Dinsdag 26 Mei 2015

Wedergeboorte


Weet jy wat wedergeboorte beteken? Indien jy die begrip nie heeltemal kan definieër nie, moet jy nie bekommerd wees nie, want jy vind jouself in belangrike geselskap. Calvyn het dit ook nie verstaan nie, toe ontwerp hy maar die uitverkiesingsleer. Gaan kyk maar na Sondag 27 van die Heidelbergse Katagismus: “Vraag73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes? Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word. Dit klink nogal vir my na doop van die gelowige. Maar eers later meer hieroor.
In Jesus se tyd het die Fariseërs se leermeesters dit ook nie verstaan nie, en dit was Jesus se antwoord:  “En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?(Joh 3:9-10)

Wedergeboorte bestaan uit ‘n hele paar stappe:

1.       Ek moet eerstens besef dat ek ‘n verlosser nodig het en dat indien ek aangaan met my lewe soos dit nou is, ek nie die hemel sal sien nie. Dit is ook die eerste werk wat die Heilige Gees kom doen het. Hy moet ons oortuig van sonde. “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”(Johannes 16:7-11) Babas kan dit verseker nog nie besef nie.
2.       Dan moet ek glo dat Jesus alreeds die volle prys vir my sonde betaal het, en dat ek deel van die verbond van geregtigheid met Jesus moet word om die ewige lewe te beërwe. Onthou Israel se geregtigheid was uit onderhouding van die wet, (Deut 6:5-25 en ek haal net vers 5 en 25 aan :”Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. 25 En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.”), nou is Christus ons geregtigheid. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. (Romeine 3:21-26) Net so ietsie oor geregtigheid. Die woord kom 300+ kere voor in meeste Engelse vertalings en die 1953 Afrikaansevertaling. Die nuwe vertaling (1981) wat deur Calviniste oorheers was, is die woord net 30 keer gebruik, en in die 2008 vertaling het die woord heeltemal verdwyn. Ek is geregtig om myself Christen te noem en Sy Koninkryk te verteenwoordig indien ek tot wedergeboorte gekom het, maar dit is wat sovele hedendaagse skrifgeleerdes en hulle lidmate nie verstaan nie. Jesus is my geregtigheid.
3.       Dan kan ek nagmaal gebruik. Die brood stel die liggaam van Jesus voor en die wyn Sy bloed. Geen een van die Israeliete of selfs hulle vee het gesterf toe die HERE besoeking oor Egipte gebring het nie, en dit is wat nagmaal beteken. Die dood het nie meer krag nie, want indien ek wel aan die einde van my lewenspaadjie staan, weet ek dat ek die hemel as erfdeel sal ontvang. Daarom word na Jesus ook as die Lam verwys, want in Israel se tyd moes hulle ‘n lam slag, een sonder enige gebrek. Nou is Jesus die Lam wat versoening vir ons doen.
4.       Nou moet ek wegkom uit Egipte, my vorige lewe, deur gedoop te word. Dit is waar die krag en gesag van Satan (Farao) in my lewe gebreek word en kom ek direk onder die sorg van die HERE. (Die vuurkolom en die wolkkolom vir Israel.) Lees maar Romeine 6, en onthou in die 1953 vertaling, a.g.v die rede genoem in punt 2. Onthou ook net wat Markus vir ons opgeteken het. “Mar 16:16  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” So onthou net dat die mense nie verwerp sal word omdat hulle nie gedoop is nie, maar omdat dit bewys dat hulle nie glo nie. Hierdie stap is die water gedeelte waarna Jesus verwys het vir Nikodemus. Dit is ook die stap wat in Sondag 73 van die Heidelbergse Katagismus geleer word, wat ek alreeds vroeër gekwoteer het.
5.       Na die doop moet ek die doping van die Heilige Gees ontvang. Die twaalf fonteine en die 70 palmbome in Israel se tyd. Moses moes ‘n paal in die water gooi om dit lewende water te maak. (Eksodus 15 Johannes 7:37-39) Hierdie is die Gees gedeelte waarna Jesus verwys het vir Nikodemus. Dit is ook waarvoor die dissipels moes wag in Jerusalem na Jesus se opstanding. “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” (Hand 2:1-4). “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”(Hand 19:1-6)
6.       Alles wat ek hierbo genoem het word ook net so in volgorde genoem in Hebreërs 6 verse 1 en 2, en die hele boek van Romeine volg dieselfde volgorde. Ook is Israel se uittog vir ons ‘n voorbeeld van hoe ons in ons Kanaän kan kom.
7.       Dan begin my leer fase eers waar ek God leer ken vir wie Hy is.
8.       Daarna sal ek moet kies om in my Kanaän in te gaan, dit wat die HERE vir my voorberei het. (Lees maar Hebreërs 3 en 4)
9.       Ons hele lewe bestaan as keuses. Of keuses wat die ewige lewe beteken, of keuses wat die ewige dood beteken. Geen kind kan die besluite al neem nie. So is ook geen van die kinders van 20 jaar en jonger gestraf toe Israel nie in Kanaän wou gaan nie. Nee, net die volwassenes het nie die beloofde land gesien nie.
Nou is ek eers by dit wat die HERE vir my het. Indien ek nou omdraai om terug te gaan na Egipte toe, verloor ek my ewige lewe, want ek kies om terug te gaan na my lewe onder die Satan(Farao). So daar is nie klein sondes of groot sondes nie, maar ek moet wegkom van die heerser van sonde en my onder die bloed van Jesus plaas om die ewige lewe te kan ontvang. Dit is wedergeboorte.

Paulus het ook Israel en hulle pad wat hulle moes loop as voorbeeld vir ons as Christene gebruik. Hy skryf in 1 Korintiërs 10: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (1Kor 10:1-11)

So volg wat die Bybel leer oor hoe ek kan verseker dat ek kind van die HERE is. Dit is wat Paulus ook hier uitlig. So het al die profete, konings en in besonder koning Asaf (Psalms 78 en 79) dit gedoen deur die volk te herinner aan hulle lewe voor die HERE hulle uitgelei het, en dan hulle lewe daarna.

So kom uit Egipteland en vestig jou in Kanaän, dit wat die HERE vir jou het. Dit is wedegeboorte. Indien jy in Egipte wil bly nadat jy onder die bloed van die Lam gekom het met nagmaal, is dit jou keuse en is jy ook nie verworpe nie en sal die doodsengel jou nie kan aanraak nie, maar verkry jy nie die volheid wat die HERE vir jou het in beide hierdie lewe en wanneer die einde van jou lewe kom nie.

Ten slotte, net ‘n paar woorde oor menseregte in kontras met wedergeboorte. Menseregte soos ons dit vandag ken, is om die ware liefde wat slegs deur wedergeboorte ervaar en geskenk word en soos ons dit opgeteken kry in die eerste brief van Johannes, deur humanistiese wette in Egipteland (Sondige wêreld) te orden en te probeer namaak. Dit maak dat die sondige mens (Egiptenaar) nie oor hul sondes skuldig hoef te voel nie. En dit is ook die rede waarom die Christene in Egipte die wette sal promoveer en aanvaar, want hulle staan nog onder die gesag van die Farao. 

Geen opmerkings nie: