Dinsdag 09 Junie 2015

Wie is uitverkies, is dit nog geldig vandag, en indien wel, hoe werk dit?

So 'n bietjie na van die goed kyk wat ek weet baie mense oor vrae het, maar nie weet hoe om dit te beantwoord nie. So vandag probeer ek uitverkiesing op 'n heel ander manier te benader en uit te lê.

Die vraag is nogal ‘n bekvol. Dit is ook ‘n area waar ‘n mens nogal huiwerig is om in te gaan, omdat dit al so ‘n groot rol in kerk geskiedenis gespeel het. Verder het dit ook al huisgesinne geskeur, en is menige persoon al onterf oor die kwessie. Maar, dit is nie wat die HERE wil hê nie. Sy Woord het nie gekom om af te breek nie, maar om op te bou, om saam te voeg. So wat leer die Bybel?

Nou moet ek sê dat ek nie dink dat as jy ‘n ernstige opinie het dat ek jou sal oortuig nie. Al wat ek vra, is dat jy sal toelaat dat die Bybel en so ook die woord wat ek met jou gaan deel, geleentheid kry om inspraak in jou gedagtes te kry.

Ek wil begin by die begin. Nou mag jy dink dat as ek na Openbaring verwys, ek aan die einde begin, maar Christus is aan die woord, en Hy was van die begin van die aarde al daar. Openbaring 3 vers 9: "Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg". Hier sien ons dat Jesus aan die gemeente skryf en sê dat sommige vertel dat hulle Jode is maar lieg. Die gemeente is in Filedelfia, verseker nie in Israel nie. Dit is ook ‘n bevestiging van Openbaring 2 vers 9: "Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan." So hier gee Jesus vir ons ‘n belangrike stukkie inligting. Slegs Jode sal gered word. Dit stem saam met wat Moses vir die Jode meedeel in Deuteronomium 7 verse 6 en 7: "Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.  Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke".

Sodra ons dit besef dat God nooit Sy beloftes sal verander nie, sal ons besef dat daar iets is wat nie pluis is nie. Hoe kan God ons as heidene dan ook red as Sy Woord verklaar dat slegs Jode gered word? Die antwoord kom uit Handelinge 10 vers 34 en 35 :" En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is." Hier sien ons dat as ons Hom vrees en geregtigheid doen, ons Hom welgevallig is. Dit los egter nog nie die probleem van Openbaring op nie. Die antwoord moet ons gaan soek in Israel se geskiedenis met die uittog uit Egipte. Hier gee die HERE vir die Israeliete ‘n wet wat hulle moet gehoorsaam. Numeri 15 vers 15 en 16: "Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees.  Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef."  Eksodus 12 vers 48 gee die finale antwoord vir ons: "En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos 'n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie."

In Israel se geskiedenis sien ons dat wanneer iemand uit ‘n ander volk hom of haar verbind het met die Israeliete, hulle as volksgenote geag is. ‘n Baie goeie voorbeeld vir ons is Rut. Alhoewel sy die reg gehad het om na haar mense terug te gaan na haar man se dood, het sy gekies om saam met Naomi na haar land te gaan. Die woorde wat Rut ook gespreek het, ontsluit die waarheid verder. Rut 1:16 "Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. 17  Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen--net die dood sal skeiding maak tussen my en u." Hier gee sy tekenne dat sy kies om deel te word van Naomi se volk, en saam met Naomi haar God sal aanbid. Wie was Rut? Dawid se grootouma. Waar kom Jesus vandaan? Uit Dawid se geslag.

Nou hoe pas al hierdie stukke in mekaar? Die HERE het Israel uitgekies as Sy volk. Ons, as heidene moet dus kies om by die volk van die HERE gevoeg te word. Hoe doen ons dit? Deur deel te word van die verbond met die HERE. In Israel se tyd was dit deur besnyding, maar vandag moet ek tot wedergeboorte kom. Johannes 3 vers 5: "Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie." Ek moet besluit, nie my ouers of iemand anders kan die besluit vir my neem nie, om deel te word van God se volk, en dan moet ek deur die doopwater gaan, dit is ons teken van die verbond, en dan met die Heilige Gees gevul word.

Hoe stel Paulus dit vir ons? Efesiërs 2: "11 ¶ Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 12  dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 ¶ Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15  deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16  en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het."

Ek vertrou dat hierdie kort gedeelte die probleem rondom uitverkiesing vir u sal uitklaar. Dit help nie ons probeer om alles so moeilik te maak nie. Jesus het self verklaar dat ons soos ‘n kind moet word om Hom te volg. Ek weet boeke en boeke is al oor die onderwerp geskryf, maar ek glo dat die antwoord hierbo, dit ook vir ‘n kind verstaanbaar sal maak. 

Geen opmerkings nie: