Dinsdag 12 Mei 2015

Om “COOL” te wees

Soos ek nou hier anderkant van sestig al is, het ek tot die slotsom gekom dat ek half oor die muur is.
Ek het ook agter gekom dat die wêreld baie vinnig verander.
Ek het ook agter gekom baie min mense lees nog.
Hulle sal so sywaarts na iets kyk. So vinnig loer. Dalk so halfpad kyk.
Hulle tweet. Hulle BB. Hulle IM. Hulle Whatsapp. Maar hulle lees nie.
Meeste epos word nooit oopgemaak nie. Meeste gaan ook nie lees wat ek hier skryf nie.
Meeste boeke wat mense koop word nooit gelees deur die mense wat dit koop nie.
So moet skrywers ook aanpas. Ek moet kort goedjies skryf. Niks seggende goed, anders lees mense dit nie. Gee hulle nie aandag nie.
Wanneer ek vir Christelike gehore skryf, is die standard selfs hoër.
Ek dink al lankal oor die onderwerp, en ek dink ek het die geheim ontdek.
Om vir ‘n Christelike gehoor te skryf moet jy “COOL” wees.
Jy hoef nie noodwendig goed te kan skryf nie.
Jy hoef nie oorspronklik te wees nie.
Jy hoef nie Skriftuurlik te wees nie.
Jy hoef selfs nie eers akkuraat of reg te wees nie.
Jy moet net “COOL” lyk, klink, en “COOL” goed sê wat Christene wil hoor.
Miskien is ‘n beter woord vir Christelike skrywers om relevant te wees.
O ja, dis relevant om “COOL” te wees.
Dit is baie “COOL” om te praat oor alles wat relevant is vandag.
Kom ons praat oor seks – dit kry altyd mense se aandag.
Kom ons praat oor homosektualiteit – dit is ‘n baie relevante onderwerp.
Kom ons praat oor politiek – dit sal die emosies aanwakker.
Kom ons praat oor goed wat ons as Christene moet of nie moet doen in die samelewing – dit maak mense altyd warm onder die kraag.
Kom ons praat oor verhoudings en gemeenskaplike kwessies – dit is mos voor op alle Christene se gedagtes.
Kom ons praat oor die jongste Christelike groep, rock ster, of aanbiddingslied.
Kom ons wees so ‘n bietjie kontroversieël, want dit is ‘n groot trekpleister vir aandag. Mense hou van kontroversie.
En kom ons trek so “COOL” aan en gedra ons so “COOL” dat die wêreld nooit sal agterkom dat ons volgelinge van Jesus is nie.
En dan wag jy net tot die regte oomblik, en dan sê jy: “O ja....Ek is ‘n Christen” En dan kan ons almal goed voel oor hoe “COOL” ons is, hoe relevant ons is, en dat ons nie werklik verskillend van die ander mense is nie. So “COOL”, dat mense nooit sou dink dat ons aan Jesus behoort as ons nie vir hulle gesê het ons behoort aan Hom nie.
Wel, ek dink dit is dom.
So ek reken ek is nie so “COOL” nie.
Ek gee ook nie om nie.
Want om “COOL” te wees is eintlik om te sê ek wil mense tevrede stel, en nie om die HERE tevrede te stel nie.
Hoekom wil jy mense tevrede stel?
Baie Jode het ook vir Jesus geglo maar wou dit nie erken in die openbaar nie, want hulle het die erkenning van mense hoër geag as erkenning van die HERE.
Ek erken dit is seker nie “COOL” om te praat oor skriftuurlike integriteit, om die Bybel te lees, en om te bid nie.
“Vorm godsdiens!!” skreeu almal.
Ek erken ook dat dit seker nie “COOL” is om oor dissipelskap en die boodskap van die Kruis te praat nie.
“Te wetties!!” skreeu almal.
Ek weet ook dit is seker nie goed om aanhoudend oor basiese beginsels en waarhede te praat nie. Veral nie jaar na jaar nie.
“Te eenvoudig!!” skreeu almal.
Ek weet mense word moeg daarvan om dieselfde boodskap te hoor en wil aanbeweeg na iets met meer slaankrag, kort, en vermaaklik – of soos die mense sê, iets “vars”.
En ek gee nie om nie.
Want vir elke persoon wat verveeld raak om die Waarheid aanhoudend te hoor, is daar duisende ander wat nog nooit die Waarheid gehoor het nie.
En ek weet ook om ‘n meester van ‘n onderwerp te word bestaan daaruit om ‘n paar basiese beginsels te leer, en dit dan elke dag toe te pas. Geen uitsonderings.`
En ja, jy kan dit wetties, ritualisties, en eenvoudig noem. So is dit om asem te haal – maar dit is nodig om asem te haal om te lewe.
Jy kan dit oudmodies, vervelend, irrelevant en nie-cool noem.
Ek noem dit geestelike volwassenheid, om skriftuurlik te lewe, en om vrugte te dra.
Die Kruis was nooit bedoel om “COOL” te wees nie. Ook nie om ‘n volgeling van Jesus te wees nie.
En wanneer die HERE praat, is dit ook nie altyd wat ons wil hoor nie. Of wat jy dink jy nodig het nie. Of wat jy voor gevra het nie.
Dit is ook interresant dat Jesus nie sy boodskap by Sy gehoor aangepas het nie, maar het van hulle verwag om hulle in Sy boodskap in te pas.
Amper elke spesialis eksegeet sê dat Jesus gelykenisse gebruik het om die waarhede makliker te maak sodat meer mense dit kan verstaan.
Dit is net mooi die omgekeerde wat die Bybel vertel.
Hy het juis gelykenisse gebruik om die geestelike waarhede moeiliker te maak om te verstaan.
Skok dit jou dalk?
Hy het nie probeer om meer relevant te wees nie.
Hy het nie belang gestel om “COOL” te wees nie.
Eintlik het Hy meer geweet as alle Christelike skrywers, onderwysers, en predikers. Of hulle het dit vergeet, of nooit geweet nie. Die gehoor sal oordeel, maar daar is net Een wat jy moet teverede stel, en Hy is die Een wie se oordeel alles tel.
En dis wat my verbaas. Ek kry tog mense wat hou van wat ek hulle leer en sê selfs: “dit is net wat ons moes hoor”. Of: “dit is ‘n antwoord op dit wat ek van die HERE gevra het.”
Sien hoe werk dit?
Ek het nie die vermoë om te besluit wat is relevant vir jou nie.
Jy ook nie. Ons weet nie wat ons nodig het nie. Ons  weet ook nie wat ons nie nodig het nie.
Maar Hy weet wat jy nodig het, en wanneer jy dit nodig het.
En deur Hom eerste te plaas, kan ek in Sy wysheid intap sodat Hy jou kan aanraak daar waar jy ookal is.
Nou dit is nogal “COOL”.
En betyds.
En die waarheid.
En sommer ook relevant.

Gelukkig is ek nie geroep om “COOL” te wees nie, maar getrou.

1 opmerking:

Valerie het gesê...

Hi Lourance,
hmmm,jy is reg as jy se ons lees nie meer lang boodskappe nie,is verveeld met sms,e-mails( ek het 700 nog nie oop gemaak nie).
Daar is darem hoop vir my uncool status.....ek lees graag oor die Here,van die Here en verken Sy Woord.
Ja,ek was lank net 'n cool Christen,maar nou is ek baie lief vir die Here en leef graag n Christelike leefstyl,al dink en beskinder baie mense vir my en Winie.Ons gooi maar Christen sout op die geskinder en gaan gelukkig aan met ons Lewe in Christus.
Ek kom deesdae so min op die internet,ek sien nou eers jou blog.Skryf maar nog.......Dis is nogal...COOL...ha,ha!!!!