Dinsdag 21 April 2015

Wat is Hisop?

Ek het al baie in my lewe oor snaakse onderwerpe gedink. Goeters wat ander mense nog nooit eers oor gedink of van gehoor het nie. Maar, dit is nou maar wie en wat ek is. Ek het regtig ‘n behoefte om die storie agter die storie uit te pluis. Vroeër jare in die rekenaar bedryf was ek die een wat altyd foute moes soek in programme wat ander mense geskryf het. Of ek moes vinnig ‘n rekenaar programmeeringstaal aanleer om kursusse vir kliënte te gee. Of heeltemal nuwe rekenaars van voor af te laat werk sonder enige opleiding. Dit het selfs gelei tot ‘n tyd waar ek gevra is om Boston toe te gaan sodat ek self die bedryfstelsel van die een rekenaar stelsel moes verander om aan die behoeftes wat ons in Suid Afrika gehad het, aan te voldoen.

Een van die snaakse goed wat ek eendag oor gewonder het was hisop. Nou mag jy my vra waar in die Bybel lees ons van hisop? Daar is so ‘n paar gedeeltes waar dit voorkom, maar ek sal so ‘n paar gedeeltes verduidelik wat ek gevind het.

Die eerste gedeelte wat my kop regtig aan die gang gesit het kom uit Psalm 51. Hier lees ons die volgende: “Psa 51:7  (51:9) Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.” Hier vra Dawid vir die HERE dat Hy sy sondes moet wegneem met hisop nadat hy owerspel gepleeg het met Batseba. Wat het Dawid laat besluit om so ‘n snaakse vraag vir die HERE te vra? Vir my was dit regtig snaaks, en het dit my natuurlike ondersoekings behoefte gestimuleer. Ek hou daarvan om in ‘n ander persoon se kop te klim en uit te vind hoekom hy so optree of dink.

Die enigste bron wat ek kon gebruik was natuurlik die Bybel. So, ek het maar begin waar ek dit die eerste maal in die Bybel gevind het, en dit was in Eksodes. “Exo 12:22  En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.” Hier lees ons dat elke huis van Israel in Egipte moes bloed aan hulle deurposte smeer sodat die doodsengel by hulle verby kon gaan die nag wat die HERE die eersgeborene van die Egiptenare saam met hulle eersgebore vee gedood het. Dit was deel van die verbond wat die HERE met hulle gehad het.

Nou verstaan ons sommer ook waar Dawid aan sy versoek gekom het aangesien hy geweet het dat die tradisionele gebruik van hisop saam met vergifnis van sonde die doodsengel sou wegneem van hom. Onthou net die hisop self het niks gedoen nie maar die teken wat dit verteenwoordig het, het gemaak dat die dood nie meer mag het oor hom nie en dat hy rein verklaar word daardeur.

Maar is ek seker van my standpunt?

Maar, hoekom juis hisop?  Hisop is ‘n medisinale kruie plant wat gebruik is om ‘n persoon se longe en asemhaling mee te behandel.  So, die HERE wil dat soos Hy in die tuin van Eden Sy asem in die mens geblaas het, weer ons asem reinig van die asem van Satan.  Hy wil weer Sy asem, Sy Gees in ons plaas.  Dit is die een rede.  Die plant is ook bekend vir sy sterk wortelstelsel wat selfs binne in klippe kan gaan, en lees ons dat dit voorgekom het op die mure wat om die stede gebou is.  So moet ons leer dat ons so aan Hom, die Rots, gekoppel moet word dat ons wortels binne in Homself sal wees, sodat wanneer ons van die Rots verwyder word, ons nie kan bestaan nie, want al ons wortels sal saam met die Rots verwyder word.  Geen plant kan bestaan as sy wortels verwyder word nie.  Die Rots is ons enigste vesting. Ons lees hiervan in die geskiedenis van Salamo: “En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.”(1Konings 4:33)

Verder lees ons in Numeri en Levitikus dat die priesters die bloed van die offerdier of voël met hisop op die altaar gesprinkel het. Dan is daar ook die voorskrifte gewees dat indien iemand melaalts was hy ook met water en hisop besprinkel moes word om skoon te kom van die melaatsheid. So is hisop ook gebruik om persone weer te heilig wat aan ‘n dooie persoon gevat het of selfs gevat het aan ‘n been of arm wat van ‘n liggaam verwyder is. (Afgekap in oorlog of in ‘n dispuut of op watter manier ookal.) So is huise ook geheilig met hisop en water en skarlaken.

So al hierdie gebeure wys daarop dat indien jy of iets onrein was, dit weer gereinig is deur hisop wat in water of ‘n vloeistof ingesteek is en die voorwerp of persoon daarmee besprenkel is.

Dit is dan ook die rede waarom Dawid vra dat die HERE hom sal ontsondig met hisop, want Dawid het geweet dat hy dan weer rein verklaar word deur die HERE.

Nou vind daar ‘n baie interessante gebeurtenis plaas wat slegs Johannes opgeteken het, maar, ons weet ook dat hy die enigste persoon was wie se evangelie geskryf is na aanleiding van dit wat hy persoonlik gesien en gehoor het. Jesus hang aan die kruis op Golgota, en hy roep uit dat hy dors het. “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”(Joh 19:26-30)

Is dit nie merkwaardig dat Jesus eers rein verklaar moes word deur die Vader voordat Hy gesterf het nie. Jesus het geweet dat voordat Hy sterf daar nog net een iets moes plaasvind voordat Hy gesterf het. Johannes stel dit so pragtig dat Jesus geweet het dat alles wat Hy moes kom doen het was gedoen. Nou was dit nog die een vereiste dat Hy rein verklaar moes word volgens die ou verbond, en toe sterf Hy.

So alles wat ons in die Bybel lees is met, of vir ‘n spesifieke rede gedoen. Niks was maar per ongeluk nie.

So vra ek ook dat jy sal besef dat ons rein voor die Vader kan verskyn. Maar ons moet weet dat dit geskied wanneer ons weet dat Jesus ons verlosser is en ons ons onder die bloed van die Lam plaas met nagmaal.


Dan is ons rein en is ons Sy Koninkryk waardig.

7 opmerkings:

Unknown het gesê...

Goeie more en baie dankie vir die inligting, soek nou al lank n stuk soos die wat dit uit een sit.
Wees geseend groete inus

Unknown het gesê...

Goeie more,baie dankie vir die mooi uiteensetting van die woord hisop.Ek kan u nie se hoe baie dit my stug nie,ek dank God vir mense soos u'hulle wat God gebruik om ons ook te laat verstaan rondom Sy woord.Mag God u bediening seen.

Unknown het gesê...

Baie dankie.Dis so waar dat kennis van die Woord beslis die mens se geloof nie net versterk nie maar jou in verwondering laat.
Elke woord in die Bybel is waar en met n doel.Ons God is voorwaar almagtig.

Anoniem het gesê...

Amen dis al wat ek kan se.

Anoniem het gesê...

Mag ek vra wat is die betekenis van die kort woorde in party psalms?

Anoniem het gesê...

Sjoe dis tog n goeie antwoord
Hoe belangrik is reinheid voor God

Anoniem het gesê...

Hallo sela beteken Pause dink oor bogenoemde vers ...