Dinsdag 14 April 2015

Die huwelik as voorbeeld van die verbond.

Sommer hier in die begin wil ek graag net met al die mense deel dat die huweliksverbond vir my regtig een van die beginsels is wat vandag so afgewater is dat mense nie verstaan waaroor ‘n huwelik gaan nie. Dit het vir my in die begin jare van ons bediening geneem waar ek en Hettie baie met mense gewerk het wat gesukkel het met hulle verhoudings binne die huwelik. So, toe die tyd ryp was daarvoor het ons die bediening geregistreer as ‘n nie winsgewende organisasie, hard saam met die staat gewerk sodat ons later self as huweliksbevestigers aangestel is, en kon ons ook die paadjie deel met ander mense waarvan ‘n hele paar onder ons bediening funksioneer as huweliksbevestigers. Hulle is voltyds in diens as pastore en of beraders by verskillende Kerkgenootskappe.

Maar waaroor hierdie inleiding?

Ek wil graag met ‘n fiktiewe storie begin en illustreer. Piet kom Maandag by die werk aan, en hy glimlag van oor tot oor. Nou wil almal hoor wat het die naweek gebeur dat hy in so ‘n goeie luim is. Nou begin hy sy storie.

“Weet julle ek was Sondag na ‘n partytjie en ek het daar hierdie oulike dame ontmoet. Gelukkig vir ons twee was een van die gaste ‘n huweliksbevestiger en is ons twee sommer daar en dan getroud. So nou is ek nie meer alleen nie en het ek nou ‘n vrou gekry.”

Almal kyk hom so snaaks aan en sê net “Huh. Wil jy nou vir ons tekenne gee dat jy glad nie hierdie vrou geken het nie, maar tog is julle onmiddelik getroud. Dink jy hierdie huwelik van julle gaan hou? Moes julle nie net tyd gegee het om mekaar beter te leer ken nie? Wat nou as jy uitvind sy wil jou elke middag direk na werk by die huis hê? Om nie eers te praat van die lekker tye saam met die boys nie.”

“Nee man, sy sal nou mos nie inmeng met hoe ek my lewe lei nie. Sy sal maar gewoont moet raak aan die feit dat ek elke Saterdag saam met my vriende kuier terwyl ons rugby of krieket kyk. Sy kan mos maar saamkom ook. Of sy moet maar tyd saam met haar mense spandeer.”

“En wat daarvan as jy uitvind sy is nie wat jy gedink het sy is nie? Moes julle nie net so ‘n bietjie gewag het totdat julle seker was dat julle reg is vir mekaar nie?”

Hoeveel keer het julle al so ‘n storie gehoor? Wel, ek het nog nie. Ek het wel al televisie programme van gehoor en gesien waar sulke “shotgun” troues uitgebeeld word, en wat die gevolge daarvan was. Gewoonlik is dit nie ‘n goeie einde nie. Die persoon word wakker en dan tref dit hulle gewoonlik. Wat het ons besiel om dit te doen?

Tog wanneer ons by Christenskap kom moet die prediker mos net ‘n uitnodiging doen aan die einde van sy emosie belaaide boodskap en mense half ongemaklik laat voel as hulle nie opstaan en onmiddelik in ‘n huweliksverhouding met die HERE tree nie.

Hoeveel kere het ek dit al gesien en gehoor waar dit gebeur het net om later uit te vind die persoon gaan maar aan met sy sondige lewe en niks het verander nie, want dit is mos nie nodig nie. Die prediker het dan gesê ek is nou ‘n kind van die HERE, so hoekom moet ek verander? Ek is nou mos deel van die Bruid.

Ongelukkig vir jou kan geen prediker jou in die koninkryk van God kry nie. Hy kan vir jou die voordele en nadele daarvan vertel en vir jou oproep om tot bekering te kom sodat die Heilige Gees jou kan oortuig dat net deur dit wat Jesus gedoen het, daar vir ons nou geleentheid is om kinders van God te word. Net Hy kan dit doen. Dit is wat ons in Handelinge 2 lees: “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.(Hand 2:46-47) Net die HERE kan jou as Sy kind aanneem. Jy kan nie Hom aanneem en dink jy is reg nie. Doen jouself ‘n guns en lees deur Hebreërs hoofstuk 12, en daar sal jy sien dat om kind van God te wees nie net maanskyn en rose is nie. Die HERE verwag heiligmaking. Dit is deel van die proses van aanname deur die HERE. Soos aanname in die fisiese wêreld werk, so werk dit ook in die geestelike. Ek kan nie as kind na iemand gaan en sê ek het jou aangeneem as my vader en nou is jy verantwoordelik vir my nie, nee die vader moet die kind aanneem en dan aanvaar hy ook verantwoordelikheid vir die kind. Presies so werk die HERE ook. Hy moet verantwoordelikheid as Vader vir my aanvaar en dan kan ek Sy kind wees.

Die verhouding met die HERE in die Bybel word vir ons sovele kere uitgebeeld as ‘n huweliksverbond. Maar hoe werk dit?

Die eerste plek waar ek moet uitkom is dat ek nie gemaak is om aan alle behoeftes van myself, beide geestelik en vleeslik, te kan voldoen nie. Dit is tog waarna ons kyk voor ons met iemand trou. Ek vind skielik uit dat dit vir my lekker is om in die persoon se teenwoordigheid te wees, om dinge saam te kan doen, en om die persoon net so ‘n bietjie te kan bederf. Dit is mos waaroor dit gaan. Dit gaan mos vir my daaroor om iemand anders te kan bedien en te voel dat jy waardeer word. Dat die liefde wat jy vir die persoon het, nie leeg na jou toe terug keer nie, maar dat jy ook sommer bederf word. Dat jy hierdie opgewondenheid het om die persoon weer te sien, dat jou hart sommer bollemakiesie slaan hier binne jou as jy hom of haar net sien. Dat jy alles wat jy het en is, met die persoon wil deel.

So ek het agter gekom dat ek iets kort kom om geluk te kan belewe. Dit is hoe dit met Christenskap ook is. Ek moet eers besef dat ek ‘n verlosser nodig het voordat ek myself kan toewy aan die HERE. So daar moet eers ‘n tyd van hofmaking plaasvind. Waar ek uit my pad uit gaan om die HERE te bewys dat ek wel Hom nodig het in my lewe. Dat ek besef wat liefde is, naamlik om my beste, my alles vir Hom te gee, want Hy het vir my Sy beste, Sy enigste Seun gegee, sonder dat ek dit verdien het of daarvoor gevra het. Hy sal ook vir jou graag wil bewys dat Hy ook vir jou as Sy kind wil hê.

Nou kan ons eers by die plek kom waar ek openlik my geloof kan bely. Nou kan ek eers uitkom by die plek waar ek my volle vertroue in die HERE kan plaas. Dit is waarvan die skrywer van die boek aan die Hebreërs praat in hoofstuk 11 verse 1 en 6: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Nou kan ek eers by die verbondsmaal van die HERE gaan aansit, om nagmaal te gebruik. Dit is die plek waar ek deel in Sy bloed en Sy vlees. Wanneer ons nou na die huwelik kyk is dit waar baie mense vasval en nie glo wat die huweliksverbond beteken nie. Wanneer ‘n vrou haar maagdelikheid verloor, is daar altyd bloed, want ‘n verbond moet met bloed beseël word. So wanneer ons die eerste keer gemeenskap het, tree ons toe as verbondsvennote, vir ewig en altyd. Indien ek dus buite my huwelik gemeenskap met ‘n ander persoon het, verbreek ek my verbond, en staan ek skuldig aan egbreuk. Dit is hoe heilig die verhouding tussen man en vrou, en mens en God is. Ek kan nie teruggaan na my lewe voor ek die HERE ontmoet het nie, want dan pleeg ek egbreuk en sal ek skuldig staan voor die HERE. Hoe kry ek dit reg? Deur die doop, waar die mag van sonde in my lewe gebreek word.

Nou gelukkig gebeur sulke goed darem nie in ons lewens nie, en besluit ons om ‘n huisgesin te begin. Dit is tog heeltemaal normaal vir ons. Dit was tog immers die eerste bevel, en dit voor die sondeval, wat Adam en Eva ontvang het: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen 1:27-28)

Maar wanneer ek kyk na my huweliksverbond met die HERE, dan het ek baie vinnig ‘n verskoning. Dit is die dominee, pastoor, evangelis of sendeling se werk. Hoe kan ek nou kinders voort bring as Christen? Dit is tog die enigste opdrag wat ons ontvang het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt.28:19. Nee, ek moet uitgaan in my lewe, en deur my lewe moet ek mense kan oorhaal om ook in ‘n huweliksverbond met die HERE toe te tree.

Net soos ek my kinders leer van die lewe, so sal ek ook met my geestelike kinders kan optree, maar dan moet ek in verhouding met my Vader staan. Hulle moet weet dat hulle ‘n veilige plek en oor het waar hulle hul vrae kan vra en antwoorde kry op hul vrae. ‘n Plek waar die persoon weet dat ek nie iets van hulle sal verwag wat ek nie bereid is om self ook te doen nie. ‘n Plek waar hulle gevoed sal word, en daar vir hulle voor omgegee word. ‘n Veilige hawe. ‘n Lewe waar hulle kan sien dat ek in verhouding staan met die Bruidegom, daar moet geen twyfel by hulle wees nie. Dit is wat dit beteken om mense dissipels te maak. Ek kan nie verwag dat die dominee of kerkraad of wie ook al hierdie plig het nie, nee, elkeen van ons wat in ‘n verhouding met die HERE staan, sal hierdie behoefte aan ‘n eie familie hê.

So my bede is dat ons almal vrugbaar sal wees, en dat ons almal die opdrag van die HERE, om dissipels te maak, sal uitvoer.


Geen opmerkings nie: