Woensdag 17 Junie 2015

Hoe skoon is jou sif?

Hoe skoon is jou sif?

Nou mag jy my vra, watter sif. Toe ek eendag my hande in die badkamer wou was, het die warm water so ‘n klein stroompie by die kraan uitgekom, maak nie saak hoe groot ek die kraan oopdraai nie. Ek het gewonder wat gebeur het, en het begin ondersoek instel. Dit is toe dat ek op die sif afkom waardeur die water moet gaan voordat dit by die kraan voor uitkom. Dit het my nogal laat dink aan ons eie lewens.
Wat maak jy wanneer jy iets hoor? Luister jy mooi fyn sodat jy die gebeure net so kan weergee as wat jy dit ontvang het, of gaan daar van die gebeure verlore. Of dalk sny jy sekere gedeeltes uit wat jy nie oor seker van is nie, of miskien vertel jy die gebeure deur gedeeltes uit te laat bloot omdat jy nie glo dat die gedeelte waar is nie. Is dit nie maar hoe ons almal optree nie?
Ons kan almal aan gevalle dink waar jy iets gehoor het, en dit aan iemand anders oor vertel het. Hoe het jy dit oor vertel? Net soos dit gebeur het, of dalk het jy ‘n stertjie aangelas net om dit smaakliker of meer aanvaarbaar te maak vir die ontvanger. Dalk het jy ook maar net so ‘n ou klein detailtjie uitgelaat want dit maak nou mos nie regtig saak nie. Of maak dit?
Toe ek die sif van die kraan afgehaal het het ek agtergekom dat van al die kere se gebruik, daar ‘n hele klomp goed voor die sif gaan lê het, wat veroorsaak het dat die water amper nie deur kon kom nie. Nadat ek al die gemors weggegooi het, moes ek ook nog steeds ‘n borsel neem en die sif self borsel om al die aanpaksels op die sif te verwyder. Na al die skoonmaak, kon ek die sif terugplaas, en toe ek die kraan weer oopmaak, is ek sopnat gespuit met al die water wat skielik uit die kraan gekom het.
Hoe lyk jou sif?
Die Bybel verklaar dat daar lewende water by ons sal uitkom. Hoe loop jou water? Spuit dit uit of loop dit ook maar net so ‘n ou klein stroompie uit? Hoe stel die Bybel dit? Johannes 7:38  "Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei."
Die skrifgedeelte verklaar dat daar strome water sal vloei. As ek na baie Christene se lewens kyk, lyk dit vir my eerder of daar druppels uitkom. Hoekom? My sif is verstop. Maar hoe gebeur dit? Daar het vuilheid voor die sif gaan sit, en dit verhinder dat die water kan uitkom.
Nou wat is al hierdie vuilgoed wat my sif verstop, en hoe kry ek my sif skoon?
Soos met ‘n gewone kraan, moet ons by die begin begin. Ons moet eers besef dat ons kraan vuil of verstop is. Hoe lyk jou lewe? Straal jy elke dag en elke oomblik van die dag Jesus uit? Of is daar tye waaroor jy miskien skaam is oor jou optrede? Miskien het jy ‘n gewoonte waaroor jy nie baie gelukkig oor is nie. Of dalk gebruik jy ‘n paar woorde wat nie in die Bybel voorkom as daar ‘n taxi voor jou inry.
Sodra ons besef dat ons kraan vuil is, kan ons begin met die skoonmakery. Eerstens moet ons die sif losskroef van die kraan, en daarvoor het ons ‘n tang of ‘n sleutel voor nodig. Dit kos inspanning om die sif los te kry, en dieselfde geld in ons lewens. Ek moet besef ek moet breek met al hierdie gemors in my lewe. Hoe vas sit jou sif? Besef jy dat daar nie water uitkom nie, maar jy weet nie of die probleem by die sif lê nie, of dalk veg jy nog deur te sê dat dit die pyp wat die water na jou moet bring, nie water het nie. Miskien lewe jy in ontkenning. Dit is gewoonlik ons grootste probleem. Ek is mos reg, ek het nie foute nie. Dit is maar net dat ek nou nie juis gekoppel is aan ‘n pyp met baie water nie. Dit is nie wat die Bybel verklaar nie. Die Bybel verklaar dat daar strome sal uitkom, ongeag wie jy is. Elke persoon moet strome voortbring, anders is jou sif verstop.
