Dinsdag 19 Mei 2015

Is Christene goedkoop?

Is Christene goedkoop?

Dit is nogal ‘n snaakse vraag wat ek hier vra. Maar waarom vra ek hierdie vraag?
In my lewe het ek al met baie mense met uiteenlopende standpunte te doen gehad. Party was so vas oortuig was van hulle standpunte dat dit onmoontlik is om eers met hulle te kan praat oor Christenskap. En dan weer ander wat nie kan wag om te hoor wat jy met hulle wil deel nie. Maar een aspek wat ek in beide groepe gekry het, was dat wanneer dit aan hulle sak raak, hulle baie keer dieselfde voel en dieselfde argumente gebruik net om hulle sak toe te hou.

Hoekom sê ek dat Christene goedkoop is?


Ek onthou een persoon wat by Hettie gekom het om so ‘n bietjie te praat en emosionele heling te kry vir homself, baie vinnig was om te sê dat hy glad nie vir haar enige donasie sal gee nie alhoewel hy geweet het dat sy as ‘n Christelike berader geleer het en gekwalifiseerd was, en natuurlik het haar studies geld gekos. Sy rede was die Bybel verklaar dat verniet het jy ontvang, en daarom moet jy dit verniet uitdeel.
Maar van goedkoop Christene het ek self ‘n paar voorbeelde. Ons het ‘n webtuiste waar ons die boeke wat ek geskryf het, verniet laat aflaai het. Oorspronklik het ons probeer dat mense R20.00 moes betaal per boek. Na ses maande en geen boeke wat afgelaai is nie, het ek besluit om dit gratis te maak, maar vir die mense te vra dat hulle vir ons ‘n donasie sou inbetaal by die bank. Al ons besonderhede was in elke boek beskikbaar. Daarna oor ‘n tydperk van 7 jaar, is daar net so oor die 23000 boeke afgelaai, en sover net een inbetaling in ons rekening van R50.00. Die feit dat dit my twintig jaar geneem het om dit te skryf en na te vors het natuurlik geen koste gehad nie. Indien ek egter ‘n skrywer was wat mense se gehoor gestreel het soos wat sovele uitgewers dit vir my gestel het, sou ek seker R50 per eboek kon kry, wat my so net oor ‘n miljoen Rand in die sak sou bring. Sou nogal lekker gewees het.
Maar ons betaal mos net vir bekende persone soos een wat ‘n manne naweek gehou het, R500 kampgelde per persoon gevra het en toe driehonderd duisend manne daar gehad het. Nogal ‘n redelike inkomste voor al die “love offerings” van so by die R15 miljoen vir ‘n naweek. Nie sleg nie. Ek sou nogal baie arm Christene daarmee kon help. Maar dan is die persoon bekend en streel hy die gehoor. Ek weet want ek was ook al by een van sy byeenkomste.  Ek het ook na ‘n opvolg byeenkoms gegaan wat die manne begin het na dié naweek om te hoor wat hulle oor praat en hoe hulle voel oor die boodskap. Al wat ek geleer het uit die aand is dat almal nou skielik weet om “Amien” te sê as jy saam met die spreker stem of as die ander so sê, en dat hulle nog nie eers weet van Hebreërs 5 se melk nie, wat nog van vaste spys.
Dan is daar ook van ons bekende sangers wat al erken het dat hulle met elke meisie wat wou bed toe gegaan het na optredes, en nou skielik hulle “eie” dagstukkie boek uitgebring het, en duisende daarvan verkoop het.
‘n Hele ruk gelede het ons by vriende gaan kuier wat voltyds in die bediening staan. Ons het een aand aan die gesels geraak oor hoe een Christen ‘n ander Christen kan uitbuit. Die vriend van ons  het toe vertel hoe hy by verskeie veilige verblyfplekke vir mense wat alles verloor het in die lewe, dienste gehou het op Woensdagaande en Sondae. Dit wat ek gehoor het wat daar aangaan, het my hare laat regop staan.
Hy vertel my toe van ‘n persoon wat gehoor het dat hy ‘n opgeleide elektrisiën is, en hom gevra het of hy nie weet van iemand wat ‘n elektrisiën soek nie, want die persoon is ook een. Die persoon wou weer graag met sy lewe aangaan, maar hy kon niks doen by die plek nie, behalwe dat hy gevorseer word om met ‘n blikkie op die straathoeke te gaan staan en bedel vir die instansie wat hom huisves. Indien my vriend iets sou hoor, moes hy hom ‘n briefie in die hand stop wanneer hulle groet want indien die mense uitvind dat my vriend vir hom werk soek, sou my vriend onmiddelik verbied word om verder dienste daar te hou en sou die persoon en sy gesin uitgesit word op straat.
Hoe hulle gewerk het by die plek is dat die hoeveelheid kos wat jy vir jou gesin gekry het afgehang het van hoeveel geld jy die dag ingebring het. So het hulle dan verhoed dat die mense vir onderhoude kon gaan, maar het die eienaar seker gemaak dat hy ‘n inkomste verkry het.
So weet ek ook van Christenbedienings wat dienste aanbied vir Christene, maar indien jy nie kan betaal vir die dienste nie, moet jy maar suffer of iets verkoop om te betaal vir die dienste voor hulle jou sal sien. Indien hulle nie die resultate behaal waarvoor jy betaal het nie, is dit in elk geval nie hulle probleem nie en word jou geld nie vir jou terug betaal nie, want die fout lê verseker nie by hulle nie.
Hierdie geld ook vir Christen mense wat hulle uitgee om vir jou, veral blanke mans in die nuwe Suid Afrika, te help om ‘n ambag te bekom sodat jy jou eie besigheid kan begin. Hulle vra jou om te betaal, en dan vind jy uit dat hulle jou net die basiese leer, en indien jy jou wettiglik wil bekwaam, jy maar weer sal moet betaal, want van die 48 krediete wat jy nodig het, het jy slegs 3 verdien. En natuurlik het jy nog geen krediete vir praktiese werk verwerf nie. ‘n Persoon wat by ons Bybelskool was, het die stel afgetrap.
Op ons webtuiste het ons ‘n forum gehad waar mense hulle drome kon beskryf en dan het ek en Hettie die drome vir die mense uitgelê. Van hulle was maar drome oor waaroor die persoon se aandag die hele dag of tydperk was, maar daar was ook drome waar die HERE met mense gepraat het. Van die mense het sommer kwaad geword as ons langer as ‘n paar dae gevat het om die uitleg van hulle droom te pos, alhoewel die diens gratis verskaf was. Toe ek eendag besluit het om van die mense wat gereeld drome gepos het te nader om te help om die koste van die webtuiste te betaal, was die antwoord wat ek gekry het, net stilte. So het ons toe besluit om die forum te sluit.
So om saam te vat, is die probleme wat baie van ons as Christene mee sukkel die volgende:
·         In die eerste plek kry ons Christene wat ander Christene uitbuit in die naam van die HERE;
·         En dan is daar die Christene wat alles verniet wil hê sonder om die persoon wat die diens lewer, in ag te neem.
·         En dan is daar die gewilde en bekendes wat maar net meer en meer kry. Of hulle nou werklik help is oop vir debat.
·         En dan kry ons persone wat voltyds as leraars/pastore in gemeentes staan, maar hulle lidmate sal eerder die nuutste boek of CD/DVD koop as om te help dat die leraar ook kan oorleef. Baie van hulle moet maar uitspring en ook ‘n ander werk bydoen om te kan oorleef.

Hoe kry ons nou antwoorde op die vraagstukke?

Ek wil graag aan die hand van Jesaja en ander skrywers van die Bybel probeer om die vrae te beantwoord. Die eerste gedeelte kom uit Jesaja hoofstuk 58, Die gedeelte verklaar vir my wat ware geloof en ware naaste diens beteken. So punts gewys is dit as volg;
·         Dat ons losmaak die bande van goddeloosheid. So ons moet breek met dit wat nie van die HERE is nie. Ek moet self breek, maar ek moet ook ander mense kan help om al die bande wat ons vashou, te breek.
·         Dat ons die stroppe en juk van mense sal afhaal. So ons sal mense se probleme oplos en hulle vrymaak van dit wat hulle bind in die lewe. Hierdie bindinge kan wees dat ons mense sal help om vry te kom van verslawings, sondes, hulle dan leer oor wie en wat ‘n Christen is, en hulle op ‘n pad sit waar hulle weer vry kan wees.
·         Verder sal ons sorg vir die wat tekorte het, of dit voedsel, behuising of wat ook al is.
Dit is die eerste paar goed wat ons as Christene moet doen. So dit is reg dat ons as Christene vir ander Christene moet help. Die gevolg hiervan sal wees dat ons lig sal deurbreek soos die son in die oggend opkom,  vir jouself sal jy genesing ontvang, en sal die mense sien dat die HERE se hand op jou is want Sy heerlikheid sal skyn deur dit wat jy doen. Dan sal die HERE ook doen alles wat jy van hom vra,  selfs wanneer jy in die nood is sal Hy jou antwoord en help.
Maar daar is ook ‘n voorwaarde aan verbonde.  “As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” So ons mag nie mense verdruk nie, so ons moet nie hulle las erger maak as wat dit reeds is nie. Indien hulle nie kan betaal vir ons dienste nie, kan ons nie ons dienste weier nie. Verder mag ons nie mense blameer vir hulle omstandighede nie, en ook nie vir hulle dreig nie. So ek mag nie vir die huislose sê dat ek hom gaan wegjaag as hy nie geld inbring nie, maar ek moet hom help om weer op sy eie voete te kom. Ons mag ook nie vir mense stories vertel oor hoe goed ons bediening is sodat ons daardeur bevoordeel word nie. Die resultaat indien ons regverdig optree sal wees dat ons lig sal skyn sodat almal dit kan sien. Verder sal die HERE jou regtig sterk maak in alle opsigte, en die wat jy help sal self ander kan help.
Maar nou wat van die finansies? Die gedeelte uit Jesaja hanteer die gedrag van ‘n Christen, maar verklaar nie vir ons oor as nuwe verbond Christene hoe ons dan ons finansies moet hanteer as ons in bediening staan, of hoe ek as Christen moet betaal vir dienste wat deur ander Christene aangebied word nie. Die gedeeltes kry ons in die Nuwe Testament. Laat ek gou ‘n paar kwoteer;
·         “Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.” (1 Kor 9 9-14) Hierdie gedeelte verklaar onomwonde dat indien ek ‘n diens lewer ek geregtig is om betaling daarvoor te ontvang. So indien ek huisvesting verskaf vir huisloses, is ek geregtig om betaal te word, maar ek mag nie mense verdruk of hulle las swaarder maak nie. Dit sal my diskwalifiseer om as Christen te funksioeneer. Verder mag ek nie valse verwagtinge by mense skep met dit wat ek aanbied nie.
·         “Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.” (Gal 6:6)  Die gedeelte verklaar dat indien ek mense leer om beter of anders op te tree as wat hulle in die verlede opgetree het, ek geregtig is daarop dat ek dieselfde lewensstyl en voordele as hulle mag geniet. So dit maak nie saak wat jy doen nie, of jy skryf, drome uitlê, berading doen, voltyds as leraar in diens van ‘n gemeente staan nie, of wat ook al nie, die persoon wat die diens lewer is geregtig om dieselfde lewensvlak as ek te geniet.
·         Die laaste gedeelte kom uit 2Kor. 8: 12-15. “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.” Die gedeelte is vir my deurslaggewend. Hier verklaar Paulus dat ek nie ‘n las op mense mag sit wat dit nie kan bekostig nie. So ek kan nie mense wegwys op grond van hulle finansies nie, maar ek moet hulle juis help as ek by magte is om dit te doen, sodat almal gehelp kan word.

So wat is die antwoord op die vrae wat ek vroeër gevra het?

·         Wat maak ons met mense wat ander uitbuit in die naam van die HERE? Ek glo dat die persone dit meeste kere doen omdat hulle nie weet hoe hulle moet optree nie, maar dit is nie ‘n verskoning nie. Ek glo dat die Heilige Gees ons leer in elke omstandigheid, en dat van die mense gedryf word deur geldgierigheid en gulsigheid, en dus eendag die gevolge van hulle optgrede sal moet verdra.
·         Die tweede groep is die wat alles verniet wil kry. Wat nou van hulle? Vir die groep is die Woord die een wat hulle sal oordeel, aangesien hulle ‘n geloof wil lewe wat hulle niks kos nie, en soos ek die Bybel ken is dit mense wat hulle eie lewe wil lewe, niks wil opgee nie maar tog die ewige lewe wil verkry. Die Bybel verklaar egter dat ‘n geloof wat jou niks kos nie, op die ou einde jou lewe gaan kos, maar ‘n geloof wat jou lewe kos, jou niks gaan kos nie.  “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe” (Joh. 12:25)
Om dus saam te vat. Ek glo dat die meeste Christene opleiding in die doel en wese van Christenskap benodig, aangesien dit die onderwerpe is waaraan min, indien enige aandag geskenk word. Wanneer iemand wel daaroor praat of skryf, word die persoon gewoonlik aangevat as iemand wat dweep.

Ek sluit af met ‘n opmerking wat ek eendag op ‘n internasionale Christen forum raak gelees het. Looking for web hosting, I'm fond of DreamHost. Lots of features for the inner nerd, unlimited bandwidth, and unlimited storage. They also don't mind hosting multiple domains! It is only $9 a month, so its good for Christians, who as you know, are cheap. If you use this link to register I get a portion of the amount spent.”

Geen opmerkings nie: