Dinsdag 05 Mei 2015

Hoe maak ek dissipels van mense?

Ons almal ken die opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het. Wanneer dit by die uitvoer daarvan kom, kan ons die groepe en hulle optrede basies in twee, dalk drie verskillende groepe deel. Hoekom ek sê miskien drie maar gewoonlik twee, is omdat die een groep se antwoord eintlik nie strook met die Bybel nie, en dus opsy gesit kan word. Die groep wat se antwoord is gewoonlik dat as die HERE jou nie gekies het nie, help dit nie dat ek met jou oor Jesus praat nie, want ek mors basies my asem. Die groep sal ek indeel onder die wat min geloof het, of anders gestel, geen geloof het nie. Hulle sal ook gewoonlik baie min mense op die sendingveld uitstuur of ondersteun, alhoewel hulle gemeentes (in hulle eie Kerkverband) sal ondersteun wat ‘n tekort het om hulle leraar te onderhou. Dit word gewoonlik gesien as hulle sendingwerk.

So met hulle uit die weg, wat is die hoofgroepe? Die eerste groep se antwoord is dat ek iewers heen moet gaan om die mense dissipels te maak, en die ander groep die wat glo dat ons orals moet optree. Wie is nou reg? Die antwoord hou baie mense so besig dat hulle vergeet dat die antwoord nie eintlik saak maak nie, maar dat die opdrag uitgevoer moet word. Ek het al hoevele artikels en boeke gelees en redenasies gehoor oor hoe en wat alles beteken, maar op die ou einde van die dag word die opdrag nie uitgevoer nie. As ek my opinie daaroor mag lug, is dat altwee reg is, in die sin dat die HERE sommige geroep het as Evangeliste, en ander as Apostels. Albei hierdie roepings verwag dat die evangelie aan ander mense uit gedra moet word.

Wat is ‘n Dissipel?

Voordat ons begin om te kyk hoe ek ‘n dissipel van iemand kan maak, moet ek eers weet wie of wat ‘n dissipel is. As ek kyk hoe die oorspronklike twaalf dissipels opgetree het tydens hulle tydperk saam met Jesus op aarde, het hulle gedoen wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, en verder het hulle by Hom gebly en het Hy hulle geleer. Hulle het alles verlaat en Hom gevolg. Jesus het self gesê dat hy wat ouer of vrou of kind bo Hom stel, Hom nie waardig is nie. Nogal harde woorde die. So, ‘n dissipel is iemand wat Jesus se doel op aarde voortbring en Sy volgeling word, met ander woorde hy het soos Jesus geword in optrede. Dit is een van die voorvereistes om ‘n dissipel te wees. Ek kan nie ‘n dissipel wees as ek nie soos my leermeester is nie.
‘n Voorbeeld wat Jesus gebruik het was dat Hy vir Petrus en sy broer vissers van mense gaan maak. Nogal ‘n interessante voorbeeld. So wat beteken dit om vissers te wees. Dit beteken om die Woord, die lewenswyse van Christus ten toon te stel om geëet te word. So, ‘n dissipel is iemand wat mense die Woord en lewenswyse van die HERE voorhou.

Wat is ons taak?

Ek wil graag die visser voorbeeld van Jesus gebruik om te bespreek hoe ons dissipels maak. As ons mooi daaroor dink, wanneer ons visvang, vang ons nie sommer blindelings al die visse nie. Nee, sommige kom tog weg al gebruik ons ‘n net. Net die wat in die net kom, of as ons met ‘n stok vang, die aas eet, word gevang.  Ek weet nie of u al vis gevang het met ‘n stok nie, maar dit is vir my nog steeds een van die lekkerste gevoele as die vis byt. O, om te weet nou moet ek hom versigtig inbring, anders verloor ek hom. Dan wanneer ek hom so sien spartel, weet ek dat ek sal al my vernuf moet gebruik om hom geland te kry. Wanneer jy wel die vis ingebring het, is daar nog ‘n tydjie van spartel, maar dan sterf die vis, en word hy dan eers vir my bruikbaar om gebruik te word, of as voedsel of as aas.
Dit is die taak wat Jesus ons opgelê het. Ons moet die aas, met ander woorde, die Woord en lewenstyl, ten toon stel. So ek kan nie ‘n dissipel maak as ek nie self ‘n dissipel is nie. Nee, waarvan ek ‘n dissipel is, is al waarvan ek ‘n dissipel kan maak. Die vis, die ongelowige, moet dit sien en ruik en smaak dat dit aanloklik is en dit wil hê, voordat hy byt. Ek kan nie vir die vis die voordele van my aas vertel en dat my aas al die voedingstowwe bevat wat sal maak dat hy nie meer honger word nie. Nee, die vis moet dit sien en begeer, en dan sal die vis hap. Ek kan nie namens die vis die aas eet nie. Dit beteken dat ek kan nie namens die persoon die HERE aanneem nie. Die persoon self moet besluit dat dit wat hy in my lewe sien, vir hom begerig is, en dan sal hy my kom vra wat hy moet doen. Dan gaan hy spartel want hy wil nie van dit wat hy gedoen het afstand doen nie. Hy gaan baklei, en ek sal al my kragte en vernuf moet inspan om hom te oortuig dat dit vir hom beter is om gevang te word as om in die verderf te bly. Hy gaan nie hou daarvan dat jy hom tereg wys nie. Party gaan jy verloor, maar miskien byt hy later aan iemand anders se aas, of dalk die Satan se aas. Onthou net Gal. 6: 5 "Want elkeen sal sy eie pak dra". As ek hom by die HERE gekry het, gaan hy sterf, want ons is nie besig om ‘n akwarium te bou om visse ten toon te stel nie, maar om visse te vang om gebruik te word.

Maar hoe doen ek dit nou regtig?

Deur dit uit te straal in my lewe wat Jesus is. As ek nog baie van myself is, gaan ek ander persone soos myself maak. Ek gaan hulle vertel van my lewenswyse en my teologie en gebruike. Paulus beskryf vir ons in Galasiërs 6 wat mense probeer doen. Vers 12  "Almal wat 'n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. 13  Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem."  Ek het al hoeveel keer by mense gehoor dat hulle soveel en soveel mense na Jesus toe gelei het. As ek hulle vra hoe hulle opgetree het, het hulle die meeste kere met behulp van ‘n traktaaitjie wat hulle iewers gekry het, die evangelie gedeel, en dan word dit gewoonlik afgesluit met ‘n gebed wat die persoon moet bid, of nog ander dink hulle kan die gebed namens die persoon nog doen ook. Dit maak my skoon kwaad as mense so optree, want statistieke oor die wereld bewys dat slegs 7 % van die persone wat so die evangelie mee gedeel word, werklik tot bekering kom. So my vraag is dan: Indien jy soveel geleentheid gehad het om die evangelie te deel met mense, hoekom het jy dit nie gedoen nie?
Dit gaan nie oor die deel van die evangelie nie, dit gaan of die persoon begerig is om dit wat hy in jou lewe sien, te wil hê. Gestel ek kom van ‘n afgeleë deel van die wereld en het nog nooit gehoor van die Bybel of enige iets rondom dit nie. Nou kom u by my en vertel dat as ek nie Jesus aanneem nie, ek hel toe gaan. Weet u wat my antwoord gaan wees? "Huh?? Waarvan praat jy nou." Indien ek wel iemand sien wat mense gesond maak, of nie opgee wanneer allerhande moeilikhede oor sy pad kom nie, deel wat die HERE op Sy hart het vir my en my van my verlede meedeel soos beskryf in 1Kor.14 vers 24-25: “Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.”:, dan sal ek begin vra hoe die persoon dit regkry, want ek sal dit ook graag wil hê. So dit help nie ek gebruik al die hulpmiddels in die wereld nie, ek moet self die paadjie loop, dan sal mense begerig word om hulle lewe aan te pas en te verander.
Dit is dissipel maak.
Ek het die gedeelte van Lukas ingesluit wat handel oor dissipels en metodes van dissipel maak uitlig soos aan die begin van die skrywe genoem is toe Jesus vir Petrus en Johannes geroep het. Die eerste een is hoe ons dit sovele kere vandag sien, en dan hoe dit regtig gedoen word.
“Luk 5:1  En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan 5:2  en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel. 5:3  Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ‘n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. 5:4  En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. 5:5  En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. 5:6  En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. 5:7  Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. 5:8  En toe Simon Petrus dit sien, .....”
Lukas 5 (Moderne weergawe)
was hy gevul met vreugde. 5:9 En hy het heengegaan en al die ander vissermanne vertel hoe die HERE sy besigheid geseën het, en dat van nou af Jesus as sy mede kaptein en eienaar van sy besigheid aangestel is en dat hy van nou af 1/10 van sy opbrengs aan Jesus gaan gee. 5:10 En Petrus het begin optree by manne ontbyte en manne naweke waar hy sy getuienis gegee het en mense aangemoedig het om Jesus as hul mede kaptein en eienaar aan te stel. En baie mense het sy voorbeeld gevolg terwyl ander hulle nie daaraan gesteur het nie. 5:11 En soos sy besigheid floreer het, het Petrus meer en meer bote gekoop en vissers aangestel in sy besigheid, en het hy afgetree as 'n gesiene besigheidsman, hoog aangeslaan by mense en die HERE.
Die regte einde hoe die Bybel dit opgeteken het:
“val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man! 5:9  Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; 5:10  en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. 5:11  En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.”

So my vraag is: “Watter voorbeeld volg jy? Jesus, of wie?”

Geen opmerkings nie: