee dit jou moed en por jou aan om seker te maak dat jy bo kan kom. Die ander gedeelte wat ek hieruit leer is dat ons as Christenne geloof kry as ‘n geskenk, en wanneer ons hierdie leer begin klim verander ons morele standaarde na Bybelse standaarde. En dit is iets wat die wêreldse mense en die lig gelowiges nie van weet nie, omdat hulle nie geloof het nie. So slegs die persone wat geloof ontvang het, sal hierdie leer kan uitklim. Ek hou nogal van die NASB(New American Standard Bible) se uitdrukking van “moral excelence”. Dit is wat die eerste trappie is, en dit is om jou morele standaarde te vestig. Indien die Bybel iets as verkeerd verklaar moet ons nie kom met slinkse stories om die gewoonte en sonde as niks af te maak nie. Dit is iets wat ons so baie kry by teoloë vandag wat die Bybel bevraagteken, of dit afmaak as iets wat nie meer vandag kan geld nie. Of hulle kom met voorstelle wat hulle met geen gedeelte in die Bybel kan vasmaak nie. Of hulle verskuif die klem na iets anders. So word byvoorbeeld gesê Sodom en Gomorra is verwoes omdat hulle nie na hul naaste omgesien het nie, maar Genesis 19 beskryf waaroor dit verwoes is, oor seksueele immoraliteit. Ons kan maar net terug dink aan die afgelope paar maande hoeveel van hierdie standaarde aangeval is. En dit is waar ons menseregte vandaan kom, want almal wil dat ons nie dit wat vir ons reg is meer mag toepas nie, want dit is “vernederend” vir die wat nie glo in die HERE nie. Ons het mos ons regte.
Die mense laat my dink aan ‘n gelykenis van Jesus. “Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.”(Mat 25:23-30.Die volgende trap wat ons moet baas raak is kennis. Hoe goed ken jy die Bybel? En die boodskap van die Bybel? Kan jy Christus aan mense bekendstel deur net die Ou Verbond te gebruik? Dit is waarvan Petrus hier praat. Ons moet weet wie die HERE is, in al drie vorme, Vader, Seun en Heilige Gees. Ons moet Hom intiem ken soos jy jou lewensmaat ken, indien jy wel jou lewensmaat liefhet, en nie net as ‘n slaaf gebruik nie. So ons moet die Bybel en die verlossingsboodskap ken. Ons moet weet hoekom goed gebeur het, en mense kan leer. Dit is tog wat ‘n dissipel is. Iemand wat soos sy meester geword het in alle aspekte. Iemand wat mense na kan opkyk en weet dat die persoon die HERE ken en liefhet. “En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” (Mar 12:32-34) Dit is die kennis wat ons moet leer. Daardie opgewondenheid wat jy gehad het die eerste paar kere wat jy jou lewensmaat ontmoet het, met jou hart wat hier in jou keel geklop het en waar jy nie kon wag vir die volgende kuier nie. Jesus is immers ons bruidegom waarmee ons in die huwelik bevestig gaan word as Sy bruid. Het jy nog daardie uitkyk in jou lewe dat jy soveel van Hom weet dat jy nie kan wag om eendag voltyds met Hom te wees nie. En dan sal ons Hom eers ten volle kan ken, soos ons lewensmaat.

Geen opmerkings nie: