Dinsdag 28 April 2015

Ondersteuning na die sterfte van ‘n kind, geliefde, eggenoot, vriend. Gerig aan ‘n mamma en pappa wat ‘n kind aan die dood moes afstaan.

Vir Mamma en Pappa

Ek wil graag die gedeelte met almal deel. Dit handel oor die afsterwe van ‘n jong kind, en is ‘n ondersteunings briefie, maar enige afsterwe bring maar dieselfde of soortgelyke vrae by ‘n mens op.
Ek dink die eerste ding wat ek vir julle moet sê is dat julle nie sy dood as straf moet ervaar nie. Die HERE sal nooit dood gebruik om jul te straf nie. Dit is baie belangrik dat jy dit moet verstaan. Ons moet onthou dat lewe en dood is in Sy mag, en die Bybel verklaar ook as volg: Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Jakobus 1:13

By die afsterwe van ‘n jong kind is die eerste vraag wat ek weet by almal eerste opkom is hoe kon die HERE hom so jonk laat sterf het.  Ek glo dit is hoe jy ook seker gevoel het, en nog steeds voel. Jou gedagtes is nog by die vraag: “Ek het hom so lief gehad en daar is nog soveel wat ek nog saam met hom wou doen en hoe kan die HERE hom wegvat as Hy weet ek my seuntjie so baie lief?”

Eerstens moet ons moet onthou dat ons almal vir ‘n rede op aarde geplaas word. Almal wat vir ons lief en dierbaar is word vir ons vir ‘n sekere tyd en doel geleen. Nie ons wederhelf of ons kinders word ooit ons besitting nie, hulle word  slegs deur die HERE aan ons geleen. In jou kind se geval was sy tyd wat hy op aarde moes wees verby, en het hy terug gekeer na die Een wat hom vir jou geleen het. Hy het sy doel aan voldoen.

Ek kan nie vandag vir jou sê wat sy doel in julle lewe was nie, maar ek weet uit ondervinding dat sulke goed gebeur sodat jy weer vir iemand anders wat deur dieselfde of soortgelyke ondervindings gaan, kan bystaan. Net een wat so ‘n ondervinding al deurgegaan het sal ooit kan verstaan waar jy nou deurgaan.

Ek dink ek en Hettie het ‘n idee hoe jy voel. Ek wil vir jou graag iets meedeel wat seker so 34 jaar gelede gebeur het. Ek was in die hospitaal nadat hulle my neus probeer regmaak het na ‘n ou gimnastiek ongeluk. Die Saterdagoggend na die operasie het Hettie gou ‘n draai by my kom maak in die hospitaal om te sien hoe dit gaan. Onthou daar was nie selfone in daardie dae nie, so sy kon nie net bel nie want die hospitale was ook maar baie streng en het sommer net die foon neergesit as jy gebel het.

Hettie is toe terug huis toe, en het ons huishulp gevra waar die kinders was. Die huishulp het toe vir haar gesê Barney het vir haar gesê hy wil na ‘n maatjie toe gaan en sy het hom gevat. Hettie het haar toe gestuur om hom te gaan haal by die maatjie. Die bediende het so ‘n paar minute later ingestorm gekom en gesê Barney het voor ‘n motorkar ingehardloop en hy het baie seer gekry. Hy het toe sy been gebreek, skedelbreuk opgedoen en sy linker voet was vergruis. By dit was hy in ‘n koma as gevolg van bloeding op die brein. Hy was toe maar in graad 1.

Dit was vir ons ‘n verskriklike ervaring aangesien hy vir amper tien dae in ‘n koma was. Ek het die oggende voor werk in Hillbrow by die hospitaal gestop, gaan kyk of daar verandering was en dan maar werk toe gegaan. Die dokters kon niks doen aan enige van die beserings op daardie stadium nie omrede hy in ‘n koma was. Die een oggend het ek in die kar gesit voor ek in die hospitaal gegaan het en seker die een gebed gedoen wat my lewe verander het, en seker die moeilikste besluit was wat ek as ouer ooit in my lewe gedoen het. Ek kon nie dit meer uithou om hom so te sien lê en ly nie en het die HERE gevra dat hy of moes bykom daardie dag, of die HERE moes hom kom haal want ek kon nie meer verder gaan om te sien hoe hy ly nie. Weet jy hoe het ek gehuil toe ek by hom in sy kamer kom en die suster vir my sê daar is geen verandering nie, maar toe ek aan sy handjie vat dat hy half uitskreeu “Hallo Pappa”.

Dit was net ongelooflik hoe groot daardie oomblik was. Ek en Hettie het regtig afskeid geneem van hom maar het toe ook geweet daar is nog ‘n rede hoekom die HERE hom vir ons terug gegee het. Hy het toe nog ‘n verdere tien weke in die hospitaal deurgebring en na dit nog drie of vier operasies en veloorplantings deugegaan.

So ek dink ek weet hoe jy voel, ook met die dat ek nou al meer as twintig jaar lank veg teen hierdie kanker wat seker nog, as ek net na die verandering in my gesondheid kyk, binne die volgende ses na twaalf maande my lewe gaan kos. Al wat ek geleer het daaruit is dat die HERE my nog kans gee om my roeping te vervul.

Ek het net geleer om gedurende hierdie tyd nie vas te kyk in hoe ek voel of wat my omstandighede is nie, maar dat ek kyk na wat ek moet leer uit hierdie ondervinding sodat ek dit weer met ander kan deel.  En natuurlik my oë op Hom vestig wat my elke dag die krag gee om deur te druk. Weet jy watter voorreg dit vir my is om te weet dat die HERE my gebruik, ten spyte van dit wat ek deurgaan? En ek weet net dit is wat hy ook vir jou het. Daar is ‘n lied wat nou skielik opkom by my wat deur Scott Wesley Brown gesing is. Dit lui as volg:

You have faced the mountains of desperation
You have climbed, you have fought, you have won
But this valley that lies coldly before you
Casts a shadow you cannot overcome

And just when you thought you had it all together
You knew every verse to get you through
But this time the sorrow broke more than just your heart
And reciting all those verses just won't do

Chorus:
When answers aren't enough, there is Jesus
He is more than just an answer to your prayer
And your heart will find a safe and peaceful refuge
When answers aren't enough, He is there

Instead of asking why did it happen
Think of where it can lead you from here
And as your pain is slowly easing, you can find a greater reason
To live your life triumphant through the tears
Repeat Chorus

Ek weet regtig nie hoe om jou verder te vertroos nie, maar weet net dat Hy altyd alles tot ons beswil laat gebeur. Vir ons lyk dit vandag dalk nie so nie, maar eendag wanneer ons saam met jou kind by Hom is, sal ons alles verstaan.

Die een groot les wat ek self geleer het, is dat dit nie help dat ek tent opslaan by gebeure wat ek nie verstaan hoekom dit gebeur nie, maar dat die lewe aangaan en ek nog nie my eindbestemming bereik het nie. Maar hierdie pad wat ek moet loop, gaan beide sy deel van goeie en slegte ondervindings hê, maar ek weet dat die HERE altyd daar is vir my. Hy het my nog nooit verlaat nie, en Hy sal ook nooit vir jou verlaat nie, want Hy weet dat jou moederhart oorloop van seer en baie vrae het, maar, dat wanneer jy aanbeweeg het en wie weet dalk oor ‘n paar dae, maande, of selfs jare sal jy uitvind wat die rede vir hierdie gebeurewas.

Weet net dat jou kind alreeds daar is waar ek en jy nog na uitsien om te wees.
Paulus stel dit vir ons so: Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.  Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.”
So net om saam te vat:
·         Sy dood is nie om jou te straf nie, maar sy tyd wat hy aan julle geleen was, is verby.
·         Ons moet berusting vind in die wete dat hy is waar ons almal graag eendag wil wees.
·         Ek mag treur oor sy heengaan, maar ek moet nie tent opslaan by die gebeurtenis nie, maar aanbeweeg met my lewe, sodat ek ander kan bystaan wat deur dieselfde of soort gelyke gebeurtenisse gaan. Ek het groot geword in ‘n huis waar my oudste broer as jong baba oorlede is, en alhoewel ek hom nooit geken het nie, het my ouers my tog van hom vertel en fotos van gewys. Dit was ‘n gebeurtenis wat niemand van hulle kon wegneem nie.
·         Julle is nie die eerste persone wat daardeur gaan nie. Daar is elke dag iemand wat in dieselfde bootjie as julle is, en wanneer julle hierdeur gewerk het, sal julle weer ander kan bystaan terwyl hulle deur hulle verdriet moet werk.
·         Niemand sal ooit die herinneringe van hom kan wegneem nie. Ons moet die tye wat ons saam was onsself in verbly en koester.
·         Ten slotte wil ek net ook byvoeg dat julle nooit moet toelaat dat bitterheid by julle pos vat nie.
Ek hoop regtig dat die HERE julle sal vertroos, en wil afsluit met wat ons van Paulus leer: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” 2 Korintiërs 1:3-4. Dit is ook my “motto” vir my lewe.

Seën groete vir almal.

Geen opmerkings nie: