Dinsdag 02 Junie 2015

Wat is my doel as Christen?

Het u al gewonder wat moet ’n Christen onderskei van enige ander persoon op aarde? En dan wat daarop volg is vrae soos, wat is my doel, en moet ek ’n verskil maak? Ek lees daagliks onderwerpe waaroor baie van die godsdienstige skrywers skryf. Maar die ding wat my opval, is dat elke persoon sy eie manier van glo, of sy kerkgenootskap se siening, probeer handhaaf, of hoe die Bybel nou eintlik interpreteer word, watter dag nou watter dag is en moet ek net die Hebreeuse name vir die HERE gebruik en soortgelyke onderwerpe. En dan volg die vrae nog van mense wat glad nie glo in die Bybel en die HERE nie, net om dit nog ’n bietjie lastiger te maak.
Maleagi gee wel vir ons ’n uitspraak oor of daar verskille moet wees tussen Christen en nie Christen: “Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel? En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry! Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Mal 3:14-18) Hier sien ons dat dit maar dieselfde gaan in ons lewens vandag. So baie mense ken of dien nie die HERE nie, maar hulle word gebou en daar is nie einde aan hulle rykdom nie, terwyl die wat baie keer in oorgawe lewe, dit moeilik het. Gelukkig verklaar die profeet wel dat die wat Hom vrees, se naam in die boek van die lewe geskryf is. So dit maak nie saak van hoe dit lyk vir die wêreld nie, daar moet verskille wees tussen die wat Hom dien en die wat hom nie dien nie.
Maar wat behoort hierdie verskille te wees? Moet ek ’n sekere leefstyl handhaaf? Moet ek elke diens by ’n gemeente bywoon, of kan ek maar my eie ding doen? Hoeveel moet ek gee vir die kerk, moet ek gedoop word as gelowige of is baba doop voldoende? Daar is soveel vrae wat gevra word daagliks, wat net laat blyk dat die mense soek vir antwoorde, maar hulle kry nie antwoorde op die plekke waar hulle soek nie. Hierdie antwoorde moet natuurlik deur die ware Kerk verskaf word, maar dit is die laaste ding wat jy sal leer. Jy het mos kategese toe gegaan en daar alles geleer, nou is jy mos reg. Maar hoekom het jy dan nou vrae?
Kom ons kyk eers wat die plig van ons as gelowiges is en dan wat die Kerk moet doen. Die aanhaling kom uit Efesiërs hoofstuk vier: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”.(Eph 4:1-3) En dan gaan Paulus aan in vers 11: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;” (Eph 4:11-13) Paulus lig hier iets uit wat meeste mense nie weet nie en baie dink hulle weet maar eintlik weet hulle nie, en dit is dat elkeen van ons geroep is, vers een, om vir die HERE te werk, en dan dat elkeen sy of haar eie roeping het, vers 12. Die plig van die wat weet, is om my toe te rus vir my dienswerk, sodat ek weer ander kan toerus vir hul dienswerk en so gaan ons aan.
In die lewe skryf elkeen hopelik net een keer matriek en hoef ons nie elke jaar terug te gaan om weer geleer te word nie, maar by Christenskap leer ons nooit wat ons moet leer nie en gaan ons dus jaar vir jaar terug na ons gemeente in die hoop dat die pennie eendag sal “drop” voordat ek “drop”. Die Hebreërs skrywer vertel ons nogal wat ons moet leer ook: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.”(Heb 6:1-2)
Nou mag jy vra wat is my storie nou, want ek het jare terug al tot bekering gekom, glo, is gedoop en ken die Bybel. My vraag is: Regtig? Kan jy iemand oplei in al ses hierdie beginsels, sonder jou gemeente se hulp en interpretasie? Israel het ook gevoel dat hulle Sy kinders is, alles reg doen, maar tog het Jesus hulle verby gegaan toe hy op aarde was. Hulle het ’n aardse koninkryk verwag, nie een wat in die hemel gevestig is nie. Eers aan die einde van hierdie bestaan sal Jesus Sy koninkryk oorhandig aan die Vader in die Nuwe Jerusalem, en dié Jerusalem is nie op hierdie aarde nie. (1 Kor 15:24).
Kom ons lig net gou die ses beginsels uit:
  1. van die bekering uit dooie werke
  2. van die geloof in God
  3. van die leer van die doop
  4. die handoplegging
  5. van die opstanding van die dode
  6. van die ewige oordeel.
Kom ons kyk ’n bietjie wat met Israel verkeerd was, die eerste beginsel, waarvan hulle tot bekering moes kom. U sien hulle het soos ons vandag gedink hulle is reg, hulle is besny volgens die wet, hulle bring hulle offers, hulle oortree nie die wet nie, so hulle is mos reg. Hoekom het Jesus dan ons as heidene gekies? Daar was fout by hulle. Nou kan ons kyk wat reg en verkeerd was by hulle, sodat ons nie ook onkant betrap word nie.
Dawid gee vir ons eers riglyne wat ons behoort te doen in Psalms: “‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie; in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie; wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie”. (Psa 15:1-5) So Dawid lig al vir ons uit dat dit gaan oor hoe ek optree en nie oor my godsdienstige dade nie.
Uit Jesaja sal ek net een gedeelte aanhaal, maar daar is baie meer verwysings. Hoofstuk een: “Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek. Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars! Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie. Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.”(Isa 1:11-25)
Amos gaan aan met dieselfde klagtes: Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom. Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel”, (Amos 5:21-25)
Miga stel dit so: “Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mic 6:6-8)

Dit dan so ’n vinnige reis deur die profete. Almal is dit eens, dat die HERE nie van ons verwag om elke wet so stiptelik na te kom dat ek nie eers mag lewe nie, nee, Hy wil dat ek aan alle Christene wat oor my pad kom en hulp nodig het, hulp sal verleen. Dit is my roeping as Christen.
Dit is ook die boodskap wat Jesus gebring het. Ek sluit hier ‘n redelike lang gedeelte in wat Jesus gespreek het, sodat ons sal verstaan watter Christene die ewige lewe sal verkry en watter die ewige duisternis. Onthou net, Jesus het hier met Jode gepraat, so Hy praat vandag met ons as Christene, nie met mense van die wêreld nie. “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe. (Mat 25:31-46)

Nou mag jy my vra maar wat van wedergeboorte en van al hierdie ander goeters wat ons elke dag geleer word. Ja, dit gaan ’n verskil maak, maar eers as ek tot die besef gekom het dat alles, selfs my mooi werke vir die kerk, nie ’n verskil aan my eindbestemming gaan maak nie, maar net dit wat ek as Christen aan my medemens en die HERE doen, dan het ek eers tot werklike bekering gekom. Dan sal ek besef dat alles wat ek as Christen is en het, van Hom af kom en dat ek niks kan doen om my in ‘n beter verhouding met Hom te plaas nie, behalwe om my naaste lief te hê soos myself.
Hoe druk Johannes dit uit: Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1Johannes 3:14-24) Johannes beskryf hier en in die volgende hoofstuk vir ons wat liefde is, en dit is wat Jesus kom doen het. Hy het Sy beste, Sy lewe, vir ons gegee, sonder dat ons gevra het of dit verdien het. So moet ek dus ook my beste, my alles gee vir ander Christene sonder dat hulle dit verdien, of vra. Dit maak nie saak watter liefde jy van praat nie, want die definisie geld vir alle vorme van liefde. Selfs tussen man en vrou, ouer en kind.
Hieruit sien ons dat ons by ’n doen Christenskap moet uitkom. Dit maak nie saak aan watter kerk jy behoort nie, en of jy watter dag ook al as rusdag gebruik nie, nee, dit hang af of jy bereid is om so na jou mede gelowige om te sien soos jy na jouself omsien. Geen veroordeling nie. Ek weet dit is moeilik, maar Christenskap is nie vir sissies nie. Jy moet die daad by die woord sit, en dit vat aan ’n mens.
Dit is wat ons as die eerste beginsel by ons gemeente moet leer. Nou moet ek byvoeg dat ek nie glo dat ek al ooit in my bestaan van oor die sestig jaar, al in ’n gemeente was waar dit geleer is nie.
Solank ons gee om te ontvang, sal ons nooit by die punt uitkom nie. Dat ek sal ophou om aan myself te dink en te dink oor hoe ek ’n verskil in mense se lewens kan maak. En die Bybel is baie spesifiek oor watter mense ek moet help, naamlik eerstens ons mede gelowiges wat dit nie altyd so maklik het as wat ons dit het nie en dan aan nie gelowiges, want dit gee my ’n geleentheid om die evangelie van Jesus met hulle te deel. Maar hoe kan ek met hulle deel as ek self nie weet wat die ses beginsels van die Christelike geloof is nie, of hoe om dit te verduidelik nie? Dit is wat ek moet leer en sodra ek dit weet moet ek dit kan gebruik, om dit uit te leef en ander weer te oplei.
So, as jy vrae het oor hoekom dinge nie reg is in jou lewe nie, of hoekom moet jy deur hierdie en daardie beproewing gaan, is die antwoord dalk voor die handliggend: Of jy moet leer om dit wat jy het te deel met ander, of jy moet leer om te ontvang van ander. Die laaste gedeelte is seker die moeilikste gedeelte, om tot die besef te kom dat jy nie meer self alles kan doen of in alles self kan voorsien nie, en jou lewe oop te stel sodat ander jou kan help.
Dit is my boodskap vir vandag: Kom ons leer wat werklike liefde is, kom werklik tot bekering en dan sal baie van my vrae verdwyn en sal die HERE my leer wat dit is om geloof in Hom te hê, en nie geloof in my geloof nie. Daarna sal ek eers kan leer wat doop en die daarop volgende beginsels beteken.

Geen opmerkings nie: