Saterdag 03 Oktober 2015

Waar kom Johannes aan die nommer van die dier as 666?

Die merk van die dier. Die 666. Waar kom Johannes aan die nommer van die dier as 666? Wanneer ons na Openbaring kyk, sien ons dat die sesde oordeel altyd gaan oor die wat nie die HERE dien nie. Om dit te verstaan is dit as volg:

1.       Eerste 6 –En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Open 6:12-17)
So die eerste ses gaan oor die mense wat nie die HERE as hul HERE erken het nie, en sal saam met die fisiese aarde vergaan wat hier aangekondig word. En, daar is geen omdraai later nie.

2.       Tweede 6 – “En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tien duisend maal tien duisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het; want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan. En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.” (Open 9:13-21)
Dit is die mense wat ten spyte van die feit dat hulle deel van die verbond was, so hulle het die fisiese verwoesting van die aarde oorleef, maar hulle het nie geglo dat daar bekering moet plaasvind nie. So hulle het wel die Paradys gesien, maar nogsteeds geglo dat die HERE nie teenoor hulle ook sal optree nie.

3.       Die derde 6 – “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word. En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.” (Open 16:12-16)
Die mense wat naak bevind word is die wat glo dat jy geen werke hoef te doen as Christen nie, so hulle is naak. Ons lees eers later in Openbaring “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God”. (Open 19:7-9)

So die eerste ses is wanneer die ongelowiges geoordeel word wanneer die fisiese aarde verwoes word, die tweede ses handel oor die mense wat deel is van die verbond maar met hulle sondes aangegaan het en nie heiligmaking gesoek het nie, en die derde ses die wat glo dat jy maar net kan aangaan met jou lewe, sonder om ‘n verskil in die wêreld te maak, so daar is geen werke wat wys dat jy ‘n Christen is nie. Daarom dat die valse profeet as die dier bekend sal staan, want hy sal binne die Kerk nogsteeds mense verlei.

Ek het darem my boek oor Openbaring klaar geskryf gekry en is die boek die naweek gratis as eboek beskikbaar by Amazon. Die gedrukte weergawe moet jy voor betaal maar is beskikbaar as sagteband druk formaat. Indien jy my eboek oor Openbaring gratis wil kry, kan jy dit die naweek by Kindle aflaai by
http://www.amazon.com/gp/product/B015FUB238?*Version*=1&*entries*=0. Die sagteband boek is ook daar maar dit sal jy moet aankoop. Ek neem aan dit sal Amerika tyd wees en nie standaard Suid Afrikaanse tyd nie.

Ek dink die boek spreek al die gebeure van die afgelope paar maande aan waar almal met afwagting gewag het vir die vier bloedmane, en die wegraping wat baie aangekondig het hier tussen 14 September en 24 September sou plaasvind. Een van die skrywers wat vir weke bo aan die lys van New York se beste verkopers was, John Hagee, sê hy het glo 80 miljoen mense wat hy verteenwoordig. Noudat al sy leuens openbaar gemaak is, wonder ek hoeveel hom gaan sien as ‘n vals profeet, of gaan hy nog 80 miljoen boeke verkoop om te verduidelik wat hy eintlik bedoel het.

Ons almal kan maklik die Mormone aanspreek omdat hulle vir Joseph Smith gevolg het, maar wanneer dit by ons hedendaagse valse profete kom dan hang ons maar nogsteeds die persoon aan. Die Bybel verklaar egter wat met ‘n valse profeet gebeur: “En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis. Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? — as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.” (Deu 18:19-22)

1 opmerking:

Unknown het gesê...

Die nommer van die dier is sekerlik nie wat jy kwytraak nie my maat. Hierdie nommer kom van die Satan self en verteenwoordig die Satan, Antichris en valse profeet. Die valse profeet dwing alle mense om die nommer wat ook die dier se naam verteenwoordig op hulle te kry deur die mens op hierdie wyse te beheer. Daarom dat God deur die engele die mens waarsku om nie die merk van die dier te neem nie anders is jy vir ewig verlore. Dit sal dieselfde wees asof jy jou siel aan die duiwel afstaan vir die hel. Die mens word gevra om n keuse te maak wat sy toekoms sal bepaal in die ewigheid.