Maar hoekom sit die sif dan vas? Miskien lê die probleem by jou teologie. Miskien is jy grootgemaak dat ‘n mens nie oor jou godsdiens praat nie, want dit veroorsaak net tweedrag. Miskien spesialiseer jy in die oorlewering van mense. Jy redenaar dalk dat jou pa so geglo het en jou oupa en al die geslagte voor hulle ook. Weet jy Paulus het ook daarin gespesialiseer voor hy Jesus ontmoet het? Gal 1:14 "en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral 'n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders." Maar, dit was voordat hy Jesus ontmoet het. Ek weet ons moet ons tradisie oppas, maar ek mag nie toelaat dat my tradisie hoër geag word as my verhouding met die HERE nie.
Miskien is jy soos Moses wat vir die HERE sê dat jy nie goed kan praat nie. Onthou net, die Bybel verklaar dat strome water by jou sal uitkom. Gee die HERE geleentheid om met jou te werk, en Hy sal jou lippe ook aanraak. Maar meeste kere lees die mense in elk geval jou lewe en nie jou woorde nie. So die lewende water is ook deur jou optrede sigbaar.
Wat kan nog jou sif laat vassit? Miskien hou jy nog te veel van jou lewe soos dit nou is. Miskien is jy bang dat die HERE jou lewe so sal verander dat jy soos iemand sal word wat jy nie van hou nie. Ek weet nie. Vra die HERE en Hy sal vir jou wys waarom jou sif vassit.
As die sif eers los is, kan ons al die vuilheid van ontslae raak wat die sif blokkeer. Van dit gaan maklik wees, want dit het in korreltjies vergader en kan net uitgegooi word. Om van die ander vuilheid te verwyder, gaan dit dalk nodig wees om ‘n borsel te gebruik. Maar wat is al heirdie vuilheid wat ons van ontslae moet raak? Kom ons kyk na twee skrifgedeeltes.
Galasiërs 5:19 "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 20  afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 21  afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie."
Die tweede gedeelte kom uit Kolossense 3 vers 8 "¶ Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. 9  Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het."
Dit is alles wat ons van ontslae moet raak. Dalk is jou sif so aangekalk dat jy lank gaan sukkel om dit skoon te kry. Miskien is jy so gebreinspoel deur teoloë dat jy nie eers weet hoe lewende water lyk nie. Dit is dalk nodig dat jou sif vervang moet word, want die huidige sif kan nie lewende water deur laat nie. Miskien moet jy die HERE vra dat Hy jou sif sal vervang sodat jy Sy wil sal deurgee, en nie Sy wil afgewater deur jou sif nie.
Maar hoe lyk lewende water? Dit is woorde en dade wat altyd die ander persoon bevoordeel of opbou. Wanneer jy iets vir iemand anders doen, moet jy optree en praat asof jy dit vir jouself doen. Dit is wat Jesus verklaar het. Wat het Hy verklaar? Lukas 10:27  "En hy antwoord en sê: Jy moet die HERE jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself." Anders gestel sal ek so lewe dat ek nie iemand anders benadeel deur my optrede of woorde nie. Dan is dit lewende water. As ek nog probeer om myself te bevoordeel, of om iemand anders in ‘n swak lig te stel, straal ek nog nie Jesus uit nie, en is my sif vuil of verstop.
Indien jy nie weet waarvan ek nou praat nie, of dalk dink jy dat jy nog reg is, moet jy mooi gaan ondersoek instel aan watter waterpyp jy gekoppel is. Is jy aan die Lewende Water gekoppel, of is jy miskien aan die satan se pyp gekoppel. Jou dade sal vinnig verklap aan watter pyp jy gekoppel is.

So, om mee af te sluit. As jou sif skoon gemaak is, hoe lank bly hy skoon? So lank as wat ek myself ondersoek en seker maak dat ek alles wat ek ontvang, deurgee. Die oomblik as ek vind dat ek die water gefiltreer het en daar iets agtergebly het, is dit tyd om my sif weer skoon te maak. Dan is dit nodig om vergifnis te vra dat ek iets terug gehou het wat die HERE wou laat deurgaan. Of dalk het ek gesondig en het ek begin om ‘n aanpaksel te vorm aan die sif. Onthou net dat sonde, soos ons gesien het, jou sif heeltemal kan verstop, maar gelukkig kan ons ons sif afhaal, en vra dat Jesus se bloed ons sif weer sal reinig.

Geen opmerkings nie: